Aan die woord

28 Maart 2017

Wie is Didi Breytenbach? 


Haar boeke is goed ontvang deur lesers sowel as resensente, en die feit dat die hoofkarakter in al drie haar boeke nie ‘n speurder is nie, maar ʼn regsgeleerde, dra beslis by tot haar gewildheid. Voeg daarby interessante storielyne en empatie met haar karakters, en jy sal verstaan hoekom daar van Dibi gepraat word as een van die opwindendste nuwe stemme in Afrikaanse ontspanningsfiksie.

Ilse Salzwedel het vir Dibi die bekende Proust-vraelys gegee om te beantwoord. 

Lees meer ...

 

Wie is Helene de Kock? 

Helene de Kock is een van die gewildste skrywers in Afrikaans en sedert haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar aan Tukkies in Huisgenoot verskyn het, het daar al meer as veertig romans uit haar pen verskyn.


Die skrywer, Helene de Kock, vertel vir Ilse Salzwedel hoekom sy skryf en sy beantwoord ons Proust-vraelys.

Lees meer ...

 

Vyf vrae aan Marita van der Vyver (Misverstand, Penguin Random House, 2017). 

In haar dertiende roman ondersoek die baie gewilde skrywer kwessies waarmee talle middeljariges kan identifiseer. Prof. Joan Hambidge, bekende letterkundige, digter en resensent, meen selfs dat dit ʼn tong-in-die-kies ondersoek is na etlike kwessies wat die middeljarige Van der Vyver besig hou, soos “die rol van ‘n suksesverhaal (Griet skryf ‘n sprokie) waarna kritici altyd terugkeer, terwyl sy ook ander werke gelewer het, soos uitstekende kinderboeke en kosboeke.”

Sedert haar topverkoperdebuut Griet skryf ʼn sprokie in 1992 Afrikaanse lesers so betower het dat 10 000 eksemplare daarvan in die eerste maand verkoop is, het daar talle boeke uit Marita se baie kreatiewe pen verskyn. Dit wissel tussen kinderboeke soos Olinosters op die dak, jeugromans soos Hanna Hoekom, kosboeke, outobiografiese vertellings oor haar lewe op die Franse platteland en romans. Tussendeur was daar ook ʼn reeks tydskrifrubrieke vir Sarie. Twee van haar boeke (Hanna Hoekom en Dis koue kos, skat) is verfilm, en Griet-aanhangers sal bly wees om te hoor dat planne vir hierdie langverwagte film ook goed vorder.

Marita se volwasse romans is almal in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf 'n sprokie in twaalf tale vertaal is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het ook in Yslands verskyn.

Sy het al talle letterkundige pryse verower, waarvan die mees onlangse ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, vir haar tweede radiodrama Genade. Marita woon op 'n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. Hulle het drie seuns en 'n dogter.

Jou boek in ʼn neutedop?
Misverstand gaan oor misverstande tussen mense – tussen getroude pare, ouers en kinders, maar ook tussen kulture, tussen Europa en die res van die wêreld. En ook oor hoe ons onsself misverstaan. Twee Suid-Afrikaners bring vier dae deur in 'n vreemde stad (Parys) en leer hulself bietjie beter ken.

Wat was die inspirasie vir die boek? 
Ek wou lankal skryf oor 'n middelmatige kunstenaar wat soos 'n has been voel en geld maak op maniere waaroor hy hom eintlik skaam. Toe skep ek vir Willem Prins wat hygromans onder 'n vroulike skuilnaam (Lolita Meyer) skryf...

Jy is ʼn uiters produktiewe skrywer wat skryf baie maklik laat lyk. Hoeveel uur per dag skryf jy? 
Ek skryf baie gedissiplineerd van nege tot vyf daagliks, behalwe wanneer ek reis. Ek het nie genoeg dissipline – of energie – om dan te skryf nie, maar dis dan wanneer ek idees vir toekomstige stories versamel. Skryf kom nooit vir my maklik nie, maar ek het geleer om dit maklik te laat lyk. Die moeilikste deel van skryf is juis om weg te steek hoe moeilik dit is. Soos balletdansers wat ballet maklik laat lyk – totdat jy hulle knobbelrige, bebloede voete in die satynskoene sien. Dis wat ek – en baie ander skrywers – probeer doen. 

