Afrikaans se eerste skerpskertsvrou – Dowwe Dolla is nie dof nie!

Dowwe Dolla looi (on)heilige koeie en bulle nou al 25 jaar lank met haar suggestiewe suigstokkie. Haar skepper, die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck, skuil dalk agter ʼn alter-ego se naïwiteit in satire,  maar haar skepper, Margit Meyer-Rödenbeck, doen dit met ʼn doelgerigte fokus, het Christiaan J de Swardt vasgestel.

Weg met die dwepers, die boepensknolle, die moaners en die groaners. Weg met die poeierholle, die hoitietoitie- skeelooganties, die Martie Martelgatte en die Jannie Jammerballe. Weg met die oorgenuanseerde suutjiespoep-polities-korrektes met hul brabbeltaal-diepsinnighede. Is jy moeg vir jou man se lang gesig wat lyk soos ’n bok wat afdraand kyk? Lyk jou vrou al meer soos haar paspoortfoto? Dan is dit tyd om vir hulle ’n kaartjie na hierdie showtjie te koop. Wees gewaarsku: Jy moet lag dat die trane rol, anders spuit ons jou met Doom.

Só nooi Margit Meyer-Rödenbeck en Wicus van der Merwe gehore na hul Innibos-produksie Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe.

Dit is egter nie haar enigste uitnodiging by vanjaar se fees nie. Sy, Lizz Meiring en Nicole Holm het nou hul talent vervleg met ʼn splinternuwe drama: 3 Susters… Jy kan wel komedie verwag, maar ook diep hartseer.

3 Susters –  Lizz Meiring, Margit Meyer- Rödenbeck  en Nicole Holm

3 Susters –  Lizz Meiring, Margit Meyer- Rödenbeck  en Nicole Holm

Die Dowwe Dolla

Dowwe Dolla is bekender as haar skepper, Margit Meyer-Rödenbeck. Die afgelope 25 jaar vermaak Margit gehore in uiteenlopende genres. Sónder dat sy wou, is sy sinoniem met die kunste en vermaak – as verhoog- en radio-aktrise,  komediant, skerpskertser, compére van glansgeleenthede, omroeper, stemkunstenaar, skrywer, regisseur, teatervervaardiger, opvoeder,  restauranteur en entrepreneur… Haar werk dra die stempel van talent en vernuf, veelsydigheid en professionaliteit.

Met die skep van Dowwe Dolla het Margit die eerste skerpskertsvrou in Afrikaans geword. Haar opvoedkundige werk in kinderteater het al in in Doha, die Arabiese hoofstad van Qutar, ’n draai gemaak. Dowwe Dolla is met ’n FNB Vita-toekenning bekroon en die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch het Margit vir haar bydrae tot die kunste vereer.

Margit se pantomime, Liewe Heksie: Flower Power, het verskeie  gehoorgewildsheidpryse gewen en is vir vier kykNET Fiëstas benoem – vir spel en bydrae tot ’n musiekgedrewe produksie. Eintlik vertolk Margit die rol van Levinia al langer as die rol van Dolla.  Sy skerts gereeld dat die een eintlik net die volwasse weergawe van die ander is. Sy klik Liewe Heksie: Flower Power  was nie ’n tweejaarprojek nie.  Dit was eintlik ’n leeftyd se beheptheid met Verna se wonderlike skepping wat hulle  met reg kon verpak vir oud en jonk!

Sy beskou die sitvlakke op die stoele in teaters en die applous vir ʼn produksie as toekennings en verering.  “Dit is immers gehore  wat ná al die jare my salaris betaal.”

Daarin skep Margit vir haarself en ander kunstenaars werk – met haar Arena-Produksiehuis.

