‘Stroomop’ koerantman se herinneringe – Harald Pakendorf

Foto: Laevelder

Meer as 20 jaar na sy afdanking as redakteur van Die Vaderland, het Harald Pakendorf sy herinneringe aan sy redakteurskap by drie publikasies opgeteken in die boek Stroomop: Herinneringe van ʼn koerantman in die apartheidsera. Hierdie boek uit die pen van ʼn gesoute joernalis is een wat jy nie sommer kan neersit nie. Alita Steenkamp het met Harald gesels.

Sy Pruisiese gene kom sterk na vore wanneer hy vertel dat hy bly was toe sy vierde dogter, Elka, die oggend halfagt gebore is. Dit het beteken dat hy tienuur terug kon wees op kantoor om die redaksionele vergadering by te woon. Harde en deeglike werk is immers twee van die dinge waaraan hy sterk glo. Harald Pakendorf is al in die media bestempel as ʼn beleë koerantman, ʼn progressiewe denker, ʼn groot gees in die Afrikaanse joernalistiek en selfs ʼn liberale redakteur. Van die joernaliste wat onder die redakteurskap van Harald werksaam was, stem oor een ding saam: al was hy ʼn streng redakteur wat nie enige nonsens opgeëet het of met minderwaardige werk tevrede was nie, het hy bankvas agter sy joernaliste gestaan en sou hy hulle nooit vir die wolwe gegooi het nie. Die respek waarmee sy oudkollegas nou nog na hom opkyk, het hy verdien.

Van links na regs: Harald Pakendorf, Kobus Blignaut, Chris Louw, De Wet Potgieter, Mike van Niekerk

In 1972 is Harald deur die destydse hoof van Perskor, Marius Jooste, gevra om ʼn splinternuwe oggendkoerant in Pretoria te begin, Oggendblad. Harald was toe bloot 32 jaar oud. De Wet Potgieter, ondersoekende joernalis en redakteur van Die Laevelder, was ʼn jong joernalis toe hy die geleentheid gekry het om onder Harald se leiding sy loopbaan in die joernalistiek te betree. De Wet, ʼn groot musiekliefhebber, moes in daardie tyd ʼn musiekrubriek vir die koerant behartig: Plektrum. Hy onthou hoe daar soms, tot sy groot frustrasie, nie Afrikaanse woorde vir sekere Engelse musiekterme was nie. Wanneer hy dan by Harald gekla het dat daar nie Afrikaanse vakwoorde is om te gebruik nie, het dié bloot geantwoord: “Dan skep jy ʼn nuwe Afrikaanse term.”

Murray Louw

Joernalistiek

Harald se bydrae tot die Afrikaanse joernalistieke bedryf is geensins gering nie en wanneer ʼn mens hoor dat albei sy ouers Duitssprekend was, en daar in die huis Duits gepraat is, is sy bydrae nog meer merkwaardig. Sy ma het as ʼn jong meisie op ʼn boot in Hamburg, Duitsland geklim om by haar verloofde, ʼn Duitse sendeling, in Durban aan te sluit. Hulle het in Durban getrou en toe na ʼn sendingpos in die destydse Lydenburg vertrek. Daar het sy Afrikaans leer praat met die hulp van ʼn Sothosprekende vrou en sy het reg deur haar lewe baie lief gebly vir die Afrikaanse taal. Al het die Pakendorf-kinders Duits in die huis gepraat, het hulle Afrikaanse skole bygewoon. Eers in Middelburg, en later in Johannesburg. Dit was by Hoërskool Kensington wat Harald meneer Lindeque raakgeloop het. Hierdie Afrikaans-onderwyser was baie streng, maar het sy liefde vir die Afrikaanse taal en letterkunde aan sy leerders oorgedra.

Harald en Aletta in 1995 tydens ʼn besoek aan Skotland

Afrikaans is #onmisbaar in sy loopbaan

“Een van die interessante opdragte wat meneer Lindeque in daardie jare aan ons gegee het, was om uit te vind by watter winkels in die Johannesburgse middestad kon jy in Afrikaans bedien word. Dit was die dae toe jy nog die meeste van jou inkopies in die middestad by die winkels gedoen het,” vertel Harald.

Hy gee toe dat die Afrikaanse taal ook onmisbaar in sy loopbaan was. Vandag dink hy met groot waardering terug aan die sanger Koos du Plessis wat ʼn subredakteur by Oggendblad was. Hy lag en vertel hoe hy en Koos altyd gestry het oor die woord ‘hul’. Koos het die woord nie in die koerant geduld nie. Wanneer Harald hom dan daarop gewys het dat die mense so praat, het Koos net gesê: “Dit moet hulle wees en klaar!”

Een van die groot en belangrike bydraes wat ʼn koerant soos Oggendblad ook tot die Afrikaanse taal gehad het, was die boekeblad wat maandeliks in die koerant verskyn het. Harald se vrou, die bedrewe joernalis Aletta Pakendorf, was verantwoordelik vir die samestelling van hierdie baie gewilde insetsel in die koerant. Met Harald se skuif na Die Transvaler het die blad daar ook lewe gekry.

Harald, Mangosuthu Buthelezi en Harry Oppenheimer saam met Dries van Heerden.

