Hierdie studiemetodes gee jou selfvertroue

Daar is min woorde wat ouers en leerders se bloed so vinnig in yswater laat verander soos die woord, ‘eksamen’. Goeie studiemetodes kan egter die eksamenvrees in eksamenvreugde verander.  Petronell Vorster het namens Afrikaans.com navorsing gedoen oor die verskillende studiemetodes wat jou kind kan help om die komende halfjaar-eksamen met selfvertroue aan te pak.

 

Juniemaand is ook nie net die maand waarin ons ons warmwatersakke, verwarmers en warmkomberse nader trek nie, dit is ook tyd vir die gevreesde Junie-eksamens. Die goeie nuus is dat goeie studievaardighede aangeleer kan word. Dit beteken jou kind hoef nie Einstein- of Stephen Hawking-slim te wees om goed te vaar in sy/haar eksamens nie, hulle moet net leer hoe om (reg) te leer.

Watter tipe ‘slim’ is my kind?

Nie alle kinders besit dieselfde tipe intelligensie nie. Navorsing het bewys dat jou kind se IK nie noodwendig bepaal hoe ‘slim’ hy/sy is nie. Vir baie jare was “intelligensie” en “boekslim” sinonieme, maar Howard Gardner het in 1983 sy teorie van veelvoudige intelligensie bekendgestel en ons persepsie van ‘slim’ drasties laat verander.

Volgens Gardner is daar nege tipes intelligensie: Natuur-, intra-persoonlike-, interpersoonlike-, eksistensiële-, musikale-, logies-wiskundige-, linguistiese-, visueel-ruimtelike- en liggaams-kinestetiese intelligensie.  Hierdie tipes intelligensie beïnvloed hoe jou kind leer en waar hul sterk punte lê.

Kyk hier ’n video oor die nege tipes intelligensie en wat dit beteken

Natuurlik gaan die tipes intelligensie waaroor jou kind besit ’n groot rol speel in die studiemetode wat die beste vir hom/haar gaan werk. Bepaal eerste hoe jou kind die beste leer, met visuele metodes, linguistiese metodes of ’n kombinasie van die twee?

Studiemetodes

Jonger leerder = minder werk

Eenvoudige studiemetodes wat gebruik kan word vir jonger leerders wat minder werk op ’n slag moet memoriseer sluit in:

1. Akronieme en mnemonieke

’n Mnemoniek is ’n metode om inligting te organiseer en memoriseer. Sommige studente gebruik ’n eenvoudige frase of feit om ’n langer lys van inligting te onthou. Byvoorbeeld, die planete se name (Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunis, Pluto) kan onthou word met die rympie: Meneer van As, my jas sal u nie pas.

2. Breinkaarte/spinnekopdiagramme

Breinkaarte is ontwikkel deur Tony Buzan. Dit help mense om belangrike feite te memoriseer. Vir die ontwikkeling van ’n breinkaart benodig jy ’n vel papier waarop die tema/onderwerp in die middel van die bladsy geskryf word. Vanaf hierdie onderwerp word lyne/takke getrek waarop sleutelwoorde geskryf word. By elke sleutelwoord word die ondersteunende gedagtes geskryf.

Daar is oulike programme op die internet beskikbaar indien die leerder sy/haar breinkaarte digitaal wil skep.

Afrikaans.com het https://www.mindmup.com/ gebruik om die onderstaande breinkaart oor Voedselgroepe te skep.

3. Flitskaarte

Flitskaarte is visuele leidrade wat op kaarte aangebring word. Flitskaarte kan gebruik word vir hersiening. Leerders kan hul eie flitskaarte of meer gedetailleerde indekskaarte (dikwels A5-grootte), waarop kort opsommings geskryf word, saamstel. Omdat elke kaart apart is, is dit maklik vir leerders om hulself te toets.

Daar is verskeie oulike Afrikaanse toeps met flitskaarte vir jonger leerders ontwikkel. Besoek die Google Playstore of Appel iStore om toeps soos: 500 + Afrikaanse flitskaarte (R29.00) of Outu en Era: Flitskaarte (gratis) af te laai. Dit sal jou ’n goeie idee gee van hoe flitskaarte werk en hoe om dit by jou kind se studieplan te inkorporeer.

4. Visuele beelde

Vir leerders wat oor ’n visuele leerstyl beskik, en omdat leerplanne dikwels baie verbaal is, vind hierdie leerder baat by die gebruik van visuele tegnieke om inligting te memoriseer.

Die leerder skep visuele beelde vir hulself om die inligting te memoriseer. Die leerder ‘bêre’ byvoorbeeld die inligting in ’n kamer in die huis. Vat die bostaande breinkaart van Voedselgroepe as voorbeeld. Die leerder onthou die inligting deur elke voedselgroep in ’n kamer te plaas: Groente en vrugte in die tuin (groen en waar dit groei), stysel in die kombuis (waar ons broodjies maak en kaste is bruin), melkprodukte in die badkamer (die bad en toilet is wit), vette en olies in die TV-kamer (dit is daar waar ons lekkergoed voor die TV eet) en vleisprodukte op die stoep (dit is daar waar ons braaivleis hou).

Meer werk

Soos wat die leerder ouer word, gaan die werk wat hulle vir ’n eksamen moet memoriseer meer word. Studiemetodes moet aangepas word om te verseker dat die leerder die werk maklik kan leer, onthou en herroep. Die bogenoemde studiemetodes kan steeds gebruik word, maar dit mag raadsaam wees om dit uit te brei, byvoorbeeld: Die leerder kan breinkaarte EN mnemonieke gebruik om baie inligting te onthou.

