Het jy geweet

Hoe ontstaan so 'n taal?

Afrikaans het ontstaan uit die mengelmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ’n kultuurpot saamgegooi is. Afrikaans se verhaal begin in 1652 met die aankoms van die Hollanders aan die Kaap. Benewens daardie Hollandse invloed was daar twee ander belangrike groepe wat ’n bydrae gelewer het: die slawe en die Khoi. Afrikaans se wortels lê dus beide binne en buite Suid-Afrika. Klik hier … en kom gesels saam oor die ontstaan van Afrikaans en laat weet ons van nog interessante feite.

'n Taal in wording

Afrikaans.com het die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl om inligting gevra oor die wordingsgeskiedenis van Afrikaans, omdat dit so belangrik is dat Afrikaanstaliges presies moet weet hoe die Afrikaanse spreek- en skryftaal tot stand gekom het. Die onderstaande artikel is van die Taalmuseum ontvang. Dit kan in samehang gelees word met hul ander artikel oor die wortels van Afrikaans, asook www.Mieliestronk.com se eie artikel oor waar Afrikaans in die Germaanse taalfamilie inpas en hoe dit daaruit ontwikkel het.

Lees die artikel hier: http://www.mieliestronk.com/afrikboor.html

Het jy geweet dat Afrikaans:

  • Met sowat 7 miljoen huistaalsprekers, die derde meesgebruikte moedertaal in Suid-Afrika is?
  • Deur 10,3 miljoen leerders in Suid-Afrikaanse skole as tweedetaal gebruik word?
  • Steeds deur 'n groot aantal inwoners van Namibië verstaan en gebruik word?

Het jy geweet dat Hollands:

  • Die moedertaal van mense in Nederland en Vlaandere is, wat kleiner as die Vrystaat, maar een van die mees vooruitstrewende lande ter wêreld is? Nederland, byvoorbeeld, is die tweede grootste voedseluitvoerder ter wêreld en sy mense is van die beste spaarders op die planeet!

Het jy geweet dat Duits:

  • Die taal is wat die meeste in Europa gepraat word? Feitlik 24% van die Europese Unie se inwoners praat Duits as moedertaal en 31% kan dit praat en verstaan.
  • Deur 40% van alle wetenskaplikes in die VSA vir studente aanbeveel word? In Japan leer 68% van alle Japannese studente Duits praat.

Het jy geweet dat Frans:

  • Wêreldwyd deur 150 miljoen mense gepraat word en, naas Engels, die taal met die grootste verspreiding op aarde is?
  • Deur 30 miljoen mense in Afrikalande as die taal van regeringsbestuur, handel en onderwys gebruik word, terwyl ’n verdere 40,6 miljoen Afrikane soms Frans gebruik.

'n Monumentale aksie – die Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans. Almal behoort hierdie unieke monument te besoek. Die gedagte om ’n monument vir die Afrikaanse taal op te rig, het in 1942 posgevat.

’n Afrikaanse Taalmonumentkomitee is gestig en daar is begin om fondse in te samel. Bouwerk het in 1972 begin en die monument is in 1975, ’n honderd jaar na die stigting van die GRA, ingewy.

Hierdie taalmonument is nie die enigste een in die land nie. Die oudste een staan op Burgersdorp en is eintlik opgerig vir die erkenning van Hollands. Die dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig. Tydens die Taalfeesjaar in 1975, is daar ook monumente op Lichtenburg, Ventersburg, Touwsrivier, Worcester, Louis Trichardt, Belfast, Ermelo, Ohrigstad, Delareyville, Petrus Steyn, Reddersburg, Reitz, Johannesburg, Ladismith, Riebeek-Kasteel, Aberdeen en Oos-Londen opgerig.

Waarom 'n Taalmuseum?

Die Taalmuseum is in die hartjie van die Paarl, in die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en waar die GRA inderdaad gestig is. Die museum is gestig om die lede van die GRA te vereer en is in 1971 deur die Taalmonument-komitee gekoop en deur argitek, Gabriel Fagan gerestoureer. Dit is in 1975 amptelik geopen. Die museum se uitstallings handel oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans.


Afrikaanse Taalmonument - 'n viering van diversiteit?

Die simboliek van die monument sluit die bydrae van al die tale in wat tot Afrikaans se ontstaan gelei het:

  • Drie suile = Wes-Europese tale, onder meer Hollands, Frans, Duits en Portugees.
  • Muur = Maleise taal.
  • Podium met rondings = Khoi-, Nguni- en Sothotale.
  • Brug = versmelting van Afrika en Europese tale.
  • Hoofsuil = Afrikaans.
  • Suil = Suid-Afrika

Waarom is Engels dominant?

