Wêreldboeke-en-kopieregdag: ‘n Duisend redes om boeke te vier!

Boeke kan en het al die wêreld verander. Vir my is boeke soos ou vriende. Sommiges laat my ontspan en bring nostalgie, ander skyn die lig en wys vir my die pad aan. Sommige boeke leer my radikale lesse. Om te kan skryf en met woorde te mag omgaan, is die grootste lekker ooit. Nedine Blom – Skrywer en ambassadeur vir Afrikaans.

Boeke voer jou mee na ‘n ander se wêreld of perspektief. Dit open nuwe wêrelde. Nita Cronjé – Bestuurder: Feeste en Produksies van die ATKV en ambassadeur vir Afrikaans.

“Ek is eerder ʼn arm man wat in ʼn solder woon met baie boeke as ʼn koning wat nie lief is vir lees nie.”  Ek weet nie wie hierdie wysheid kwytgeraak het nie, maar dit is iets waarmee ek heelhartig kan identifiseer.  Alita Steenkamp se liefde vir boeke en stories kom ʼn lang pad.  “Ek het ’n foto van myself waar ek op ’n skoolkoshuis se trappies sit met ʼn boek voor my oop.  Dalk het ek daar net prentjies gekyk.  Nie lank na daardie foto geneem is nie was my ouers op ’n dag totaal uit die veld uit geslaan toe ons verby ’n groot kennisgewingbord ry en ek hardop lees: Kom besoek die Pretoria se skou. Ek was toe skaars vier jaar oud. By die huis kon hulle nie vinnig genoeg ‘n boek in my hande druk nie. “Lees vir ons,” was die opdrag, en lees, het ek gelees. Glo my, ek het nooit weer ophou lees nie. Toe ek in graad 1 in Laerskool Totiusdal daar in Pretoria se Moot instap, het juffrou Vollie my gevat om vir al die ouer kinders in die ander standerds te lees. Boet, Sus en Daan was dus vir my geen uitdaging nie, en ek het my ma behoorlik mal gemaak om my een maal per week biblioteek toe te neem. En so het my lewe onherroeplik met woorde en sinne en boeke en stories verstrengel geraak.

“Dis met groot vreugde wat ek elke jaar op 23 April, saam met die res van die wêreld, Wêreldboekedag vier. Boeke, so glo ek, moet gevier word, want ʼn lewe sonder boeke kan ek my nie indink nie. My grootste prestasie tot dusvêr, glo ek, was om van my twee meisiekinders ook ywerige lesers te maak.”

Alita het by ‘n paar ambassadeurs vir Afrikaans gaan inloer om boeke te gesels.

Anzil Kulsen  is die skrywer van boeke soos Zita, Hand vol Sand en Sorry maak nie gesond nie. Anzil lag en sê sy is so ʼn groot leser, al wat sy kortkom, is nog ʼn bril of twee.  As kind was die biblioteek haar gunsteling-uithangplek.  As tiener het sy die vertaalde werke van Heinz Konsalik  verslind.  ʼn Ander boek wat uit daardie tyd vir haar uitstaan, is die boek, Die lewe bly ʼn lied van Nita Griessel, ʼn verhaal oor die stadsjapie, Mitzi Adler, sonder ʼn sent op die plaas wat haar oupa vir haar nagelaat het.  Vir Anzil lê die grootste vreugde van boeke daarin dat dit jou laat groei as persoon.  Al weet jy dalk hoe die storie gaan eindig, bly jy raai en groei jy saam met die karakters.

By die huis het sy vir haar ʼn leeshoekie ingerig, maar tog kan sy selfs op ʼn kampeerstoel opkrul en wegraak in ʼn lekker boek.  Lees is vir Anzil ʼn fees.

En hoe voel sy oor Wêreldboekedag? “Dis geweldige harde werk om ʼn boek te skryf, daarom glo ek boeke moet gevier word! Lank lewe Wêreldboekedag!”

As streeksverkoopsbestuurder vir NB-Uitgewers is boeke ʼn konstante teenwoordigheid in Henk Viljoen se lewe. Wanneer hy in sy stoorkamer, omring deur boeke is, is hy ʼn dolgelukkige boekwurm.  Kleintyd, op die plot waar hulle gewoon het, het hy vakansietye konstant met ʼn boek voor hom gesit en het as jong seun veral van Karl Kielblock  se boeke gehou.  Vir Henk lê die grootste vreugde van boeke in die reuk van ʼn nuwe boek.  Om in ʼn boekwinkel in te stap en al die kreatiewe titels te aanskou, laat sy hart vinniger klop.  Die grootste probleem is dan om te besluit watter boek roep die hardste om aangeneem en tuis gelees te word.  Om ʼn Afrikaanse boek uit te sonder wat werklik sy lewe verander het, is moeilik, juis omdat daar so baie is.  Tog staan die boek Vlerke vir Almal van Marion Erskine  uit. In die boek het hy soveel raakpunte herken, kon hy met die karakters identifiseer en het hy besef hoe belangrik dit is om ʼn verskil te maak.  Sy gunsteling- Afrikaanse skrywer is Irma Venter wie se boeke hy ook nie kan neersit nie.

Oor Wêreldboekedag sê Henk: “In vandag se moderne tegnologiese eeu is dit belangrik om ‘n internasionale dag aan die boek te wy.  Mense moet opnuut die waarde van papier, waar dit vandaan kom en natuurlik die belangrikste: lees en watter bydrae lees tot die mensdom en vir ‘n persoon is, besef.

