Kinderboeke vir die Kerskous

07 November 2017

Kersfees is minder as twee maande weg, en die kopkrap vir Kersgeskenke vir almal op jou lysie het dalk al begin. As jy self ʼn leser is, sal jy weet dat min dinge soveel vreugde bring soos ʼn boek. Deel dus hierdie jaar die vreugde van boeke met die kinders en tieners in jou lewe.

Ilse Salzwedel sê Afrikaanse kinder- en tienerboeke kan meeding met die bestes ter wêreld. “Nie net skep ons drie grootste uitgewers pragtige inheemse, eg-Afrikaanse kinderverhale nie, maar hulle doen ook baie moeite om topverkoper- internasionale titels in Afrikaans te vertaal en so ʼn groter leeswêreld vir ons kinders te ontsluit. Om nie eers te praat van die bydrae wat hierdie verhale tot die Afrikaanse storieskat maak nie.”

Koop hierdie jaar ʼn boek, en verander ʼn kind in jou lewe se wêreld – vir ewig.

Kyk hier na haar lys:

LAPA-Uitgewers se aanbod:

LAPA is een van die bedrywigste kinderboekuitgewers in die land, en het deur die jare duisende topverkoper-kinderboeke die lig laat sien. Boonop is hulle boeke ook uiters bekostigbaar, en selfs al woon jy in die boendoes, kan jy direk via hulle webwerf bestel vir aflewering by jou voordeur.

Kinderboeke - (3 tot 8 jaar oud, ideaal vir voorlees en eerste selflees):

Die Babalela-storieboek deur Martie Preller (R200)

Martie Preller se bekende pers karaktertjie, Babalela, is een van die gewildste kinderboek-karakters wat oorspronklik in Afrikaans ontstaan het. Dit het gelei tot vier boeke, almal in hierdie boek saamgevat. Die storie het ook gelei tot ‘n Babalela-pop, ʼn toneelstuk, CD en die fraaiste T-hempies wat ma’s omtrent van hul kleintjies se lywe moes afworstel om te was. Die eerste twee boeke in die reeks is bekroon met die gesogte Tienie Holloway-medalje vir kinderboeke. Jou kleuter gaan dol wees oor Babalela en sy maats Meermoskat, Knortand, Potifant, Wrrrumpie en die lawaaierige Fripperwakkies. Hulle woon diep, diep in 'n donker bos, en beleef hope avonture!

Die Babalela-storieboek bestaan uit al vier boeke, nl.

  • Babalela
  • Diep, diep in ’n donker bos
  • Los ons uit!
  • Ons kan!

Die dapper muis, Die lappop en Die eensame krokodil deur Betty Misheiker (R80 elk)

Betty Misheiker is die skrywer van meer as 400 bekende Afrikaanse kinderliedjies, en ons almal het grootgeword met hierdie drie. Nou kan jy vir jou kind die liedjies leer én uit hierdie lieflik geïllustreerde prenteboeke voorlees. Wie sal saam met die eensame krokodil wil swem, en is daar regtig niks waarvoor die dapper muis skrik nie? En wat gaan word van die weggegooide lappop wat haar dae saam met die vrot pampoen en die stukkende skoen op die ashoop slyt? Al drie boeke se pragtige, gedetailleerde illustrasies sal sorg dat leser én voorleser dit ewe veel geniet.


Kattekwaad deur Susan Ongansie (R80)

Hierdie pragtige, klankryke prenteboek is perfek vir hardop voorlees. Die heel kleintjies gaan dol wees oor Mietsie en haar boetie, Maans, twee fraai katjies. Op ’n dag word Mietsie wakker en ontdek Maans is weg! Toe sy hom gaan soek, kry sy vir Mors en Jors, die twee grys straatkatte wat hou van stry en baklei! Sal die twee straatkatte haar kan help om haar boetie te kry?