Wie is jou gunstelingskrywers?
Ek bewonder skrywers wat literêr maar toeganklik en genotvol skryf. Mense soos Margaret Atwood, Alice Munro, Ian McEwan, Hilary Mantel, Kate Atkinson, Don DeLillo. En die meeste van dié wat ek bewonder, skrik nie vir humor in hulle werk nie.

Wat is die beste skryfraad wat jy as jong skrywer gekry het?
Elsa Joubert het baie jare gelede vir my gesê jy kry nooit klaar met 'n teks nie – jy moet dit net laat gaan op 'n sekere punt. Jy moet dit agterlaat. En André Brink het my, toe ek nog baie jonk was, gewaarsku dat dit nie makliker word ná baie boeke nie; dit word al hoe moeiliker, want die eise wat jy aan jouself stel en die verwagtinge van jou lesers word al hoe groter.

Lees meer...

http://joanhambidge.blogspot.co.za/2017/03/marita-van-der-vyver-misverstand-2017.html
http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-van-die-maand-resensie-misverstand-deur-marieta-van-der-vyver/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/marita-van-der-vyver-oor-haar-misverstand/

Luister: 

Marita gesels in RSG se Skrywers en Boeke (22/03/2017) oor Misverstand: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
Karin Brynard het tydens vanjaar se US Woordfees met Marita gesels: https://iono.fm/e/392966

  Lees meer ...

 

Vyf vrae aan Irma Venter (Sirkus, Human & Rousseau). 

Irma Venter se vyfde roman, Sirkus, het onlangs verskyn. Die resensent Jonathan Amid beskryf haar tereg as ʼn skrywer wat spesialiseer in “voortdurend uitdagende” misdaadfiksie. Hy som haar suksesresep as volg op: “Afwisseling tussen vertellers (in Sondebok sommer vier!); uitmuntende gebruik van kontrasterende ruimtes (elke provinsie in Suid-Afrika is ontgin as landskap in Skarlaken); uitstaande intrige en raaiselwaarde; deernisvolle karakterisering van mens-mense in ekstreme situasies; en die onlosmaaklike houvas van die verlede op die hede.”

Sirkus is die vyfde boek in wat nou al bekend staan as die S-reeks. Die reeks begin met Skoenlapper, gevolg deur Skrapnel, Sondebok en Skarlaken.

Irma, ʼn joernalis by twee spesialis-tydskrifte, Engineering News en Mining Weekly, woon in Pretoria. Sy is gek oor goeie koffie, interessante mense en reis. “As die Rand net so bietjie veld wen wil ek graag binne die volgende vyf jaar Ysland toe gaan. Verlatenheid en stilte bly vir my een van die mooiste dinge op hierdie aarde.

Waaroor gaan Sirkus?

Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien jaar oud. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel maar op ’n dag verander alles, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. As sy hulle nie help om die ANC se geldspoor van Duitsland na Suid-Afrika te volg nie, sit sy en haar chroniese siek ma sonder heenkome. En sy sonder haar studiebeurs. Dis hoe Adriana in Berlyn beland. Dis hier waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Ver weg van alles wat bekend en veilig is, leer Adriana waartoe sy in staat is. Bowenal leer sy dat niemand, ook nie sý nie, ooit heeltemal onskuldig is nie..

Waar kom die idee vir die storie vandaan? 
Ek het besluit om ’n joernalis te word nadat ek een aand op die nuus gesien het hoe die Berlynse Muur val. Ek was in standard sewe – graad nege. Die oomblik het my bygebly ⎯ die idee dat Suid-Afrika en Europa op dieselfde tydstip deur hierdie grootse verandering gegaan het. 

Deesdae reis ek gereeld na Duitsland om nuusstories daar te dek (ek skryf oor die motorbedryf), so die gebeurtenisse van daardie tyd het in my agterkop bly broei.