Weens Engels se dominante status word dit in verhouding met die ander tale meer gebruik (al is dit nie die moedertaal van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie). Mense kies bloot om dit meer as ander tale te praat omdat hulle dit as die taal van ekonomiese, politiese en sosiale mag beskou.

Ongelykheid?

In sy artikel haal Flip Smit aan dat net 2% wit studente en 4% bruin studente tans beurse van die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) ontvang. Dit veroorsaak dat minder as 20% na universiteite kan gaan. Volgens Langner van Solidariteit Helpende Hand is dit te min om selfs een Afrikaanstalige universiteit te regverdig, tensy daar stappe gedoen word om die benadeling van wit en bruin studente – deur die disproporsionele toedeling van beurse – reg te stel.

Afrikaans as onderrigtaal?

Daar is ’n toenemende daling in die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in beide skole en universiteite. Volgens statistieke het Afrikaans-enkelmedium skole in ’n provinsie soos Mpumalanga van 1993 tot 2003 met 96% gedaal (van 90 skole tot slegs drie3 in 2003). In 1980, was vyf Suid-Afrikaanse universiteite Afrikaans-medium en 15 Engels; in 1994 was 18 Engels, vyf tweetalig en was daar géén universiteit wat Afrikaans as enigste onderrigmedium gebruik het nie.
Sedert 1995 het Tukkiesstudente wat kies om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik, van bykans 70% tot 34,8% gedaal en die studente wat Engels verkies, van 29,2% na 65,2% gestyg.
Afrikaanse ouers plaas toenemend hulle kinders in Engelse skole. Afrikaanse skole veg om voortbestaan en Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien self die doodslag toe! Die gesindheid is dat kinders met ’n Afrikaanse opvoeding ’n agterstand teenoor Engelse in die sakewêreld sal hê. Dit is ’n groot mistasting. Suksesvolle Afrikaanse sakelui, soos die Ruperts en Christo Wiese, staan glad nie terug in die sakewêreld nie.
Die wêreld is hedendaags ’n globale stad met multinasionale beroepslui in elke hoekie van die aardbol. Ingenieurs van Duitsland (eentalige nasie), het nie ’n agterstand teenoor Engelse ampsgenote nie, om nie te praat van die 800 000 Afrikaners wat geëmigreer het en werk kon kry ‘ten spyte van’ hulle moedertaalonderrig nie. Waarom die wanpersepsie? Dalk weens uitlatings soos dié van professor Jansen.

Engels as taal van versoening?

Prof Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het onlangs die stelling gemaak dat Engels, eerder as Afrikaans, die taal van versoening in hierdie land sal moet wees. “Dit verbaas my steeds hoe ‘n versigtige argument oor taalinklusiwiteit ernstig verdraai kan word vir die maksimum mediabohaai,” het hy in reaksie op die ontstoke debatvoering wat daarop gevolg het, getwiet.
Wat hy taalinklusiwititeit noem, sal noodwendig tot eentaligheid lei. Ons behoort eerder meertaligheid na te streef. Slegs diegene wat reeds eentalig Engels is, sal by Jansen se voorstel baat en ander sprekers sal hulle tale daarvoor inboet, soos wat reeds aan die gebeur is met die Afrikatale.

Veeltaligheid of nie?

Volgens die skrywers van ’n navorsingsverslag, ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa’, word die oorheersing van Engels onder die skyn van veeltaligheid aangeblaas. By UNISA neem die aantal vakke wat slegs in Engels aangebied word al hoe meer toe en verloor Afrikaans sy voorheen gelyke status met Engels.
Volgens Flip Smit, voormalige rektor van UP, is dubbelmediumonderrig (Afrikaans en Engels die swakste wyse van onderrig en gewoonlik net ’n tussenstadium vir Engelstalige onderrig. ’n Kosteberaming by een universiteit dui aan dat dié wyse van onderrig vir alle kursusse onbekostigbaar is, maar dat tolkdienste goed werk en bekostigbaar is.
By die NWU word die tolkmodus gebruik om hierdie probleem op te los. Dit is die pad wat uiteindelik ook vir US en UP voorlê. Daar moet seker gemaak word dat Afrikaans aan minstens twee universiteite status as universiteitstaal behou.