Selfleesboeke vir kinders tussen 7 en 12:

Die leeutemmer se assistent deur Solet Scheeres (R150)

Hierdie verhaal is losweg geskoei op die geskiedenis van die beroemde Pagel se sirkus. Niks opwindends gebeur ooit op Kraaipan nie. Veral nie met Martjie, die bywoner se dogter nie. Maar toe Bertus Botha vir Martjie uitdaag om op die Mafikeng-trein te klim en te loer wat in een van die kratte is, is dit die begin van ’n reuse-avontuur. Martjie beland pens en pootjies saam met ’n sirkusleeu op een van die trokke. Sy leer ken die eksentrieke sirkusbase, Mister en Madame Pagel, en die ander artieste van Pagel se beroemde sirkus. Mister Pagel is die sterkste man in die wêreld en druk tydens die vertonings sy kop in ’n leeu se bek. Madame Pagel ry bank toe met ’n leeu langs haar in die motor. Martjie se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Aangrypend, aksiebelaai en pragtig geïllustreer.


Hoendervleis deur Jaco Jacobs (R130)

Hierdie boek bevestig maar net weer wat ons reeds weet: Hierdie veelbekroonde en nou ook vertaalde kinderboekskrywer, van wie daar ook al boeke verfilm is, verstaan die hart van kinders van alle ouderdomme. Hierdie boek vol grillerige stories en rympies (maar darem ook nou nie té grillerig nie!) sal avontuurlike lesertjies heerlik laat hoendervleis kry. Daar is ’n weerwolf wat saam op die skoolkamp gaan, ’n paar spokerige handskoene wat goed is met klavier speel, ’n baie vreemde onderwyseres – en iets wat jou die hardste van almal in die fliek sal laat gil! Jong grilvrate sal versot wees op hierdie versameling stories en rympies. ʼn Moet vir enige Jaco Jacobs-aanhanger. 


La di da deur Fanie Viljoen (R120)

Fanie is net so bekend soos Jaco vir sy kinderboeke. La di da is die jongste boek in sy gewilde Lulu-reeks, en klein dogtertjies van so sewe jaar en ouer sal dol wees daaroor. Lulu droom daarvan om eendag ’n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar rooi tekenboek te skets nie. Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees, en die skoolhoof vra vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets la-di-da en asemrowends waarmee hulle by die fees gaan optree. Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp. Hoe gaan Lulu uit hierdie penarie kom?


Vir tieners:

Strikdans deur Christien Neser (R150)

Tienermeisies is gaande oor die Elle-reeks. In Strikdans, die negende boek in die reeks, is Elle in matriek, hoofmeisie van haar skool en die middelpunt van haar vriendekring. Maar wat veronderstel is om die beste jaar van haar skoolloopbaan te wees, ontaard in ʼn ramp toe die skoolhoof ernstig siek word. Die waarnemende hoof, doktor Grimm, voel ʼn veer vir Gravitas-skool se tradisies en spesiale projekte, en al waarin die vreemde man met sy strikdas en sy fobie vir katte belang stel, is wiskunde. Hy is vasbeslote om Gravitas die beste wiskundeskool in die land te maak. Maar Elle besluit sy gaan nie net sit en toekyk hoe die een trotse tradisie ná die ander sneuwel nie. Kort voor lank kom haar hoofmeisiebalkie in gedrang …


Die perfekte brander en ander verhale, saamgestel deur Marieta Nel en Adinda Vermaak (R160)

Hierdie versameling van 27 kortverhale, spesiaal vir ouer tieners, is iets waarby die meeste tieners sal aanklank vind. Verhale oor alles van die pyn en vreugde van verlief wees tot al die twyfel en uitdagings van jonk wees. Dis geskryf deur bekende, gewilde en bekroonde skrywers soos Christine Barkhuizen-Leroux, Christo Davids, Carina Diedericks-Hugo, Nelia Engelbrecht, Jaco Fouché, HemelBesem, Jaco Jacobs, Eldridge Jason, Anzil Kulsen, Christien Neser, Nathan Trantraal, Jan van Tonder, Jan Vermeulen, Elizabeth Wasserman en Fanie Viljoen. Die samestellers verstaan tienerharte en het reeds gesorg vir twee ander topverkoper- tienerbloemlesings. Sweef (2009) en Skreeu (2010) word ook landswyd in skole voorgeskryf, en ek vermoed hierdie bundel sal ook sy weg na die Afrikaans-sillabus vind.