Sy is bedrywig. Daar’s die vertoning, #dowwedolla – ook met Ouma Dowe Dolla, wat deesdae amper meer gewild is as Dolla self, wat steeds die rondtes doen.  (Sy lag en sê Ouma Dowe Dolla klink darem al te veel soos ’n aftreeplan …)

By Innibos en so aan …

Die produksie Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe marsjeer volstoom deur die land. Juniemaand verkas Dolla saam met ander kunstenaars na Australië en Nieu-Seeland in ’n produksie van www.southafricanevents.com. Margit behartig die regie en vervaardiging van die nuwe Vlooi-produksie – Vlooi en die Musiekfabriek; opvoedkundige kinderteater vir Kunstekaap, tree as geleentsheidscompére as haarself én Dowwe Dolla op, repeteer saam met Marion Holm aan ’n nuwe vertoning uit die pen van Retief Scholtz vir later vanjaar… En sy toer ook die land plat met 3 Susters (uit die pen van Louis Pretorius van Die Boekklub-faam) wat danksy die Hiemstra Trust, KWV, Clemengold, Vision in Surance en Hannon vanjaar geskeduleer is vir optredes by die Innibos-kunstefees in Nelspruit in Junie, die Vrystaat-kunstefees in Bloemfontein in Julie, Die Kalfiefees op Onrus en by die Drostdy-teater op Stellenbosch in Augustus.

Die vrou agter Dolla …

Margit is ʼn familiemens en deur al haar reise is daar ʼn droom wat haar heeltyd ánker.  “Eintlik wens ek regtig net om méér tyd saam met die mense wat ek lief het – veral my gesin – deur te bring. Daardie tydjies saam gee my energie en as dit verlore gaan, kan dit nooit weer opgevang word nie.  Oor 30 jaar gaan niemand tien teen een meer weet wie ek is nie. (Die meeste mense weet ook nie nou nie;  ons is maar klein vissies in groot damme.) Hopelik kan ek eerder ’n rol speel en ’n verskil maak in die mense naby my se lewe; ’n blywende verskil.”

Die gesin: Jurg, Margit en Luca by Pringlebaai.

Margit, haar pa, Albrecht, en haar suster, Heike Ter Borg, verlede jaar by hul pa se 82ste verjaardag.

Margit en Jurg by verlede jaar se Fiëstas.

Ons durf die kronkels van die afgelope 25 jaar aan…  Kan ’n kunstenaar ’n goeie bestaan in Suid-Afrika maak?

My pa, Werner Albrecht Meyer-Rődenbeck, ’n Duitser wat die Tweede Wêreldoorlog ervaar het en op 19-jarige ouderdom na Suid-Afrika geëmigreer het,  het my aangemoedig om my passie te volg, maar wel gewaarsku dat ek nooit ryk sal word nie. Hy was reg!

Jy kan wel lééf, maar jy moet ’n Jack of all trades wees, baie passie hê en moer hard kan werk. Op varsity was drama eintlik net ’n “stokperdjie” tesame met Radio Matie, die Matie-koerant en die karnavalkomitee het ek so baie op Stellenbosch geleer. En toe is drie jaar meteens verby en net elf van ons aanvanklike sestig van die 1988-klas het ons graad voltooi. Eers, toe ek op my tuisteskepper-ma, Retha (’n nooi Rossouw), se aandrang my HOD-jaar moes begin, het ek besef dis werklik nie wat ek wil doen nie.  Vir my HOD-onderhoud beland ek toe by Hennie Aucamp wat, ná ’n heerlike, eerlike gesprek vir my sê die onderwys het passievolle mense nodig, maar volg jou droom.  En my droom was toe al die tyd maar drama…

Die waarheid is, gemeet aan die ure wat jy insit en die geld wat jy in daardie tyd spandeer en dit wat jy uiteindelik inkry, balanseer die verhouding tussen uitgawes en inkomste nie regtig nie. In vergelyking met Hollywood en oorsee, sukkel ons kunstenaars om te oorleef – veral as jy jou eie werkskepper is. Maar as ’n mens ’n passie vir iets het, vlieg die ure vinnig verby en soos my vriendin Lizz Meiring altyd sê, ons akteurs moet ophou kla.  Ons is in die bedryf van smoke en mirrors, ons moet mense laat ontvlug.

Wat is die oplossing?

Ongelukkig is langtermynkontrakte ’n luukse. As ons net meer tyd – dus ook geld – gehad het om langer te repeteer, sou daar inkomste vir kunstenaars wees en dit sal ook die gehalte van produksies drasties verbeter. Die destydse Kunsterade het dit moontlik gemaak: beskermde inkomste én gehalteproduksies.  Deesdae moet ’n mens teen die spoed van witlig werk om die begroting te laat klop.  As die staat net meer geld kan bewillig vir die kunste…  Dalk moet ons aansoek doen om by Nklanda te kan repeteer…  Die kunste reflekteer ’n samelewing se ingesteldheid en die samelewing se ingesteldheid word in die kunste gereflekteer. Die kunste moet beskerm en bevorder word.