Voeg nou daarby die feit dat soveel van Suid-Afrika se onvertelde geskiedenis besig is om uit te dop in boeke en verhale, en dan het mens mos die resep om ’n “onvertelde” verhaal’ van jou eie te skep. Ek het die geskiedkundige gegewe in beide lande geneem en ’n sterk dosis fiksie daarmee verweef om ’n lekker spanningsverhaal te skryf.

Jy werk voltyds. Wanneer kry jy tyd vir skryf en navorsing?
Ek staan elke weeksoggend baie vroeg op om te skryf. Soms, as dit moet, sal ek Saterdae ook skryf. Ek glo in wat Stephen King destyds gesê het: Mens se brein skakel later vanself aan as jy dit deur roetine leer wanneer om te werk en te skep.

Die prikkel vir ʼn storie-idee kom dikwels uit iets wat ek gelees het, of ’n gesprek – soms selfs uit ʼn gesprek wat ek net gehoor het) of selfs danksy iemand wat ek ontmoet het. Daarna timmer en vorm ek die idee deur navorsing. Die besondere uitdaging is om dit alles te skaaf tot die verhaallyn glad en elegant vloei.

Navorsing is belangrik, maar my vernaamste oogmerk is om lesers te vermaak. Om hulle tot op die laaste bladsy te uitoorlê. Ek geniet die wisselwerking tussen leser en spanningsverhaalskrywer – gaan ek hulle kan fop oor wie die skuldige is, of gaan hulle voor die tyd uitwerk wat op die laaste bladsy gebeur?

Watter skrywers se werk bewonder jy?
Elegante verhaalstrukture oorrompel my. Boeke waar ek eenvoudig nie kan voorspel wat gaan gebeur nie. Ek is mal oor die vroeëre boeke van Alexandra Fuller, oor The Little Prince, oor die digkuns van Carol Ann Duffy en Danie Marais. Oor T Jefferson Parker en Sara Paretsky se speurromans. My boekrak staan ook boeppens met omtrent elke Afrikaanse speurroman wat die laaste paar jaar verskyn het. Ek het, sonder uitsondering, heerlik aan hulle almal gelees.

Die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Skryf, al is dit 300 woorde elke dag. Skryf, al wil jy nie; al is jou kop dig met ander dinge. Gaan sit en skryf, elke dag, op dieselfde tyd. Die boek wat mens wil skryf beteken niks. Mens kan net iets doen met die boek wat jy reeds geskryf het.

Lees meer...

http://www.litnet.co.za/sirkus-deur-irma-venter-n-onderhoud/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/irma-venter-praat-oor-haar-tawwe-koekie-en-waarheidsoeker/
https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20170306/281805693719890

Luister: 

Irma Venter gesels in RSG se Skrywers en Boeke (19 Februarie 2014) oor Skrapnel: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
Irma gesels met Ronel Nel oor Sirkus tydens vanjaar se US Woordfees: https://iono.fm/e/394248

 

  Lees meer ...

 

Vyf vrae aan Wilna Adriaanse, skrywer van Eindspel (Tafelberg, 2016). 

Wilna Adriaanse se eerste boek, Die wingerd sal weer bot, is in 2000 onder die skuilnaam Wilmine Burger uitgegee. Daarna het sy nog drie boeke onder hierdie skuilnaam gepubliseer. Een daarvan, ʼn Heildronk op die liefde, is in 2003 met die ATKV-prys vir die beste liefdesroman bekroon. In 2009 word haar twaalfde roman, Die boek van Ester, ook met ʼn ATKV-Woordveertjie as beste liefdesroman bekroon. Wilna se outobiografiese roman, ʼn Klein lewe (2012) het voortgespruit uit die MA-graad in kreatiewe skryfwerk wat sy aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. Eindspel is haar sestiende boek, en volg op Dubbelspel (2014).

Wilna en haar man Deon pendel die afgelope vyf jaar tussen Stellenbosch en ʼn klein dorpie in Botswana waar Deon werk. Wilna vertel dat die pendelry haar geleer het om op verskillende plekke te skryf, ook op vliegtuie en lughawens.

Hoe lank skryf jy al? En hoe het jy begin skryf??

