“Waar hang jy yt?” By die ATKV-Rieldansfinaal natuurlik!

30 November 2017
Iets oorleef as dit vir jou belangrik is. Iets groei as dit vir ander mense belangrik word. En iets maak ‘n verskil as dit praat tot wie en wat jy is. – Gielie Hoffmann is ‘n Ambassadeur vir Afrikaans. 

 

Die rieldans is so iets. In ‘n era van Amerikaanse realiteitsprogramme, waar alle musiek dieselfde begin klink en deelnemers almal streef na ‘n sekere beeld van wat goed en aanvaarbaar is, is die riel verfrissend.

Dit is onlosmaaklik Suid-Afrikaans. Dit het tekstuur. Kleur. Klank. Dis beide vreemd en gerusstellend.

Maar tog sterf tradisie en gebruike uit. Nuwe geslagte is nie altyd te vinde vir dit wat hul voorgeslagte geskep het nie. Kultuur is nie gewaarborg om te oorleef nie. Of ten minste nie soos ons sou wou hê nie.

Vandag is die rieldansgemeenskap een wat floreer. Dit vibreer van energie, passie en omgee. Binne die Afrikaanse gemeenskap weet al hoe meer mense van die riel. Waar volkspele sy laaste asem uitblaas, is die getal rieldansers net aan die toeneem.

Hierdie fenomeen het vorm aangeneem met die skep van ‘n platform: die ATKV se landswye rieldanskompetisie. Hier het die ou gebruik ‘n nuwe baadjie gekry. Groepe wedywer om die titel om te kan sê hulle is die beste in die land. Kompetisie het gemaak dat daar weer ‘n rede is om aandag aan die riel te gee. Die nodige inspuiting het net betyds gekom.

Kyk hier ...

Wat is die riel?

Dit is ‘n energieke ontploffing van klank, kleur en stories. Soms teen ‘n vinnige pas, soms stadiger: dit is beter as enige vertoning wat op HD en met surround sound op jou televisieskerm aangebied word.

Dansers vertel ‘n storie met hart en siel. Die gehoor word verlei. Die dinamika vind neerslag in toneelspel, kleredrag en die wyse waarop ‘n groep hul stempel afdruk.

En met beskrywings soos askoekslaan – waar die regtervoet gedurende die dans vinnig en sekuur bo die linkerknie geplaas word – is ons ook besig om weer die taal van die betrokke streke te ontdek.

Nêrens leef Afrikaans mooier as in die name van hierdie groepe nie: Betjies Rooistomp, Griekwa Knersvlakte, Calvinia Sitstappers en Boesmanland Bitterbessies is net van die groepname.

En hierdie groepe reis ver om hul staal te wys. Ons hoor weer van plekke soos Loeriesfontein, Clanwilliam, Bitterfontein, Witzenberg, Tiervlei, Wupperthal, Brandvlei en Vredendal.

Ons kom bymekaar

Die sosiale aspek kan nie weggelaat word nie. Hierdie danse vind plaas in die hart van gemeenskappe. Om vure. In agterplase. Op verhoë. Die riel maak dat mense weer bymekaarkom. En waar mense saam iets geniet, word gemeenskappe gesonder. In die era van die individu is die behoefte aan “behoort” al hoe groter. Ons kan nie – en hoef nie – op ons eie te lewe nie. Die riel verryk gemeenskappe deur kultuur. Sonder dat dit deel is van enige strategie-dokument.

Maar natuurlik lewe die riel ook aanlyn. Foto’s en video’s word wyd gedeel. Niemand is bestand teen die ontploffing wat op jou skerm vasgevang is nie. Op Facebook-groepe gons deelnemers en aanhangers deurlopend. Almal het ‘n gunsteling of ‘n voorkeur. Maar tog is daar ‘n samehorigheid. Groepe ondersteun mekaar en is bly vir ander se sukses. Ja, wen is lekker. Maar almal wen solank daar nog gedans word.

Op Facebook-groepe is dit duidelik: Wees trots op wat joune is, dit wat deel is van jou storie en jou uniek maak. Om jouself te kan raaksien op ‘n groter platform gee selfvertroue. Jou agtergrond, jou storie, jou gebruike maak saak.

Belangrikheid vir kultuur

Die oomblik as kultuur lewendig word, gebeur iets. As woord en klank en beeld en hart bymekaarkom, skuif jou belewenis weg van ‘n een-dimensionele kliniese blik op iets, tot ‘n volwaardige ervaring van iets.

‘n Nuwe geslag het nou lief geword vir die riel. Waar die riel dalk al plek-plek uitgesterf het, gaan hy nou vir ’n paar generasies kan voortleef. Die oordrag sal nou spontaan en dinamies voortgaan.

Afrikaans.com se #droomgroot17-talentkompetisie het pas afgesluit.
Kyk hier na een van die verrassingspryswenners – dié jong klomp weet hoe!

Die DNGKT Rieltappers is ’n groep seuns afkomstig van die plase rondom Wupperthal in die Cederberge, wat deel vorm van Die Nuwe Graskoue Trappers Rieldansgroep en sedert 2015 maak hulle deel uit van ’n nuwe dansgenre, die rieltap. Hul vernuftige voetwerk is ’n lus vir die oog en laat behoorlik die voete jeuk om saam te dans. Hierdie groep seuns se toewyding, harde werk en dissipline is bewonderenswaardig. Vervoer- en onderrigkostes staan tans in hul pad om hulle kuns te vervolmaak.

Kyk hier ...

Die ATKV

Hiervoor moet die ATKV baie krediet kry. Sonder dié platform sou daar geen impuls wees vir groepe om hulself te organiseer nie; geen rede gewees het vir nuwe rieldansers om toe te tree tot hierdie groepe nie. Die platform is dalk die eindpunt van ‘n hele jaar se oefening en deelneem. Maar dis ook die plek waar daar ‘n wisselwerking plaasvind wat broodnodig is vir kultuur - ek sien jou raak en jy waardeer dit; jy sien my raak en ek waardeer dit.

Die riel is hier om te bly. Die dinamika maak nou dat al hoe meer moontlikhede binne die gemeenskap ontsluit word. Die riel gaan verander. Verskillende vorms aanneem. Beter word. Die pas aangee. En wat ‘n lekker pas is dit nie!

Vanjaar se rieldansfinaal vind op 2 Desember by die Taalmonument en -museum in die Paarl plaas.
Finaliste kan op die ATKV se webtuiste gesien word.

Het jy geweet?

  • Dit word beskou as die oudste danssoort in Suider-Afrika en kan direk terug herlei word na die Khoi-San, die eerste bewoners van die streek.
  • Die riel word veral in die Noord-Kaap en die Karoo gedans.
  • Die ATKV het in 2006 die eerste keer die nasionale kompetisie vir rieldans aangebied.
  • Die semifinale word jaarliks in Calvinia gehou.
  • Die Nuwe Graskoue Trappers is voormalige Wêreldkampioene in die Uitvoerende Kunste. Die titel is in Amerika gewen.
  • Die projekorganiseerder is Elias Nel en was ‘n gunsteling van Japie Gouws, die voormalige besturende direkteur van die ATKV.