Boek van die maand: Tussen Vriende (‘n volwasse roman)

04 Desember 2017

Derick van der Walt, baie bekend vir bekroonde jeugromans soos Lien se Lankstaanskoene en Willem Poprok, se tweede volwasse roman het pas verskyn. En wat ‘n heerlike leeservaring is Tussen Vriende net nie! Dis ook Ilse Salzwedel se boek van die maand.

Die storie ...

Tussen Vriende is die verhaal van drie paartjies in hulle vyftigs – elkeen van die ses stry sy of haar eie innerlike stryd. Will het ʼn affair, maar weet Soekie, wat juis verlede jaar aan haar gesig en lyf laat werk het, daarvan? En moet Adriaan en Cassie vir Soekie vertel waarmee hul beste vriend besig is? Op sy beurt sukkel Cassie om sy vreemde seun te verstaan, en hy moet ook vir Phoebe kalmeer wanneer haar moeilike ma by hulle kom kuier. En nog méér toe skoonmoeder ʼn beroerte kry wat haar totaal afhanklik maak van ander. Ingrid en Adriaan het nie eintlik probleme nie, behalwe dat hy in twee geskeur is oor sy broer se aankondiging om die familieplaas te verkoop, hul ouers in ʼn ouetehuis te sit en te emigreer. Maar dan ontdek Ingrid weer ʼn knop in haar bors...

Derick van der Walt het lankal bewys dat hy ʼn vernuftige skrywer is – dis immers nie enige skrywer wat kan spog met ʼn goue én silwer Sanlamtoekenning vir jeugfiksie, ʼn MER-prys vir Jeugliteratuur en ʼn benoeming op die internasionale IBBY-ererol nie. (IBBY is die akroniem vir die International Board on Books for Young People.)

ʼn Lekkerleesboek oor ou vriende

Met Tussen Vriende neem Derick hierdie bedrewenheid na ʼn nuwe vlak. Dit kan nie maklik wees om al die drade bymekaar te hou in ʼn verhaal oor drie paartjies met baie uiteenlopende stories en persoonlikhede nie. Boonop kry hy dit reg om met verstommende insig, deernis en warmte oor die drie vroulike hoofkarakters te skryf. Dit was vir my veral verrassend met hoeveel begrip en akkuraatheid hy oor Ingrid se stryd teen borskanker geskryf het. Hoe het dit gebeur dat hy borskanker as een van die temas gekies het? “Ek het ʼn vriendin wat ʼn paar jaar gelede hierdeur is, en ek het nogal gewonder hoe voel mans as hulle vroue in so soort situasie beland. Ek waardeer dit baie dat my vriendin absoluut openlik en in die kleinste detail met my hieroor gepraat het.”

Oor die skrywer ...

Verrassend genoeg was kreatiewe skryfwerk nie iets waaraan Derick, ʼn joernalis, kleintyd ernstig gedink het nie. “Ek het goeie opstelle op skool geskryf en selfs op laerskool ʼn radio-kortverhaalkompetisie gewen. My prysgeld was ʼn hele R1! Ek het regtig net een Saterdagoggend uit die bloute met ʼn jeugstorie in my kop wakker geword. Dit het met baie moeite, verdriet, onsekerheid, bloedsweet en baie Chardonnay, Lien se lankstaanskoene geword.” Lien se verhaal het hom die goue Sanlamtoekenning en die M.E.R.-prys besorg, en is ook verfilm. “As dit nie so suksesvol was nie, sou ek waarskynlik nie skrywerskap ernstig opgeneem het nie,” vertel hy. Sy tweede jeugroman, Willem Poprok, is met ‘n silwer Sanlamtoekenning bekroon, en daarna het nog twee jeugromans, Hoopvol en Bambaduze, verskyn.

Dis heel toevallig dat hy eers jeugromans geskryf het voordat hy sy hand aan sy eerste volwasse roman (Daan Dreyer se blou geranium) gewaag het. “Ek weet eintlik glad nie hoekom ek vir jongmense begin skryf het nie. My seuns was toe almal min of meer in die hoërskool en ek vermoed ek het die leefwêreld van dié ouderdomsgroep goed geken en verstaan. Dit bly vir my ‘n fassinerende tydperk, die hoërskooljare. Jy land blinkoog in hierdie wêreld en dan val die wiele af.”
Wat was die vonk vir Tussen Vriende? “Ek voel altyd sleg as mense my dié vraag vra, want ek kan gewoonlik regtig nie presies onthou nie. Bambaduze is my enigste boek wat ʼn spesifieke vonk gehad het. ʼn Storie begin gewoonlik vir my by ʼn tema, en dan kom die karakters redelik gou. Dikwels skryf ek eers die einde, want ek weet hoe dit moet eindig.”

Die res van die skryfproses is vir hom “ ʼn baie deurmekaar proses van stukke en brokke wat ek met baie moeite in ʼn leesbare ding bymekaar kry. My instink het my sover deur die drif getrek en ek bekommer my nie meer oor my gebrek aan ʼn stelsel nie. Dis ʼn organiese proses en ek en die storie ontdek mekaar so stuk-stuk. Hierdie een is waarskynlik geïnspireer deur my ouderdomsgroep en die sake wat deesdae kwessies is vir my en my vriende.”

Derick sê hy het nog nooit ʼn boek geskryf met ʼn spesifieke ouderdom leser of marksegment in gedagte nie. “Dis waarom ek nog nooit gedink het my jeugverhale is uitsluitlik jeugverhale nie. Boekklubs vir volwassenes lees ook my jeugboeke en nooi my dikwels om met hulle te kom gesels. Ek verpes die rigiede klassifikasie van jeugboeke in ouderdomsgroepe. Lesers werk nie so nie, boeke ook nie. En as jy ʼn matriekmeisie as hoofkarakter geskryf het, beteken dit ook nie jy het ʼn boek net vir jongelinge geskryf nie. Marieta van der Vyver het die spyker onlangs op die kop geslaan toe sy gesê het dat ‘n goeie jeugboek nie ouderdom ken nie.”

Derick se boeke word gekenmerk deur geloofwaardige, driedimensionele karakters. Baseer hy dit op regte mense, of hoe kry hy dit reg? “Nee, ek skryf nie oor mense wat ek ken nie. Dit maak my nogal vies as mense dink jou stories en karakters moet deur jou eie (ietwat vervelige) voorstedelike bestaan geïnspireer wees. Ek het ʼn verbeelding!”

Derick se deernis met mense is ook ʼn besliste kenmerk van sy werk. “Een van die min lekker dinge van oud word, is dat mens deernis vir die mensdom ontwikkel. Jy weet en jy verstaan, want jy was al daar. Dit is waarom ek bly is dat ek eers laat in my lewe begin skryf het. Ek weet nou waaroor die lewe gaan. Ek hou van mense en ek dink ek verstaan so ʼn bietjie van die gespartel om in ʼn deurmekaar wêreld te oorleef.”
*Tussen Vriende (uitgegee deur Quellerie) kos R250.

Lees ook: http://www.litnet.co.za/tussen-vriende-n-onderhoud-met-derick-van-der-walt/

Lees ook

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Wetens-
waardighede

Interessanthede oor skrywers en die Afrikaanse letterkunde deur die jare.
Klik hier ...

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...