Om te skryf was ’n nuwejaarsvoorneme wat ek middernag op 31 Desember 1999 in die Switserse Alpe geneem het. Op daardie stadium het ek gedink daar is net hierdie een romantiese storietjie wat ek wil skryf. Daarom het ek dit toe onder ’n skuilnaam geskryf. Ek het gedink as dit ooit gepubliseer word, wil ek nie hê die mense moet my vra of ek nou ’n skrywer wil word nie.

Waaroor gaan Eindspel, en hoe sluit dit aan by Dubbelspel?
In Dubbelspel leer ken die leser die twee hoofkarakters, Ellie McKenna, ’n vrouespeurder, en Nick Malherbe, ’n lid van Interpol. Sowel Ellie as Nick is betrokke by ’n koverte operasie. Hulle ontmoet terwyl albei vir ’n bekende Italiaanse sakeman, Enzio Allegretti, in Kaapstad werk. Nick as die familie se sekuriteitshoof, en Ellie as die veiligheidswag vir Allegretti se jong vriendin, Clara Veldman. Sy is ’n familielid van die Kaapse bendebaas, Nazeem Williams.

Ellie werk onder moeilike omstandighede, want haar pa, wat ook in die polisie was, is so pas by ’n padblokkade doodgeskiet. Al wat sy eintlik wil doen is om haar pa se moordenaars op te spoor. Haar werk behels die ondersoek na die verskillende bendes en misdaadkartelle in Suid-Afrika, en vermoed een van die groepe kan dalk vir haar pa se moord verantwoordelik wees.

Eindspel begin met Ellie wat op ’n klein plattelandse dorpie woon terwyl sy probeer herstel van beserings wat sy in Dubbelspel opgedoen het. Daar gebeur egter iets in Kaapstad, en sy word teruggetrek in die Kaapse onderwêreld se web van misdaad en intrige. Sy en Nick Malherbe beland weer saam, maar amper ook teenoor mekaar in ’n nuwe saak.

Dubbelspel was jou eerste spanningsroman. Hoe het dit gebeur? En waar het die idee ontstaan?
Dubbelspel en Eindspel het eintlik maar net soos al my ander boeke ontstaan met ʼn karakter wat haarself by my kom aanmeld het. Al my boeke tot dusver het met ʼn karakter begin, en terwyl ek dan die karakter begin ondersoek, ontvou die storie.

Jy het ʼn graad in kreatiewe skryfkuns. Was skryf daarna makliker?
Nee, dit was nie makliker nie, want toe was ek meer bewus van die slaggate. Ek het ook geleer dat minder dikwels eintlik meer is, en dat ’n mens iets byvoorbeeld met minder woorde kan beskryf, mits jy jou woorde goed kies. Dit verg nogal baie dinkwerk.

Jy het nou al oor ʼn wye spektrum geskryf: van liefdesverhale tot spanning en ʼn outobiografiese roman. Wat is die moeilikste?
Die boek waaraan mens op daardie oomblik werk, is altyd die moeilikste! Elke genre het sy eie uitdagings. In ’n liefdesverhaal is dit gewoonlik van baie vroeg af duidelik wie by wie gaan uitkom. Die uitdaging lê daarin om die leser steeds nuuskierig te maak en geïnteresseerd te hou tot aan die einde.

Spanningsverhale het weer soveel verskillende drade wat gespan moet word, dat dit ’n hele nuwe denkproses verg. Op die oomblik is dit ’n lekker nuwe uitdaging vir my.

Die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
As jy nie self van jou storie hou nie, kan jy nie verwag die lesers gaan daarvan hou nie. Skryf dus vir jouself. Dis harde werk en verg toewyding en baie alleenure. Wees voorbereid daarop.

Lees meer...

Erika Terblanche - Wilna Adriaanse op LitNet
Eindspel deur Wilna Adriaanse op Netwerk24

Luister:

Wilna Adriaanse en Lerina Erasmus (skrywer van Die Leliemoordenaar) gesels met Deborah Steinmair oor hulle jongste romans. Opgeneem tydens die Skrywersfees van die US Woordfees

Wilna gesels in RSG se Skrywers en Boeke oor ʼn Klein Lewe (08/08/2012) en Dubbelspel (02/07/2014)

  Lees meer ...

