Boek van die Maand: Vlug na Santorini - Malene Breytenbach

05 Februarie 2018

Spesiaal vir die maand van die liefde: Vlug na Santorini - Malene Breytenbach.

Malene Breytenbach het 'n passie vir die liefdesverhaal-genre. Afrikaans.com het met haar gesels om meer oor haar uit te vind en ook waar en waarom sy 'n passie vir hierdie genre ontwikkel het.

Ek het tot ouderdom veertien in Gweru, Zimbabwe, gewoon. Daarna het ek na Pretoria verhuis, aan Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer en aan die Universiteit van Pretoria die grade BA en BA(Hons) behaal. In 1985 het ek en my man en dogter na Stellenbosch verhuis waar ek onder meer joernalistiek tot by doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. Ek het ook by die universiteit gewerk.

Skryf was altyd vir my lekker en nogal maklik. Ek het 'n vriendin gehad wat liefdesverhale geskryf het en toe besluit ek om ook te probeer. In 2005 het ek by Lapa Uitgewers met Palmyra herleef gedebuteer. Daarna het ek woema gekry. Dit was nog altyd vir my lekker om liefdesverhale en fiksie oor die algemeen te lees, maar om agter te kom ek kan dit ook skryf, was eintlik wonderlik. Tot dusver het ek 42 + liefdesverhale geskryf wat deur Lapa en NB Uitgewers gepubliseer is. Van hulle is in omnibusse opgeneem. Twee van my liefdesverhale is onder die skuilnaam Marilyn Bennet gepubliseer. Ek het al verskeie tydskrif-kortverhale en koerantartikels, kortverhale in bundels soos Hartlam en vyf romans geskryf.

Dit is vir my heerlik om 'n "wêreld" te skep met aantreklike, dapper, sjarmante en gekompliseerde karakters. Dit is nog lekkerder om te dink, en soms te hoor, dat ek vir mense vreugde gee. Liefdesverhale is mos ontspanningslektuur. Dit neem jou weg uit die saai alledaagse lewe, laat romanse herlewe, laat jou droom, voer jou weg na romantiese omstandighede en plekke in Suid-Afrika of na ver, eksotiese plekke soos Santorini, Skotland, Ierland, Rusland en ander Griekse eilande, om net 'n paar van my gunstelinge te noem.

Wat is volgens Malene 'n goeie liefdesverhaal?
'n Goeie liefdesverhaal is een waar die begeerte (wat universeel is) goed en oortuigend beskryf word, maar die bevrediging daarvan slim uitgestel word. Die karakters moet ware liefde ontdek deurdat hulle veel meer omtrent die begeerde person te wete kom en leer bewonder as bloot die lyflike. Liefdesverhale is nie 'n reeks bedtonele nie. Romanse is veel meer as dit.

Verder moet die karakters geloofbaar wees. Hulle moet 'n goeie selfbeeld projekteer en moedig wees, en natuurlik aantreklik, anders gaan die lesers mos nie van hulle hou nie. Hulle moet inspireer. Mense moet op hulle kan verlief raak.

Ek glo daar moet dinge gebeur of inligting gegee word wat die leser iets nuuts leer en waarmee sy/hy kan identifiseer. Om navorsing te doen, is een van die lekkerste dinge omtrent skryf. 'n Mens leer soveel daaruit.

Ek is dankbaar dat ek op my beskeie manier tot die uitbouing en ondersteuning van Afrikaans kan bydra.
 

”” ””

Spesiaal vir die maand van die liefde: Vlug na Santorini - Malene Breytenbach.

1. Wat is jou gunsteling- Afrikaanse liefdeswoord?
Koester. 

2. Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?
Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif (Breyten Breytenbach).

3. Wat is die eerste boek wat jy gelees het en wat 'n indruk gelaat het?
Ek het eers in Zimbabwe gewoon en het net Engels gelees. My eerste Afrikaanse boeke het ek op hoërskool gelees toe ons teruggekeer het na Suid-Afrika. Ek onthou dat Ena Murray se liefdesverhale my tienersiel geïnspireer het, maar ek kan nie sê watter een van haar boeke spesifiek nie. Afrikaans het oor die algemeen'n wonderlike ontdekkingsreis geword.

4. Wat is jou idee van perfekte geluk?
Sjampanje op die strand, skemeraand, saam met iemand wat jy liefhet, kom na aan perfek.

5. Wat is die mees romantiese ding wat iemand nog ooit vir jou gedoen het?
Hy het 'n verloofring aan my vinger gesteek by 'n kersligete.

6. Wat is die mees romantiese ding wat jy al vir iemand anders gedoen het?
Seker 'n Valentynsdagkaartjie stuur.

7. Wat is jou grootste vrees?
Om mense te verloor vir wie ek lief is.

8. Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ai tog, ek is so lief vir juwele. Ek weet dis aards en materialisties. Sug.

9. Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Jy weet.

10. By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Om myself uit ‘n afspraak te kry waarheen ek eintlik nie wil gaan nie.

11. Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Willie Breytenbach, my rots, my beskermer, my beste vriend, my geliefde.

12. Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Wanneer my geliefdes tye soos Kersfees om my voltallig is.

13. Watter ander talent sou jy graag wou hê?
Ek kan sing, maar nie soos 'n operaster nie. Ek wens ek kon een geword het.

14. Waar sou jy graag wou woon?
Ek is hier waar ek behoort te wees: teen die berg in Stellenbosch. Santorini sou darem ook nie sleg gewees het nie.

15. Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Ek vermoed dit is om 'n liefdesteleurstelling te hê. 

16. Wie is jou gunstelingskrywers?
Afrikaans: Ingrid Winterbach, Deon Meyer, Wilna Adriaanse, Chanette Paul, maar eintlik is daar te veel om op te noem. Ek moet darem sê dat een van my gunsteling- Engelse skrywers Jane Austen is. So romanties.

17. Wie is die helde in jou lewe?
Buiten my man? Daardie Russiese operaster, Dmitri Hvorostovsky, die sg "Siberiese tier" met sy engelstem, was ook my held, maar hy is onlangs dood en dit was 'n skok.

Romanses, liefdesverhale - watwou jou neus daarvoor optrek!

Wêreldwyd dui navorsing daarop dat romanses steeds van die gewildste leesstof is. Lesers van romanses vind jy in elke spektrum van die moderne samelewing en dis beslis nie net verveelde huisvroue wat hierdie genre verkies nie.

Die verskil tussen 'n romanse en 'n liefdesroman

"'n Heldin in vandag se romanses is nie noodwendig beeldskoon, bloedjonk en brandmaer nie," skryf Alta Cloete op haar blog: "Sy is haar eie, unieke mens. Met oorgawe. Sy het 'n goeie werk of 'n loopbaan of sy is aan die veg daarvoor. Sy weet wat sy wil hê. En as sy nie weet nie, vind sy uit. (En dis nie in die heel eerste instansie 'n man nie.)"

Daar is 'n duidelike verskil tussen 'n romanse, soos wat ons dit in die ou dae geken het as die Mills & Boon wat elke jong meisie verslind het, en 'n liefdesroman.

Maar wat presies is hierdie verskil? Alita Steenkamp het in 'n vorige artikel op Afrikaans.com soos volg verduidelik:

In 'n artikel op die webwerf Skrywers skryf, dui die skrywer Jaybee Roux die volgende onderskeid aan: "'n Romanse word binne bepaalde riglyne geskryf. Hoewel uitgewers altyd op soek is na ietsie vars en oorspronkliks, is daar sekere "reëls" waarby gehou móét word ('n gelukkige einde en 'n held en heldin wat aanvanklik glad nie van mekaar hou nie al is daar 'n seksuele aantrekking tussen hulle, is enkele, vanselfsprekende voorbeelde). Hoewel romanses subplots mag hê, is die fokus altyd op twee karakters wat seksueel aangetrokke voel tot mekaar, maar mekaar om een of ander rede nie kan "vind" nie en dikwels nie wil aanvaar dat hulle nie regtig van mekaar hou nie. (Omdat romanses relatief kort is, is daar gewoonlik eenvoudig nie ruimte vir te veel newekarakters of draadjies wat van die hooftema af wegdwaal nie."

Daarteenoor, sê Jaybee, is 'n liefdesroman (romantic novel) nie so eenselwig soos romanses nie. "Daar is veel meer ruimte vir subplots en newekarakters en ook veel meer vryheid t.o.v. inhoud: daar is veel minder "reëls" as met romanses en dié wat daar is, word minder rigied toegepas. Byvoorbeeld: met romanses is dit verpligtend dat die held in die eerste hoofstuk al sy verskyning maak en dat die heldin eindelik in dié held se arms geluk sal vind. Met 'n liefdesroman mag die held eers later sy entrance maak; dit mag selfs gebeur dat hy homself mettertyd op een of ander manier as held kwalifiseer (deur bv. die heldin te verkul) en dat sy plek deur 'n ánder held ingeneem word. Uitgewers is met hierdie genre ook baie meer toegeeflik t.o.v. temas," skryf Jaybee.

Het jy geweet?

  • Wanneer jy 'n romanse lees, veroorsaak dit 'n chemiese reaksie in jou brein wat jou goed laat voel.
  • Dit verlig stres op 'n natuurlike manier.
  • Dit voer jou weg na 'n plek waar mans ridders is en liefde heel maak.

Lees meer:
Ambassadeur vir Afrikaans, Alta Cloete, bevorder Afrikaanse boeke met 'n passie. Klik hier.

Die eietydse heldin. Klik hier.

Die skryf van romanses. Klik hier.

Die verskil tussen die romanse en die liefdesroman. Klik hier.

Hier kry jy die nuutste romanses:
Word deel van Lapa Uitgewers se RomanzaKlub. Klik hier.
Gaan kyk ook na NB Uitgewers se versameling liefdesverhale. Klik hier.