Kupido.com deur Annabel Allers (R150)

ʼn Tienerboek deur ʼn opwindende nuwe skrywer wat self in 2013 matriek geskryf. Ek voorspel tienermeisies gaan dol wees oor Kupido.com. In ʼn neutedop: Léa is verlief op die hoofseun, Phillip Cronjé. Hy is ʼn regte Romeo: aantreklik en boonop slim. Maar hy het ʼn meisie, en sy is die hoofmeisie. Léa weet sy staan nie juis ʼn kans nie. Maar dan skep haar beste vriendin, Carla, vir haar ’n vals profiel op die kletskamer Kupido.com, en kort voor lank wil Phillip met haar gesels. Hoe gaan Léa haarself uit hierdie penarie wikkel?

Onthou dat jy direk van LAPA se webwerf af kan bestel. Klik op www.lapa.co.za en kies uit honderde titels. Hul boeke is ook in boekwinkels landswyd beskikbaar.


Protea Uitgewers se aanbod:

Nicol Stassen, eienaar van Protea Uitgewers en boekwinkels, is wyd bekend vir sy passie vir goeie kinderboeke. Hy vertel dat hy graag alles wat hy as kind gelees het, vir Afrikaanse kinders wil beskikbaar stel, en daarom het hy al talle ou Afrikaanse kinderreekse, soos Die Uile, herdruk.

Maar Nicol, self die pa van ʼn laatlamdogtertjie, besoek ook jaarliks internasionale boekfeeste om te sorg dat Afrikaanse kinders die heel beste kinderboeke ter wêreld in hul moedertaal te lese kry. Bekroonde vertalers soos Kobus Geldenhuys, Phillip de Vos en Janie Oosthuysen sorg dat hierdie boeke in heerlike, moderne (en humoristiese!) Afrikaans vertaal word.

Oorweeg gerus een (of ʼn paar!) van hierdie boeke vir ʼn kinderleser se Kerskous.


Vir kleuters 3+

Die stormwalvis deur Benji Davies (R145)

Die oorspronklike The Storm Whale het talle pryse gewen, en is in baie tale vertaal. Die Nederlandse vertaling is aangewys as die kinderboek van die jaar 2017. Dis die verhaal van Noi, ʼn klein seuntjie wat by die see woon saam met sy vissermanpa en ses katte. Hy is baie eensaam omdat sy pa baie hard werk en heeldag weg is. Eendag spoel daar ’n klein walvis op die strand uit. Noi sorg vir hierdie walvis en ’n vriendskap ontwikkel wat hulle al twee se lewens verander.


Oupa se eiland deur Benji Davies (R145)

Hierdie boek vertel ’n mooi en avontuurlustige, maar hartseer storie oor hoe kinders ’n geliefde grootouer groet, hetsy net tydelik of vir altyd. Simon kuier graag by sy geliefde oupa, en eendag wys Oupa vir hom ʼn swaar deur op die solder. Sodra jy daardeur stap, beland jy op die dek van ʼn groot skip. Oupa en Simon seil saam na ’n wonderlike eiland waar hulle allerhande mooi dinge ontdek en ’n huisie bou. Toe hulle moet terugkeer, besluit Oupa egter om te bly.


Zok en die vlieënde dokters deur Julia Donaldson (R135)

Prinses Mynie se oom sluit haar in ’n toring toe omdat hy nie dink prinsesse kan dokters wees nie – tot hy die dag self siek word! Die arme koning se gesig word oranje van ’n seldsame siekte – sal die drietal dokters hom te hulp snel? Julia Donaldson is in 2012 benoem as die Verenigde Koninkryk se “Children’s Laureate”, en is die outeur van verskeie blitsverkopers vir jong lesers. Philip de Vos het gesorg vir hierdie lekker guitige vertaling. Wie sal sulke rympies kan weerstaan?