 

Twee skrywers in gesprek tydens ATKV-boekeaand. 

Isa Konrad, skrywer van onder meer die gewilde sielkundige riller Die Soenoffer en Moord op Karibib, woon in Switserland, maar het nog nooit haar liefde vir Afrikaans verloor nie. Tydens ʼn onlangse besoek aan Suid-Afrika het sy en die bekroonde skrywer Sophia Kapp tydens ʼn ATKV-geleentheid in Pretoria oor skryf en hul boeke gesels.

Isa Konrad en Sophia het onlangs in Pretoria met mekaar gesels oor hulle werk. Só som hulle hul jongste romans op (Sien video links).

 

Isa Konrad, wat in Namibië gebore en getoë is, het kort na matriek na Switserland geemigreer. Sy het eers in Zürich gewoon, maar deesdae verdeel sy en haar gesin hul tyd tussen Solothurn, ’n barokstad op die Aare-rivier, en ’n huis in die Peniniese Alpe naby die grens van Italië.

Haar skryfloopbaan is die uitvloeisel van haar nuuskierigheid oor stories. Na die geboorte van haar jongste kind, het sy ʼn skryfkursus deur die London School of Journalism gedoen. Haar tutor het gedink liefdesverhale is ʼn uitstekende leerskool as sy wou fiksie skryf. Die skryfgogga het behoorlik gebyt, en Konrad het agt Romanzas vir LAPA geskryf.

Haar eerste spanningsroman, Die Ondenkbare het in 2010 by LAPA verskyn, en speel af op die Namibiese kusdorpie Lüderitz. Hoewel haar spanningsdebuut goed ontvang is, was dit veral haar tweede roman, Die Soenoffer, wat Afrikaanse lesers laat regop sit het. Dié sielkundige riller vertel die verhaal van ʼn negejarige reeksmoordenaar, en vergelyk uitstekend met internasionale boeke in hierdie genre. Konrad se derde boek, Diva, was ewe gewild, en speel weer eens af in ʼn plek en mileu wat lesers meevoer: die operawêreld in Zürich, ʼn stad wat Konrad soos die palm van haar hand ken. Moord op Karibib het verlede jaar verskyn, en word beskou as haar beste misdaadroman tot dusver.

Die gespreksleier tydens die geleentheid, Sophia Kapp, is een van die gewildste Afrikaanse liefdesverhaalskrywers en het reeds nege romans en een Romanza op haar kerfstok. Kapp se werk is reeds drie maal met ATKVeertjies bekroon. Haar jongste roman, Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva, wat in Februarie 2016 verskyn het, is na meer as ʼn jaar steeds op die Nielsens top 100-verkoperslys. Kenners is dit eens dat hierdie roman die moderne Afrikaanse vrou se psige perfek opsom en Kapp het daarmee nie net vir haar nie, maar ook vir Afrikaans, ʼn splinternuwe mark oopgeskryf. Die boek het ook gelei tot ʼn topverkoper-joernaal, die Joernaal vir ʼn Bedonnerde Diva.

Albei skrywers se werk word deur LAPA uitgegee.

Lees meer oor Isa en Sophia en hul werk:

http://crimebeat.bookslive.co.za/blog/2010/05/17/crime-beat-chanette-paul-praat-met-isa-konrad-oor-die-ondenkbare/
https://altacloete.wordpress.com/2017/03/19/isa-konrad-se-nuutste-moord-op-karibib/
http://lekkerleesblog.blogspot.co.za/2012/03/n-onderhoud-met-isa-konrad.html
http://www.litnet.co.za/us-woordfees-2016-onderhoud-sophia-kapp-oor-oorlewingsgids-vir-n-bedonnerde-diva/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/vier-en-flippen-veertig-werkloos-vir-die-tweede-keer-aan-die-skei/

  Lees meer ...

 

Jaco Jacobs – die geheim van ’n goeie kinderboek. 

