Chris Karsten-roman boei enduit

10 Januarie 2018

Die nuwe Chris Karsten-roman, Die koms van die motman, bied ʼn fassinerende kyk op Suid-Afrika se berugte tronkbendes, skryf Ilse Salzwedel.

Chris Karsten is een van my gunstelingskrywers in Afrikaans. Sy spanningsverhale vergelyk uitstekend met internasionale werk in hierdie genre, en sy navorsing is uitstekend. Chris was in sy loopbaan van 38 jaar as joernalis aan die voorpunt van nuus in Suid-Afrika, onder meer as senior adjunkredakteur by Rapport. Hy het ook verslag gedoen oor die WVK-verhore, ʼn stuk van die geskiedenis waaroor hy ook ʼn spanningsroman geskryf het.

Hy het reeds as tienjarige besluit hy wil ʼn skrywer word, en het maar so tussen die joernalistiek deur altyd bly eksperimenteer met fiksie. Hy skerts dat die “vreemde, onvoltooide skryfsels” in sy laaie opgehoop het, totdat hy in 1985 ʼn manuskrip vir ʼn uitgewer gestuur het. Hierdie jeugboek, Floris Sapiens, is onder meer met ʼn Sanlamprys vir jeuglektuur bekroon. Twaalf jaar later het nog ʼn jeugboek, Die jokkie wat met perde kon praat (wat jare lank ʼn voorgeskrewe boek was) uit Chris se pen verskyn.

Sedert Chris in 2003 afgetree het, het daar sestien boeke uit sy pen verskyn, onder meer ʼn biografie oor Charlize Theron en ‘n reeks oor ware Suid-Afrikaanse misdaad. Sy eerste roman, Frats (2007) is met ‘n ATKV-prosaprys bekroon. “Dit is losweg gegrond op die tragiese lewe en dood van Sarah (Saartjie) Baartman, wat uiteindelik in 2002 huis toe kon kom.” Daarna het nog nege romans gevolg. Hy spog met talle bekronings en benoemings, onder meer drie ATKV-Prosapryse, ʼn ATKV-prys vir spanningslektuur en die tweede prys in NB se Groot Romanwedstryd vir ʼn Man van min belang, ʼn roman met WVK-onthullings as tema. Chris en sy vrou woon sedert 2010 in Kanada, maar Afrikaans bly die taal waarin hy skryf. (Talle van sy boeke is wel ook in Engels vertaal.)

Die koms van die motman, sy jongste roman, het pas verskyn. Dis die sesde boek waarin die leser met speurder Ella Neser kennis maak, en hierdie keer is die misdaad wat sy ondersoek baie persoonlik. “Reeds in Abel se ontwaking, die eerste boek waarin ons haar ontmoet, word vertel hoe haar pa in ’n koma lê,” vertel Chris. “Ella was in matriek toe ʼn skurk hom geskiet het, en in elkeen van die ander vyf boeke is daar verwysings na hom. Ek het gevoel dit raak tyd dat die storie van haar pa se skietery vertel word. In Motman is die skieter, Arthur Wilky, op parool uit die tronk en sy probeer agtergekom wat presies destyds gebeur het. Maar soos alles wat Ella aanpak, is niks glashelder en maklik nie.”

Een van die redes hoekom ek dadelik moet begin lees as daar ʼn Chris Karsten-roman verskyn, is Chris se uitstekende navorsing en die interessante kinkels wat hy vir ʼn storie kan uitdink. Hierdie keer is dit die geskiedenis van die berugte nommerbendes in Suid-Afrikaanse tronke wat enduit boei. “Naas die hoofstorie oor Ella se soektog oor die waarheid agter haar pa en Arthur Wilky se destydse onderonsie, loop daar twee substories. Die eerste een is oor Arthur en wat met hom in die tronk gebeur. Dit, en die storie oor die tronkbendes wat Arthur se lewe binne sowel as buite die tronk versuur, verskaf al die motiverings vir my hoofstorie.”

Hoe het sy navorsing vir Motman gewerk? “Ek moes diep in die geskiedenis gaan delf vir die feite en mites rondom die nommerbendes. Gelukkig het prof. Charles van Onselen en Jonny Steinberg reeds puik boeke daaroor geskryf. Ek het ook by amptenare van Korrektiewe Dienste gaan lig opsteek. Oudgevangenes het ook gehelp met waardevolle inligting oor wat alles in ʼn tronk gebeur.”

Vir Ella Neser-aanhangers is daar goeie nuus. Chris verklap dat daar vermoedelik nog avonture op Ella wag. “Maar sy gaan eers vir ’n jaar of wat ʼn welverdiende ruskansie neem om haar chronies chaotiese liefdeslewe en toekoms te probeer uitsorteer.”