Wat lees ons … boekwurms vertel

29 Maart 2017

Wat lees jy?

Danie Marais - bekroonde digter en joernalis gee om ... sommer baie. 

 

Danie Marais, ʼn vryskut-joernalis en bekroonde digter, is die bestuurder van PEN Afrikaans. Hy vertel dat ʼn eks van hom eenkeer beweer het al waarvoor hy regtig omgee, is musiek, boeke en flieks. “Dit is egter ’n halwe waarheid. Ek gee ook buitensporig baie om vir goeie TV-reekse, my familie en vriende, skryfwerk, lekker kos en wyn, samesyn en Suid-Afrika.”

 

Sy debuutbundel, In die buitenste ruimte, het in 2006 verskyn. Dis bekroon met die Eugène Marais-prys, die Universiteit van Johannesburg se debuutprys en die Ingrid Jonker-prys. In 2009 verskyn sy tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, en sy derde bundel, Solank verlange die sweep swaai, in 2014.

Lees meer oor Danie:
http://www.litnet.co.za/danie-marais-1971/

Hier is ʼn paar van sy onlangse gunstelingboeke:

Huilboek deur Ryk Hattingh, Human & Rousseau, 2016.

’n Memoire met ’n tragikomiese, oneerbiedige en uiteindelik aangrypende blik op sowel die bevreemdende bestaan van ’n expat in Nieu-Seeland asook ’n onstuimige Suid-Afrikaanse lewe wat die skrywer agtergelaat het.
*Huilboek was ook op die kortlys van die UJ-prys vir 2017.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-huilboek-deur-ryk-hattingh/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html
http://www.litnet.co.za/tien-vrae-ryk-hattingh-oor-huilboek/
http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/murray-la-vita-gesels-met-ryk-hatting-20160429

Luister:
Antjie Krog gesels met Ryk Hattingh tydens die US Woordfees 2017. Luister hier na die potgooi: https://iono.fm/e/393435

 

1795 deur Dan Sleigh, Tafelberg, 2016

’n Groot roman ryk aan besonderhede oor die laaste dae van ’n korrupte VOC en die Hollandse bewind aan die Kaap. 

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-1795-deur-dan-sleigh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/dan-sleigh-kry-iets-reg-wat-min-kan/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/09/n-nota-by-dan-sleigh-se-roman-1795.html
http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/

Luister:
Dan Sleigh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (31/08/2016) oor 1795 http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Op 'n dag, 'n hond deur John Miles, Human & Rousseau, 2016

’n Ontstemmende boek oor die ellendige menslike toestand in ’n misdaadgeteisterde Suid-Afrika wat getemper word met fyn sardoniese humor en die leser uitdaag met ingewikkelde vrae oor moraliteit en toeval. Dis aangewys as die wenner van die UJ-prys vir 2017.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/john-miles-1938/
http://www.litnet.co.za/onderhoud-op-n-dag-n-hond-deur-john-miles/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/12/john-miles-op-n-dag-n-hond-2016.html
http://www.netwerk24.com/ZA/Eikestadnuus/Vermaak/hond-kry-sy-dag-in-miles-se-nuutste-roman-20161207-2

Luister:
John Miles gesels in RSG se Skrywers en Boeke (21/12/2016) oor Op ʼn dag, ʼn hond http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen, Human & Rousseau, 2016

In hierdie debuutroman treur die ek-verteller enersyds liries oor ’n verlore Duitse liefde en probeer andersyds sin maak van ’n ingewikkelde pa-dogter-verhouding, ’n mislukte huwelik en die skreiende apartheidsjare wat ’n diep kloof tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes veroorsaak het.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/onderhoud-valda-jansen-oor-hy-kom-met-die-skoenlappers/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/tree-vir-tree-deur-skanse-20160730

Luister:
Hy kom met die skoenlappers is regstreeks in Skrywers en Boeke op RSG bekendgestel (15/06/2016). Luister by http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

  

Kristalvlakte deur Amy Jephta, Tafelberg, 2016

Hierdie drama is vanjaar welverdiend met die Eugéne Marais-prys bekroon. Min mense lees dramatekste, maar Jephta se verplasing van Bertolt Brecht se klassieke Moeder Moed na die Kaapse Vlakte is so geslaagd dat ’n mens bitter dankbaar is dié teks is wel uitgegee. Mag dit nog gereeld in die komende jare in Suid-Afrikaanse teaters en by kunstefeeste te sien wees.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/kristalvlakte-onderhoud-met-amy-jephta/

Luister:
Teaterresensente Wayne Muller en Naudé van der Merwe vra Amy Jephta uit oor Kristalvlake, en akteurs gee ’n voorsmaak. https://iono.fm/e/392968

  

Kristalvlakte deur Amy Jephta, Tafelberg, 2016

Hierdie drama is vanjaar welverdiend met die Eugéne Marais-prys bekroon. Min mense lees dramatekste, maar Jephta se verplasing van Bertolt Brecht se klassieke Moeder Moed na die Kaapse Vlakte is so geslaagd dat ’n mens bitter dankbaar is dié teks is wel uitgegee. Mag dit nog gereeld in die komende jare in Suid-Afrikaanse teaters en by kunstefeeste te sien wees.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/kristalvlakte-onderhoud-met-amy-jephta/

Luister:
Teaterresensente Wayne Muller en Naudé van der Merwe vra Amy Jephta uit oor Kristalvlake, en akteurs gee ’n voorsmaak. https://iono.fm/e/392968

  

Verlorenkop deur Celesté Fritze, Quellerie, 2016

Dis ’n aweregse plaasroman vol bittersoet humor wat sterk en fassinerende vrouekarakters tot verhaal laat kom.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/tien-vrae-verlorenkop-deur-celeste-fritze/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/celeste-fritz-se-debuutroman-oor-n-familie-met-baie-geheime/

Luister:
Celesté Fritze gesels in RSG se Skrywers en Boeke (27/07/2016) oor Verlorenkop http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

  

God praat Afrikaans deur HemelBesem, LAPA Uitgewers, 2017

HemelBesem slaan jou dronk met ’n inspirerende lewensverhaal wat lig werp op die Afrikaanse hip hop-kultuur en gemeenskappe wat te lank maatskaplik verrinneweer en verwaarloos is.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/litnet-eerste-slukkie-god-praat-afrikaans-deur-hemelbesem/

Kyk:
HemelBesem, in gesprek met Danie Marais, het by die US Woordfees 2017 verduidelik hoekom hy voel "God praat Afrikaans". https://www.youtube.com/watch?v=25Txa_zeSWU

  

Melk die heilige koeie deur Deon Maas, NB Uitgewers

Deon Maas konfronteer jou met weldeurdagte, deeglik nagevorsde en dikwels omstrede menings oor alles en nog wat.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekonderhoud-deon-maas-oor-melk-die-heilige-koeie/
http://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/afrikaner-dwarstrekker-20161020

  

Elders - My 1 025 km te voet langs die Camino, deur Erns Grundling, Quellerie, 2016

Erns Grundling laan jou lag en dink met ’n boek wat uiteindelik oor veel meer as net die Camino gaan (hoewel enige iemand wat dit oorweeg om dié staproete aan te pak ook veel uit dié boek sal put.

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2017/03/erns-grundling-elders.html
https://af.wikipedia.org/wiki/Erns_Grundling

Kyk:

  

Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers

’n Hoogs toeganklike én intellektueel uitdagende bundel deurtrek van spitsvondige humor en self-ironie, wat vanjaar reeds met sowel die Eugéne Marais- as die UJ-debuutprys bekroon is.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/foto-onderhoud-bibi-slippers-oor-fotostaatmasjien/

Ek hoop poësielesers sal nie Shirmoney Rhode se Nomme 20 Delphistraat (Modjaji Books, 2016) en Juanita Louw se In die grot van die sibille (NB Uitgewers, 2016) oor die hoof sien nie, want beide hierdie twee nuwe stemme is eweneens rede tot opgewondenheid. Rhode dig treffend oor haar grootwordjare in Elsiesrivier en Louw loop met fyn afgewerkte gedigte die spore van die lewe en die dood na tot in die oergrotte van woord en klank.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/author/shirmoney-rhode/
http://www.litnet.co.za/onderhoud-shirmoney-rhode-oor-nomme-20-delphi-straat/
http://www.litnet.co.za/onderhoud-en-video-juanita-louw-oor-die-grot-van-die-sibille/
 

  Lees meer ...

 

Alta Cloete - bevorder Afrikaanse boeke ... met 'n passie. 

 

Alta Cloete van die Paarl het maar tien jaar gelede begin skryf. Daar het al omtrent veertig tydskrifverhale, talle rubrieke, twaalf romanses, nege romans en ʼn selfpublikasie oor depressie uit haar pen verskyn. Sy is passievol oor Afrikaans, en bevorder Afrikaanse boeke op die internet en sosiale media, onder meer op haar blog en op die Facebookgroepe Kom ons lees weer Afrikaans  en Afrikaanse boeke vir die jongklomp.