Jaco Jacobs is ‘n bekroonde kinder- en jeugboekskrywer, wat vertel dat hy kleintyd eintlik ʼn krokodiltemmer wou word. Hy het in die Karoo grootgeword, maar bly nou reeds byna twintig jaar in Bloemfontein. Hoewel hy soms kortverhale en rubrieke vir volwassenes skryf, is die meeste van sy skryfwerk op kinders gemik. Hy skryf kinder- en jeugboeke vir kinders van alle ouderdomme. Dit wissel van prenteboeke vir kleuters tot rympies en stories vir laerskoolkinders en boeke vir tieners. Jaco het ook al meer as 250 boeke in Afrikaans vertaal.

 

Wat is die geheim van ʼn goeie kinderboek?

“Eerlikheid staan vir my uit. Jy moet ’n opregte belangstelling in die storie en karakters hê, en eindelose respek en bewondering vir die leef- en verbeeldingswêreld van kinders. Ek glo ook jy moet regtigwaar ’n aanhanger van die genre wees en dit geniet om hierdie soort stories te skep.”

Wou jy altyd ʼn skrywer word?
“Nee, nie regtig nie. Kleintyd het ek daarvan gedroom om ’n krokodiltemmer in die sirkus te word. Nugter weet waar ek aan dié idee gekom het, want ek het nooit ’n sirkus met krokodille gesien nie! Ek het op ’n plaas grootgeword, en op ’n kol wou ek graag ’n wildbewaarder word of gaan boer – maar ek is universiteit toe met die idee dat ek dalk ’n sielkundige of ’n joernalis sal word. In my hart het ek egter op hoërskool reeds geweet dat ek stories wil skryf vir ʼn lewe. Ek het trouens in standerd nege rond stories vir tydskrifte begin stuur en in matriek my eerste tydskrifstories verkoop – alles in ’n poging om te probeer bevestig dat ek hopelik wel skryftalent het.”

Vertel ons van die skryfproses.
“Dit hang alles regtig van boek tot boek af. Skryf is nooit regtig vir my maklik nie – dit is meestal harde, eensame werk wat baie ure agter jou rekenaar verg. Maar party boeke is wel makliker as ander om te skryf – en elke boek het wonderlike, prettige oomblikke tydens die skryfproses wat dit alles die moeite werd maak! Wanneer ek aan ’n boek werk, skryf ek graag vroegoggend, terwyl alles nog rustig is en my kop nog vars is. Ek doen slegs navorsing as dit regtig nodig is vir die storie waaraan ek werk, en ek probeer verhoed dat die navorsing my aandag van die storie aftrek. Met nie-fiksie is dit natuurlik ’n ander saak – dan doen ek hope leeswerk.”

Watter skrywers se werk bewonder jy?
“O, daar is so baie. Ek bewonder Stephen King se vermoë om onvergeetlike karakters te skep en vloeiende prosa te skryf, Jonathan Safran Foer se ongewone maniere van storievertel, Roald Dahl se humor en die manier hoe hy nie sy lesers onderskat het nie. Ook skrywers soos Michael Rosen, Brian Patten, Kenn Nesbitt, Brian Moses en ons eie Philip de Vos wat fantastiese kinderverse skryf.”

Die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Lees, lees, lees, lees! Lees soveel jy kan in die genre waarin jy graag wil skryf. Ek glo ’n goeie skrywer moet in die eerste plek ’n goeie leser wees.

*Hy het pas ’n internasionale deurbraak gemaak toe een van sy jeugromans vir ’n Britse vertaalprojek uitgesonder is. Lees meer ...

  Lees meer ...

 

Vyf vrae aan Naomi Meyer, skrywer van Web (Queillerie, 2017). 

Naomi Meyer, Litnet se inhoudsbestuurder, se spanningsroman het die tonge behoorlik los. Die skrywer Deborah Steinmair beskryf dit as “domestic noir”, ʼn misdaadsubgenre wat meestal in huise en werksplekke afspeel, om verhoudings draai en hoofsaaklik gerig is op die vroulike ervaring.
Dié Stellenboscher is ʼn toegelate prokureur wat na haar klerkskap ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. Haar jeugroman, Ruik jy die Filmster, het in September 2006 by Tafelberg verskyn. Woorde loop in haar gene: haar ma is die bekende skrywer Maretha Maartens. Naomi en haar gesin het ʼn paar jaar in Ierland gewoon voordat hulle in September 2011 na Stellenbosch teruggekeer het. 

