ʼn Hofdrama, memoires en snaakse sketse: niefiksie vir almal

14 Desember 2017

As jy lief is vir Afrikaanse niefiksie, kon jy vanjaar kies en keur uit ʼn ryk oes. Hier is agt titels wat Ilse Salzwedel, aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG, beslis kan aanbeveel.

””

Dwarsklap deur Piet Matipa (Penguin, R275) is vir alle aanhangers van hierdie gewilde Beeld-rubriekskrywer en oudjoernalis wat sy lyf deesdae sepieskrywer hou. En so vars en snaaks (en ook in die kol) dat dit waarskynlik vir hom ʼn hele klompie nuwe aanhangers besorg het!

Piet, wat in ʼn Afrikaanse kinderhuis grootgeword het en joernalistiek aan die Pukke studeer het, is so Afrikaans soos kan kom. As mens jou oë toemaak, klink hy soos enige ander “Trônsvôler”. Maar Piet is swart, nie op sy mond geval nie en beslis nie bang om (dikwels) vir homself te lag nie. Hy skryf oor alles - van gewigsverlies tot taxi-bestuurders en rusies voor kerk - op so ʼn manier dat mens telkens hardop lag. ’n Hoogs vermaaklike boek, en ideaal om jou in ʼn heerlike ontspanne vakansiebui te sit.

””
Terreur in Kaboel deur Hannelie Groenewald (Lux Verbi, R195) is die verhaal van die Groenewald-gesin wat na die 9/11-terreuraanvalle in die VSA besluit om sendingwerk in Afghanistan te gaan doen. Maar elf jaar later kom net Hannelie lewend uit Afghanistan nadat haar man, Werner, en hul kinders, Jean-Pierre en Rodé, in ʼn terroriste-aanval op hul huis vermoor is. Hannelie, ʼn mediese dokter, was by die plaaslike hospitaal aan diens en het so aan die aanval ontkom. Die boek is ʼn merkwaardige getuienis van vergifnis, en ʼn bewys daarvan dat die menslike gees baie sterker is as wat ons besef. Dis ook nie net ʼn boek vir gelowiges nie – lees dit gerus vir al die interessante inligting oor die Afghaanse leefstyl en kultuur.
””
Spertyd deur Elsa Joubert (Tafelberg, R275) is die derde boek in hierdie Sestiger-skrywer se outobiografiese drieluik. Maar vir my was dit veel meer as net vertellinge oor die laaste paar jaar van ʼn merkwaardige lewe. Dit bied baie stof tot nadenke oor die wonder van die lewe self, die wysheid wat saam met ouer word kom en die broosheid van die ouderdom. Laasgenoemde word ryklik geïllustreer met staaltjies van haar eie lewe in ʼn Kaapse aftreeoord, maar ook deur haar raak beskrywings van ander bejaarde vriende. ʼn Merkwaardige boek, des te meer as mens in ag neem dat sy onlangs 95 geword het.
””
Shéri - Nes ek is deur Shéri Brynard en Colleen Naude (Lux Verbi, R210) bied rare insig in die lewe van iemand met Downsindroom. Toe Shéri 35 jaar gelede gebore is, het dokters maar min moed gehad dat sy ooit ʼn normale lewe sal kan ly. Maar deur deursettingsvermoë, harde werk en geloof het sy (met die hulp van haar ouers, Susette en Jerry Brynard) daarin geslaag om talle indrukwekkende mylpale te bereik. Vandag is sy ʼn gekwalifiseerde onderwyseres by ʼn skool vir leerders met spesiale behoeftes. Shéri het vir Oprah Winfrey ontmoet, hand geskud met die president en al talle praatjies gelewer by internasionale konferensies. Sy was ook al te sien in die sepie Binnelanders. Maar haar lewe was nie net maanskyn en rose nie – vanweë haar gestremdheid moes sy dubbeld so hard werk om te wees waar sy vandag is. Ek het die boek veral geniet omdat dit uit twee perspektiewe geskryf is: aan die een kant Shéri se verhaal (soos sy dit self geskryf het met die hulp van ʼn spookskrywer) en aan die ander kant die eerlike maar tog ook inspirerende verhaal van haar ma, Susette.
””
Hykie Berg: My storie van hoop deur Hykie Berg en Marissa Coetzee (Lux Verbi, R180) is die verhaal van die bekende akteur Hykie Berg se stryd teen dwelms. Sonder om doekies om te draai, skryf Hykie oor die pad van verlies, gebroke verhoudings en slegte keuses, maar dit gee ook broodnodige hoop aan mense wat dalk self ʼn stryd teen dwelms voer. Vandag is Hykie gelukkig getroud, ʼn motiveringspreker en ʼn gerekende akteur. Die hoofstukke is ingedeel volgens Narkotika Anoniem se Twaalf Stappe, en Hykie vertel sy eie verhaal aan die lig van elke stap. Hy skryf ook oor sy deelname aan die werklikheidsreeks, Survivor SA, en hoe dit uiteindelik ʼn metafoor vir sy lewe geword het. ʼn Inspirerende geloofsreis én ʼn boek met praktiese raad.
””
Gespreksgenoot: ʼn briewebundel saamgestel deur Heilna du Plooy (Litera Publikasies, R395) is een van die interessantste literêre boeke wat vanjaar in Afrikaans verskyn het. Dis ʼn lywige bundel van sowat 700 bladsye, saamgestel uit die briefwissseling van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Lees hier waaroor het Botha en mense soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies, Koos Kombuis en ander gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend en ander laat jou hardop lag. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dis nie ʼn boek net vir letterkundiges nie, hoewel dit ook belangrike insig gee in hierdie skrywers en hul lewens.
””
Die De Zalze-moorde deur Julian Jansen (Tafelberg, R225) is perfekte leesstof vir alle leunstoelspeurders. Het Henri van Breda sy ouers en sy broer doodgekap met ʼn byl en sy suster ernstig beseer, of nie? Het dwelms, jaloesie en geld hom daartoe gedryf? Of wat presies het daardie someraand in die luukse landgoed buite Stellenbosch gebeur? Lees gerus hierdie boek en kyk of jou bevindinge ooreenstem met die hofuitspraak wat vroeg in 2018 verwag word.
””

Boerneverneukers deur Izak du Plessis (Penguin, R240) gaan, presies nes die subtitel sê, oor swendelaars, swierbolle en swerkaters – en boonop is almal van hulle Afrikaans. Hulle het nog iets anders gemeen: dat hulle ʼn hele klomp mense vir baie lank om die bos kon lei. Dink maar aan Adriaan Nieuwoudt, die sg. “kubuskoning”. Daar is Robin Hood-agtige figure wat geglo het dis hulle plig om by die wat het, te steel sodat die wat nie het nie daarin kan deel. En dan is daar sommer net plein ou skelms, wat doodeenvoudig oor meer moed as verstand beskik het toe hulle hul planne uitgedink het.

Lees meer ...