Riaan Cruywagen IS nuus! (- en snaaks…)

Lees ‘n mens van die jaarlikse ATKV-Mediaveertjies* – ‘n hoogtepunt op die mediakalender – wat op 11 Mei in die Katy’s Palace Bar plaasvind, dink ‘n mens onwillekeurig aan een van die heel grotes in die bedryf, die uitsaailegende Riaan Cruywagen.

Die uitsaaiveteraan Riaan Cruywagen het twee kante: die diplomatieke nuusdraer versus die deernisvolle humoris. – Christiaan J de Swardt

 

Dis die nuus om agt. Op SAB2. In Afrikaans.

(En dis nie tyd vir Haas Das se Nuuskas nie!)

Die nuusleser is ernstig en stug.

Op ʼn ligter noot word ʼn insetsel van humoristiese tuisvideo’s gewys, onder meer van ʼn slapende kat wat van die televisiestel affoeter.

Dan is die kamera op die nuusleser gerig.

Hy sukkel om sy lag te sluk.

Dinge word vererger wanneer hy nou ook nog ʼn berig oor ʼn paddaspringkompetisie moet lees…

Onder daardie pak en das is daar ʼn innememde mens!

Dan slaag die nuusleser daarin om sy persona te vind en sê, geloofwaardig:

 “Ekskuus.”

Hy is ons eie Chuck Norris.

Ontembaar.

ʼn Bittereinder.

Dis die uitsaailegende Riaan Cruywagen.

Radioluisteraars en TV-kykers ken hom as die vergestalting van professionaliteit. Eers tien jaar by radio en toe 35 jaar by TV – met oor die 7 000 TV-nuusbulletins later: tersaaklik, informatief, onpartydig, professioneel.

Van nuusleser tot musiekvideo’s …

In daardie tyd het Riaan meestal ‘n formele en ernstige beeld ontwikkel. Dit was uiteraard  onontbeerlik vir die vestiging van geloofwaardigheid, gesaghebbendheid en betroubaarheid as nuusleser. Maar namate hy al hoe meer ervaring opgedoen en sy persoonlikheid op televisie ‘n eie, unieke karakter begin aanneem het, kon hy hom bepaalde vryhede begin veroorloof sonder om sy geloofwaardigheid aan te tas – soos deelname aan produksies wat die publiek as ‘t ware onkant betrap en verras het.  Hy en die sanger Jan Blohm het rolle geruil vir een van sy musiekvideo’s. En dan was daar die keer toe hy aan ‘n promosievideo vir die jaarlikse Loerie-toekennings deelgeneem het waarin hy volledig in ‘n pak klere in ‘n borrelbad met bikinimeisies sit. En hy het saam met Sipho Hotstix Mabuse in daardie humoristiese reklamevideo vir die SAMA-toekennings verskyn.

‘n Persoonlikheid …

Dit het sonder uitsondering uiters gunstige reaksie van die publiek ontlok omdat dit bewys het dat Riaan nie ‘n robot is wat net die nuus meganies sit en lees nie, maar ‘n persoonlikheid is met ‘n baie goeie sin vir humor. “Ek sorg noulettend dat my humor nooit die perke van welvoeglikheid oorskry en my reputasie as ‘n opgevoede openbare persoonlikheid skade berokken nie. Slim woordspelings, ironie en satire kan verskriklik snaaks wees, veral as dit ‘n onverwagte verrassingselement bevat. Op lug durf jy egter nie aanstoot gee nie. Om iemand se herkoms, geloof, kultuur, taal, voorkoms en dergelike te verkleineer, is vir enige ware professionele uitsaaier ‘n doodsonde en getuig van swak smaak en gebrekkige oordeel.”

Dié taalstryder het sy loopbaan in 1965 in radio begin, nadat hy sy graad met ‘n SAUK-studiebeurs aan Maties verwerf het.  “Ek het Stellenbosch toe gegaan met slegs een doel voor oë en dit was om ‘n radio-omroeper te word. Van televisie was daar toe immers nog geen sprake nie en ek het by die Afrikaanse Diens van die SAUK begin werk. Eers tien jaar later, in 1975, het ek my buiging op TV gemaak.”  Sy radio-ervaring het  hom by televisie nuttig te pas gekom, want hy was toe al goed vertroud met ateljeedissipline, mikrofoontegniek, nuusleesvaardighede, die uitspraak van vreemde woorde en plekname en ander uitdagings.  “Al wat ek toe by televisie moes leer, was die bykomende dimensie van beeld. Nuus en aktualiteit sal seker altyd my gunstelinge bly,” bely hy.