Professor Wannie Carstens, professor aan Noordwes-Universiteit en voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het in sy lesing sy droom vir Afrikaans in 2033 uitgespreek. Hy het gesê dat hy droom dat Afrikaans oor 20 jaar steeds as volwaardige taal in skole, universiteite, howe, ens., gebruik sal word. Hy twyfel nie aan Afrikaans se potensiaal nie. Dit is ’n beduidende taal (een van die 120 grootste tale uit 7 105 tale). Min mense weet byvoorbeeld dat Afrikaanse taalverwerwing en Geskiedenis van Afrikaans as vakke geneem kan word by die Adam Mickiewicz-Universiteit (UAM) in Pole. Daar word selfs tans aan die eerste Pools-Afrikaanse woordeboek gewerk.

Groei of kwyn?

’n Taal se oorlewing word gemeet aan faktore soos die behoud van die taal se funksies en die status van die taal. ’n Taal moet hoë sowel as lae funksies hê. As ’n hoë funksie soos gebruik in amptelike konteks verlore gaan, het dit ’n negatiewe effek; daarom is dit van kardinale belang dat Afrikaans steeds as ’n vakkundige taal op tersiêre vlak gebruik moet word.

Hoe behou 'n mens Afrikaans?

Volgens prof. Carstens kan ons die volgende stappe doen om Afrikaans se voortbestaan te verseker:

  • Maak seker dat Afrikaanse kinders na Afrikaansmedium skole gaan.
  • Behou Afrikaans as wetenskapstaal.
  • Behou Afrikaans as publikasietaal – publiseer koerante, tydskrifte, boeke, wetenskapartikels.
  • Hou vol om Afrikaans in al sy funksies te gebruik: By die huis, in die werksplek (Afrikaans is ’n ekonomiese bate), in die kerk, in die howe, daar waar ons ontspan. Wanneer een funksie verlore gaan, begin 'n taal kwyn – onderwys is die skakel tussen alle funksies.
  • Ons moet die volle verskeidenheid van Afrikaans erken. Ons het standaard- en niestandaardvariëteite en die een is nie noodwendig beter as die ander een nie.
  • Ons moet Afrikaans ondersteun waar ons kan. Kom ons koop Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte; luister Afrikaanse musiek; woon Afrikaanse kunstefeeste by. Kom ons gee ons geld vir Afrikaans en help ’n mark vir Afrikaans en sy produkte skep.
  • Raak betrokke by Afrikaanse projekte. As jy nie tyd het nie, gee dan jou geld. Ons het baie fondse nodig om Afrikaanse kinders te laat studeer sodat hulle op hulle beurt weer die ekonomie deur hulle vaardighede kan stimuleer.
  • Ons moet trots wees op ons taal, maar ons moet terselfdertyd ook beleef wees teenoor die sprekers van ander tale. Watter beeld dra ons van Afrikaans en sy sprekers oor?
  • Ons moet werk en geleenthede in Afrikaans skep.

*Inligting bekom uit prof. W. Carstens se ATM-lesing 26 September 2013; uit ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende student aan Unisa’ deur E. Bornman, P.H. Potgieter en J.C. Pauw in ‘Tydskrif vir Geesteswetenskappe’ 53 (3)September 2013; statistieke soos uit die artikel van Vic Webb (2012): ‘Managing multilingualism in higher education in post-1994 South Africa, Language Matters: Studies in the Languages of Africa’, 43:2, 202-220 en ‘Language in a Changing World’: UNISA studiegids vir LIN2046, 2007:88-91.

Die samestelling van die Afrikaner

Dit is interessant dat selfs mense met “Franse” vanne soos Du Toit en Malherbe (van Hugenote-oorsprong) ten tyde van die stigting van die GRA net sou verwys na die “Hollandse verlede” van sekere Afrikaners en nie na byvoorbeeld die Franse ook nie. Hulle het nietemin later die Gedenkschool der Hugenoten tot stand gebring om hieraan erkenning te gee.

Dog, die groot Duitse deel van die Afrikaner se samestelling, met ander woorde die aandeel van stamvaders uit die Duitse Laaglande wat hulle by die VOC aangesluit het, is implisiet nie erken nie en dalk nie eens destyds reg besef nie.

’n Navorser soos dr. J.A. Heese het egter dekades later bereken dat die Duitse gene verreweg oorheersend is, hoewel daar ’n min of meer gelyke verdeling van Nederlandse en Duitse bloed in die Afrikaner is. Dit is omdat die eerste Nederlandse immigrante baie kinders (dogters) gehad het wat later getrou het met die oorwig van Duitsers wat hier vir die VOC kom werk het.

Die Franse bydrae is minder, maar steeds beduidend. Heese het die samestelling van die Afrikaner op grond van bloed soos volg bereken: Nederlands 34,8%, Duits 33,7%, Frans 13,2%, Brits 5,2%. Daar was ook voorsate uit Afrika en Asië.

— Mieliestronk.com