Die woord/idioom van die week word verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – ’n lewende, groeiende woordeboek wat reeds oor dekades heen geskep word.

Word Woordryk

Rywiel; s.nw., rywiele. (verouderd)

FIETS: Tim Whitehead, die winkelbaas se seun, (was) met sy rywiel — die eerste in die buurt — op pad huis toe (P.W. Grobbelaar: Poorters, 1984, 24). Hoeveel plesier en nut het ons van ons rywiele gehad! Vandag se fietse is ligter as dié waarmee ons gery het (Die Burger, 28 Okt. 1980, 7).

© WAT

Word Woordryk

Plutokrasie: Regering van rykes of staat wat deur rykes regeer word: Plutokrasie is ‘n staatsvorm waarby die hoogste mag deur enkele ryk mense of klasse uitgeoefen word, veral omdat hulle ryk is (Ens. v.d. Wêreld 8, 1976, 272).

© WAT

Word Woordryk

Krielhaantjie; s.nw. (weinig gebruiklik)

Parmantige, aggressiewe manlike persoon, meestal ook nog klein van postuur; sin.kapokhaantjieElke vrou wat met … ‘n immerkraaiende krielhaantjie (as eggenoot) sit, behoort ook die reg te hê tot inruiling en omruiling (A. Blignault: Granaat, 1970, 73).

© WAT

Word Woordryk

Noenmaal: Deftige middagete, gew. as wyse van onthaal; ook soms, gewone middagete:  Op ‘n noenmaal onthaal, trakteer, vergas.

© WAT

Word Woordryk

hondedraffie s.nw.

Stadige draffie met betreklike kort treë.
Uit Nederlands hondendraf (1638), so genoem omdat ‘n stadige draffie met kort treë aan die manier waarop ‘n hond draf, herinner.

© WAT

Word Woordryk

elmboog stoot

Idiomatiese uitdrukking  Hardloop.

© WAT

Word Woordryk

piekel ww., het gepiekel.

(‹Maleis pikol, “aan ‘n stok oor die skouers dra“) Met moeite, ‘n gesukkel of groot omslagtigheid êrens gaan, reis, saamdra, bring, vervoer, of dergelike; soms sin. met saampiekelWerk toe piekel. Nou moet ek weer kamer toe piekel met die swaar kas. ≈ Moet hulle nie tronk toe stuur nie, want dan is dit hul arme familie wat elke naweek tronk toe moet piekel om hulle te gaan besoek (Beeld, 15 Nov. 2000, 14).  Vanuit al die delwerye het die nuuskierige delwers, die meeste van hulle uitlanders, ook na Kimberley gepiekel, reeds die vorige dag al (J.H. Coetzee, verw.: Transportry, 1975, 22).

© WAT

Word Woordryk

altemit, altemits bw. Selde ook altemitters en altemittertjies.

1 Miskien, dalk: Hy sal altemit nog kom. Het jy altemit vir my ‘n vuurhoutjie?

2 (ongewoon) Soms: Die kêrel kom so altemit hier.

UITDRUKKING

Dis (nou) nie altemit nie Dis so waar of so seker soos kan kom; daar is nie die minste twyfel aan nie; dit kan jy glo.

© WAT

Word Woordryk

rakker s.nw., rakkers; rakkertjie.

1 Iemand, veral kind of jong persoon, wat besonder lewenslustig, ondeund of stout is en, dikwels onwetend, probleme, kommer of ergernis veroorsaak: Almal het gely onder die twee rakkers se streke.

2 Uitgeslape kwaaddoener of ondeunde persoon: Noudat die polisie nie opgedaag het nie kon ons nie die rakkers gaan vastrap nie (B. Conradie: De Kuilen, 1945, 186).

3 Iets wat ‘n toonbeeld van parmantige doeltreffendheid is: Citi Golf-liefhebbers weet dat die oorspronklike Sport ‘n wakker rakker was (Die Burger, 22 Sept. 1988, bylae, 1).

© WAT

Word Woordryk

ravot  ww., het ravot of het geravot. (verouderd)  (<Fr. rabot, “twis)

1  Uitbundig, wild of luidrugtig speel of plesier maak, dikw. op ‘n manier wat as steurend of oordrewe ervaar word: Ek en my sussie het die dag lank ravot en was vroeg in die kooi (Rapport, 24 Des. 2000, 17).
2  (ongewoon)  Op ‘n vurige of hartstogtelike manier vry of met mekaar omgaan:  Xenia het verwelk vandat Fien gekom het en Johann met háár begin ravot het (A. v. Heerden: Tuin van Herinneringe, 1950, 200).