Lees meer oor Alta:
http://www.litnet.co.za/author/alta-cloete/
http://www.afrikaans.com/deel/ambassadeurs/alta-cloete:-n-kop-vol-stories

 

Hier is ‘n paar van haar gunstelingboeke:

Emily Hobhouse, geliefde verraaier deur Elsabé Brits, Tafelberg, 2016

Soos vermoedelik die meeste Suid-Afrikaners het ek ook maar net geweet Emily Hobhouse was ʼn Engelse vrou wat baie gedoen het vir die vroue en kinders in die (Engelse) kampe in die Tweede Vryheidsoorlog (of Boereoorlog, soos ons dit ook ken.) Maar die helfte – nee, veel meer as die helfte – is my nie vertel nie.

Mens se eerste vraag kan seker wees hoekom het ‘n lojale Britse onderdaan teen haar eie mense gedraai en kant gekies met twee nietige, koppige landjies ‘n lang, lang seereis ver? En dan kom jy agter jou vraag is op sigself nie korrek nie.

Voor mens nog meer as die titel gelees het, tref die blote skoonheid van die boek jou. Dis nie ‘n kleurvolle koffietafelboek wat jou met helder beelde lok nie. Die sober swart en wit en sepia met hier en daar ‘n kleuraksent skep die atmosfeer van daardie tyd, iets van nostalgie, maar ook iets van die lyding waarteen sy geveg het en wat sy vir duisende mense (nie net hier nie, maar ook in Amerika en die destydse Oos-Duitsland) verlig het. Want ja, Emily het veel meer gedoen as om hier te kom help.

Dit is wat ek vir altyd van haar sal onthou en bewonder: Dat sy ‘n verskil in mense se lewens wou maak en haar werklik deur niks en niemand laat stuit het nie. Nie deur haar gebrekkige opvoeding as meisie nie, nie deur die tydsgees wat dit vir ‘n enkelvrou verregaande gemaak het om die wêreld in te vaar en dinge te DOEN nie, nie deur magtige manlike gesagsfigure wat in haar pad kom staan het nie, nie deur stof en hitte en koue en honger en dors en ontbering nie. En veral nie deur die onbegrip en veroordeling van baie van haar eie mense nie.

Sy moes werklik ‘n formidabele vrou met formidabele vermoëns gewees het. Organisatoriese vermoëns, wat haar in staat gestel het om nie net fondse in te samel nie, maar ook puntenerig boek te hou van oënskynlik elke pennie. Waar sy ‘n behoefte gesien het, het sy iets gedoen. Die weefskole en die ploegprojek na die oorlog is vir my van die ongelooflikste goed van die baie ongelooflike dinge in die boek. Mens verwonder jou ook aan waar sy die tyd en energie gekry het om al daardie briewe te skryf wat nou meehelp om ons ‘n beeld van haar lewe te gee. Ek wonder veral waar sy die innerlike krag gekry het om die lyding in die kampe in die gesig te kyk en nie op ‘n afstand te bly nie, maar op voetsoolvlak betrokke te raak. Dis soveel makliker om geld in te samel en funksies te reël as om werklik tussen die mense in te gaan en geduldig na hulle verhale te luister. (Daar is die kosbare storie van die sterwende seuntjie met die kaal koppie. Eie aan haar aard, reël Emily onmiddellik dat iemand vir hom ‘n mussie hekel.) Sy moes ook besondere sosiale vermoëns gehad het, want sy het langdurige vriendskappe met soveel mense gevestig, waarvan Jan Smuts en Tibbie Steyn my bybly. (Ek onthou haar raad aan Smuts: As jy die regeerder word, moenie ‘n weermag aanhou nie. Want as ‘n land ‘n weermag het, kom hy in die versoeking om dit te gebruik.)

Sy was haar tyd baie, baie ver vooruit. Sy was ‘n feminis, ‘n pasifis en ‘n liberale denker. Maar sy was ook ‘n vrou met ‘n hart wat smag na liefde en ‘n gesin. En ja, daar was ‘n man wat nie was wat sy gedink het nie en daar was ‘n trourok wat in die koffer gebly het.

Ek wens, ek wens mens kon Emily vandag op ons samelewing loslaat. Hier is oorgenoeg werk vir haar. Maar nou kan ons net lees en verwonderd staan. Wat my veral bybly, is die menslikheid van hierdie besondere vrou. Wat my laat dink ons skuil verniet agter ons tekortkominge wanneer die nood van die wêreld aan ons deur kom klop.  

Lees meer:
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/hieroor-praat-mense/op-reis-met-emily/
http://www.litnet.co.za/elsabe-brits-oor-emily-hobhouse-geliefde-verraaier/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/08/elsabe-brits-emily-hobhouse-geliefde.html
http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/emily-reik-ook-uit-na-duitsers-20160918

Luister:
Ilse Salzwedel gesels in RSG se Skrywers en Boeke (24/08/2016) met Elsabé Brits oor Emily Hobhouse, geliefde verraaier http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

  

Katryn deur Winnie Rust, Litera, 2016

Winnie Rust se laaste boek is soos haar voriges ‘n sekure herskepping van die lewe in en om Wellington in die Boland binne ‘n sekere tydvak. Blink Ben Marais en Katryn se verhaal begin met die koms van die eerste trein na Wellington en die toenemende verandering wat dit in die gemeenskap teweeg bring. Dwarsdeur die verhaal bly die trein die simbool van verandering, van vreemde invloede en die bevraagtekening van die bekende en veilige maniere van dinge doen.

Dit is dan ook die kern van die storm wat met sy liefde vir Katryn in Ben se lewe losbars. Kan hy die familieplaas en die bekende dinge behou, maar ook sommige van die waardes waarmee hy grootgeword het, verwerp? Watter waardes is werklik die moeite werd om te behou? Waar eindig godvresenheid en waar begin bekrompenheid en skynheiligheid?

Die sentrale tema in Katryn is die spanning tussen behoudende en meer liberale denke. Die storie is deurspek met karakters wat in een van hierdie kampe staan en met onbegrip na dié in die ander kamp kyk.

Katryn is ‘n aangrypende verhaal en ‘n waardige afsluiting vir Winnie Rust se besondere bydrae tot die Afrikaanse skat van historiese fiksie.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/katryn-deur-winnie-rust-n-resensie/
https://altacloete.wordpress.com/2017/01/08/katryn-winnie-rust/

  

Saliger deur Dibi Breytenbach, LAPA Uitgewers, 2016

Deur die jare moes ek myself maar leer aanvaar as ‘n sensitiewe siel. ‘n Supersagte hart kan die lewe nogal moeilik maak. Ander mense se smart raak my. Verbeelde mense se ellendes raak my (feitlik) netso diep soos dié van werklike mense. Dit maak my nie die ideale leser van spannings-/misdaad-/moordstories nie.

En toe vat ek per toeval vir Saliger van Dibi Breytenbach in die biblioteek raak. Teensinnig vat ek die boek maar huis toe. Ek besluit ek sal die eerste hoofstuk lees en dan besluit of ek voortgaan. (Ek is nie ‘n leser wat tyd mors op ‘n boek wat ek nie geniet nie. Die lewe is te kort daarvoor.) Binne tien reëls is ek ingetrek.

Die groot ding wat my gevang het aan die boek, is die wrang humor waarmee Amalia na die wêreld en na haarself kyk. Om in ‘n boek oor kindermolestering die leser kort-kort te laat glimlag, is geen geringe prestasie vir ‘n skrywer nie. Die humor maak die gegewe meer verteerbaar sonder om dit ligtelik te behandel.

Saliger was vir my ‘n salige ervaring vol humor, ten spyte van die swaar temas wat aangeroer word. 

Lees meer:
https://altacloete.wordpress.com/2016/05/26/n-salige-verrassing-saliger-dibi-breytenbach/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-saliger-deur-dibi-breytenbach/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/ek-n-skryf-vampier-dibi-breytenbach/

Luister:
Ilse Salzwedel gesels in RSG se Skrywers en Boeke (21/10/2015) met Dibi en haar broer Henk Breytenbach oor hul spanningsromans http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Soetloop deur E. Kotzé, Kwela, 2015

“Die dag breek wit oor die kliprug, ‘n kalkbank yl ingeklee met sout opslag en rankgoed wat kortstondig bot en blom en blus. Onder in die bog is die duinveld armoedig, die landjies kaal en verwaai, met hier en daar geronde klipstapels soos oergrafte waaronder dooies tydsaam wat op die dag van gelykmaking.” So begin Soetloop.

Baie mooi, maar baie neerdrukkend, sê my belese boekvriendin. Amper-amper los ek die boek. Ek het immers al die gratis tien persent op amazon.com gelees en ek stem saam: Opgewekte leesstof is dit nie. Soos al haar boeke. Oudgewerkte, verarmde mense in ‘n wrede landskap. Ek dink aan haar kortverhale, waarvoor sy eintlik bekend is. Halfkrone vir die nagmaal, Die wind staan oos en talle ander. Eenvoudige mense, kinders wat van kleins af hard werk en met min tevrede moet wees.

Ek begin egter lees. Ek ontmoet Claas, besig om water uit die put (die puts, skryf Kotze) te katrol. Claas Prins, of dan Claas Arm, vanweë sy arm wat weens gebrekkige gesondheidsorg vir altyd ‘n las gebly het. Dadelik besef ek hoeveel sulke mense ek vandag nog sien as ek township se kant toe ry om vir honger, moeë kinders Afrikaanse stories te gaan lees. Mense wat vanweë gebrekkige sorg lewenslank ‘n agterstand het. Fisiek of emosioneel of intellektueel. Soetloop speel dekades gelede af, maar Soetloop is nog nie verby nie.