Het jy ooit iets anders gedoen om te oorleef?

In my tienerdae al! Ek het op 15 twee-en-’n-half jaar lank naweke in Pick n Pay se kouevleisafdeling gewerk, waar ek geleer het om te mop en hoenders skoon te maak. Daarna het ek naweke en tydens vakansies ses jaar by Woolworths as deeltydse bestuurder gewerk. Ek het ook op ’n stadium rose in restaurante en kroeë verkoop: reg aan die begin toe dit nog ’n vars idee was. En ek was ’n kelnerin by die restaurant, Decameron. Dit was opleiding in die lewe – én dit was broodnodig om my drome te bewaarheid. Daardie ondervinding kan ek nou met kennis, begrip en deernis in my en my man, Jurgen Human, se teaterrestaurant, Die Boer, in Durbanville, Kaapstad, toepas.

Jy het ’n indrukwekkende lys kinderteaterproduksies op jou lys. Wat is die bevrediging daarvan?

Ek dink my liefde vir kinderteater spruit uit my eie kinderdae. Luister, ek kón babbel! Ons het elke aand aan tafel geëet – voor die koms van die TV- en ek kon baie praat (ek doen  dit steeds). My pa waarsku toe dat as ek nie ophou nie, ek wraggies ’n eier gaan lê. En toe ek weer onder my stoel kyk, toe lê die eier daar…  Obviously het my pa dit ongemerk onder die stoel gesit!  Ek het my suster, Heike, wat vier jaar ouer as ek en in sub B was, effens geïrriteer en  die volgende oggend gaan vertel sy die juffrou haar jonger suster het ’n eier gelê!  Daar is bloot iets omtrent kinderonskuld  en -humorsin wat by volwassenes skort.

Ek het in 1990 by die Baxter-teater se Story Spinning-teatermaatskappy aan produksies soos Hansel and Gretel, Alice in Xmas Wonderland en Goldilocks and the Three Bears gewerk.Toe doen ek my honneurs in kinderteater onder die mentorskap van Marie Kruger.  Sy het my geleer om uit drama ’n beroep te maak en geld te verdien.  Ek is aangestel by die Breughel-teater in Cloetesville, onder die leiding van dr Ben Dehaeck, ’n eksentrieke en pasievolle teatermaker en kundige van artistieke bestuur. Ek het veral op kinder- en gemeenskapsteater gefokus.  Ná ‘n jaar  het ek bedank, aan my M-graad in teaterbestuur begin werk en saam met Eugenie Grobler die produksiehuis Scenario-toneel begin. Ons het op poppe- en kinderteater, kabaret en revues gefokus.

Dit is ook waarom ek in kinderteater gespesialiseer het. Die afgelope 17 jaar gee ek en my vennoot, Marinda Engelbrecht, deur middel van ons kinderteatermaatskappy, Krazy Kats, verhooglewe aan die voorgeskrewe  internasionale leesreeks Vlooi/Kipper-boeke. Dié produksie word jaarliks in Augustus by Kunstekaap aangebied en word deur 20 000 kinders bygewoon.  Dit is ook al twee keer in Doha, die Arabiese hoofstad van Qutar, opgevoer. Die reeks het ook tot die CD Vlooi se Avonture gelei.

Ek en Eugenie Grobler was eendag op Grabouw by ’n plaasskool waar ons Pinocchio as poppekas gedoen het. In ’n stadium word Pinocchio ontvoer, maar die kinders sweet toe al.  “Enige krisisse”, roep die Bloufeë. Dan kom ek op as Gepetto en vra waar is my arme kind; wie gaan my dan help? En toe, soos een man skreeu die 200 kindertjies, drie-drie in een skoolbank ingedruk:  “Die Djhere!” Daar was baie sulke juwele.

Jy het ook in volwasse genres gewerk – as aktrise, regisseur en vervaardiger.