Ontmoet die vlieënde dokters wat kwale reg kan maak:
’n ridder en ’n prinses
en Zok – die dapper draak.

Die voëlverskrikkertroue deur Julia Donaldson (R135)

Philip de Vos bly een van my gunsteling- Afrikaanse skrywers, en het ook hierdie boek vertaal soos net hy kan. Lees net hier: 

Bettie van Riet en ou Stokkies van Graan
het reg langs mekaar in die weiland gestaan.
Hul was lief vir mekaar en wou graag trou,
maar hy moes haar eers red van ’n ander ou!

 

"Terwyl Stokkies van Graan alles vir die bruilof in orde probeer kry, neem Albertus van Hooy sy intrek op die weiland … Albertus probeer Bettie se hart wen met sy sierlike maniertjies en sy Kubaanse sigare, maar strooi en sigare is nie ’n goeie kombinasie nie! Sal Stokkies van Graan betyds terug wees om sy liewe Bettie te red?


Paul & Vlekkie deur Claire Freedman (R150)

Paul en sy ouers het onlangs van die platteland na die groot stad getrek, en ten spyte van al die bedrywigheid is Paul eensaam. Op ’n reënerige dag tydens ʼn staptog tel hy ʼn klein hondjie op en neem hom huis toe. Hulle word groot vriende, maar Vlekkie mis sy basie, veral teen slaaptyd. Paul weet dis die regte ding om Vlekkie se eienaar te soek, al wil hy nie die hondjie verloor nie. Maar om die regte ding te doen, bring vir Paul onverwagse geluk ... Hierdie pragtige storie roer die hartsnare en leer kinders dat optelgoed nie hougoed is nie, en dat om die regte ding te doen, bevredigend en verrykend is.


Die Muishuis-reeks bestaande uit Sam & Julia, By die kermis en By die teater (R150 elk)

Sam en Julia woon in die Muishuis. Julia bly saam met haar ma in ’n baie klein kamertjie op die boonste verdieping. Sy het nie ’n pa, boeties of sussies nie, en ook geen oupa of ouma nie. Julia is baie nuuskierig en baie eiewys, en altyd op soek na avontuur saam met haar maatjie Sam, wat ook in die Muishuis woon. Hy het ʼn groot familie. Die twee is onafskeidbaar, en deur hierdie drie pragboeke verken ons nie net hulle besondere vriendskap nie, maar ook die pragtige Muishuis.

Die skrywer behandel onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders, soos om hutte te bou, geheime te deel, liefde te kry en versorg te word. Maar ook om hul bure te leer ken, en te ontdek dat andermansgebruike en -gewoontes nie bedreigend hoef te wees nie. Dit kan wêrelde verryk.


Vir jong lesers wat dit al geniet om self te lees (8+)

Die seun in die rok en Aaklige ant Alberta deur David Walliams (R150 elk)

Volwassenes sal Dawid Walliams ken as die gladdemondbeoordelaar op Brittain’s Got Talent, maar eintlik is hy een van die wêreld se gunsteling-kinderboekskrywers. Daarvan getuig die meer as 40 miljoen eksemplare van sy kinderboeke wat die afgelope dekade verkoop is. Protea het al ʼn hele paar van Walliams se boeke in Afrikaans vertaal, en kinders gaan dol wees oor die nuutste vertalings.

Die seun in die rok gaan oor Dennis, wat in ʼn vervelige huis in ’n vervelige straat in ’n vervelige dorp woon. Maar hy gaan uitvind die lewe is allesbehalwe vervelig wanneer jy jou kop oopmaak! ʼn Verrassende, komiese verhaal, en as jy Dennis eers ontmoet het, sal jy hom nooit vergeet nie.

In Aaklige ant Alberta ontmoet ons vir Stella Saxby, die enigste erfgenaam van die Saxby-landgoed. Maar aaklige ant Alberta en haar reuse-uil sal enigiets doen om dit by haar af te vat. Gelukkig het Stella ’n geheime – en effens spokerige – wapen.

