In memoriam: Ryk Hattingh

13 Oktober 2017

In memoriam: Ryk Hattingh (26 Julie 1957 – 10 Oktober 2017)

Die Afrikaanse boekewêreld was stil geskok toe dit bekend geword het dat Ryk Hattingh (60), die skrywer wat skaars tien dae tevore bekroon is met die gesogte KykNET/Rapportprys vir Huilboek, die roman waarmee hy ʼn skryfstilte van 19 jaar verbreek het, onverwags aan ʼn hartaanval gesterf het.

Hattingh het vele hoede gedra in die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek. Hy was die skrywer van Die tonnel, Markus vermoed ’n verhaal, Ignatius Brand, Witskrif en die veelbekroonde toneelstukke Opdrag: Ingrid Jonker en Sing jy van bomme. Laasgenoemde het in 1988 vyf Vitas ingepalm, maar nie voordat die sensuurraad ʼn naaktoneel gesensor het nie. Hy was ook die skrywer en medeskepper (saam met Conrad Botes) van Die Foster-bende, ’n grafiese verhaal oor dié berugte bende se rowery in die vroeë twintigste eeu aan die Rand.

Ryk Hatting. Foto: Gerrit Rautenbach

Saam met Tienie du Plessis het Hattingh die onafhanklike uitgewery Hond gestig. Die nis-uitgewery het ’n hele paar debuutromans en -bundels gepubliseer, asook werke van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Koos Prinsloo. As joernalis het Hattingh ook naam gemaak by die destydse Vrye Weekblad en Die Suid-Afrikaan (saam met Antjie Krog), en in 1995 is hy aangestel as die redakteur van Loslyf, die eerste Afrikaanse prikkeltydskrif.

Hattingh en sy gesin het in 1997 na Nieu-Seeland geëmigreer, waar hy ʼn skoenherstelkiosk besit het.

So onthou Elmari Rautenbach, koördineerder van die US Woordfees se Skrywersprogram, vir Ryk Hattingh:

“Ek het Ryk nie goed geken nie, maar hy was deel van 'n beslissende tyd in my lewe: die laat 80's in Johannesburg, met Vrye Weekblad se kantore oorkant die Markteater – toe nog 'n rowwerige buurt met 'n ent verder 'n groot, verlate gebou met gebreekte vensters waar "raves" oor naweke gehou is.

Ryk was die kopieredakteur en het bedags soos 'n sfinks agter sy rekenaar gesit, gesig versonke in 'n onversorgde baard. Soms sou sy oë opflits en dan het daardie skewe tandjies tussen die baardhare verskyn en was hy vir ‘n oomblik met ons. Of hy't te laat gekuier die vorige nag en Pearlie Joubert afgevaardig om vir hom Thins te gaan koop - met 'n amper ontoelaatbare hoë kaffeïenlading.

Ek was bloot 'n rubriekskrywer en waarskynlik nie 'n baie goeie een nie. Vrydagmiddae het ek buite op die geelstreep gestop, ingehardloop, dikwels met 'n baba op die heup en twee kleuters in die kar, en die floppy vir Ryk of uitlegredakteur Anton Sassenberg in die hand gestop. Een so 'n middag het ek per ongeluk die sleutels in die kar gelos. Dit was my man se ou tweedehandse Mercedes en die kar het van stilstaan outomaties gesluit. In die harwar om die kar oop te kry (die kinders was binne) het die hele redaksie later om die kar gestaan. 'n Figuur het hom stadig losgevou van 'n winkelvenster, vorentoe getree en beduie ek moenie worry nie. Met 'n skigtige blik oor sy skouer en hande wat soos seep beweeg, het die deur oopgeklik. Met die kinders uit, wou ek dankie sê, maar met die omdraai het hy soos 'n skim verdwyn.

Ryk het nog so gestaan, altwee sy hande voor in sy verslete jeans se sakke gedruk, toe agtertoe op sy hakke gerol en uit sy maag uit gelag.

Koos Prinsloo was ons beste pel en was Vrye Weekblad se kunsskrywer. Ek onthou nog die voorbladfoto van 'n bemoerde John Miles, met wie hy en Ryk 'n onderhoud gaan doen het, oor Kroniek uit die doofpot.

Ons het baie met Koos gekuier, maar nie soveel met Ryk nie. Ek onthou wel die kere wanneer ons in Koos se woonstel was, so 'n ou Art Deco-gebou met swierige krulle, houtvloere en groot skuifraamvensters aan die buitewyke van Hillbrow. Soms was Ryk daar – Koos was peetpa vir ons oudste en vir syne, as ek reg onthou. Dan kon die twee so lekker kekkel oor die literati, Ryk met die alewige sigaretjie in die mond, terwyl ons, gewoonlik voorstedelik ordentlik, slap van die lag oor die bank se kussings hang.

Een aand was ons wel by Ryk aan huis. Dit was op so 'n koppie in Yeoville. Winter, koud en aand. Die stadsliggies het op die horison geflonker. Ons het in die leefkamer met ons wyn gesit. Daar was tweedehandse meubels en uitgerafelde kelims, mandjies en rakke vol boeke, klippe wat Ryk toe al versamel het, potplante.

Die voordeur het oopgeklik. Dit was sy vrou, terug van reiki. Sy het kaalvoet in die gang verbygestap.

Ryk het haar agterna gekyk: "My vrou loop met geurige voete deur die huis," het hy gesê en vir ons geglimlag.

 

Kyk:
Ryk lees voor uit Huilboek by die US Woordfees:

*Naskrif: Vir vanjaar se Woordfees op Stellenbosch het ons Ryk spesiaal vir die Skrywersprogram genooi om oor Huilboek te kom praat. Hy was oorstelp - genoem hoe sy kinders verstom na hulle "dad" kyk wat skielik in 'n onbekende "rock star" ontpop het. Die reëlings was wel nie maklik nie. In 'n stadium e-pos Ryk moedeloos: " Só moet ek byvoorbeeld Wellington toe gaan om in vlees voor die Hoë Kommissaris te verskyn met 'n magdom van dokumente en state ensomeer, en as al dié dinge in orde is, word daar 'n onderhoud met my gevoer, en as ek dié slaag, kry ek my visum vir drie maande om my geboorteland te besoek. Praat van Kafka in die 21e eeu." Maar hy was daar en het sy gehoor stil van ontroering gehad. Sewe maande later ontvang hy – kop-onderstebo – die kykNET Rapportprys vir fiksie vir Huilboek, en tien dae later Facebook message Zirk van den Berg my: "Dinge lyk sleg" en om 11:08: "Pas gehoor hy is daarmee heen".

Lees ook:
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2016/05/ryk-hattingh-huilboek-2016.html
http://www.litnet.co.za/ryk-hattingh-hy-iemand-wat-die-lewe-gevreet-het/
http://www.litnet.co.za/memoriam-ryk-genadeloos-eerlik/
Murray La Vita gesels met Ryk Hattingh.