Daar was ’n aantal kabarette: Stardust, saam met Trix Pienaar en Eugenie Grobler,  gevolg deur Rouge, waarin dieselfde geselskap die rolle van drie prostitute vertolk het, en toe Blittzkrieg Brecht en die Rokkers, saam met Pedro Kruger, wat lank ook my pianis was in my Dowwe Dolla-vertonings. Vóór haar verskyning in 1993 het ek onder meer die eenvrouproduksies 1652: Revise en A Scorpions Tail gedoen.

Dan was daar ook Jong Dames Dinamiet (saam met Marion Holm) en, veral, die ernstige stuk K (met Trix Pienaar), my teaterma. Hennie van Greunen het die teks geskryf en regie behartig. Dit was ontsettend terapeuties vir ons – én vir die gehoor. Dit het oor kanker gehandel.  My ma is toe pas oorlede en, hoewel ek en Trix ook ma en dogter in die produksie vertolk het, was dit glad nie biografies van aard nie.  Maar die verhouding tussen ma en dogter is universeel; ook die stryd teen kanker.  Ek ken nie ’n enkele mens wat nog nie deur kanker geraak is nie; hetsy self of familie of vriende. Baie mense het na die tyd met ons kom praat en dan huil en lag ons ’n rukkie saam.

Laasjaar was dit ’n groot voorreg om PG du Plessis se Koöperasiestories vir die verhoog te verlewendig.  Alexa Strachan het die teks verwerk en Sandra Prinsloo het die regie behartig.  Buiten my vervaardigingsrol het ek vyf rolle vertolk en was dit nou ’n plesierigheid!

Omroeperjare

Ek onthou ook my omroeperjare (1998-2000) by Punt Geselsradio – eers in die middernagtelike oggendure en toe die middagsessie. Dit was baie opwindend en het mense nogal warm onder die kraag gehad! Onvermydelik het ek toe ook ’n kinder-inbelprogram, Pikkiepunt, geskep en die kinders die geleentheid gebied om hul mening oor allerlei dinge te lug.

Regie

Ek het heelwat regie sedert 2010 gedoen: onder meer Leon Kruger se Skeitbang, Bye Ma, Jaypee (met Chris van Niekerk),  Ian Wessels se Loslippig en Ek is Anoniem,  ek sê, Boksballade (met Franci Swanepoel en Alexa Strachan) en Kytie: ’n Koos Kombuisstorie (dit was nie musiek nie, maar ʼn toneelstuk) en die musiekteaterproduksies FunnyKaap saam met onder andere Pedro Kruger, Emo Adams en Sarah Theron.

Jou pantomime Liewe Heksie: Flower Power het in 2015 by die KKNK gedebuteer en toer sedertdien nogal wyd. Wat is die uitdagings van dié genre?

Die pantomime is ’n eeueoue tradisionele teatergenre – waarin die geliefde en bekende met aktuele vernuwing verweef word. Dit verg verantwoordelikheid en spitsvondige vernuf.

En danksy die toevoeging van ons eie storiemakers, met die ontslape Verna Vels se nimlike ikoniese karakters van haar kinderreeks Liewe Heksie aan die voorpunt, kan ons in Suid-Afrika in Afrikaans dié genre ten volle ontgin.

Flower Power was net ’n logiese titel om ’n paar redes: die silwerroos se krag en die stryd waarom die hele verhaal gaan. Dit suggereer onmiddellik dis nie net op kinders gemik nie; dis familieteater én dit lewer sosiale kommentaar met die fokus op die ‘goedheid’ – wat spruit uit die oorwinning van die onvermydelike stryd, waarin die goeie die bose moet oorwin.

In die pantomime is daar twee vlakke waarop die storie vertel word.  Die kinders geniet die slapstick en lawwighede en vir die volwassenes is daar slim en soms stuitige sinspelings. Die ideale gehoor is nie net ’n klomp volwassenes of ’n klomp kinders nie.  Dis juis die mengsel van die gehoor wat die ervaring laat slaag.  Pantomime is eintlik ’n ‘veilige’ genre, omdat dit nie probeer om ’n ‘statement’ te maak nie. Die titel berei jou egter voor dat jy nie die heel tradisionele Liewe Heksie moet verwag nie.