Daar is ook Ellen, Claas se vrou, wagtend by die “vratterige rietdakhuis” met haar hande onder die ruim-geplooide voorkskoot. “Sy stut die ronding van haar maag met albei hande.” Die tiende enetjie, (Of is dit die elfde? Ek is nie seker of Ellen nog weet nie.) terwyl haar oudste alreeds op troue staan. “Maar wat kan jy verwag van ‘n man wat saam met die hoenders gaan inkruip, en van vieruur soggens af lê en kwaaddoen?” vra Ellen haarself af.

So begin Tomasina se storie. Maar gou-gou is sy Kattie, na haar liefde vir die huiskat waarmee sy van kruiptyd af onder die tafel sit. Soetloop is Kattie se lewensverhaal. En grepe uit die verhale van die mense rondom haar. Maar dis ook die lewensverhaal van baie vroue wat nie outomaties inpas waar hulle gebore is nie, wat smag na méér, na ‘n beter lewe. En dit amper-amper vind. Maar nie heeltemal nie. Soetloop is die verhaal van vroue wat dink, wat hoop, wat glo dat hulle ‘n keuse het. En dan uitvind dit was nie regtig die geval nie.

Soetloop is ook die verhaal van ‘n tyd wat verbygegaan het, ‘n leefwyse wat binnekort nog net in skrywers soos Kotze se woorde gaan bestaan. Tye verander, mense verander, omstandighede verander. Die nuwe geslag het meer keuses en hulle gryp dit aan. Ekonomiese voorspoed kom stadig, maar seker. Maar in baie gevalle bly die emosionele armoede. Ysige stiltes, gebrekkige kommunikasie, die onvermoë om liefde te bewys.

Dis geskryf in die lieflikste Afrikaans, elke woord met oorleg gekies en op die beste plek staangemaak. Elke beskrywing van die leefwyse, die harde, harde werk wat die mense se lewens vul, die klein vreugdes en die groot verdriet, gaan lê in my binneste, bly in my hart. En altyd is die landskap daar, die Weskus, die veld en die see. Die skoonheid én die wreedheid. Soos in elkeen van Kotze se boeke is die landskap ‘n karakter op sy eie. Hy vorm die mense, brei hulle, breek hulle soms. Mense gaan verby, geslagte gaan verby, die landskap word wel deur die mens verander, maar in vele opsigte is dit ‘n tydlose gebied wat hom nie laat regeer nie.

As jy hou van diep menslike (eg Suid-Afrikaanse) stories en mal is oor Afrikaans, lees Soetloop! As jy wonder of jy dit moet aanpak, doen dit – en word verras! 

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-soetloop-deur-e-kotze/
http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/uittreksel-uit-soetloop-deur-e-kotze/
http://www.litnet.co.za/e-sussie-kotze-1933/

Luister:
Suzette Kotze-Myburgh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (25/03/2015) met Sussie Kotzé oor Soetloop. http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Elders - My 1 025 km te voet langs die Camino, deur Erns Grundling, Quellerie, 2016

As Weg-joernalis het Erns Grundling geen bekendstelling nodig nie. Die boek loop oor van fassinerende feite oor die Camino en bloot as reisboek is dit al interessante leesstof. Dis egter die skrywer se innerlike reis wat my meegesleur het. Sonder pretensie of steurende sentiment skets hy homself en die duiwels wat hom op daardie tydstip in sy lewe gejaag het. Interessant is ook die feit dat hy die tog sonder selfoon of tablet aangepak het, dus ‘n volkome tegnologie-detoks. Mens sou dink meer pelgrims sou die Camino so aanpak, maar dis blykbaar nie die geval nie. Lesers van reisverhale, diegene wat droom van ‘n tog op die Camino en enigiemand wat ernstig besin oor ons moderne leefwyse, sal die boek geniet.  

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2017/03/erns-grundling-elders.html
https://af.wikipedia.org/wiki/Erns_Grundling

Kyk:

  Lees meer ...

 

Christelle Botha - Lekkerlees Boekrak se “hoofmeisie”. 

 

Christelle Botha woon op George, en is die “hoofmeisie” van die Lekkerlees Boekrak op Facebook waar duisende boekwurms saamgesels oor hul gunstelingboeke. Christelle is ʼn kompulsiewe leser (en boek-koper!).
 

Hier is twee van Christelle se onlangse gunstelinge op haar leeslys:

Tuisland deur Karin Brynard, Penguin, 2016
Ek's nie eintlik 'n krimi of spanningsleser nie. Ek trek dit met moeite nader, maar 'n siedende resensie het my letterlik laat opstaan van voor die rekenaar en boekwinkel toe laat ry om hierdie boek self te lees. Ek het vasgenael gebly, met oë brandende van die moeg, om klaar te maak.

En dit was skitterend!

Daar is genoeg resensies en bespreking oor die storielyn en karakters en tema, en ek sal definitief Karin se vorige boeke ook moet lees (en dit wat nog later gaan kom) om meer te weet van Beeslaar en Ghaap en Pyl, en Koekoes. En dalk hoor mens weer van Tienrand of Kytie. En dan sal ek Tuisland moet herlees, om net al die karakters weer in plek te kry.

Die Boesmangedigte waarmee die hoofstukke afgewissel word, is só ongelooflik mooi dat jy die boek soos ʼn digbundel kan oopslaan. Dit sing soos musiek en apart en saam met die storie vertel dit eintlik ‘n bitter hartseer verhaal van die lot van die Boesmans in hierdie land. Die geskiedenis wat hieruit geleer kan word, is ongelooflik interessant.
Die storielyne en -kruisings in Tuisland maak dat ek eintlik die hele boek net weer wil lees, om sekere dinge op te let.

En die karakter uit Orania wat uiteindelik as booswig ontmasker word, waaroor daar in sekere kringe groot ongelukkigheid was: dui dit nie maar net op 'n normalisering nie? Hy kon netsowel van Pretoria of Lady Grey gekom het, maar hy is van Orania – wat uiteindelik bloot ʼn deel van sy agtergrond uitmaak. Hy kon goed of sleg wees. Ek lees dus niks meer en niks minder daarin nie.

Lees meer:
http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-van-die-maand-resensie-tuisland-deur-karin-brynard/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-tuisland-deur-karin-brynard/
http://www.netwerk24.com/Stemme/Hanlie-Retief/hanlie-retief-gesels-met-karin-brynard-20160710

Luister:
Ilse Salzwedel gesels met Karin Brynard in RSG se Skrywers en Boeke oor Tuisland (07/09/2016) http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

  

Goeie dood wat saggies byt deur Ilse van Staden, Protea Boekhuis, 2016

Ilse van Staden is eintlik bekend as digter, en hierdie is haar debuutroman. Beide parallelle storielyne het my vasgenael gehou vanaf die eerste bladsy. Sommer met die aanvang herken ek haar studentemilieu - ek vermoed ons was min of meer dieselfde tyd aan UP, sy in Veeartseny en ek in Veekunde. Die storielyne gryp jou vas - die jong meisie wat haar ma se droom kan verwesenlik deur in haar bekende oupa se voetspore te volg, al is dit nie noodwendig wat sy self sou wou hê nie? Haar stryd, reeds as student, om haar plek te vind en haarself te handhaaf. Later, as jong veearts, is sy permanent onseker van haarself in 'n manswêreld. Nie net omdat sy weet dit is nie noodwendig haar passie nie, en sy wroeg oor die besluite wat sy moet maak, die diere wat sy moet uitsit, die redes daarvoor... En dan daardie slot wat jy eintlik sien kom, maar al wag jy daarvoor, klap dit jou steeds in die gesig.

Hierdie is 'n baie goeie debuutroman, ekonomies aan woorde geskryf, maar vol fyn waarnemings. Daar is die noodwendige vergelykings met James Herriott, maar ek vind die 'coming of age'-beskrywing meer raak, al is dit nie die uitkoms wat mens sou verwag nie.

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/04/ilse-van-staden-goeie-dood-wat-saggies.html
http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-van-die-maand-resensie-goeie-dood-wat-saggies-byt-deur-ilse-van-staden/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-goeie-dood-wat-saggies-byt-deur-ilse-van-staden/

  Lees meer ...

 

Gerard Scholtz – DEKAT se boekredakteur, aanlynvervaardiger en aanbieder. 

 

Gerard Scholtz is DEKAT se boekredakteur en ook ’n aanlynvervaardiger en aanbieder vir DEKATv. Hy is die skrywer van Lig wankelend wat ook onlangs op RSG voorgelees is. Hy is elke jaar drie maande in Europa en dit laat hom wyd lees oor veral geskiedenis, kuns, en historiese figure.

Hier is sy vier onlangse Afrikaanse gunstelinge:

Huilboek deur Ryk Hattingh, uitgegee deur Human & Rousseau, 2016

Antjie Krog se onderhoud met Ryk Hattingh by die 2017 US Woordfees was vir my die hoogtepunt van die fees. Ek het nog nooit in een uur soveel rou emosies beleef nie. Die onderhoud het geswaai tussen patos, gestrooptheid, eerlikheid, woede, verwondering, verwonding, ironie, gegeur met ‘n aweregsheid en humor. Dit het my genoop om Huilboek weer te lees. En self te huil.