1. Sleutelwoorde/opsommings

Opsommingsmetodes verskil na gelang van die onderwerp wat opgesom moet word. Die meeste opsommings behels egter ’n samevatting van ’n groot hoeveelheid inligting. Dikwels word hierdie notas verder tot sleutelfeite verkort.

  • Georganiseerde opsommings
    Hooftrekke wat sleutelwoorde, definisies en verwantskappe aandui, gewoonlik in die boomstruktuur.
  • Spinnekopdiagramme
    Spinnekopdiagramme/breinkaarte kan effektief gebruik word om konsepte te verbind. Hulle kan nuttig wees vir die beplanning van essays en opsteltipe-vrae in eksamens. Hierdie hulpmiddels gee ’n visuele opsomming van ’n onderwerp, terwyl logiese struktuur behou word met lyne wat wys hoe die verskillende dele met mekaar skakel.

2. Lees en luister

Die O-VLOK-H-metode word deur baie opvoeders aanbeveel as die beste metode om inligting te leer omdat dit inligting prioritiseer op ’n manier wat direk verband hou met die manier waarop dit in in ’n eksamen gebruik gaan word. O-VLOK-H is ’n akroniem vir: Oorsig, Vrae, Lees, Opsomming en Herhaal.

Oorsig: Die leerder lees vlugtig deur die hoofopskrifte of die punte van die tema wat in die leerplan bestudeer moet word.

Vrae: Die leerder formuleer vrae wat beantwoord moet word na aanleiding van ’n deeglike ondersoek van die onderwerp.

Lees: Die leerder lees die verwante materiaal, met die fokus op die inligting wat verband hou met die vrae wat vroeër geformuleer is.

Opsom: Die leerder maak ’n opsomming van die onderwerp en pas sy eie insig toe in die proses. Dit behels die skryf van notas, spinnekopdiagramme, vloeidiagramme, benoemde diagramme, mnemonieke, of selfs stemopnames.

Kontrole (Toets): Die leerder maak seker al die inligting is opgesom, beantwoord die vrae wat opgestel is en vermy enige nuwe vrae wat die aandag kan aflei of die onderwerp kan verander.

Hersiening: Die leerder gaan weer deur die werk en vrae en maak seker hy/sy ken die werk.

Goeie studievaardighede

Behalwe vir jou studiemetodes is daar ook ’n paar ander dinge wat bepaal hoe suksesvol jou kind gaan leer.

1. Repetisie

Herhaling is baie belangrik! Hoe meer die leerder iets herhaal, hoe beter gaan hy/sy dit onthou. Dink maar aan jou gunstelingliedjie – jy kan die lirieke moeiteloos saamsing omdat jy al letterlik honderde kere na die liedjie geluister het.

2. Tydsbestuur en organisasie.

Tydsbestuur is een van die belangrikste vaardighede wat enige individu kan aanleer. Jou kind moet leer hoe om sy tyd op so ’n manier te bestuur dat alles geleer word. ’n Goeie wenk is om van die Verkeersligsisteem gebruik te maak.

Groen: Onderwerpe om eerste te leer. Dit wat eenvoudig en belangrik is en maklik leer.

Oranje: Onderwerpe om volgende te leer. Hierdie is onderwerpe wat belangrik is, maar baie tyd vat om te memoriseer.

Rooi: Laagste prioriteit. Hierdie sluit komplekse onderwerpe in wat nie noodsaaklik is om te weet nie.

3. Leefstyl

Genoeg slaap, oefening en ’n goeie dieet speel ’n belangrike rol wanneer dit by die sukses van leer kom. ’n Moeë brein kan nie leer nie! Sorg dat jou kind genoeg slaap en rus en probeer ook om hulle met die bes moontlike dieet te voorsien. Behalwe vir gesonde kos, speel genoeg water ook ’n rol wanneer dit by leer kom. Sorg dat jou kind sy ses glase water per dag drink!

4. Studie-omgewing

Om ’n ogie oor jonger kinders se studie-omgewing te hou, is maklik. Hulle leer gewoonlik waar jy vir hulle sê om te leer. Waak egter daarteen om jou ouer kind te veel vryheid te gee wanneer dit by hul studie-omgewing kom. “Ma, ons gaan by Anel se huis biologie leer,” beteken gewoonlik “Ma ons gaan by Anel se huis TV kyk wat praktiese biologielesse wys.”

Navorsing het ook bewys dat studie meer effektief kan wees wanneer die omgewing waarin gestudeer word gereeld afgewissel word. (Ons maak assosiasies met al ons sintuie). Die speel van musiek kan ook gebruik word om makliker te leer.

Albert Einstein het by geleentheid gesê: “Jy kan nie ’n vis oordeel aan die manier hoe hy ’n boom klim nie.” Onthou, alle kinders is uniek en nie almal is ‘boekslim’ nie. Net omdat jou kind kleitrap in Wiskunde beteken nie hy gaan nie eendag ’n suksesvolle loopbaan kan volg nie. Daar is baie meer loopbaangeleenthede as net dokter, prokureur of boekhouer word! Moedig jou kind aan om altyd sy beste te doen, in alles wat hy doen. ’n ‘Hard-voor-gewerk’ 60% is dikwels baie meer werd as ’n ‘ek-kry-sommer-net-80%-sonder-om-te-leer’.

Bronne:

http://af.m.wikipedi.org/wiki/Studievaardighede

https://showme.co.za/lifestyle/nege-soorte-slim