 

Waaroor gaan Web?

“ 'n Kind raak weg. Dis die dogtertjie van 'n gesin wat lank oorsee gewoon het en haar aangeneem het. Noudat hulle teruggekeer het Suid-Afrika toe, is so baie dinge soek. Hulle idee van hoe dit sou wees om terug te kom, dalk hulleself ook, maar op 'n ander manier as die kind. Waar kan sy wees? Een oomblik was sy nog by die kleuterskool en dan, as die ma haar gaan haal, is sy nie meer daar nie. Daar is nie 'n duidelike motief nie, niemand wat rede het om haar te ontvoer nie. In die boek, en in die soeke na die kind, ontdek die ma en pa wat speurwerk doen, 'n hele paar ontstellende dinge. Maar waar is die dogtertjie dan?”

Waar kom die idee vandaan?
“Die sneller van die verhaal was op die Praia da Luz in Portugal, dieselfde strand waar Madeleine McCann weggeraak het. Ons het destyds nog in Ierland gewoon, en daar saam met vriende van ons vakansie gehou. Daar, op die strand, het die vraag by my opgekom: wat as 'n kind sou wegraak? Ek het daardie aand nog die eerste hoofstuk geskryf. Dis later herskryf, maar die storie se geboorte het daar plaasgevind.”

Vertel ons van die skryfproses. Het jy ‘n skryfroetine? Hoe werk jou navorsing?
“Toe my seun – my oudste, ek het ook 'n dogtertjie – gebore is, het ek finaal besef: daar gaan nooit tyd wees nie. So, my skryfroetine is om te skryf wanneer dit hoegenaamd kan. Ek moet aanpasbaar wees: partykeer is dit soggens, soms saans, ander kere was dit gedurende my middagete by die werk. Aantekeninge gou-gou iewers deur die dag, wanneer die oggend se werk nie my kop verlaat het nie en ek dan in hoofpunte neergeskryf het waarmee ek later moes voortgaan. Ek skryf nie altyd maklik nie, en soms is dit 'n baie groot frustrasie as ek baie sterk voel dat hierdie 'n storielyn is wat iewers heen gaan en dan moet ek dit vernietig omdat dit eenvoudig nie werk nie. Dikwels het ek met die skryf van Web maar net voortgeploeter. Ek dink ek kan eerder sê: as die storie my gepak het, kon dit nie anders nie.”

Watter skrywers se werk bewonder jy?
“Dis ʼn moeilike vraag – daar sal altyd mense wees wat ek uitlaat. Soms maak die meeste dinge wat 'n skrywer skryf indruk, soms is dit een kortverhaal, een roman. Maar hier is my lysie: Margaret Atwood, Marlene van Niekerk, Doris Lessing, Nadine Gordimer, JM Coetzee, Anne Enright, Ian McEwan, Kazua Ishiguro, Monica Ali, Colm Toibin, Sarah Waters, Sophia Hannah, Val McDermid, Emma Donoghue, Damon Galgut, Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Karin Brynard, Rudie van Rensburg, Lien Botha, Deon Meyer... Ek wil by elke skrywer uitwys wat van hulle werke die grootste indruk gemaak het, maar ek sal eerder hierby volstaan. Maar die lys kan nog baie lank aangaan.”

Die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
“Elke storie word gedryf deur die vraag: wat is die soeke/quest? Jou taak as skrywer is om die karakters so lank en so ver as moontlik weg te hou van die vervulling van jou hoofkarakters se hartsbegeertes, om hulle nie die soektog te vinnig te laat voltrek nie. Indien ooit.”

Lees meer...

http://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-van-die-maand-resensie-web-deur-naomi-meyer/
http://www.litnet.co.za/web-n-onderhoud-met-naomi-meyer/
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/slagoffer-in-haar-eie-seepbel-kon-net-sowel-jy-gewees-het-20170318
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/n-web-wat-jou-in-n-spin-kan-sit-20170318

Kyk:

Naomi gesels met Francois Smith oor Web tydens vanjaar se US Woordfees:

 

  Lees meer ...

 

 

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...