Na ‘n afwesigheid van 19 jaar het Ryk weer in Afrikaans geskryf, en is die boek ‘n eerlike neerslag van sy lewe as jong kind én sy lewe as skoen- en sleutelmaker in Nieu-Seeland. As kind het hy baie gehuil, tot soveel as 150 keer ‘n dag. Sy ma het hom kruisies in ‘n boekie laat trek vir elke keer wat hy gehuil het, en vandaar die titel van die boek.

Net soos met die onderhoud swaai die boek, ‘n outobiografiese novelle met ‘n liriese aanslag, ook deur elke moontlike emosie en versugting. Hier teen die einde van die boek skryf hy: “Ongelukkig is daar nie ‘n app wat hartseer kan besweer, of woede kan beheer nie… Daar is nie ‘n app wat die verlede ongedaan kan maak nie.”

Hierdie boek het met reg die Afrikaanse leeswêreld met ‘n oerknal getref.

*Huilboek was ook op die kortlys van die UJ-prys vir 2017.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-huilboek-deur-ryk-hattingh/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html
http://www.litnet.co.za/tien-vrae-ryk-hattingh-oor-huilboek/
http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/murray-la-vita-gesels-met-ryk-hatting-20160429

Luister:
Antjie Krog gesels met Ryk Hattingh tydens die US Woordfees 2017. Luister hier na die potgooi: https://iono.fm/e/393435

 

Oorlog en terpentyn, deur Stefan Hertmans, in Afrikaans en vertaal deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, 2016.

Na ‘n ontstellende besoek onlangs aan die Vlaamse slagvelde, en veral die inter-aktiewe Oorlogsmuseum in Ieper waar jy die verskrikking van oorlog sien, ruik en voel, het ek Oorlog en terpentyn met aandag gelees.

Die titel is afgelei van die reuk van terpentyn waarmee Hertmans se oupa sy skilderkwaste skoongemaak het. En hierdie oupa wat sy wedervaringe as soldaat op die Vlaamse slagvelde neergeskryf het.

Tydens die Woordfees het Daniël Hugo, die vertaler van die boek, met Hertmans gesels. (Intussen is Hertmans vir die Bookerprys benoem). Dit was goed om die ontstaan van die boek eerstehands te kon hoor: In 1981 het Hertmans se oupa vir hom ‘n klomp skryfboeke gegee. Hertmans het as jong man toe geen belangstelling daarin getoon nie, maar na so 20 jaar begin hy daaraan lees. Voor sy oë ontvou ‘n lewe van armoedige kinderjare, die skrikwekkende oorlogsjare, die verlies van ‘n jong geliefde en dan kom die oorlewing om die pyn van die gestorwe geliefde te doof deur te skilder.

Hertmans kry dit reg om jou in te trek in die lewe van ‘n vergete oorlogsheld en sensitiewe kunstenaar, en Daniël Hugo se vertaling is voortreflik. 

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/oorlog-en-terpentyn-deur-stefan-hertmans/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/nyt-eer-aan-nederlandse-boek-ook-voordelig-vir-ons-20170114

Luister:
Johan Myburg gesels met Stefan Hertmans in RSG se Skrywers en Boeke oor Oorlog en Terpentyn (08/03/2017). http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Maestro deur Marié Heese, Human & Rousseau, 2016.

Ek beplan om binnekort Italië te besoek. Ter voorbereiding het ek besluit om Maestro te lees. Die heerlikheid was om al die historiese agtergrond oor Italië, die leefwyse van die tyd en ook biografiese agtergrond oor Bernini op ‘n verteerbare wyse te bekom.

Nooit het die roman verveel nie – dit is onderhoudend geskryf en die historiese detail is soomloos ingewerk in die verhaallyn sodat jy baie leer sonder om ‘n kunsgeskiedenisboek te bestudeer.

Bernini is vir eeue misken as kunstenaar en die lees van hierdie boek asook die bywoning van die bespreking tussen Amanda Botha en Marié Heese tydens die US Woordfees het my laat wonder: wie was nou eintlik die meester van marmer? Wie het marmer sag gemaak? Wie was die baanbreker in sy benadering tot marmer en ook sy onderwerpe? Dis Bernini – nie Michelangelo nie!

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-maestro-deur-marie-heese/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/10/marie-heese-maestro-2016.html

Luister:
Marié Heese gesels in RSG se Skrywers en Boeke (12/10/2016) met Suzette Kotzé-Myburgh oor Maestro http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

Marié gesels met Amanda Botha oor die vroeë lewe van die beeldhouer Bernini terwyl sy besonderse beeldmateriaal uit haar navorsing vir Maestro deel. https://iono.fm/e/394247

 

Skrik kom huis toe deur Dolf van Niekerk, uitgegee deur Protea Boekehuis, 2014.

Dit was ‘n blye dag tot Protea Boekhuis besluit het om hierdie geliefde jeugverhaal weer uit te gee. Ek onthou die indruk wat dit op my gemoed gemaak het as voorgeskrewe werk op hoërskool, maklik 50 jaar gelede.

Met die onlangse herlees is ek onkant gevang. Nie net deur die skrywer se intieme kennis van die binnewerking van ‘n kind nie; nie net deur die behendigheid van ‘n gesoute skrywer nie, maar ook deur die terugreis na my eie herinneringe van verliese aan geliefde troeteldiere.

Die verhaal gaan kortliks oor die eensame Albert wat uit ‘n gebroke huis kom. Hy en sy stiefma kom nie oor die weg nie, sy pa is ‘n figuur in die agtergrond, en ‘n posduif, Skrik, wat vir hom ‘n nuwe wêreld van liefde, hoop en opwinding bring.

Dit is ‘n teer verhaal wat elke volwassene moet lees. Daarna gaan jy anders na die wêreld kyk wanneer jy ‘n eenkantkind sien, of die vlerkgeruis van ‘n duif hoor. 

Lees meer:
https://af.wikipedia.org/wiki/Dolf_van_Niekerk
http://versindaba.co.za/gedigte/dolf-van-niekerk/
http://protea.bookslive.co.za/blog/2016/01/22/portrette-in-my-gang-dolf-van-niekerk-gesels-met-corina-van-der-spoel-oor-sy-nuwe-bundel/

Luister:
Corina van der Spoel gesels met Dolf van Niekerk in RSG se Skrywers en Boeke (20/01/2016) oor sy jongste digbundel Portrette in my gang www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
http://www.pretoriafm.co.za/die-mens-agter-die-mens-dolf-van-niekerk/
 

  Lees meer ...

 

Keina Swart - een van ons gewildste rubriekskrywers in Afrikaans. 

 

Die joernalis Keina Swart is een van die gewildste rubriekskrywers in Afrikaans, en daar het reeds twee bundels rubrieke uit haar pen verskyn (Die Potlooddief se bruid, Protea, 2015 en Koms van die biblioteekbus, Naledi, 2016). Sy is ook die skrywer van Bloujaar, ʼn jeugroman, wat in 2014 by Protea verskyn het, en twee kinderboeke: Bleek Bennie se woeste hoes (Protea) en Hoekom praat grootmense so snaaks? (Protea).
 

Sy woon in Bela-Bela, en is redakteur en mede-eienaar van Die Pos, die Waterberg se streekskoerant wat al met ʼn ATKV Veertjie bekroon is. Vir haar rol in die gemeenskapspers is Keina onder meer nasionaal deur Sanlam vereer as Rubriekskrywer van die Jaar en vier keer aangewys as een van die land se top tien joernaliste. Van haar skryfwerk verskyn in Rooi Rose, Baba & Kleuter, Rapport, Die Burger, Beeld, Volksblad, By, Lééf en Weg!Platteland.

Keina is getroud en die ma van drie boekwurms.

Lees meer oor Keina:
http://protea.bookslive.co.za/blog/2015/03/23/eksklusiewe-onderhoud-keina-swart-deel-die-storie-agter-die-potlooddief-se-bruid/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/keina-swart-oor-rampie-malherbe-se-bloujaar/
http://www.litnet.co.za/tien-vrae-keina-swart-oor-koms-van-die-biblioteekbus/

Hier is drie van haar onlangse gunstelinge:

Oorlog en terpentyn, deur Stefan Hertmans, in Afrikaans en vertaal deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, 2016.

Ek het aanvanklik gesukkel om “in die boek in te kom” en het nogal gewonder hoekom die skrywer die storie aangepak het soos wat hy het. Ek was ook nie seker of ek van die foto-gebruik in die boek gehou het nie. Toe ek egter eers kom by die deel waar Hertmans se oupa as frontsoldaat in die Eerste Wêreldoorlog veg, kon ek nie die boek neersit nie. Dit is plek-plek ’n erg verdrietige storie: Die verhaal van ’n vergete oorlogsheld wat daarvan gedroom het om ’n kunstenaar te word. Op die ou einde is dit juis dít wat my aangegryp het van die storie — die treffende kombinasie van oorlog en terpentyn.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/fine-music-radio-resensie-oorlog-en-terpentyn-deur-stefan-hertmans-vertaal-deur-daniel-hugo/

Luister:
Johan Myburg gesels met Stefan Hertmans oor Oorlog en Terpentyn (8/03/2017) in Skrywers en Boeke, http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Boudebiljoenêr deur David Walliams, in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys, Protea, 2016.

