“Laat hy val waar hy wil” – Sophia Kapp

Voor ons oor idiome gesels, moet ons vinnig vasstel wat dit is. Volgens dictionary.com en die Woordeboek van die Afrikaanse taal is dit ʼn vaste groep woorde waarvan ʼn mens nie die gesamentlike betekenis uit die betekenis van die dele kan aflei nie.

Die idioom

ʼn Idioom is dus meer as net ʼn spreekwoord of ʼn vaste uitdrukking, dis ʼn vaste bousel met ʼn geïmpliseerde betekenis. ʼn Betekenis wat deur die lede van die taalgemeenskap aan die uitdrukking toegeken is; ʼn soort talige sameswering wat buitestanders en oningeligtes lekker om die bos kan lei. Dis ʼn uitdrukking soos “om die bos lei”, wat jy net gaan snap as jy Afrikaans praat, dit goed praat, en dit al lank praat.
Een van die grootste vertaaluitdagings vir enige vertaler wat nog nat agter die ore is (sien) en sy of haar spore moet verdien (nog ʼn slag), is juis idiome. Ek kry weekliks navrae van radelose vryskutters wat met die hande in die hare sit (al weer) oor ʼn idioom waarvoor hulle net nie ʼn Engelse ekwivalent kan opspoor nie. Dis die geaardheid van idiome: Hulle is in ʼn taal en in ʼn kultuur ingebed, en jy kan hulle nie net in- of uitvoer soos wat dit jou behaag nie.
Die oplossing vir dié toffie is, terloops, dat ʼn mens nie ʼn idioom met ʼn idioom vertaal as daar nie in die doeltaal ʼn volledige ekwivalent vir die idioom is nie. As jy in Afrikaans te veel hooi op jou vurk het, mag jy in Engels “too many irons in the fire” hê, maar as jy in Afrikaans nie die kloutjie by die oortjie kan uitkry nie, moet jy liefs nie in Engels met “paws” of “claws” of “ears” sukkel nie. Jy moet net sê “you can’t figure something out”. Later in die Engelse teks kan jy weer ʼn Engelse idioom inwerk waar daar nie in die Afrikaans een is nie, en op so ʼn manier hou jy die idiomatiese lading en rykheid gelykwaardig.

Maar goed, idiome is in ʼn taal en sy kultuur ingebed. Wat beteken, dit sê vir ons ʼn klomp goed oor die taalgemeenskap.

Dis opmerklik dat Afrikaans se ouer idiome baie sterk by ʼn trekker- of landboukultuur aansluit:

• “dit gaan klopdisselboom” = dit gaan goed (verwysend na die ritmiese klop van ʼn disselboom aan ʼn wa as die osse lekker sterk daaraan trek)
• “van die os op die jas” = van onderwerp verwissel (“jas” is moontlik ʼn verkorting van “vaaljas”, ʼn bynaam vir ʼn donkie)
• “iemand is ʼn lunsriem” = die persoon is vuil (die lunsriem was die dun riempie in die middel van die wawiel se naaf, wat altyd vol ghries was en gevolglik maklik vuil geword het)
• “die kar voor die perde span” = iets agterstevoor doen (die perde kan die perdekar net trek, nie stoot nie)
• “jong osse inspan” = braak (vermoedelik omdat die kranke bulk soos balhorige osse wat vir die eerste keer ingespan word)
Hierdie soort ou taalskatte kom dikwels in uitmergelende lyste in skoolhandboeke voor, en leerders moet dan saans en naweke tot hulle groot frustrasie aan dié fossiele leer. Dis baie verdienstelik, en ja, die nuwe geslag moet kennis neem van dié taalbousels, want hulle moet in ʼn gemeenskap kan inpas wat die taal darem al ʼn paar dekades lank beheers. Maar om te maak asof ʼn idioom ʼn ding is wat net in ʼn handboek of ʼn woordeboek bestaan, is om die taal ʼn onreg aan te doen.
Sprekers van enige taal is kreatiewe kreature. Hulle maak taal, knoei taal, knoop taal en skep taal sodat dit in hulle behoeftes kan voorsien. Dis hulle reg en plig, en dis wonderlik as ʼn mens hoor hoe soepel die nuwe idiome in taalgebruikers se alledaagse taal inpas.

VivA het ʼn hele klomp van dié skatte in die hande gekry en opgeteken. Hier is ʼn keur:

• “reën ruik, al is daar nie wolke nie” = positief bly, al het ʼn mens nie rede nie (ingestuur deur Carina Stander)
• “sonder arms rondstaan” = rondhang sonder om te help (ingestuur deur Org Potgieter)
• “vinkkoors kry” = die onblusbare begeerte kry om ʼn huis van bo tot onder oor te versier, gewoonlik iets waaraan ʼn vrou in haar middeljare begin ly (ingestuur deur Wiets Steyn)
• “elke moer wil ʼn ertappel wees” = elke onbenullige persoon wil iemand belangriks wees (ingestuur deur André Oberholzer)
• “net klein klippies rondskop” = met onbenullighede besig wees terwyl daar groot werk is om te doen (ingestuur deur Franselize Rossouw)
• “te klein vir ʼn tafeldoek en te groot vir ʼn servet” = ʼn tiener wat nie meer tussen die kinders pas nie, maar ook nie oud genoeg geag word om in die grootmense se geselskap te sit nie (ingestuur deur Rennie Naudé)

Stuur jou idioom in

Die merkwaardige aan hierdie inskrywings is nie net die oorspronklikheid daarvan nie, maar die uiteenlopende onderwerpe wat dit dek. Afrikaanssprekendes is deesdae nie net meer hand-aan-die-ploeg-slaners nie, hulle is nou ook dromers, luiaards, verwaandes, verlooptes, vertoorndes, uitstellers, aanpraters en alles tussenin. Die gebruikers by VivA wat vir ons hierdie idiome gestuur het, is net so uiteenlopend. Dis plattelanders, stedelinge, skoolkinders, taalprofessore, jonk en oud, wat een ding baie duidelik sinjaleer: Afrikaans gons in die monde van sy sprekers. Sy idiomeskat groei by die dag, en sy sprekers is nog net so woordvaardig en vindingryk as ons voorsate.
Dis baie belangrik om nie aan idiome te dink as ʼn ding wat in ʼn stowwerige boek lê en versteen nie. Die moderne bousels is net so geldig en net so bruikbaar as die opgetekende goed van 100 jaar gelede. Waar jy jou dus ook al bevind, en hoe jonk jy nou ook al is, gooi gerus daardie taal van jou soos wat hy vir jou gemaklik voel, en laat hy val waar hy wil. Klik hier.

Besoek Afrikaans.com se Taalpretblad hier.

Baie dankie aan Sophia Kapp – VivA se taaltannie vir hierdie kitsfeite. Om al jou taal- en spelstruikelblokke te oorkom, laai die VivA-app hier af en vind meer uit oor Varsgebekkig – ‘n inisiatief wat seker maak ons taalskatte gaan nie verlore nie.

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!