Alles wat mense nie van hom geweet het nie, het hy in 2012 in sy memoires onthul. “Ek het nog nooit werklik die begeerte of drang gehad om ‘n boek te skryf nie. My eerste boek, Wat’s Nuus?, was die gevolg van aanhoudende druk deur ‘n uitgewer wat vas geglo het dat my herinneringe interessante leesstof sou uitmaak. Ek het werklik nooit verwag dat dit so ‘n groot sukses sou wees nie – dit is selfs op openbare aandrang in Engels vertaal. Toe my kleinseun (hy was toe vyf jaar oud) hoor dat sy oupa nie saam met hom legoblokkies kan bou nie omdat hy ‘n boek skryf, vra hy opreg verbaas: ‘Oupie, hoekom skryf jy ‘n boek? Hoekom gaan koop jy nie een nie?’” Wel, intussen het ‘n ander uitgewer aan my begin karring vir nóg ‘n boek. Dit sukkel nog, want ek was lank platgetrek deur ‘n rugoperasie. En die besoeke van die muse bly skaars!”

Riaan het  toe nooit af- of uitgetree nie en die enigma leef voort. Hy beskou homself as ʼn beroepsuitsaaier – omtrent soos ʼn beroepsdiplomaat homself van politieke aanstellings onderskei. Want ongeag wie in die land aan die bewind was, of wie by die SAUK aan die stuur van sake gestaan het, het hy hom nooit met interne óf eksterne politiek bemoei nie. Hy het egter besluit om SAUK-TV-nuus te verlaat omdat hy syns insiens op die kruin van sy loopbaan was en liewer wou vertrek terwyl hy nog die steun van baie kykers geniet het; eerder as andersom. Hy het die nuus om sewe op 26 November 2012 die laaste keer op SABC2 gelees. “Teen daardie tyd het ek ook al hoe sterker transformasietekens by die openbare uitsaaier gewaar met die opkoms van Hlaudi Motsoeneng en ek wou beslis nie ‘n politieke of kulturele slagoffer word nie. Die tyd was ryp om te vertrek en terugskouend was dit die regte besluit.”

Hy sê omdat uitsaai sedert sy studentedae ‘n wesenlike deel van sy lewe geword en hy geen ander beroepsrigting geken het nie, wou hy baie graag sy hoogs bevredigende loopbaan voortsit op ‘n plek en ‘n wyse waar die professionele peil waaraan hy gewoond was, nie tweede viool sou moes speel nie. “Ek het gevoel ek kon nog ‘n bydrae tot die bedryf lewer. Na my mening is ‘n sogenaamde aftreeleeftyd ‘n absolute onding, want as iemand gesond genoeg, by sy volle verstand en gretig is om te werk, is ouderdom slegs ‘n chronologiese gegewe van akademiese belang. Daar is duisende senior burgers met ‘n magdom kennis en ervaring wat met groot welslae in die samelewing teruggeploeg kan word, maar wat die geleentheid bloot op grond van hulle geboortedatum ontsê word. Ouderdomsdiskriminasie is vir my net so erg soos rassediskriminasie.”

Ná sy uittrede by die SAUK het kykNET aan hom die heenkome gebied waarna hy gesoek het toe hy genooi is om hom by die aanbieders van die ontbytprogram, Dagbreek, aan te sluit. “Dit was inderdaad ‘n groot aanpassing; nie net om soggens vieruur op te staan nie, maar veral ook omdat ek na 37 jaar as ‘n TV-nuusleser skielik ‘n geselsprogram moes help aanbied. Die aanslag was uiteraard baie minder formeel, maar dit was vir my heerlik om soos uit ‘n kokon te ontsnap en nuwe fasette van TV-aanbieding te ontdek. Toe Dagbreek van die toneel verdwyn en kykNET Verslag saans sy buiging maak, was ek as ‘t ware terug in my nuuselement, maar dié keer darem met ‘n stewige skeut informaliteit.”

Hy sê danksy Dagbreek het hy ook ‘n lewendige belangstelling in joernaalprogramme, die sogenaamde sagte aktualiteit, ontwikkel. “Dis ook waarom ek dit so terdeë geniet om die programreeks vir 60-plussers, Met ‘n huppel in die stap, aan te bied. Ek hoop van harte ek kry nog die geleentheid om by méér geselsprogramme betrokke te raak. Dit is vir my ‘n verfrissende nuwe ervaring.”

Riaan sê uitsaai is steeds hoogs bevredigend!  “My lewe lank was ek nog net betrokke by regstreekse uitsendings en ek vermoed ‘n mens raak verslaaf aan die adrenalien. En ek is bevoorreg om saam met ‘n span hoogs talentvolle, begeesterde jongmense te werk wat, net soos ek, met niks minder as die beste tevrede is nie en hoë standaarde vir hulleself stel. Ek sien nooit daarteen op om werk toe te gaan nie. Ek sien uit daarna!”