“Die sewentigerjare was die bloeitydperk van die Afrikaanse letterkunde en op die gebied van teater het iemand soos PG du Plessis en Pieter-Dirk Uys uitstekende bydraes gelewer. Met hierdie boekeblaaie het ons die Afrikaanse taal gepromoveer, ver bokant wat van ons verwag is. Dit was natuurlik teen die stryd en die wil van Perskor se bestuur. Alles het natuurlik oor advertensieruimte gegaan en jy moes deurgaans die balans handhaaf van ten minste 60 persent advertensies teenoor 40 persent kopie. Ons het besluit om van die redaksionele ruimte opsy te sit vir die boekeblad, want ons doel was om die Afrikaanse boek daardeur te bevorder. Ons het ook nou en dan ʼn resensie oor ʼn Engelse boek of ʼn boek in een van ons land se inheemse tale gehad. Selfs van Naspers se kant is daar gesê dat hierdie boekeblaaie soortgelyk was aan die London Review of Books. Natuurlik was ons uitleg nie so goed nie en was daar advertensies tussenin, maar ek dink ons bydrae was groot. Die biblioteke op die kleinste dorpies het ook versoek dat die bylaag aan hulle gepos word.”

‘Skryf Afrikaans!’

Harald sê hy kan nie anders as om bekommerd te wees wanneer hy sien hoe Afrikaanse koerante agteruitgaan ten opsigte van sirkulasie nie. Die mediatoneel verskuif dramaties en hy is benoud oor mense wat in Afrikaans wil bly skryf hiervandaan en vorentoe. “Word iemand se taal versorg wat in die sosiale media skryf? Is daar iemand wat vir hulle sê om nie twee keer dieselfde woord in een sin te gebruik nie? Of om liewer ʼn ander werkwoord te gebruik? Ek is ook jammer dat geskrewe Afrikaans, die daaglikse gebruik daarvan, hoofsaaklik deur drie koerante in die land bepaal word. Hulle is almal uit dieselfde stal en het dus dieselfde styl. Vroeër, toe Perskor nog Afrikaanse koerante uitgegee het, was daar darem nog ʼn ander stem en soms kon ons lekker van mekaar verskil. ʼn Taal wat gedurigdeur groei moet darem meer as een bron hê.”

Iets wat hom egter opgewonde maak oor die Afrikaanse taal is die manier hoe Kaaps en ander variante van Afrikaans ʼn al hoe groter plek begin kry, ook in die koerante van vandag. Hy sal graag wil hê dat Afrikaanse koerante ander stemme ʼn groter plek moet gee. Dan is hy veral dankbaar dat die Afrikaanse spelreëls so ʼn bietjie losser gemaak is as wat dit vroeër was, aangesien dit jou groter speelruimte bied. Harald lag en sê ons moenie dink dis net by Afrikaanse koerante waar daar geredeneer word oor grammatika nie. Hy het al ʼn redaksionele vergadering van een van die groot Duitse koerante, Frankfurter Allgemeine Zeitung, bygewoon. Ten minste vyftig persent van die duur van die vergadering is aan grammatikale kwessies afgestaan.

Terugskouend

Terugskouend is Harald dankbaar dat hy wel tyd opsy gesit het om Stroomop: Herinneringe van ʼn koerantman in die apartheidsera te skryf. Dit het soms bloedsweet gekos, want hy is nog voltyds werksaam as politieke ontleder en kommunikasiekundige. “Ek het hoofsaaklik oor naweke aan die manuskrip gewerk en oor naweke is ʼn mens se kop nie noodwendig by dit wat jy in die verlede aangevang het nie,” sê hy. “Gelukkig was die uitgewer en my eindredakteur, Dries van Heerden, baie geduldig met my. Dries kom ook saam met my van die dae van Oggendblad af. Hoe verder ek gevorder het, hoe vinniger het dit gegaan. Mense besef nie hoe dit was om daardie tyd binne die Afrikaanse gemeenskap ʼn ander stem te hê en dit te kon oorleef nie. Dit het ʼn fyn balans gekos. Vandag is ek dankbaar vir al my kollegas. Ongelukkig kon ek nie almal van hulle se naam in die boek noem nie. Hulle het baie goeie werk onder moeilike omstandighede gedoen.

In ʼn persoonlike terugblik na veral sy tydperk as redakteur van Oggendblad en Die Vaderland, gee Harald Pakendorf, mediaspesialis en politieke ontleder, ʼn blik op ʼn onstuimige tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit was die sewentiger- en tagtigerjare en die Nasionale Party was aan bewind. Leiers soos PW Botha en John Vorster was nie altyd geneë met die manier waarop Pakendorf en sy span joernaliste verslag gedoen het en kommentaar gelewer het oor die sake van die dag nie. Die boek word tematies ingedeel in veertien hoofstukke met opskrifte soos Dopgehou deur die polisie, Van Louis Botha tot Jacob Zuma, Aanloop tot gesprekke oor Bevryding en John Vorster wil met jou praat!

In ʼn heerlike kort en bondige skryfstyl loop Pakendorf op sy voetspore terug en deel hy feite vreemder as fiksie.

Met die skryf van die boek is dit ook duidelik watter belangrike rol sy vrou, die talentvolle joernalis Aletta Pakendorf, aan sy sy gespeel het. Die storie oor hoe sy loopbaan in die joernalistiek eintlik danksy Aletta gebeur het, is een van die interessante stories wat in die boek vertel word.

Dis ʼn waardevolle versameling herinneringe wat gedeel móés word. Selfs al skryf hy pretensieloos oor sy en sy redaksie se bydrae om die regering van die dag uit te daag om anders oor sekere dinge te dink, was en is Harald steeds ʼn belangrike meningsvormer in die Afrikaanse politieke speelveld.

Uitgewer Penguin Random House, prys: R230*

*Prys onderhewig aan verandering

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!