Paul C Venter – Storieverteller van formaat

Uit sy pen het reekse soos Arende, Konings, Vlug na Egipte en Terug na Egipte verskyn. Paul C Venter is ʼn storieverteller wat aan die werk wil bly. Alita Steenkamp het met hom gesels.

Paul, Saarkie en Ruhan

Wanneer jy die naam Paul C Venter hoor en jy dink in dieselfde asem aan Arende, verklap dit jou ouderdom. Dit was natuurlik Paul wat in die tagtigs saam met Dirk de Villiers die fantastiese televisiereeks oor die Boerekrygsgevangenes op St. Helena gemaak het. “Niks wat ek agterna geskep het, het ooit weer dieselfde uitwerking gehad nie, dit het net mal gegaan,” sê Paul met ʼn glimlag.

Tog verskaf die stories wat hierdie meesterverteller steeds skep, nog deurgaans baie plesier aan televisiekykers. Paul gesels oor die pad wat hy as skrywer geloop het en vertel skalks hoe hy op skool reeds “professioneel” begin skryf het. Hy het gewaagde stories geskryf en aan sy klasmaats verkoop vir ʼn sjieling of twee. Jare later het hy een van die onderwysers wat vir hom skoolgehou het, raakgeloop. Dié het toe bely dat hy en van die ander jong onderwysers die stories onderskep het, om self te lees. Paul lag lekker hieroor. “Dit was ʼn skandelike begin van my loopbaan gewees,” sê hy en voeg by dat hy gelukkig nooit uitgevang is nie.

Paul se loopbaan het as joernalis by die destydse Die Vaderland begin. In sy twintigs het hy met ʼn manuskrip na ʼn uitgewer gegaan. Hierdie uitgewer het toe reeds ʼn ander Paul Venter se liefdesverhale uitgegee en daar moes ʼn ander plan gemaak word. Die uitgewer het nie gedink dit is ʼn goeie idee om sy boeke onder ʼn skuilnaam uit te gee nie en het hom gevra wat sy tweede naam is. Toe hy antwoord dat hy Paul Christoffel is, het sy daar en dan besluit dat hy voortaan onder die naam Paul C Venter moes publiseer.

“In die tyd toe ek in Onrusrivier gewoon het, het ek en André P Brink soms by Jan Rabie gaan braai. André het op ʼn keer vir my gesê hy kry die gevoel die P agter sy naam is ʼn vreeslike gebrag en hy wou dit laat verwyder. Ek het dit egter nie as brag beskou nie, want dit was nie ek wat dit uitgedink het nie. Daar is selfs mense, veral in die bedryf, wat my sommer as Paul C aanspreek. “Hallo Paul C, hoe gaan dit?” Ek vind dit beslis nie verwaand nie, dit is maar net my naam, wat de hel!”

Tans is Paul se Knapsekêrels op Dinsdagaande op kykNET, kanaal 144, te sien. Hierdie heerlike spanningsreeks loer in by twee sekuriteitswagte en hulle gesinne asook ʼn skatryk sakeman en sy dogter wat beskerming moet kry wanneer ʼn besigheidstransaksie skeefloop. Die dialoog is skerp, die kriminele baie slu, die aksie hou jou op die punt van jou stoel en die akteurs is uitstekend! Dis veral lekker om weer vir Armand Aucamp, een van ons ambassadeurs, en Christia Visser saam op die skerm te sien. Paul sê dat hy besonder dankbaar is teenoor Human Stark wat weer eens as regisseur ʼn uitstekende taak verrig het.

“Sy meesterlike karakterisering en begrip van storiestruktuur is grootliks te danke aan sy fyn waarneming van mense en hoe hulle optree.” – Human Stark, regisseur

Paul se pad het met die van die Starks gekruis toe hulle hom gevra het om ʼn televisiereeks te skep. Dit was ná die verskyning van sy boek, In die mond van die Wolf. Hierdie kortverhaalbundel bevat 20 stories oor ʼn klein Karoodorpie en sy mense.

Nadat Paul se vrou Dalene uitgevind het dat sy ses maande het om te lewe, wou sy terugkeer na Suid-Afrika om hier te sterf. Sy en Paul het ʼn paar jaar vantevore in Engeland gaan aftree. Op hierdie manier het Paul en Dalene op Hanover beland en dit was hulle verblyf op hierdie Karoodorp wat die inspirasie van baie van die stories was. Paul het die stories van In die mond van die Wolf gevat en vernuftig in twee televisiereekse, Vlug na Egipte en Terug na Egipte, verweef. Hierdie reekse met karakters soos Kortjas Uys, Dot Volschenk, Dominee Karel Burger en Tony Fivas sal ons nog lank bybly.

Paul vertel dat hy aanvanklik teenkanting gekry het toe die mense uitvind Knapsekêrels is ʼn reeks propvol aksie, korrupsie en geweld. Almal wou nog ʼn reeks met die geliefde Karookarakters gehad het. Tog weet hy dit is nodig om te verander indien hy aan die skryf wil bly. Een ding waarvoor hy glad nie kans sien nie, is om te stagneer.