Ek glo dat kinders (laerskoolkinders, in elk geval) nooit te oud is, of te goed lees, dat ’n ouer voorlees heeltemal kan staak nie. Ons is groot voorlesers, veral as ons ver ente met die motor ry. Ek en my twaalfjarige seun lees deesdae saans so ’n paar bladsye vir mekaar voor uit hierdie lekker boek. Die storie word beskryf as ’n “stout en stuitige kinderroman” en is terselfdertyd hartseer en snaaks. Hierdie voorlesery is ook ’n lekker manier om die betekenis van “groot woorde” speel-speel vir kinders te verduidelik, want daar is nogal heelwat splinternuwe Afrikaanse woorde in die boek.

Lees meer:
http://lonareviews.blogspot.co.za/2016/07/van-monsters-weerwolwe-gedigte-en-n.html

 

Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee, Tafelberg, 2000.

Ek herlees tans hierdie boek omdat dit net eenvoudig die mooiste storie ooit is én omdat dit vir my die beste voorbeeld is van hoe om ’n liefdesverhaal sonder soetsappige “mooiskrywery” te vertel. En dalk ook omdat “poppedyntjie” een van die allerlieflikste Afrikaanse woorde is.

Lees meer:
http://www.dalenematthee.co.za/boeke/pieternella.html

  Lees meer ...

 

Madri Victor – reeds meer as 'n dekade in die boekbedryf. 

 

Madri Victor is reeds meer as 'n dekade in die boekbedryf, en vertel sy was al “kamma-joernalis, vertaler, webmeester, onderwyser, tutor, redigeerder, proefleser, boekredakteur, resensent, manuskripontwikkelaar en spookskrywer.” Sy was al die organiseerder van die Skrywersfees by die US Woordfees, tree gereeld by leeskringe en boekgesprekke op en bied ook kreatiewe skryfkursusse aan. Madri, haar man en hul dogtertjie, woon in Durbanville.
 

Hier is van die gunstelingboeke op haar leeslys:

Huilboek deur Ryk Hattingh, Human & Rousseau, 2016.

As kind het Ryk Hattingh se ma vir hom ‘n boekie gegee waarin hy elke keer wat hy huil, ‘n merkie kon gaan maak om sy aandag van die huil af te trek. Huilboek is ‘n outobiografiese vertelling oor Ryk se aanpassing in Nieu-Seeland. Dit is ‘n reis deur drome en verlangens, na ‘n Suid-Afrika wat biggel onder die onbetroubaarheid van herinneringe. Dit is die bevestiging van ‘n “tweede lewe” as skoenmaker, een wat storms deurkyk en deurstaan en groot skoonheid vind in die skaam, skemersang van die swartvoël (Turdus merula). Ryk Hattingh beskryf sy werk self as “vreemde fiksies”: ‘n “alternatiewe, aweregse benadering tot dinge”. Die jaar is nog kort, maar vir my is Huilboek ‘n leeshoogtepunt.

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html
http://www.litnet.co.za/tien-vrae-ryk-hattingh-oor-huilboek/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/weet-jy-wie-ryk-hattingh/

 

Isabella deur Mariël le Roux, Tafelberg, 2017.

Mariël le Roux skryf met groot deernis en subtiliteit die lewe van randfigure en buitestaanders vas. Isabella is so ‘n vrou. Sy kom uit ‘n huis waar liefde selde gewys is, behalwe wanneer Daddy troos nodig het. Skaars het sy as nurse begin studeer wanneer sy trou en saam met Gideon op ‘n myndorp in die Noord-Kaap gaan woon, daar waar almal “familie” is. Isabella baan haar weg voel-voel deur hierdie familiariteit van haar bure. Wanneer haar dogter gebore word, word die impak van haar kinderjare ‘n krag wat dreig om haar te ontspoor. Isabella is ‘n boek oor ma-wees, vrou-wees en die impak van ons persoonlike geskiedenis, wat my diep geraak het. Maar moenie dink dit is swaarwigtig of neerdrukkend nie! Dit is ook vermaaklik, deurspek met humor en die heerlikste sêgoed (soos Isabella wat “binnetoe skrik”, Bes wat ‘n “soppertjie” te ete bring en Maria se man wat beskryf word as ‘n “stillewe, getiteld Dagdoodslaan”).

Lees meer:
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Le-Roux-vertel-van-nuwe-roman-20130711

Luister:
Mariël le Roux gesels op RSG se Skrywers en Boeke (16/10/2013) http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Moord op Karibib deur Isa Konrad, LAPA, 2016

Hulle noem die genre blykbaar “cosies”, ‘n spel op Agatha Christie se boeke, erg vermaaklik met ‘n baie sterk liefdeslyn en ‘n onwaarskynlike speurder. Alet vlug van ‘n eggenoot wat haar mishandel en beland op Karibib, ‘n piepklein dorpie in Namibië waar dit droog en warm is. Sy is toevallig by wanneer ‘n vrou histeries haar man, pas oorlede, by die plaaslike kliniek kom aflaai. Inspekteur Con Dorfling is so ver verwyderd van sofistikasie as wat kan kom. Hy is broeiend en bedees. En nou sit hy opgeskeep met ‘n vroumens wat dit regkry dat mense met haar praat en haar só diep in sy ondersoek inwurm. Moord op Karibib is ‘n heerlike “cosy” met al die regte elemente vir ontspan, lekkerkry en daardie tevrede sug wanneer jy die boek toemaak.

Lees meer:
https://altacloete.wordpress.com/2017/03/19/isa-konrad-se-nuutste-moord-op-karibib/

Luister:
Isa Konrad gesels op RSG se Skrywers en Boeke (29/03/2017) http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Soettand deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, LAPA, 2017

Ek lees saans resepteboeke in die bed. Agter die watertand kos en liplekker kosfoto’s aan. Soettand is pragtig in pastel getooi, met die tannies blommend op die voorblad. Wat hierdie resepteboek nog lekkerder maak, is die ou familiefoto’s binne-in en die tannies se geselsies. Dit voel jy sit by hulle aan die teetafel wanneer tannie Koelsoem vertel hoe hulle jellie oornag laat staan het om te set, tussen ysblokkies wat jy by die bure gebedel het. Of tannie Flori wat wys van haar laat hoor: “Jy stuur uit by die voordeur, God stuur in by die agterdeur.” Soettand is ‘n moet vir elkeen wat lief is vir bak – al is dit net om jou koeksisterresep langs die een vir koesisters te hou!

Kyk:
http://www.afrikaans.com/news-headlines/kos/hulle-kook
http://maroelamedia.co.za/resepte/kook-saam-kaaps-se-wenspan/
http://blogs.litnet.co.za/devries/2017/01/26/flori-en-koelsem-se-kosse-sonder-grense/

  

Eindspel deur Wilna Adriaanse, Tafelberg, 2016

Die opvolg op Dubbelspel lees nog lekkerder as sy voorganger. Wilna Adriaanse skep karakters wat jou lank na die storie bybly – mens loop en wonder wat van hulle geword het, hoe dit met hulle gaan. Ellie McKenna woon nou tydelik op die platteland, maar dis asof sy wag vir dinge om skeef te loop – daarvan getuig die sak met klere wat sy in die murasie wegsteek. Op ‘n Sondagoggend stap twee vreemde mans die kerk in en gou is Ellie weer midde-in ‘n kraaines van geweld, mag, politiek, en korrupsie. Om sake verder te kompliseer, is Nick ook weer in die prentjie. En haar eks, Albert. Eindspel is louter plesier. Ek wou die boek nie neersit nie.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/wilna-adriaanse-1958/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/prag-legkaart-sluit-tweeluik-af-20170311

Luister:
Wilna gesels in RSG se Skrywers en Boeke oor Eindspel (05/04/2017) en Dubbelspel (02/07/2014) http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
Wilna Adriaanse en Lerina Erasmus (skrywer van Die Leliemoordenaar) gesels met Deborah Steinmair oor hulle jongste romans. Opgeneem tydens die Skrywersfees van die US Woordfees. https://iono.fm/e/393880

  Lees meer ...

 

Suzette Kotzé-Myburgh – uitgewersredakteur en joernalis. 

 

Suzette Kotzé-Myburgh, uitgewersredakteur en joernalis van Kaapstad, werk al 27 jaar in die uitgewersbedryf, die laaste agtien jaar as vryskut. Sy is ʼn gereelde medewerker van Skrywers en Boeke op RSG, en doen benewens teksredigering vir bekende uitgewers ook manuskripkeuring en -ontwikkeling, proefleeswerk en vertaling. Sy skryf artikels en boekresensies, en is ook bekend vir haar filmresensies vir Litnet. Suzette was verantwoordelik vir die samestelling van vier verhalebundels, en medesamesteller van vyf kortverhaalbundels en twee kinderverseboeke.

