Zoid skryf haar eie reëls – kragtig ... delikaat .. onvoorspelbaar!

10 Augustus 2017

“Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”

– Karen Zoid

Karen Zoid het weer die afgelope naweek rëëlboeke herskryf toe sy haar eerste enkelsnit vanaf haar nuutste album, Op die oomblik, op iTunes bekendgestel het. Die liedjie was die nommer een – die mees afgelaaide liedjie op iTunes (meer as 75 000!) wat beide Afrikaans en Engelse plaaslike liedjies insluit.

Dit is ses jaar sedert Zoid `n Afrikaanse solo-album uitgereik het. Intussen het sy reusesukses met haar TV-program Republiek van Zoid Afrika behaal, vier samewerkingsalbums uit dié reeks en 27 iTunes No.1-treffers die lig laat sien!

Karen Zoid se nuwe album Op die oomblik is die eerste deel van drie verskillende hoofstukke in Zoid se nuwe liedjieboek. Haar supergelaaide rock-energie en haar vermoë om ook onvoorspelbare en soms selfs die mooiste delikate liedjies te skryf, raak al vir jare aan TV- en konsertgehore se harte – én senuwees! Hierdie diversiteit wys op die album soos die liedjies wissel tussen klassieke rock, kragtige ballades, asook tong-in-die-kies en diep, sielvolle komposisies – in ware Zoid-styl.

Karen sê die volgende oor die nuwe enkelsnit, Vir jou:Ware liefde is iets wat eers werklik waardeer kan word deur iemand wat al 'n paar myle gedoen het op hierdie besoedelde albastertjie. Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”

Al is die musiekbedryf tans in 'n sogenaamde "enkelsnit-era" is die maak van `n album nog steeds vir Zoid meer vervullend. Sy sê: “Ek wil graag deel voel van die huidige era, eerder as om te veg of te maak asof dit nie so is nie. Gewoonlik skryf ek twintig of dertig liedjies en dan kies ek die "beste" 12 of so om 'n album op te maak. Met hierdie liedjies het ek besluit om die eerste paar songs wat ek skryf net te voltooi en dadelik op te neem. Ek wil die oomblik vasvang al weet ek dis onmoontlik. Ek is besig om te probeer. Ek wil dit beskryf en verken en ten volle ervaar. Dis ook nie net ons musiekwêreld wat in 'n ‘enkelsnit-era‘ is nie, die hele wêreld is eintlik ook. Iemand sê iets in Amerika en dit affekteer die hele Midde-Ooste. Oombliklik.”

Bo en behalwe die uitreiking van die album, is daar ook nog twee opwindende datums om na uit te sien: Op 20 Augustus saai kykNET en ShowMax `n kortfilm van Karen Zoid uit. Die film is ‘n visuele album.

Zoid maak op 24 Augustus weer geskiedenis deurdat sy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar gaan wees wat `n visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het, sluit in Beyonce, Drake en Brad Paisley.

Snitte op haar nuwe album: Op die oomblik– Deel een:
1. Vonkelvrou.
2. Vir Jou.
3. Dames en Here.
4. Maak dit of breek dit.
5. Weg wêreld.
6. Vertaal.
7. Giant Mistake (bonussnit) met Kahn Morbee van The Parlotones.

Vir Jou

 

OP DIE OOMBLIK – Deel Een is opgeneem by Bellville Studios onder leiding van musiekregisseur Theo Crous.

 

Al sewe liedjies word op Vrydagaand, 11 Augustus op RSG uitgevoer. Skakel in vanaf 20:00 op 100 -104fm of op DStv-kanaal 813.

Sosiale media

Instagram

Twitter

Facebook.