Artikel 3 in die reeks: ‘Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaars’

Só lyk en klink ’n wentoespraak!

Nou dat Afrikaans.com jou geleer het hoe om ’n redenaarstoespraak te skryf, wenke gegee het hoe om die toespraak te leer en voor te dra en ook die slaggate uitgewys het waarvoor jy moet uitkyk, sluit ons die reeks, ‘Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaars’ af met ’n artikel waar ons na ’n klompie praktiese voorbeelde van wentoesprake kyk. Onthou asseblief dat hierdie toesprake die intellektuele eiendom van die sprekers is en dus nie vir persoonlike doeleindes mag gebruik of gekopieer word nie. (Jy mag nie die toespraak leen nie!)

Graad R – graad 3

Wie het gesê net ouer kinders kan uitblink wanneer dit by redenaars kom? Die spul skattige graad R – graad 3’s gee nuwe betekenis aan die ou gesegde, “So bek kort jêm!”
Eduard Hamman van die Laerskool Dr. Havinga lewer sy graad R-redenaarstoespraak waarvoor hy 92% behaal het en die algemene wenner vir graad R was.

Kyk hier na Carla Bruwer van die Laerskool Saamtrek se graad 1-toespraak:

Jordan January (graad 3) van die Laerskool Olifantsvallei, het met sy “Wat beteken geletterdheid?”-toespraak die semifinaal van die ATKV-redenaarskompetisie gehaal. Die toespraak het ook verseker dat Jordan as die graadwenner en kategoriewenner in die Kansvatter Podium Pret-kompetisie uit die stryd getree het.

Graad 4 – 6

In graad 4 – 6 raak die toesprake langer, die kinders ‘slimmer’ en die onderwerpe meer ingewikkeld.
Kyk met hoeveel oorgawe gee Marizelle Ferreira van die Laerskool Phalaborwa Groenskool haar toespraak oor “Trappe”:

Graad 7 – 12

Wanneer dit kom by redenaars in die seniorfase is dit maklik om te sien wie sal eendag ’n suksesvolle loopbaan as ’n gladdebek politikus, radio-omroeper of TV-aanbieder kan volg! Ouer kinders slyp al hul tande van jongs af en wanneer dit hul beurt is om aan seniorfase redenaarskompetisies deel te neem, is hul dikwels reeds uitstekende orators.

Kyk hier hoe ’n matriekleerling sy Radikale Redenaarstoespraak oor “Normaal is subjektief”-toespraak lewer.

Hier wys Jan-Hendrik Pretorius hoekom hy die ATKV landsfinaal gehaal het met sy onvoorbereide toespraak by die 2015-ATKV-kompetisie:

Hoekom is hierdie toesprake wentoesprake?

Wat is die belangrikste ding wat al hierdie voorbeelde van toesprake wat ons jou nou gewys het in gemeen het? Al die sprekers, van die kleinste graad R tot die grootste matriek, lewer hul toesprake met oorgawe en passie! Almal se toesprake het ’n interessante onderwerp en ’n uitstekende struktuur en pas by die ouderdom van die leerder. Almal maak gebruik van goeie argumente en gee logiese en gepaste stawings van die argumente. Let ook op na die humoristiese elemente wat in die sprekers se toesprake voorkom. Niemand wil voor gepreek word by ’n redenaarskompetisie nie, toeskouers wil dit geniet om na die sprekers te luister!

Al die sprekers is ook goed voorberei, gemaklik en ‘n mens kan duidelik hoor wat hul sê. Hulle hanteer hulle kaartjies met gemak. Dit dui op ure en ure se oefening!

Afrikaans.com weet ook dat ons lesers nie net kleitrap met redenaarstoesprake nie en dat die skryf van ander tipe toesprake ook dikwels tot groot kopseer kan lei. Ons sluit dus ons reeks, ‘Alles wat jy nodig het vir 2018-redenaars’ af met handige notas oor die skryf van verskillende tipes toesprake wat jy op jou rekenaar kan aflaai, of in jou laai kan bêre en nader trek wanneer jy weer moet toespraak skryf: Die notas is in Engels en Afrikaans beskikbaar en sal verseker dat jy nooit weer vashaak met die skryf van enige tipe toespraak nie!

Lees ook …