Adam Small

13 Februarie 2017

”Dis ‘n fees waarvan die organiseerder, Darryl David al jare lank droom. Darryl sê die fees is sy 80ste verjaardaggeskenk aan Adam Small.
En wat ‘n geskenk was dit nie, ‘n geskenk waarin almal wat die fees bygewoon het, kon deel.” – Tessa Louw

Van Wellington tot Pniël

My ma se groen Volkswagen Kewer was ‘n teater in transito. Sodra die wiele rol, het die konsert begin. Dit was die vroeë 70’s, Apartheidsjare en ook die tyd waarin my ma vir ons, so in die ry, Afrikaanse gedigte geleer het. Twee van my gunstelinggedigte was A.G. Visser se Amakeia en Oppie Parara van Adam Small. Hierdie twee gedigte het van my ‘n mens gemaak; hulle het diep gedagtegange losgewoel en by my ‘n bewussyn geskep van reg en verkeerd; van mede-menslikheid en van onverdraagsaamheid. Selfs vandag nog, wanneer ek my gedagtes in trurat druk, terug na die dae van my ma se ou Volla, vind ek keer op keer Adam Small se vrugteventertjie langs my op die agtersitplek.

Maar wie is hierdie Adam Small? Wie is hierdie man wat, in ‘n Afrikaans wat so vreemd op my vaalpens-ore val, gedige skryf? Deur die jare sou ek alles wat ek oor Adam Small in die hande kon kry, lees. En toe, op 14 September 2013, 40 jaar nadat my ma vir my Oppie Parara geleer het, gebeur iets wat ek nooit sou kon opdroom nie: ek ontmoet hom, ek hoor hom, ek sien hom ... Adam Small.

Na ‘n stilte van ongeveer 30 jaar, kom Wellington se seun huis toe met ‘n nuwe digbundel opgedra aan sy vrou, dr. Rosalie Small. Dis die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum en daar onder die tentjie in Ounooi se jaart is die lewe vol “happiness gepaail” terwyl ‘n bewoë Adam Small vir ons uit Klawerjas voorlees.

Dr. Michael le Cordeur gee vir ons ‘n helder beskrywing van hierdie mooi dag in Tydskrif vir Geesteswetenskappe

Tydens die Tuin van Digters-fees dokumenteer Kwêla hierdie geskiedkundige verskyning en staan Adam Small 'n in-diepte onderhoud aan Suzaan Steyn toe.

As fotograaf kry ek die geleentheid om ‘n skatkis vol emotiewe beelde van Adam Small vas te vang.

Op 25 Junie, 2016 kry Adam Small se gees vlerke. Hy was 79 jaar oud.
 

Adam Small-fees op Pniël

Tydens die naweek van 24-26 Februarie 2017, minder as ‘n jaar na sy dood, word die Adam Small-fees in Pniël gehou. Dis ‘n fees waarvan die organiseerder, Darryl David al jare lank droom. Darryl sê die fees is sy 80ste verjaardaggeskenk aan Adam Small. En wat ‘n geskenk was dit nie, ‘n geskenk waarin almal wat die fees bygewoon het, kon deel.

Waarom Darryl Pniël gekies het vir die fees, is maklik om te verstaan. Pniël is ‘n unieke dorpie met ‘n ryk en trotse geskiedenis, genestel in die skadu van Simonsberg (of God se aangesig soos die plaaslike inwoners die berg ook noem) en met ‘n asemrowende uitsig oor die Groot Drakenstein.

Pniëlers

Pniëlers is vanuit die staanspoor by die fees betrek en met ‘n minuskule begroting vermag hulle dit om lewe in die fees te blaas. Darryl, in vennootskap met Dwarsrivier Toerisme en met behulp van die Pniël Erfenis en Kultuur Trust, onder voorsitterskap van mnr. Mattie Cyster, sien toe dat alles klopdisselboom verloop.

Praatjies, musiek en voorlesings is in die boomryke Stegmann-tuin langs die Pniël Erfenis Museum aangebied, asook in die pragtige Congregational Kerk se saal. Alle aanbiedinge is gratis.

Hoogtepunte

Inwoners is genooi om stalletjies op te slaan en eet- en drinkgoed aan besoekers te verkoop. Joe, die blommeverkoper van Pniël, verkoop proteas by sy stalletjie. Sandra November en die Vriende van die Museum sorg vir heerlike verversings by die Papier Molen O’se. Alle eetgoed word teen R10 verkoop. By die kiosk in die Stegmann-tuin verskaf Levona en haar helpers smaaklike middagetes aan skrywers en eregaste.

Bekende plaaslike musikant, Purdon Simpson, maak pragtige, atmosferiese agtergrondmusiek gedurende etenstye.

Kunstenaar, Marinda du Toit het my genooi om my foto’s van Adam Small in haar Museum Galery uit te stal. Jaco Sieberhagen stal ook sy beeldhouwerk van Adam, What about the lô, daar uit.

Dit is baie moeilik om ‘n hoogtepunt uit te sonder en ek moet met Mattie Cyster saamstem dat die fees in geheel ‘n hoogtepunt was. Dalk kan ek tog noem dat Braam de Vries se dokumentêr waarin hy die lewe van Adam Small in oënskou neem, ‘n aandoenlike juweel was. Hopelik sal dit by al die feeste vertoon word. Jolyn Phillips het my baie opgewonde gemaak vir die toekoms van ons letterkunde. Hou haar maar dop.

Adam Small sou trots wees op sy fees en Darryl David kan met goeie reg pronk oor sy spoggerige geskenk aan Adam.

Kliek op die skakel om te sien wie almal tydens die fees opgetree het. http://www.litnet.co.za/program-adam-smallfees-pniel/

Na afloop van die fees, ry ek oor Helshoogte terug Stellenbosch toe in my Ford Figo. Langs my sit ‘n bekkige vrugteverkoper: “Please mêrim,” croon hy, “kamaan smile.” Ek glimlag, want die wêreld is nie meer ‘n parara-wêreld nie; definitief nie op Pniël nie. Dankie Adam, dankie.

“Ek hoor die vryheid sing” – ‘n dokumentêr oor Adam Small

  



Tessa Louw woon in Stellenbosch. Sy is ‘n fotograaf en grafiese ontwerper wat ook skilder en skrywers help met hulle manuskripte. Sy het onlangs saam met Marinda du Toit ‘n animasiefilm “Perron” vir Filmverse 2 gemaak.

Haar besonderse foto’s van Adam Small (‘n oplaag van 50) is beskikbaar teen R500 vir ‘n A4-grootte (ongeraam) en R1 000 (geraam). Dit sluit posgeld in. Kontak haar by tessalouw17@gmail.com

Bronsbeeld van Adam Small aan Kunstekaap geskenk

‘n Bronsbeeld van Adam Small is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) met die finansiële steun van die Historium Trust in die Paarl aan die Kunstekaapteater geskenk. Dr Niel le Roux, SBA-hoof, sê die skenking dien as viering van die taal se erfenis en versoening. “Kunstekaap is gekies omdat dit sentraal staan binne die ontwikkeling van taal en woordkuns in die Suid-Afrikaanse meertalige konteks. As Kaapse boorling en Afrikaanse woordkunstenaar by uitstek, verwoord Small vir ons hierdie versoende Afrikaanse visie.”

*Johannes du Plessis, beeldhouer en kunstenaar van Franschhoek, het die beeld gemaak.
*Small se toneelstuk, Krismis van Map Jacobs, word van 7 tot 12 Maart in die Kunstekaap opgevoer.