Terwyl ons week na week kyk wat met Skalkie, Mynie, Hans Zimmerman en Addie gebeur, is Paul lankal reeds weer besig om aan ʼn volgende reeks te werk. Hy verklap dat daar al weer ʼn paar tekste by STARK Studio’s lê en wag om verfilm te word. Hy werk tans besonder hard om ʼn goeie nalatenskap vir Saarkie en Ruhan te verseker. Ophou skryf, die kan, of wil hy nie. Vra ʼn mens hom wat die lewe vir hom die moeite werd maak, kom die antwoord vinnig: “Dis maklik. My vrou en my seuntjie.”

“Ons reis baie rond en dis vir my aangenaam om saam met hulle te gaan. Ek is bewus daarvan dat ek nie lank genoeg by Ruhan sal wees om hom volwasse te sien nie. Daarom is ek jaloers op die tyd by hom en sy ma. Ek pes dit om alleen op te gaan Johannesburg toe vir vergaderings en hulle alleen in Jeffreysbaai te los. Ek wil hulle oral saam met my hê. Saarkie is vir my heerlike geselskap. Sy is ʼn baie spitsvondige vrou wat my lekker kan laat lag. En ons seuntjie is magic. Ek het dit baie gelukkig getref.”

https://kyknet.dstv.com/show/knapsekerels/knapsekerels-eksklusief-armand-en-christia/video

Terwyl hy een dag in Jeffreysbaai in die motor sit en wag het vir sy vrou, Saarkie, om geld by die OTM te trek, het hy ʼn sekuriteitswa dopgehou. Twee jong sekuriteitsmanne het uitgeklim met die tasse geld. Net daar het hy begin wonder oor wie die manne is wat hierdie gevaarlike werk, vir min geld, moet doen. Hy het by ʼn sekuriteitsmaatskappy aangeklop om navorsing te doen, en die vrou daar het na die sekuriteitswagte as Knapsekêrels verwys. Toe hy wou weet hoekom sy hulle so noem, het sy geantwoord dat hulle aan hulle geldkaste vashou soos iets wat aan ʼn wolkombers vasklou – pure knapsekêrel. Paul was dadelik mal oor hierdie beeld en net daar is die idee vir die nuwe televisiereeks gebore.

Paul se vrou, Dalene, is in 2009 oorlede na haar stryd met kanker en alhoewel dit vir hom ʼn besonder moeilike tydperk was, het daar ʼn ander wonderlike ding gebeur. Hy het die Blaauw-familie ontmoet en Nita Blaauw, sy vrou Saarkie se ma, het hom gehelp met die versorging van sy siek vrou. Na Dalene se dood het sy vriendskap met Saarkie geleidelik ontwikkel in ʼn pragtige liefdesverhouding.

Die huweliksfees

“Van my vriende sê dit was so bedoel dat ek vir Saarkie moes ontmoet omdat ek so verskriklik swaar gehad het die twee jaar van Dalene se lyding. Hulle vergeet dit was eintlik Dalene wat so swaar gehad het. Dit was voorwaar ʼn gelukskoot om so ʼn juweel soos Saarkie op hierdie klein Karoodorpie te kon raakloop. Ek beskou myself as besonder gelukkig om na ʼn baie goeie huwelik met Dalene weer iemand te kon kry met wie dit werk.”

Paul trek sy skouers op vir diegene wat hulle mond uit te spoel het oor die groot ouderdomsgaping. Saarkie is 24 en hy is 70 jaar oud. ʼn Bietjie minder as ʼn jaar gelede het klein Ruhan in hulle lewe ingekom. Hulle het na talle onsuksesvolle fertiliteitsbehandelings besluit om ʼn baba aan te neem. Paul sê met Ruhan was dit liefde met die eerste oogopslag. Klein Peanut, soos sy ma hom noem, verskaf hulle oneindig baie vreugde. Dit bly ʼn wonderlike voorreg om te weet dat hulle aan hierdie seuntjie ʼn tuiste kon bied waar hulle hom kan oorlaai met liefde.

“Jan Scholtz het een maal gesê die mense wat my so kritiseer oor my jong vrou ken nie hulle eie geskiedenis nie. Baie van hulle oupas en oupagrootjies is ook met baie jong vroue getroud. Jy het dan gevalle gehad waar ʼn vrou dwarsdeur haar huwelik haar man as Oom aangespreek het. Saarkie is 24 going on 54. Sy het sonder ʼn pa grootgeword en was op ʼn jong ouderdom vir baie dinge in die huis verantwoordelik. Ek het nie met ʼn giggelende jong meisietjie getrou nie. Toe ek haar ontmoet het, het haar intelligensie my dadelik opgeval. Ek was verstom om te sien hoe goed sy ʼn huishouding kan run,” sê Paul.

Kyk hier …

Paul en Saarkie oor hul liefde …