Suzette lees uit die aard van haar werk wyd en baie, en gesels hier oor drie onlangse gunstelinge. Luister gerus na haar maandelikse onderhoude met Afrikaanse skrywers by http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp.

 

Hier is drie gunstelingboeke op haar leeslys:

Koors deur Deon Meyer, Human & Rousseau, 2016.

As daar ’n lekker leesboek – ’n stórieboek – die rondte doen, spaar ek dit altyd vir ’n vakansie sodat ek ongestoord en sonder onderbreking kan lees. Dan slurp die storie my in en kan hoor en sien vergaan, want ek lees! So het Koors van Deon Meyer tydens my vakansie in Januarie aan die beurt gekom. Ek het kennis geneem van die berigte dat hierdie ’n ander soort Deon Meyer is en dat lesers aansienlik daaroor verskil: sommige is mal daaroor, ander is teleurgesteld omdat hulle die gebruiklike speurverhaal verwag het. Koors het my behoorlik meegevoer met sy futuristiese scenario – ná ’n wêreldwye pesuitbraak is meer as negentig persent van die mensdom uitgewis en dié wat oor is, moet probeer oorleef, ook hier in Suid-Afrika. Meyer bou sy intrige laag vir laag op en skep ’n besonder geloofwaardige scenario waarmee hy jou tot reg op die einde verras, en wéér verras. Dalk omdat ek self so dikwels oor die toekoms van die mensdom wonder, vind ek dat die boek nog lank ná die lees by my bly spook.

Lees meer:
http://www.rooirose.co.za/deon-meyer-storieman/
http://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/kies-n-boek-koors-deur-deon-meyer

Luister:
Koors is regstreeks bekend gestel in RSG se Skrywers en Boeke (02/08/2016) http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
 

Maestro deur Marié Heese, Human & Rousseau, 2016.

Ek lees graag geskiedkundige romans, maar die klem moet eerstens op roman wees, nie op die geskiedkundige aspek nie. Ek soek ’n storie, nie ’n droë klomp feite nie. Só ’n boek is Maestro, gegrond op die lewe van Gianlorenzo Bernini, voorste beeldhouer van die Barok-era in Italië in die 1600’s. Eintlik het ek dit nog in manuskripvorm gelees, wat ’n ander soort leeservaring is as lees bloot vir plesier. As dit jou werk is, móét jy die verhaal klaar lees, of jy dit geniet of nie. Met Maestro was ek egter geboei van begin tot einde. Die skrywer beeld ’n lewenswyse van ’n vervloë tyd in soveel detail en met soveel emosionele trefkrag uit dat dit eenvoudig lewend raak voor jou oë. Daarby was dit soos ’n herbesoek aan Rome, die Ewige Stad – soos pous Urbanus VIII, een van die beroemde kunstenaar se opdraggewers, dit gestel het: “Bernini is vir Rome gemaak, en Rome vir Bernini.”

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-maestro-deur-marie-heese/

Luister:
Marié Heese gesels in RSG se Skrywers en Boeke (12/10/2016) met Suzette Kotzé-Myburgh oor Maestro http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

WYS – US Woordfeesbundel 2017

Laat ek dadelik my belange verklaar: ek is een van die samestellers van die bundel en het ook die teksversorging en publikasie behartig. Maar juis daarom kan ek sê dat ek elkeen van hierdie 25 kortverhale behoorlik leer ken en waardeer het. Waar die roman hom leen tot lees-omdat-dit-lekker-is, is gedigte en kortverhale ’n meer intellektuele genieting – dis in wese kunsvorms meer as wat dit vermaak is (wat nie sê dat kuns nie ook vermaaklik kan wees nie, of dat vermaak nie kuns kan wees nie). Wat besonders is van hierdie Woordfeesprojek (nou al in sy tweede jaar) is dat dit die beste kortverhale bevat van ’n verskeidenheid skrywers, eerder as ’n hele bundel verhale (van wisselende gehalte) van net een skrywer. As sodanig bied WYS ’n wonderlike storie-kaleidoskoop van die Afrikaanse gemeenskap van vandag.

Lees meer:
http://www.netwerk24.com/ZA/Distrikspos/Ontspan/plaaslike-skryfwerk-in-woordfeesbundel-20170125-2

  Lees meer ...

 

Johan Myburg is 'n digter en kunsskrywer van Johannesburg. 

 

Sy eerste digbundel, Vlugskrif het in 1984 verskyn. Johan se tweede digbundel, Kontrafak, is in 1995 met die Eugène Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Johan se jongste digbundel, Uittogboek, verskyn in Junie by Protea. Hy lewer gereelde bydraes oor die internasionale letterkunde vir die radioprogram Skrywers en boeke op RSG. Wat lees hy? 
 

Hier is ʼn paar van sy onlangse gunstelinge:

1. Dorado deur Tom Dreyer, Penguin, 2016:

Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein, Equatoria en Stinkafrikaners, waarvoor hy met die Akademie van Kuns en Wetenskap se Eugène Maraisprys bekroon is. In Nuwe Stemme 1 het hy gedebuteer as digter en het ook al kortverhale geskryf.

Dorado (wat verwys na die vis sowel as ʼn pot goud aan die einde van die reënboog) is ʼn magiese roman waarin Gilbert ná die dood van sy pa deur vreemde boodskappe oorval word – onder meer deur visioene van skole visse en kontoerlyne van lig. Die visioene noop hom om ʼn reis te onderneem, weg van sy kleindorpse bestaan in Kirkwood, deur die Karoo tot in Kuilsrivier.

Wat opval van Dorado is die filmiese kwaliteit. Op die voorblad beskryf Willem Anker die roman as iewers tussen die werk van David Lynch en Wim Wenders. Wat nie uit die kol is nie. Dis gewis ʼn aangrypend verrassende boek.

Lees meer:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/11/tom-dreyer-dorado-2016.html
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/mens-se-soeke-na-el-dorado-versinnebeeld-20161129

 

2. Die skaalmodel deur Anneli Groenewald, Tafelberg, 2016.

Hierdie debuut van Anneli Groenewald, wat ook die debuutafdeling van NB se Groot Romanwedstryd in 2015 gewen het, bied ʼn sonderlinge leeservaring.

Dit is die verhaal van Skipskop en die vergissings van ʼn era waarin militêre slaankrag goeie oordeel oorwoeker het, en word vertel deur ene Berdina Visagie, argivaris van die Bredasdorp-skeepswrakmuseum. Groenewald slaag vernuftig daarin om haar verteller deurgaans aan die woord te hou – met behulp van allerlei tekste: briefwisselings, e-pos-boodskappe, koerantberigte en wat nie al nie.

Benewens die sosio-politieke implikasies van gedwonge verskuiwings kom natuurbewaring en die ekologiese implikasies van kortsigtigheid in die roman na vore. 

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-die-skaalmodel-deur-anneli-groenewald/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/anneli-groenewald-oor-haar-debuutroman-die-skaalmodel/

 

3. Huilboek deur Ryk Hattingh, Human & Rousseau, 2016. 

Ná ʼn stilte van net minder as 20 jaar oorrompel Ryk Hattingh ʼn mens met ʼn op die oog af eenvoudige vertelling oor sy tuin en sy lewe as skoenmaker nadat hy en sy gesin 1997 “in die toue voor die ‘Landsverlaters’-kantoor van die Departement van Binnelandse Sake deurgebring” het. Hul bestemming? Nieu-Seeland, die land van rugby en roei, “want die twee ou eilandjies dryf mos soos twee drolle doer onder in die see rond”. Oënskynlik eenvoudig in die formaat van ʼn novelle, outobiografies van aard en besonder persoonlik (met swart-en-wit foto’tjies).

Die huilboek van die titel verwys na ʼn plan waarmee sy ma vorendag gekom het omdat hy as kind dikwels gehuil het. In dié boek moes hy ʼn merkie maak elke keer as hy huil. Dit sou hopelik sy aandag kon aflei en die tranedal beëindig. Met dié gegewe as struktuur maak Hattingh merkies oor sy jeug, sy jare in sy geboorteland en sy twee dekades in die buiteland.

Lees meer:

http://www.litnet.co.za/boekresensie-huilboek-deur-ryk-hattingh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/weet-jy-wie-ryk-hattingh/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html

 

4. Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans, in Afrikaans vertaal deur Daniël Hugo, Protea, 2016.

Die Nederlandse skrywer Stefan Hertmans het in 2013 ʼn roman geskoei op sy oupa se notaboeke oor die Eerste Wêreldoorlog gepubliseer. Die boek is in Engels vertaal en in die VSA uitgegee en het The New York Times se lys van vyf beste romans van 2016 gehaal.

Urbain Martien was nie net ʼn oorlogsheld nie, maar ook skilder, soos sy pa voor hom, en het sy twee aantekeningboeke kort voor sy dood sowat dertig jaar gelede aan Hertmans toevertrou. Hertmans het die dokumente bewaar, maar was nie presies seker wat om daarmee te doen nie. Eindelik het hy ʼn roman daarvan gemaak, met die middelste deel van die boek (soos in ʼn triptiek), ʼn eerstepersoonsvertelling deur sy oupa.