Mercy Kannemeyer  is tans besig met haar M-graad in toegepaste teater aan die Universiteit Stellenbosch.  Sy lag en sê sy is al dikwels ʼn boekwurm genoem en voel op haar gelukkigste met ʼn goeie boek in die hand.  Aangesien haar studies haar nou baie besig hou, is daar maar min tyd vir lees, maar vakansies sorg sy dat sy behoorlik inhaal.  Die vreugde van ʼn boek lê vir haar in die storie.  Sy wil ʼn storie lees wat haar blootstel aan ʼn wêreld wat sy nie noodwendig sou ken nie.  So ʼn storie moet haar dan ook lus maak om nog en nog en nog te wil lees.  Mercy sonder drie Afrikaanse boeke uit wat haar diep geraak het: Wilma Stockenström se Die Kremetart ekspedisie, Dalene Matthee se Kringe in ‘n Bos en Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie.  Haar gunstelingplek om te lees is in die bed, onder die komberse; dan is sy op haar gelukkigste.

Oor die noodsaaklikheid van Wêreldboekedag, sê Mercy: “ʼn Dag soos hierdie is absoluut noodsaaklik! Hoe meer bewusmaking vir lees daar geskep kan word, hoe beter!”

Karin Behrens, ʼn boekhouer en tutor by Unisa, is ʼn selferkende boekwurm en voeg by dat sy die titel met trots dra. Karin is ook een van die administrateurs van die gewilde Facebookblad Lekkerlees Boekrak.  Hier gesels boekwurms en kompulsiewe boekkopers eenstryk deur oor boeke en nogmaals boeke.  Karin is dankbaar dat sy in ʼn huis grootgeword het waar lees sterk aangemoedig is.  Sedert sy op Lekkerlees Boekrak bekendgestel is aan wonderlike Afrikaanse fiksie, lees sy nou baie meer Afrikaans as Engels.  Omdat sy vir ontspanning lees, geniet sy dit as die skrywer die navorsing goed gedoen het en vernuftig in die storielyn integreer.  Op daardie manier dien dit ʼn dubbele doel, want sy kan iets leer, en vir ʼn paar uur die ontvulgting geniet.  Karin sê sy lees op enige moontlike en onmoontlike plek, maar die bank in haar sitkamer, waar natuurlike lig wonderlik inval, bly ʼn gunsteling.

Oor Wêreldboekedag sê Karin: “Daar behoort meer sulke dae te wees waar lees en veral geletterdheid aangemoedig word.  Almal behoort toegang tot ʼn goed toegeruste biblioteek te hê, al kan hulle nie self boeke bekostig nie.”

Lindie van Gass , ʼn meestersgraadstudent in finansiële bestuur, is self die skrywer van twee boeke: Rigtingbeneuk en Wintersvlei se magic.  Lindie sê om ʼn boekwurm genoem te word, is vir haar ʼn reusekompliment.  Sy dink met groot genoegdoening terug na haar kinderdae toe daar saans om die tafel gesit en kuier is.  Eers is die Bybel nadergetrek, en daarna het haar ouers vir hulle stories soos Pippie Langkous gelees. Lindie lag en sê dis wonderlik om op die hoofkarakter in ʼn boek verlief te raak, en die arme jongmanne kry maar swaar, want storieboekhelde sorg dat daar ʼn baie hoë standaard gestel word.  Vir haar het Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ʼn bedonderde Diva geweldig baie beteken. Lindie het ʼn lekker ou rottangstoel in haar kamer wat op ʼn venster uitkyk.  Daar sit sy baie graag en lees, want die koffiemasjien is op die tafel langs die stoel.  Goeie koffie en ʼn goeie boek is vir haar wonderlike pasmaats!  Vakansietye by die huis op Mooinooi glip sy soms met haar boek weg na Mooinooi se Wimpy, ʼn ander gunstelingleesplek.

Oor Wêreldboekedag sê Lindie: “Boeke verdien beslis ʼn dag van hulle eie.  Boonop kry ʼn mens altyd ʼn boek teen afslag op hierdie dag.  Dit bly ʼn bonus!”

Wyshede oor boeke:

  • ʼn Boek is ʼn vriend; en goeie boeke is uitstekende vriende. ʼn Boek sal met jou praat as jy geselskap soek; en stilbly as jy moeg is vir praat – en daar is min ander vriende wat dit vir jou sal doen. Lymann Abbott.
  • Boeke is unieke, verskuifbare towerkuns. Stephen King.
  • ’n Boek is ’n droom wat jy in jou hand vashou. Neil Gaiman. 
  • ’n Leser leef ’n duisend lewens voor hy sterf. Die man wat nooit lees nie leef slegs een. George R.R. Martin.
  • Dra die ou jas en koop ’n nuwe boek. Austin Phelps.
  • Moenie soos kinders vir vermaak lees nie, of ambisieuse mense om iets te leer nie. Nee, lees om te lewe. Gustave Flaubert.
  • Jou brein benodig boeke soos ’n swaard ’n slypsteen benodig. George R.R. Martin.
  • Ons lees om te weet dat ons nie alleen is nie. William Nicholson.
  • Laat ons lees en laat ons dans. Hierdie twee tydverdrywe kan nooit skade aan die wêreld doen nie. Voltaire.
  • Dink voor jy praat en lees voor jy dink. Fran Lebowitz

*Wêreldboekedag vind jaarliks op 23 April plaas en is ‘n inisiatief van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie. Die hoofdoelwitte is om  lees, publikasie en kopiereg te bevorder. 

Wêreldboekedag is die eerste keer op 23 April 1995 gevier.