Kinders sal ook hou van die ander Afrikaanse vertalings van Walliams se boeke. En met titels soos Mnr. Stink, Ouma is ’n kroek, Boudebiljoenêr en Rotburger, kan jy jou die gegiggel voorstel as hulle eers begin lees?


Die tandeterroris (R200)

Hierdie boek, ook uit Walliams se pen, was die wenner van die Britse National Book Awards se kinderboekafdeling. Dis ‘n verhaal waaroor kinders wat tande wissel (of onlangs gewissel het) dol sal wees: Die dorp word bedreig. Vreemde goed gebeur in die middel van die nag. Kinders sit slapenstyd ’n tand vir die tandfeetjie onder hulle kussing, en soggens word hulle wakker en kry… ’n dooie slak, ’n lewendige spinnekop, honderde oorkruipers wat onder hulle kussings kriewel en krioel. Daar is bose magte aan die werk. Maar wie of wat sit daaragter?


Die Polleke-boeke deur Guus Kuijer (R250)

Al vyf die gewilde Nederlandse Polleke-boeke, wat met verskeie toekennings bekroon is en ook verfilm is, is nou saam in ʼn Afrikaanse omnibus beskikbaar.
Polleke het ’n kêrel, Mimoen. Maar sy geloof en sy kultuur maak hulle vriendskap byna onmoontlik. Polleke se pa, Spiek, loop rond en gebruik dwelms. En Polleke se onderwyser is skielik haar ma se nuwe vriend – hulle praat glad van trou. Dis nie maklik om opgeruimd te bly as so baie dinge skeefloop nie. Maar Polleke gooi nie sommer tou op nie. Daar is darem ook Oupa en Ouma se plaas buite die stad waar sy tot rus kan kom en waar sy ook haar eie kalfie hou.


Tienerboeke:

Kewerknaap deur M.G. Leonard (R180)

Darkus kan sy oë nie glo toe hy ’n reuseinsek by sy aaklige nuwe buurman se broekspyp sien uitval nie. Die dierasie het sewe bene – of ses bene en ’n horing – en dit lyk of hy wil kommunikeer. Maar hoe kan ’n seun vriende wees met ’n gogga wat so groot soos ’n hamster is? En wat presies het hierdie kewer te doen met sy pa se geheimsinnige verdwyning en die verskyning van die bose Lucretia Cutter met haar voorsmaak vir lewendige juweliersware? Die antwoord is dalk iewers tussen die berg muwwe teekoppies in die bure se woonstel – as Darkus en sy nuwe vriend dapper genoeg is om ondersoek in te stel … Die eerste boek in ʼn trilogie deur ʼn opwindende jong skrywer en in Afrikaans vertaal deur die bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys.


Die Hobbit deur J.R.R. Tolkien (R200)

Uiteindelik is hierdie epiese werk uit die pen van die beroemde Bloemfonteins-gebore skrywer, Tolkien, ook in Afrikaans beskikbaar! Dit word reeds die afgelope tagtig jaar beskou as een van die mees geliefde fantasieverhale ter wêreld en word met reg beskryf as ʼn klassieke werk.

Wanneer Bilbo Baalens uit sy gerieflike hobbitgat weggevoer word deur Ghandalf die towenaar en dertien vrypostige dwerge, word hy onverwags meegesleur in ’n samesweerdery om die dwerge se verlore skatte terug te steel by Smaug die Vreeslike: ’n reusagtige en baie gevaarlike draak … Die hobbit is al tagtig jaar lank een van die mees geliefde fantasieverhale ter wêreld en word met reg as ’n klassieke werk beskou.

Die Hobbit is briljant vertaal deur Janie Oosthuysen, ʼn bekroonde en bekende Afrikaanse vertaler met meer as 300 publikasies agter haar naam en ook ʼn skrywer uit eie reg. 