Niemand was egter daarop voorbereid toe ’n onskuldige pantomime die teiken van stakers moes wees toe feesgangers se teaterpret verlede jaar in die Vrystaat  tydens ’n opvoering versteur is en die verhooggrond in Blommeland ietwat omgedolwe is nie.

’n Veilige, gerespekteerde baken is binnegeval, maar ons het die verhoog en die teaterruimte onverskrokke teruggeëis!

Jy is ook ’n sakevrou, entrepreneur en restauranteur. Hoe is jou teaterrestaurant Die Boer, in Durbanville, ’n noordelike voorstad van Kaapstad, gebore?

Op 1 September 2004 het ’n blind date met Jurgen Human,  ’n elektriese ingenieur en destyds ’n 46-jarige geswore bachelor, my lewe ingrypend verander. Middagete het gelei tot aandete, tot drinks, tot ontbyt – en van toe af is ons saam. Dieselfde aand het hy my vertel van sy droom om ’n teaterrestaurant te open. Binne  ses maande het ons Die Boer geopen, getrou, huis aangebou – en ná 13 jaar is ons steeds saam; ook die trotse ouers van ’n pragtige agtjarige dogtertjie, Luca. Sy is die ánder aktrise in die huis!

Die Boer is binne sewe maande – op 20 April 2015 – ná vele nagte se debat oor die interieur, spyskaarte, kunstenaars en ’n gepaste naam vir dievenue – geopen. Daardie oggend het die plek nog soos ’n bouperseel gelyk, maar daardie aand het Valiant Swart ons restaurantteater voor ’n volgepakte gehoor geopen!

Ons het ’n plek probeer skep waar onsself graag sou wou kuier.  Ons hou van lekker eet, goeie wyn en geselskap,  musiek en teater in ’n intieme ruimte. Mense voel gemaklik hier: persiese matte onder jou voete en ’n negosiewinkel bo jou kop.  En natuurlik het Jurg verseker dat Die Boer se akoestiek baie goed is. Die  klank is ’n ervaring. Daarvan getuig die sterbelaaide lys kunstenaars wat al hier opgetree het: onder andere Amanda Strydom, Marc Lottering, Laurika Rauch, Drie van die Bestes, Adam Tas, Jak de Priester, Steve Hofmeyr, Koos Kombuis, Pieter Dirk Uys, David Kramer, Sandra Prinsloo, Dan Patlansky en Karen Zoid.

’n Groot deel van Die Boer se gewildheid en welslae is ons kos, onder leiding van sjef Jean Louis Geldenhuys – wat die kombuis al twaalf jaar lank met miilitêre presiesie beplan en beheer. Jean Louis en sy span (twee van ons kombuispersoneel, Londwabo en Boniswa, is al van die eerste dag af deel van Die Boer) weet hoe om gehaltekos bekostigbaar te hou.

Dit is dertien jaar later en mense boer steeds by Die Boer!

Jy het in talle sfere van die kunste gewerk: het jy ’n gunstelingmedium?

Ek moet bieg: radio is my gunstelingmedium: dis onmiddellik, aktueel en intiem. Verhoogwerk, soos skerpskets, verg ongelooflike konsentrasie en fokus. Ek vergelyk dit altyd met ’n fighter pilot in sy cockpit – maar die adrenalien is verslawend.  Jy kan nie regmaak as jy verbrou nie… Regie is eintlik vir my die lekkerste; dis asof al ’n mens se sintuie inskop en jou kreatiwiteit tot die uiterste ontgin. Dié beroep is wragtig nooit boring nie!”

Wanneer en hoekom het jy Dowwe Dolla geskep en wat wou jy daarmee bereik?

Dolla is in 1993 as ’n cameo-karakter gebore. Ek was  besig met ’n kabaret saam met Trix Pienaar en Eugenie Grobler en twee aande voor opening kom ons agter daar kort iets komies.  Hulle sê toe ek moet iets gaan uitdink.  Dit was laataand en in plaas van dink en dink – drink ek en Pedro Kruger, die pianis, toe ’n glasie wyn.  So ’n jaar vantevore het Linda de Jager in ’n studentekabaret ’n karakter Dowwe Dolla geskep. Ek het van die naam gehou en toestemming gevra of ek kan voortbou daarop.  En so sit ek en Pedro die aand en ek sê toe dis ’n blonde poppie met ’n Transvôlse aksent wat by die staatstdiens op die switchboard werk. Daai tyd was die staatsdiens nog baie wit.  Jy hoor dan net haar kant van die gesprek, maar beleef al die verwarring en misverstande.  My eerste skets was Om ’n vrou vir Nellie (Nelson Mandela) te soek.