Dit bly ‘n spanpoging …

Vir Riaan is hoë standaarde aan ‘n wye front ononderhandelbaar. “Omdat uitsaai altyd ‘n spanpoging is, verwag ek van diegene saam met wie ek moet werk altyd ‘n professionele ingesteldheid teenoor hulle taak. Jy kan as aanbieder perfek voorbereid wees, maar as die kamerawerk, beligting, klank of selfs die grimering nie op standaard is nie, is jy die een wat in die oë van die publiek die spit afbyt. Voorbereiding en professionaliteit is dus vir my ononderhandelbaar. Dit grief my as ‘n substandaard program aan kykers opgedis word… en dit sluit swak geskrewe tekste en power taalgebruik in!”

Gehalte maak saak …

Ons gesels oor die aanbieding – in styl, voorkoms en taalgebruik op radio, TV en in die pers (ook sosiale media!) – wat drasties verander het sedert hy sy uitsaai-debuut gemaak het – en ons wonder of die  sogenaamde “loslit”-benadering aanvaarbaar óf tog aanvegbaar in ʼn klimaat van kulturele afplatting, dalk selfs verval, is. “Ons bevind ons in ‘n kitssamelewing. Alles moet altyd so vinnig moontlik gebeur en in die proses boet ons baie aan gehalte in. Dit geld die media ook. Die moderne ‘loslitaanbieding’ op radio en televisie is in beginsel goed, maar deug nie altyd nie. Ongelukkig meen te veel aanbieders dat hulle slegs informeler kan klink as hulle hul Afrikaans met Engelse woorde deurspek. Dit is nie informaliteit nie, maar Afrikaans in trurat op pad terug na die verguisde kombuistaal wat hy eens was. Ek staan voor in die koor van diegene wat die gebruik van streekaksente in Afrikaanse uitsendings hartlik verwelkom, maar intussen bly sekere taal- en spelreëls onwrikbaar van krag in sowel die formele as die informele taalregister.”

Riaan meen te veel Afrikaanse joernaliste volg alte maklik die slengagtige voorbeeld van die Amerikaners se beriggewing. “‘n Mens hoor dit duidelik wanneer ‘n berig blindelings uit Engels vertaal is, pleks van dit in goeie, idiomatiese Afrikaans te herskryf.”

Hy herinner dat ‘n halfeeu gelede het leerkragte hul studente en leerders aangemoedig om na die Afrikaanse Diens se radio-uitsendings te luister (dit was voor die koms van televisie) as hulle goeie, gemaklike Standaardafrikaans wou hoor. Of dit vandag nog geld, is ‘n ope vraag. “Radio en televisie bly steeds vir my twee van die media waar die aanbieder as ‘n gas in die luisteraar of kyker se woning binnegenooi word. Die familiêre, byna onbeleefde wyse waarop sommige jeugdige uitsaaiers hulle gehoor ‘jy’ en ‘jou’ stuit my teen die bors. In my uitsaaigehoor is daar ongetwyfeld mense wat ouer, belangriker en meer geleerd is as ek; daarom verkies ek om in ‘n nuusuitsending almal beleefd as ‘u’ aan te spreek. Noem my maar outyds; dan is ek liewer outyds as voor op die wa!”

Wat is die verskil?

Dit bring ons by die alewige twyfelagtige wisselwerking tussen gewildheid en gehalte. “Ideaal gesproke behoort gewildheid ten nouste met gehalte gepaard te gaan, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie. Daar is oral ter wêreld aanbieders en kunstenaars wat uiters gewild is op televisie, maar wat werk van minderwaardige gehalte lewer. ‘n Mens moet egter onthou dat wat een kyker as goeie gehalte beskou, nie noodwendig in ‘n ander se smaak sal val nie. Na my beskeie mening sal meer gesofistikeerde kykers makliker geneig wees om goeie gehalte raak te sien. Maar uiteindelik is dit seker maar ‘n kwessie van smaak, soos die ou tante gesê het toe sy haar koei gesoen het!”

Sy nalatenskap …

Aan watter nalatenskap sal hy graag geken en onthou wil word?Ek sal graag onthou wil word as ‘n beroepsuitsaaier wat elke Suid-Afrikaner, ongeag ras, geslag, taal, kultuur of politieke oortuiging, na my beste vermoë in keurige Afrikaans bedien het, en die geloofwaardigheid en gesag geniet het wat van ‘n onverbonde, onafhanklike openbare nuusaanbieder verwag word.”

*Afrikaans.com sien daarna uit om te sien wie vanjaar met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer gaan word en wens alle genomineerdes voorspoed toe. Klik hier vir die volledige lys nominasies.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!