NB-Uitgewers se aanbod:

Hierdie is die grootste en oudste Afrikaanse uitgewers in die land, en publiseer al dekades lank puik en bekroonde Afrikaanse kinderboeke onder drukname soos Human & Rousseau en Tafelberg. Die 2017-kinderboekoes stel ook glad nie teleur nie.

Vir voorlees en eerste selflees (0-8 jaar):

Haas Das se Nuuskas (episode 4) deur Louise Smit (R140)

Ouers wat steeds onthou hoe opgewonde hul was as dit saans tyd was om voor die televisie reg te skuif vir Haas Das se Nuuskas, sal bly wees om te hoor hulle kan nou hierdie vermaaklike karakter se kaskenades vir hul kleuters voorlees. Al die gunstelinge is in hierdie boek: Haas Das, die geliefde nuusleser van Diereland, en sy assistent, Piet Muis. In hierdie spesifieke nuusuitsending raak Boeboe die bobbejaantjie vermis en almal is bekommerd, want Hoohoeff Hiëna is in die omtrek. Pragtig en kleurvol geïllustreer. Daar is verskeie boeke in hierdie reeks. 


Liedjies vir pikkies en peuters saamgestel deur Gertie Smit (R195, CD ingesluit)

Elkeen van die veertig versies uit die gewilde kleuterboek Rympies vir pikkies en peuters, is getoonset deur Gertie en pragtig geïllustreer deur Astrid en Nadia Blumer. Die liedjies vat die vrolikheid en olikheid van kleutertjies se daaglikse lewe vas en verwoord hulle leefwêreld op klankryke wyse. Die CD is die ideale manier om lang ritte in die motor te verander in spelerige leer- en singtyd. Dink net hoeveel korter gaan die pad see toe hierdie Desember wees!


Ink deur Ingrid Mennen met illustrasies deur Irene Berg (R180)

Een van die oulikste kinderboeke wat ek hierdie jaar onder oë gehad het. Tinka word bewus van woorde en taal, boeke en lees. Sy teken haarself af op 'n vel koerantpapier. Nou het sy 'n maat en sy noem haar "Ink". Met haar lyf vol woorde, is Ink die perfekte maat vir Tinka. Sy neem Ink na haar kamer om haar beste boeke vir haar te wys, want " 'n boek is soos 'n maat, met die beste stories om te vertel". ʼn Meesleurende en diepsinnige prenteboek vir lesers 5+ wat ook volwasse lesers se verbeelding sal aangryp. Die illustrasies is verbeeldingryk en vol onverwagse detail.


My pappa is vol aapstreke deur Dianne Hofmeyr (R155)

Hierdie boek is opgedra aan die skrywer se seun, wat ‘n enkelouer is, en in vrolike Afrikaans vertaal deur Elna van der Merwe, boekeredakteur by Huisgenoot. Hierdie boek, geskryf uit die oogpunt van ʼn kleuter, bring hulde aan pa’s van alle soorte. “My pappa is.... 'n BERG van 'n beer, 'n stoute krokodil, 'n draaierige, swaaierige seekat en 'n lawwe aapstert! Maar eintlik is hy net my LIEFSTE PAPPA.”


Tienerboeke: 

Elton die verskriklike April verloor dit deur Carin Krahtz (R150)

Dis die opvolg van die MER-bekroonde Elton amper-famous April en Juffrou Brom. Elton en sy ma woon nou aan die “regte kant van die rivier”, want sy ma het ’n pos gekry as inwonende verpleegster by 'n aftreeoord. By Hoërskool Horison, waar Elton nou in graad agt is, is die onderwysers bekommerd omdat Elton gereelde woede-uitbarstings het. Hy word na die skoolsielkundige verwys, wat aanbeveel dat hy in ’n dagboek uiting aan sy emosies gee. Sy ma is meer gereeld by die huis, maar soms moet hy vir haar instaan as verpleegster vir die aftreeoord se ingroeitoonnaels en hoofpyne. Gelukkig kry hy opleiding in noodhulp by die skool. Sy beste pelle Dawid en Lesedi is in 'n ander skool, en Jireh, die skarminkel van Tekkie Town se flêtse, is 'n senior in sy skool. En dan vind hy boonop uit sy ma is swanger...  