Die aand het ek toevallig ’n stokkielekker in my hand en ek sê toe vir Pello ek hou die stokkielekker, want ek het net begin met komedie en wat doen ek nou met my hande terwyl die mense lag?  Die lollie, wat nou Dolla se trademark geraak het, was maar bloot my stage business.  Mense lees soms vreemde dinge in die lollie… En so skep ons toe die karakter.

Vir so drie jaar speel sy cameos in groter shows; toe’t sy nog baie soos ek gelyk. Toe sien M-Net Dolla raak, gee ’n geldjie en vra dat ek die karakter uitbou tot ’n vollengte show. En so beland Dolla op It’s a Funny Country en die bal was aan‘t rol. Dolla se look is gerevamp: langer hare, rooier lippe, korter outfits – altyd blink soos ’n kraai. Hennie van Greunen was die teksskrywer.  Dolla was net een van die vele karakters wat ek geskep het, maar iewers het sy ’n aar raakgeslaan, want mense het oor haar gepraat en wou – ten spyte van haar hoë stemmetjie – terugkom vir nog.

Ek het aanvanklik gedink net een vollengte show en dan weer terug na kabaret en revue, maar Dolla het geklou en was maar net jaar na jaar terug vir die volgende aflewering.

Ek het dus nie hierdie helse visie gehad om ’n karakter te skep wat volksbesit sou raak nie.  Maar Dolla is nou al vir baie jare my brood en botter en die meeste van die tyd geniet ek dit om haar te vertolk.  Die afgelope sewe jaar het ons ook daaraan begin werk om Dolla te laat ‘mature’ –  ten opsigte van onderwerpe en invalshoeke.  Hoe lank nog?  Wie weet?  Twee jaar terug het ek ’n nuwe cameo in Dowwe Dolla se show geskep: Ouma Dowe Dolla. Dus dalk sien jy my eendag op 87 en ’n half op die verhoog met ’n bejuwelde zimmerframe!

Is Dolla die alter-ego waaragter jy in satire skuil om jou fantasieë uit te leef en onverskrokke sosiale kommentaar te lewer?

Ja, natuurlik!  Vroue kan nie wegkom met dieselfde as mans in komedie nie; veral nie in Afrikaans nie.  Buitendien, kan jy jou “distansieer” van die karakter, maar natuurlik gaan ek nie iets in haar mond lê wat ek nie voel gesê behoort te word nie. Sy het ʼn aar getref met haar naïwiteit  – wat mense na hul asem laat snak en terselfdertyd gemaklik laat voel. Is dit moontlik? Dis baie lekker om ’n platform te hê waar noodsaaklike dinge gesê word wat mense dwing om te begin dink en te verskil oor dinge.

Waaroor sal jy nie satiries wees en/of spot nie en hoe ver is jy bereid om grense oor te steek – sónder  ’n wag voor jou mond?

Ek sal nie leuens vertel of opmaak oor werklike mense nie: skinder is nie my craft nie. Ek vermy ook godsdiens  – mense is passievol en selfs fanaties daaroor. Siekte is nie snaaks nie. Maar selfspot en spot met ander se gebreke is aanvaarbaar, maar dit moet steeds met respek en tong in die kies gedoen word.  ’n   Mens moet tog nie jouself té ernstig opneem nie. Boonop het ek ’n verantwoordelikheid teenoor die liefdadigheidsprojekte waarby ek betrokke is: onder meer die Want ons kan help-projek (waarvoor ek die afgelope veertien jaar al help om geld vir verskillende organisasies in te samel), die Wes-Kaapse Vereniging vir Gestremdes en die Skool vir Blindes. ’n Gesonde humorsin is onkoopbaar en dit help ons om te cope met die lewe.