© WAT

Word Woordryk

kattemaai ww., gekattemaai. Ook soms katermaaikattermaai.

  1 Uitgelate speel, plesierig wees, jolyt hou; sinonieme baljaarravotrinkink:  En sy klein boetatjie raas en kattemaai al van hoenderkraai af dat die kloof antwoord gee (Die Huisgenoot).  Dit lyk asof al die kêrels wat deesdae so lughartig deur die ruim kattemaaiook die Suid-Afrikaners se belangstelling kragdadig hemelwaarts getrek het (Die Burger).

2 (ongewoon) Vry: As iemand flerrierig was, dan het ons ‘n bietjie geflankeer en gekattemaai met haar. Opgeteken in Nieuwoudtville en Victoria-Wes.

© WAT

Word Woordryk

kwinkeleer  ww.,

het gekwinkeleer; byv. en byw. kwinkelerende, kwinkelerend. Met trillende en helder stem sing, gew. aangenaam en dikw. vrolik — veral van voëls gesê: Voëltjies kwetter en kwinkeleer opgewonde in struike en bome (P.C. Schoonees, vert.: Eiko, 1948, 15). In die … populierbome het … die vinke gekwinkeleer en die geelvoëltjies hulle lenteliedjies lustig gefluit (J.H. Kruger: Dawid, 1932, 5).  Vir sangeresse … is dit gewoonlik baie beter … om op te tree vóór die verversings … Op ‘n vol maag … kwinkeleer ‘n mens nie op jou beste nie (Die Burger, 31 Julie 1964, 6).

Word Woordryk

slampamper, ww.

het geslampamper (‹Ndl. slampampen)

Doelloos of bloot vir plesier rondloop: ‘n Mens slampamper langs een van ons verruklike strande of dwaal deur ‘n … hawetjie (Volksblad, 19 Sept. 1958, 11).

Word Woordryk

iesegrimmig  b.nw.

Knorrig, nukkerig, nors.

Uit Nederlands iezegrimmig, ‘n afleiding met -ig van iezegrim. Nederlands iezegrim (Middelnederlands Isengrîm) uit iser ‘yster’ en grime ‘masker’, m.a.w. ‘man met die ystermasker’ of fig. ‘gedugte teenstander’, oorspronklik die eienaam van die wolf uit die diere-epos Reinaert. Eerste optekening in Afr. by Du Toit (1908) in die vorm esegrimmig.

Word Woordryk

skoorvoetend  b.nw., skoorvoetende.

Wat traag of teësinnig is, of wat getuig van verleentheid, huiwering of ’n gebrek aan entoesiasme; sin. skoorvoet (minder gebruiklik): ’n Skoorvoetende vryersklong. Skoorvoetende jongmense. Skoorvoetende fabriekswerkers. ’n Skoorvoetende erkenning, reaksie, skulderkentenis, toegewing, verskoning. Skoorvoetende hervormings, medewerking, onderhandelings, regstellings. ≈ Vroue … kom … aangehardloop. Agteraan volg ’n traer, skoorvoetende tou mans (J. Rabie: Anders-Maak, 1964, 66).  Die Regering (is) skoorvoetend met hervorming (Burg., 27 Mrt. 1987, 16).

Word Woordryk

fantasmagorie  s.nw.,

fantasmagorieë.

1  Optiese effek waardeur gedaantes skynbaar in die verte verdwyn, versmelt of op die toeskouer aanstorm met geweldige toename in grootte.

2  Voortdurend wisselende opeenvolging van dinge in die verbeelding, soos in ‘n droom: Hy sien die lewe soos ‘n fantasmagorie voor sy gees verbytrek.

fantasmagories  b.nw. Soos ‘n fantasmagorie of wat op ‘n fantasmagorie berus: ‘n Fantasmagoriese beeldeffekverskynsel.

© WAT

Word Woordryk

stiekem bw. (geselstaal)

Ook stiekempies. (Jiddish shtike, swyg” of “stilswye)  Op ‘n heimlike of skelm manier, of wat skelmpies plaasvind:  Iemand stiekem beloerontmoetStiekem rook, wegglip. ≈  As jy afluisterdoen jy dit stiekem. As jy meeluisterweet almal jy doen mee (Netwerk24, 11 Mrt. 2014, E).

▪ Ook byvoeglik: ‘n KGB-verslag was stellig nie in die jare her  ‘n stiekem gedoente as ‘n keur-verslag van ‘n uitgewer nie (Beeld, 4 Apr. 1993, 8).