Die Poort 4: Krygers deur Nelia Engelbrecht (R160)

Hierdie is die vierde en laaste titel in hierdie gewilde fantasiereeks, ʼn genre waarin daar steeds bitter min in Afrikaans bestaan.

Kali lei haar vriende in die aanslag teen Chanda-Mundia en sy volgelinge, en sy moet moeilike keuses maak. Moet sy haar verantwoordelikhede as Bewaker steeds bo die liefde stel? En as sy die liefde kies, wie sal dit wees? Die donker Italianer, Leonardo, wat nes sy, ook ʼn Bewaker is? Of haar jare lange geliefde, Zak, wat buite die Bewaker-kring staan? In hierdie laaste boek van die reeks neem die avonture van die jong Bewakers hulle na Wicklow-kasteel in Ierland, waar die sluier tussen die mistieke en die werklikheid wasemdun is en die eeue oue stories van antieke besoekers uit die heelal steeds vertel word. Hier slyp die jong Bewakers hul Kragte en Magte en ontrafel hulle ook tergende geheime. Te midde van moeilike keuses, liefdesdriehoeke en donker geheime ontdek Kali dat oorwinning teen ʼn prys kom wat haar kan vernietig.

As jou kind gehou het van internasionale fantasie soos J.K. Rowling se Harry Potter, Stephanie Meyer se Twilight-sage en Tolkien se Lord of the rings en The Hobbit, behoort hierdie reeks byval te vind. 


Vlerke vir almal deur Marion Erskine (R155)

Hierdie aangrypende tienerverhaal is so goed ontvang deur lesers dat dit ook te sien sal wees as ʼn tienertoneelstuk by die 2018 Woordfees. Dis ʼn sensitiewe verhaal oor boelies en hoe om hulle op hul plek te sit, en ʼn boek wat waarskynlik nog in skole voorgeskryf gaan word. Dit hanteer ook die onderwerp van tienerselfmoorde en seksualiteit met groot omsigtigheid, en is die ideale manier om hierdie gesprek met jou kind aan die gang te kry.

Dewald se ouers stuur hom na 'n nuwe skool nadat sy lewe omvergegooi is. Elke skool het nuwe uitdagings en elke skool het sy boelies, en dis nie maklik om ʼn tiener te wees met 'n skielike hakkelprobleem nie. Dewald probeer weer sy balans vind. Hoe kon sy beste vriendin hom uitsluit van haar grootste besluit? En wat moet hy doen aan die boelie wat sy lewe hel maak. ʼn Hartroerende verhaal oor relevante tienerkwessies.


Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck (R175)

Hierdie verhaal het in 2005 drie belangrike literêre pryse verower en is pas verfilm. Dit het ook die ATKV-Kinderboekprys verower in die afdeling vir boeke vir graad 8–10 en is voorgeskryf vir hoërskole. Dit vertel die verhaal van Helena Bosman van die Noord-Kaap. Haar Oupa en Oumie noem haar sommer Vaselinetjie. Sy is hulle hart se punt, tot Vaselinetjie tien jaar oud is en die Welsyn haar laat wegstuur na die kosskool in Gauteng. Want sy is wit en kan nie haar bruin oupa en ouma se regte kleinkind wees nie. Vaselinetjie is ʼn lieflike tienerroman wat tieners (en hul ouers!) sal laat lag én huil.


Blou is nie ʼn kleur nie deur Carin Krahtz (R160)

Na die ongeluk drie jaar gelede val die oënskynlik gelukkige Vorster-gesin se lewens uitmekaar. Carin Krahtz sny met presisie deur die lewens van elk van die gesinslede met skerpsinnige dialoog. Die verhaal word danksy die skrywer se slim humor nooit ʼn wroegroman nie, maar gee 'n nugtere kyk na die lewens van 'n gesin wat verbrokkel en verswelg word deur voorstedelike angs en ander bagasie.