Ek is versigtig vir sosiale media. Soos hulle waarsku: dit is so goed jy sit ’n billboard langs die snelweg op. Weens die min karakters in Twitter moet jy seker maak dat jy nie misverstaan word nie.

Daar is eintlik maar altyd ’n wag voor my mond (oordeel); al neem Dolla oor. Sy is verseker baie meer vrypostig en spitsvondig as ek.

Wie en wat word veral deur Dowwe geraps?

Natuurlik die politici, “dom”, onvanpaste mense en optrede, mense wat skielik iets is, mense wat hulself baie ernstig opneem, die sisteem, regering, enigiets wat basies uitstaan.

Was jy al in die sop oor Dowwe se uitlatings?

Kyk, jy loop nie deur onder Dolla se lollietong as jy dit nie “verdien” nie.  Ek sê verdien in aanhalingstekens, want partykeer beland ’n mens op die voorblad van ’n tydskrif of in die media – nie deur jou eie toedoen nie.  Waarop dit neerkom, is: ek kan nie spot met iets wat die gehoor nie van weet nie.  As ek hulle eers moet vertel hoekom hulle moet lag, verloor die storie die punch.  Met ander woorde: die hoë bome vang die meeste wind.

Politici en bekendes loop deur.  Dié wat ontsteld raak, neem hulself gewoonlik té ernstig op en dan voel ek in elk geval nie meer lus om met jou te spot nie; dan ignoreer ek jou liefs en ek kan aan geen groter belediging as dit dink nie.  Bekende sterre het al vir my gesê as ek nie meer met hulle spot nie besef hulle hulle is nie meer gewild nie.

Dolla skinder nie en sy maak nie stories op nie.

Ek dink die politici los my uit – omdat hulle Afrikaans nie so goed is nie en Dolla mos agter haar naïwiteit skuil.

Daar was eintlik nog net drie bekendes wat my al geroskam het. Ek swyg liefs oor wie hulle is. Ek dink nie hulle verstaan hóé satire werk nie.

Bowenal moet jy onthou: Dolla spot die meeste met haarself!

Meen jy Dolla maak ’n sosiale verskil?

Ek hoop so.  Veral toe ek op Vrydae my weeklikse radiorubriek nege jaar lank in Oggend op RSG  gedoen het en van die sketse op CD uitgereik het. Ek is oral in die land voorgekeer oor Dolla se doen en sê. Iemand het nodig om sosiale kommentaar te lewer. Kom, ons gooi die klippie wat die rotsstorting veroorsaak.  As Dolla se “wyshede” net één mens vir homself kan laat dink, is ek tevrede.

Wie skryf Dolla se tekste?

Hennie van Greunen het  dit elf jaar lank geskryf en nou doen my man, Jurgen Human, dit reeds die afgelope vyf jaar.  En ja, dis lekker baklei en harde intense sessies van timmer en skaaf. Maar dis baie lekker om ’n “in-house”-skrywer as klankbord te hê. Jy moet  die heeltyd op die hoogte bly en vars wees.

En natuurlik: Dolla het altyd self die laaste sê oor hoe en wat sy wil praat!

Wat, meen jy, is die geheim van suksesvolle komedie/satire?

Gutzpa, tydsberekening, herkenbaarheid, waarheid en teenstrydighede. Die gehoor moet jou luv of haat. Maak nie saak wat nie; net ’n opinie oor jou hê.  As almal jou like, is dit very middle of the road/girl next door. As jy sosiale kommentaar lewer, moet jy stir en iemand die “moer” in maak; anders doen jy nie jou werk reg nie.  Ek glo daarin: soveel mense, soveel opinies.

Beskou  jy jouself as ’n komediant of aktrise of sosiale kommentator?

Al drie.   Margit is die komediant en aktrise wat komedierolle vertolk. Dolla is die bekendste daarvan.  Margit is ook ’n  aktrise wat ernstiger rolle – hoewel vyftien jaar laas – vertolk. Maar hou gerus dié ruimte dop… Dowwe Dolla is sosiale kommentator by uitstek.

Op vorms – by beroep – skryf ek gewoonlik net aktrise.

En wat lê vir Dolla voor?

Vra jy! ’n Vrou het mos áltyd ’n plan…

Kyk hier …

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!