Benewens oorlog en terpentyn (en verf) is Vlaandere van weleer sowel as die huidige landskap van die temas in dié roman.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/oorlog-en-terpentyn-deur-stefan-hertmans/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/nyt-eer-aan-nederlandse-boek-ook-voordelig-vir-ons-20170114

Luister:
Johan Myburg gesels met Stefan Hertmans in RSG se Skrywers en Boeke oor Oorlog en Terpentyn (08/03/2017). http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

5. 1795 deur Dan Sleigh, Tafelberg, 2016.

Deurwinterde skrywer en historikus wat Dan Sleigh is, met onder meer Eilande (2001), Afstande (2010) en Wals met Mathilda (2011) uit sy pen, boei die skrywer die leser met meer as historiese inligting – hy bied geskiedenis só aan dat die gegewe nie bloot afstandelik verstaan word nie, maar naby ervaar word, veral deur herkenning. Dis juis sy kennis en insig wat aan die skryfwerk die gesag verleen wat die leser deurgaans “veilig” laat voel binne ʼn geskiedenis wat dalk nie so wyd bekend is nie. Woordkunstenaar wat Sleigh is – sy digbundel, Duif oor water, het in 1971 verskyn – werk hy met ʼn woordgevoeligheid wat ewe meesleurend én verruimend is.

Dit is die verhaal van William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn, seun van baron Van Reede van Oudtshoorn tot Nederhorst wat aangewys is as goewerneur van die Kaap, maar tydens die bootreis gesterf het en in die Kaap begrawe is.

In die winter van 1795 is die Kaap steeds in Nederlandse besit, maar die Engelse lê reeds voor anker in Simonsbaai...

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-1795-deur-dan-sleigh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/dan-sleigh-kry-iets-reg-wat-min-kan/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/09/n-nota-by-dan-sleigh-se-roman-1795.html
http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/

Luister:
Dan Sleigh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (31/08/2016) oor 1795 http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Meer oor Johan Myburg:

http://www.litnet.co.za/johan-myburg-1957/
https://af.wikipedia.org/wiki/Johan_Myburg

  Lees meer ...

 

Anneli Groenewald – skrywer van: Die skaalmodel. 

 

Anneli Groenewald van Johannesburg is die assistent-redakteur van Finweek, en gee deeltyds klas in joernalistiek by die Universiteit van Johannesburg. In 2016 is sy in die media-kategorie benoem vir die Mail & Guardian se 200 Young South Africans-lys. Haar roman, Die skaalmodel, was die debuutwenner in NB Uitgewers se Groot Romanwedstryd 2015 en het in 2016 verskyn. Lees hier oor haar werk en sy vertel hier wat is haar drie gunstelingboeke op haar leeslys.
 

Lees meer oor Anneli en Die Skaalmodel:

http://200ysa.mg.co.za/anneli-groenewald/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-die-skaalmodel-deur-anneli-groenewald/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/anneli-groenewald-oor-haar-debuutroman-die-skaalmodel/

Luister:

Anneli gesels in RSG se Skrywers en Boeke (14/12/2016) oor Die Skaalmodel http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

Hier is drie gunstelingboeke op haar leeslys:

Die Sneeuslaper deur Marlene van Niekerk, Human & Rousseau, 2010.
Die boek waarnatoe ek die meeste terugkeer is Marlene van Niekerk se bundel kortverhale, Die Sneeuslaper, wat in 2010 verskyn het. Dit het waarskynlik deels daarmee te make dat hierdie bundel die onderwerp van my M-studie was. Al het ek die bundel dus tydens my studies feitlik voos gelees, bly ek steeds nuwe frases of momente ontdek wat my oorbluf.

Die Sneeuslaper bestaan uit vier kortverhale wat op onverwagse, oënskynlik toevallige maniere by mekaar aansluit. Terwyl die verhale tog elk heeltemal onafhanklik van die ander gelees kan word, is die aansluitings beredeneerd – byna asof die skrywer die leser beloon met versteekte leidrade en skakels.

Elke verhaal is noukeurig en meesterlik gevleg in Van Niekerk se kenmerkend weelderige en fyn geweefde styl. Die verhale neem die leser op reis na Amsterdam, die Sederberge en Stellenbosch, telkens saam met karakters wat of digby die aar van kreatiwiteit sit, of wat daarna soek, en verkry dus meta-fiksionele kwaliteite.

Enigeen wat bereid is om hul deur verhale te laat begoël, maar terselfdertyd mee te werk soos wat die skrywer haar strikke stel en toertjies uitvoer, sal hierdie verhale verslind.

Benewens ʼn bundel betowerende kortverhale, vermoed ek daar kan ook ʼn sterk saak daarvoor gemaak word dat Die Sneeuslaper as handleiding kan dien vir skrywers en kunstenaars.

Lees meer:
Dis ook op ons Uitskieterlys hier: http://www.afrikaans.com/uitskieterlys
http://www.litnet.co.za/lesersindruk-die-sneeuslaper/
http://slipnet.co.za/view/reviews/van-niekerk-verbyster-weereens/
http://www.litnet.co.za/marlene-van-niekerk-1954/

 

1795 deur Dan Sleigh, Tafelberg, 2016.
Hierdie manuskrip het aan Sleigh die Groot Romanwedstryd 2015-titel besorg, en volg die verhaal van William van Rheede van Oudtshoorn, en dié karakter se stryd om geregtigheid (en teen verraad) tydens die Britse inval aan die Kaap in dieselfde jaar.

Sleigh vereis ʼn toegewyde leser, aangesien hy ʼn verhaal gedetailleerd en so volledig as moontlik vertel. Hy is ʼn egter bedagsame skrywer: Hy bou sterk karakters en ʼn stewige spanningslyn waarmee hy as’t ware die leser se hand neem en hom lei deur die onstuimige tye aan die Kaap van 1795 (tydens die laaste stuiptrekkings van die Kompanjie se bewind aan die Kaap).

Benewens uiteraard ʼn literêre werk, is 1795 ook ʼn belangrike teks wat deelneem aan die vertel van Suid-Afrika se historiese narratief. Lesers kan die boek dus op twee vlakke verreikend vind.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-1795-deur-dan-sleigh/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/dan-sleigh-kry-iets-reg-wat-min-kan/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/09/n-nota-by-dan-sleigh-se-roman-1795.html
http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/

Luister:
Dan Sleigh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (31/08/2016) oor 1795 http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

Buys deur Willem Anker, Kwela, 2014
Hierdie bekroonde roman doen presies wat 1795 doen. Dit is ’n berekenend onverskrokke teks oor die minder berekende, dog onverskrokke Coenraad de Buys.

Buys, ’n “grensroman”, volg die omstrede karakter se wilde en woeste trek deur die land, en is waarskynlik nie vir sensitiewe lesers nie.

De Buys is in 1761 gebore, en in 1821 oorlede. Buys en 1795 speel dus minstens gedeeltelik in dieselfde era af. Dit is natuurlik onverskillig om enige twee boeke sommer so met mekaar te vergelyk of saam te lees. Maar met dié dat beide grootliks geskoei is op die werklikheid, het ek dit tog prettig gevind om te lees oor die gekultiveerdheid van die Kaap in 1795, en dan te wonder met watter onhebbelikhede Buys op daardie oomblik doenig sou wees.

Lees meer:
Dis ook op ons Uitskieterlys hier: http://www.afrikaans.com/uitskieterlys
http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-buys-deur-willem-anker/
http://www.leondekock.co.za/wp-content/uploads/Rapport_ALL_Weekliks-JHB_25012015RW-1.pdf

Luister:
Willem Anker gesels in RSG se Skrywers en Boeke (29/04/2015) oor Buys http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

  Lees meer ...

 

Skrywer: Francois Verster: Van Kaspaas tot Kaas: die lewe en werk van TO Honiball. 

 

Francois Verster is ʼn Kaapse skrywer, joernalis en resensent. Hy was eers onderwyser en daarna ʼn argivaris by die Kaapse argiefdiens voordat hy in 2007 Naspers se argivaris geword het. Francois het nagraadse kwalifikasies in die onderwys, joernalistiek en argiefwese, en behaal in 2003 ʼn doktorsgraad in kultuurgeskiedenis aan die US. In 2010 behaal hy ʼn tweede meestersgraad aan die US, hierdie keer in joernalistiek. Een van die boeke uit sy pen is: Van Kaspaas tot Kaas: die lewe en werk van TO Honiball. Hier gesels hy oor die ses boeke wat hy onlangs gelees en geniet het.
 

Boeke uit sy pen:

Van Kaspaas tot Kaas: die lewe en werk van TO Honiball, AFRICAN SUN MeDIA, 2005.
Deur na Nebula Nege, Thompson Boekdrukkery, 2014
Inversium, Thompson Publishing, 2015
Omega, oor en uit, Tafelberg, 2016
Die Groot Drie, Penguin, 2016

Hier is ses boeke wat hy onlangs gelees en geniet het:

1. Openbaring: ʼn reisjoernaal deur C. Johan Bakkes, Queillerie, 2016.

Johan Bakkes, die Afrikaanse Indiana Jones, skryf direk en tierlantyntjieloos en met die weerbarstigheid van ʼn avonturier, iets wat sy baie persoonlike ervarings uiters genotvolle leesstof maak. Wanneer jy dié boek oplaas neersit, hoop jy hy gaan nog avonture aandurf en dit - natuurlik - met jou deel. Veral oor plekke waar die plaaslike mense nie eens wil wees nie en waaroor hy soos ʼn dwalende verslaggewer berig. Na sy beskrywing van ʼn bitter koue reis na die koudste plek op aarde, wonder mens onwillekeurig of die Russe ooit weer dieselfde sal wees nadat die takhaar Boer hulle land binnegeval het.