© WAT

Word Woordryk

’n Kat in die sak – idiomatiese uitdrukking

Iets waarmee ’n mens later ontevrede is, of mee opgeskeep sit — waarskynlik na aanleiding van ’n geval waartydens iemand sonder nadere ondersoek ’n sak wat ’n haas sou bevat, gekoop het, maar toe ontdek het dit is ’n kat.

© WAT

Word Woordryk

diarree s.nw.

Siektetoestand gekenmerk deur vloeibaarheid van die ontlasting.

Uit Nederlands diarree uit Frans diarrhée uit Latyn  diarrhoea uit Grieks diarroia “diarree”, ‘n afleiding van diarreõ “ek stroom deur, ek lek, ek vloei weg”, met lg. ‘n samestelling van dia “deur” en reõ “ek vloei”.

© WAT

Word Woordryk

roskam ww. geroskam

1  (veral t.o.vperde) Afborsel en met ‘n ysterkam versorg: Die elande word elke dag geroskam en rondgelei (Landbouweekblad, 5 Okt. 1965, 25). ‘n String waens kom aangetrek deur spanne geroskamde perde (M. Kuttel in B. Biermann: Rooiwyn, 1971, 154).

2  Streng teregwys: Iemand roskam oor sy gedrag.

Uit Nederlands roskammen, ‘n samestelling van ros en kam, met ros wat “perd” beteken. Ros vir ʼn perd is verouderd in Afrikaans, maar ros kom nog voor in roskam en strydros.

© WAT

Word Woordryk

medevrou s.nw.

Vrou wat haar sterk met ander vroue identifiseer en ‘n eenheidsgevoel met hulle deel.

© WAT

Word Woordryk

kokkedoor

s.nw., kokkedore. (waarskynlik skertsend ontstaan uit Frans coq d’or “haan van goud“, ‘n Franse prestasietoekenning in die joernalistiek en restourantwese)  Belangrike persoon, veral iemand van gesag of invloed op grond van sy amp of prestasies — dikwels spottend of neerhalend gebruik met die bygedagte dat die persoon grootdoenerig of vertonerig is, of spesiale behandeling verwag vanweë ‘n oordrewe voorstelling van eie belangrikheid.

© WAT

Word Woordryk

maanwandeling

s.nw. Handeling van op die maanoppervlak te loop, veral met die doel om dit te verken; sinoniem maanloop (ongewoon): Die wêreld wag op die nuus van Maandag se maanwandeling.  As die mens voet op die maan neersit en terugkeer sal dit van die grootste nuus van alle tye wees (Volksblad, 18 Jun. 1969, 2). Armstrong het sy voorreg as bevelvoerder gebruik om vyf uur voor die vasgestelde tyd met sy maanwandeling te begin (Die Burger, 21 Jul. 1969, 1). © WAT

Word Woordryk

ramkat

1. s.nw., ramkatte. Iemand of iets wat besonder bekwaam of goed is of wat ‘n goeie prestasie gelewer het, of iemand of iets wat enigsins spoggerig is: Die mengsel … is Viagra se moses, en het die ou gryse verander in ‘n warmbloedige ramkat (TVPlus, 1 Sept. 2004, 62). In sy prysklas … is daar bloedweinig motors wat met die nuwe Rambler Rogue … kan kers vashou. Hy is ‘n pure ramkat (Volksbl., 11 Sept. 1969, 20).

2. tussenwerpsel (dikw. saam met jou, ou of jou ou) Uitroep van bewondering teenoor iemand of iets wat besonder bekwaam is of ‘n goeie prestasie gelewer het.

Word Woordryk

Sonsakkertjie:

sonsakkertjie s.nw., sonsakkertjies. (geselstaal; minder gebruiklik) SKEMERDRANKIE: Dis die tyd van die dag wanneer Louise Pienaar haar borduurwerk neersit en die kraffie met sjerrie uitbring stoep toe sodat sy en haar man, Mike, ‘n sonsakkertjie kan geniet (F. de Villiers in Huisgenoot, 30 Jun. 1988, 56). Op ‘n baldadiger noot is daar ‘n Iers-Meksikaanse restaurant wat pret, heerlike kos en sonsakkertjies bied (Die Burger, 15 Des. 1998, E).

polmesarie s.nw. (geselstaal; verouderd)

Ook soms polmesêrie. Jolyt of partytjie: Daar (slaat) blou vlamme uit … soos hy en sy konfraters daar polmesarie hou! (U. Krige: Kring, 1965, 103).  Ons het glasies begin klink en ek kan nie onthou tot hoe vroeg die volgende môre ons polmesarie voortgeduur het nie (U. Krige in J.P. en R. Smuts: Jangroentjie2, 1973,135).