Dit is tyd vir ATKV-Crescendo 2017!

06 Desember 2017

Die gewilde ATKV-Crescendo vier in 2017 sy 41ste bestaansjaar! Die finaliste vir ATKV-Crescendo gaan vanjaar op 9 Desember aan die ATKV-Crescendo-musiekfees by ATKV-Goudini Spa deelneem.

Hierdie maandelange landswye soektog na nuwe musikale talent is die ʼn feestelike hoogtepunt en veertien nuwe kunstenaars, wat tydens landswye uitdunne geïdentifiseer is, sal optree saam met groot name soos HemelBesem, Anna Davel, Deon Meiring, Die Hooflig en Oxijin. Hulle word begelei deur die ATKV-Crescendo orkes onder leiding van William Jacobs, en Melissa van der Spuy is die regisseur van hierdie musikale skouspel.
ATKV-Crescendo 2017 beloof om ʼn konsert te wees wat musikale grense verskuif. Konsertgangers kan uitsien na ʼn verskeidenheid nuwe klanke wat R&B, funk, soul, reggae, country en tradisionele Afrika-gospel insluit. ʼn Wyer Afrikaanse dialek, wat Tsotsi en die minder bekende Lwaat-rap uit die Kimberley-omgewing insluit, sal ook gehoor word.

Hierdie projek is ‘n geleentheid en platform vir alle voornemende liedjieskrywer-sangers om hul talent en drome uit te leef.

Hoe werk dit?

Reeds vanaf 2014 is landwye oudisies in Potchefstroom, Stellenbosch, Mitchells Plein, Atlantis, Bloemfontein, Kimberley, Oudtshoorn en Kaapstad gehou en jaarliks word hierdie voetspoor van die ATKV groter met meer oudisies in meer streke.

Alle oudisies word voorafgegaan deur reklame by hoërskole deur die ambassadeur van die projek, HemelBesem. Hierdeur word die jeug bewus gemaak van die projek en aangemoedig om deel te neem. HemelBesem dra die boodskap duidelik oor: Maak nie saak watter genre jy sing of skryf nie, of in watter styl of met watter aksent nie, ons wil dit hoor! Gospel, hiphop, jazz, reggae, klassieke musiek, kontemporêr en pop maak alles deel uit van die talent en musiek wat tydens die finaal van ATKV-Crescendo gehoor word.
Ontdek, ontwikkel, ontplooi – hierdie drie woorde beskryf die verloop van die projek.

Die eindresultaat is ’n finale slypskool en konsert by ATKV-Goudini Spa. Die finaliste word deur die Crescendo-orkes begelei en gaskunstenaars tree saam met hulle op.

Kyk hier ...

ATKV-liedjieslypskool 2017
Die finaliste wat tydens die oudisies gekies word, kry die geleentheid om ’n mentorprogram van ses maande, genaamd ATKV-Liedjieslypskool, by te woon. Hulle ontvang opleiding in groepe en ook deur individuele sessies deur van die land se beste kunstenaars, soos HemelBesem, Anna Davel, Bouwer Bosch en Melissa van der Spuy.

Sien die finaliste in aksie!

 Die mentor-kunstenaars kan nie wag om hul “leerlinge” aan gehore bekend te stel nie. Die baie bekende kletsrymer, YOMA, sê hul passie en talent is inspirerend. “Dis vir my ’n groot voorreg om betrokke te wees”. – YOMA.

Anna Davel, wat vanjaar haar 20ste jaar in die musiekbedryf vier, weet presies hoe ’n groot verskil Crescendo aan ’n aspirantmusikant se loopbaan kan maak. Sy het die kompetisie in 1997 gewen. “Juis daarom is ek trots om te kan deel wees van ATKV-Crescendo. Dit maak ’n groot verskil in mense se lewens, en was in my eie geval die basis vanwaar ek my eie musiekloopbaan kon aanpak.” – Anna Davel.

“Dis revolusionêr! Die hart waarmee Crescendo ‘n platform skep vir mense om hul talente uit te leef, kan net met een woord beskryf word: grensverskuiwend. Die produksie is uit die boonste rakke, en met elke optrede is dit verblydend om te beleef hoe gehore dit geniet.” – Mede-mentor Die Hooflig.

Van die finaliste

Hakkiesdraad Hartman ... vertel sy storie met musiek

Hilton Andries ... dit bring verskillende mense bymekaar, met een ding in gemeen, ons mooie taal Afrikaans!

Jan-Hendrik – uitdagend ... het ‘n impak, maar inspireer.

*Kaartjies kos R60 en is by Computicket beskikbaar.