Lesers wat ontvlugting soek of net nuuskierig is oor wat op die koudste plek op aarde (Wostok) of die warmste plek (Arho) aangaan, sal Bakkes – in die werklike lewe ʼn professor in rekeningkunde – se heerlike reisrelase baie geniet. Nes sy vriend Dana Snyman, reis hierdie skrywer na buite én na binne. En ek, vir een, wens ek kon sáám.

Lees meer:
http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-van-die-maand-resensie-openbaring-n-reisjoernaal-johan-c-bakkes/
http://www.litnet.co.za/boekresensie-openbaring-deur-johan-bakkes/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/04/c-johann-bakkes-openbaring-n.html
Kyk: Bakkes praat oor Openbaring by die US Woordfees 2016: https://www.youtube.com/watch?v=Y7V7Uux8JcI

 

2. ‘n Duitser aan die Kaap 1724-1765 deur Karel Schoeman, Protea Boekhuis, 2004.

Schoeman se nie-fiksie, soos Duitser, is dalk nie so elegant soos sy romans en korter stukke nie, maar is belaai met inligting oor die betrokke onderwerp. In hierdie boek skryf hy oor sy stamvader Hendrik, maar al kon hy uiteindelik min inligting oor die ouer Schoeman opdiep, beskryf Skrywer Schoeman die tydperk en milieu so volledig dat die boek uiteindelik 505 bladsye beloop.

As jy soms ‘n vae gevoel kry dat jy ‘n vorige lewe – of meer as een – gehad het, of as die déjà vu jou nekhare kielie as jy op ʼn plek kom, is dit nie dalk jou voorvaders se gene nie? Dalk is dit in die bloed, en dalk verwens jy die Drang nach Osten van die ou Europeërs, maar as jy Schoeman lees, sal jy verstaan waarom jy nou hier is. Reis gerus saam met Schoeman wat soveel reisverhale van gister uit die argiewe en biblioteke uitgevis het. 

Lees meer:
http://www.proteaboekhuis.com/site.php/duitser-aan-die-kaap-1724-1765-n-die-lewe-en-loopbaan-van-hendrik-schoeman.html
http://journals.co.za/content/culture/21/2/EJC30693

 

3. Historikus Hermann Giliomee: ’n outobiografie, Tafelberg Uitgewers, 2016.

‘n Oorsig van die bekende historikus se lewe tot dusver, met die fokus op sy loopbaan en invloed op die land se politiek. Veral interessant is die onthullings van politiekery in sowel ons politieke as akademiese wandelgange. Giliomee vertel, ekstrapoleer en spekuleer boeiend omdat hy goed toegerus is met die vaardighede wat snuffel, delf en sweet tussen smal rakke, stowwerige argiewe en beklemmend-eng kollegas ná etlike dekades meegebring het.

Wie lees outobiografieë? Blykbaar meestal ouer mense. Waarom? Wie kan sê, maar dalk gaan dit oor retrospeksie en vergelyking, bestekopname, berusting. En dalk gaan dit vir die skrywers van biografieë ook in ʼn mate oor ʼn katarsis. Hoe dit ook al sy, min biografieë is nié inspirerend nie en Giliomee s’n is ook: hy versinnebeeld vir my, een van sy oud-studente, al lankal die gesegde “You can’t keep a good man down.” En met die veronderstelde “sinergie van boeke” vind ek die volgende gesegde in Oorlog en Terpentyn: “Nooit, het hy gesê, het hy geglo hoe lank die dae, die tyd en die lewe kan duur vir iemand wat op ‘n syspoor gerangeer is nie.” Giliomee het egter noodgedwonge sy eie paaie gemaak, soos hy met nederigheid vertel.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/boekresensie-hermann-giliomee-historikus-n-outobiografie/

Luister:
Willem Anker gesels in RSG se Skrywers en Boeke (29/04/2015) oor Buys http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

 

4. Vuurklip deur Marié Heese, Human & Rousseau, 2013. 

Hierdie pre-historiese roman is ʼn rara avis, want so ʼn boek verg heelwat navorsing wat nie met ‘n toetsborddrukkie gevind kan word nie. Wat die verhaal van ʼn byna vergete tyd relevant maak, is die plek. Heese plaas ons as’t ware ver terug in tyd, maar naby aan waar ons nou is. Haar sorgsame karakterontwikkeling, en self die skepping van ‘n oertaal, beïndruk.

Elke leser wat al oor ons voorgeskiedenis gewonder het, kan Vuurklip gerus nadertrek. Verwag gerus dat jy in jou gedagtes ʼn band sal voel met ons verre voorsate wat met verwagting saans by die storievure gaan sit het om sin en struktuur in hulle wilde, gevaarlike lewens te vind, om te bespiegel oor waar hulle vandaan gekom het en waarom hulle hier was, presies nes ons steeds vandag doen. Heese skryf met oortuiging, want haar storie het ʼn stewige navorsingsfondament én sy het die ou lê- en jagplekke wat sy beskryf, self besoek. Boonop kan jy met die treffende karakters empatiseer.

Lees meer:
http://www.litnet.co.za/vuurklip-van-mari-heese/

http://joanhambidge.blogspot.co.za/2014/01/marie-heese-vuurklip-2014.html

Dis ook op ons Uitskieterlys hier:  
http://www.afrikaans.com/uitskieterlys

 

5. Wys my waar is Timboektoe deur Hennie Aucamp, Tafelberg Uitgewers, 1997.. 

 Watter genot om die ou meester asof vanuit die graf te hoor praat, as hy sê: “Lees hierdie skrywers se werk, die aan jou bekendes en die onbekendes, kyk wat het Afrika geïnspireer!”

Vyf-en-twintig kleinode in kortverhaalgedaante om die fynproewer te vermaak in ‘n bundel met ʼn interessante voorblad waarop ʼn Judith Mason-skildery pryk. Die stuk oor renosters deur J. Bruwer is soos ‘n profesie om te bestraf en te betreur. Dis ‘n boek vol nostalgie, maar veel, veel dieper as net dit.

Elke leser sal sy/haar eie gunstelinge in hierdie bundel vind en weer verwonderd staan oor hoe tydloos ou verhale kan wees. Vir my is fragment uit Los Lusiádas oor die legende van Adamastor prikkelend, asook J.F. Jacobs se Grusame Boesman-moorde en uitdelgende Grikwa-wraak, want dit vertel ‘n bra onbekende verhaal op ‘n heel ongewone manier, naamlik vanuit die perspektiewe van inheemse mense.

Timboektoe is ‘n boek vol ongewone stories en uitdagende gesigspunte.

Meer oor Hennie Aucamp:

http://www.litnet.co.za/hennie-aucamp-1934/


6. Oorlog en terpentyn, deur Stefan Hertmans, in Afrikaans en vertaal deur Daniel Hugo, Protea Boekhuis, 2016. 

“Memoirs is mos mode, genoeg!” sal sommige mense dalk sê, maar waar ons gewoond is aan Boere-oorlogstories en deesdae ook Grensoorlogverhale, is die plek én tyd hierdie keer weg van ons, naamlik Nederland in die Eerste Wêreldoorlog. Hertmans maak dit alles baie persoonlik, sy én sy oupa se stories wat vernuftig swaelstert om die byna onuitspreeklike lyding van gister en die skuldgevoelens van vandag na ons binnekamers te bring met ʼn eerlikheid wat ontwapen en meesleur.

 

Stories oor die oud-soldaat as gemartelde randfiguur, uitgerangeer deur gemeenskappe wat met nuwe tye en op nuwe tamboere wil aanmarsjeer, word in baie boeke amper gekarikaturiseer. Maar Hertmans se oupa was anders: hy het homself na sy ateljee gerangeer – die trotse, huilende veteraan. En dan is daar sy vrou wat stil ly, asof sy in die skaduwee van haar kort mannetjie se groot oorlog móét bly. Die ou orde moet gehandhaaf word; die status quo is die laaste loopgraaf.

Herinneringsgeskrifte soos hierdie een met sy eggo’s van E. M. Remarque se Im westen nich neues (All quiet on the Western Front) is altyd aangrypend, veral as hulle deur bedrewe skrywers soos Hertmans aangebied word. Dis ‘n “kleiner geskiedenis,” maar ‘n intiemer een as baie van die grotes. 

Lees meer

http://www.litnet.co.za/fine-music-radio-resensie-oorlog-en-terpentyn-deur-stefan-hertmans-vertaal-deur-daniel-hugo/

Luister:
Johan Myburg gesels met Stefan Hertmans oor Oorlog en Terpentyn, 8 Maart 2017 in Skrywers en Boeke, http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp

Meer oor Francois:
https://www.litnet.co.za/author/francois-verster/
http://www.stellenboschwriters.com/versterf.html


  Lees meer ...

 

 

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...