Noord-Kaap kuier

’n Knap kappiemaker op Lekkersing: Richtersveld

Lekkersing se naam kon net sowel Lekkergesels ook gewees het! Oom Robert Strauss, wie se voorsate Bosluisbasters was wat saam met ‘Dominies’ Eksteen getrek het, nooi my sommer van die hek af al in hoewel hy glad nie weet wie ek is nie. “Kom, nooitjie, kom in!” beduie hy nog voor ek myself behoorlik kan verduidelik.

Hoe Lekkersing aan sy naam gekom het, is onseker, maar daar word vertel ‘n fonteintjie het naby die nedersetting geborrel wat soos ‘n lied vir die moeë trekmense en hul vee geklink het. Die ander weergawe is dat die mense wat hier kom woon het nadat die Bosluisbasters hulle in die 1940’s by die Namas wat reeds in diédeel van die Richtersveld woonagtig was, kom vestig het, baie lief was om te sing. En kan hul sing! Ek ry egter Lekkersing toe omdat dit seker een van die dorpies in Suid-Afrika is met die mooiste, beskrywende naam en omdat dit glo die plek is waar die knapste kappiemaaksters woon! Of dalk verwys die naam Lekkersing na hoe pragtig die eiesoortige Afrikaans wat hier gepraat word vir enige besoeker se ore klink?

‘Aspoestertjie en jakkalsgrou’ – Augrabies en Kakamas

Angelina Ovies en Tina Brekfis is twee afsprake wat ‘n leemte in my reis sou gelos het as ek hulle nie ontmoet het nie. Totaal verskillend, albei voornemende skrywers, maar met ‘n passie vir Afrikaans wat nie aangesit of voorgeskryf is nie. Angelina werk in ‘n kombuis en dra ‘n uniform met ‘n bypassende kopdoek, maar ek sien met die intrapslag hierdie is ‘n uiters dinamiese vrou wie se intelligensie en diepte agter ‘n bondel strykgoed versteek is. Haar oë blink skielik wawyd oop wanneer sy oor Freek Robinson praat. “Daai man kan darem vir jou ‘n pragtige Afrikaans besig!”

Tina beweeg moeilik, maar wanneer sy in haar veilige hoekie in haar kombuis oor haar lieflingtaal Afrikaans begin praat, luister mens asof ‘n boek lewend voor jou oopgegaan het.

Onder ‘n palm in Pella

Pella voel en lyk soos geen ander dorpie in Suid-Afrika nie. Rondom die skoongeharkte plein van die Rooms-Katolieke katedraal koer duiwe en kwetter ander voëls in palmbome en hang ‘n outydse vrede laag oor die grond. Hier slaap ‘n mens weer soos ‘n kind. Met die vreedsaamheid van ‘n vroeër tyd toe die lewe eenvoudig en skoon was. Wanneer een van die nonne die katedraal oopsluit, hardloop hulle hond, Topsie, al blaffende die kerk binne agter die duiwe se weergalmende vlerkgeklap wat onder die plafon fladder. Afrikaans in Pella loop ook sy eie draaie. Soos ‘n voetpaadjie deur ‘n plantasie dadels om ‘n rusplekkie onder ‘n koel palm uit te soek.

‘Ons sal Ouma Haak onthou!’ – Bullletrap se mense

Bulletrap in Namakwaland is ‘n klein en hegte gemeenskap sowat 32 km vanaf Springbok geleë. Die feit dat dit egter ‘n hele ent vanaf die N7 en agter klipkoppies lê, laat dit baie meer afgeleë voel met die ongereptheid van ‘n plekkie waar min mense ooit afdraai om dit te verken. Uit die monde van oues en jonges hoor mens hier ‘n Afrikaans wat sterk in medemenslikheid geanker is.

‘Afrikaans in die kollig!’: Namakwaland (Bulletrap, Nababeep, Bergsig)

In die laaste paar jaar was daar ‘n waarneembare opbloei van Afrikaanse rolprente wat ‘n opwindende deel vorm van die algehele Suid-Afrikaanse rolprentbedryf wat lyk of dit besig is om uit sy kreatiewe nate te bars! Hoewel baie van die Afrikaanse rolprente verstrooiingsvermaak is, word daar nou ook duidelik ander, ernstiger genres aangepak en skroom regisseurs nie om kwelvrae in Afrikaans aan te pak nie. Vaselinetjie, ‘n trots Afrikaanse produksie, is die verhaal van ‘n kind se soeke na ‘n eie identiteit in ‘n veelrassige Suid-Afrika en binne ‘n gemengde gesin. Die Afrikaans wat in die dialoog gebruik word (selfs die kragwoorde), is baie noukeurig nagevors met die doel om eg Suid-Afrikaans te wees in die mengelmoes-Afrikaans wat deur kinders van verskillende kulture wat saam in ‘n kinderhuis grootword, gepraat word.

Kletsrymer Vito Heyn: Okiep, Namakwaland

In Namakwaland is daar ‘n vars, nuwe stem wat almal besig is om van notisie te neem! Verby is die dae toe hy op skool gespot is omdat hy besluit het om ‘n groot droom na te jaag, want in die afgelope paar jaar is dinge besig om vinnig spoed op te tel vir Vito Heyn, beter bekend as die Namakwalandse rymkletser, V.I.T.O!

Vandag is HemelBesem, David Kramer en selfs Karen Meiring van kykNET van die invloedryke mense wat sy talent raaksien en inspan! Vito het reeds ‘n verwerking van ‘Stoksielalleen’ saam met Kramer gemaak was ook in die Kaap op uitnodiging van Meiring te sien. Hou hierdie spasie dop!

Woorde wat slat soos ‘n hamer

Woorde wat heilige koeie flenters kap dat die illusies spat! Du Toit Albertze van Springbok skryf gedigte wat sommige mense sal laat voel hulle is teen die kop of in die hart met iets swaar getref.

‘n Nuwe perspektief: Concordia

Radiostasies in Namakwaland is byna soos die outydse plaaslyne waar almal op almal se besigheid ingeluister het – en daarvan maak radiobaas, Brunhild Strauss, seker. Hy wil hê dat mense ‘n gevoel van gemeenskap behou en dat hulle vir mekaar omgee. Dit lê hom ook na aan die hart dat persone met ‘n unieke perspektief uit gestremdheid ontwikkel, nie ignoreer word nie, maar as volwaardige medemense geag en ondersteun word om sodoende produktief te wees.
Omroeper Robin Sauls vat nie nee vir ‘n antwoord nie. Sy het dit reggekry om die enigste vrou in Suid-Afrika te wees wat met ‘n borgskap ‘n professionele skubaduiker te word en dié Namakwalandse lyfie was mooi genoeg om vir Halle Berry tydens die verfilming van Dark Tide in Kaapstad, in te staan!

Hoe Whasheila haar naam gekry het: Matjieskloof

Die storie van hoe Charlton Boois vir homself ‘n naam en identiteit in die klein Rooms-Katolieke gemeenskap, Matjieskloof, geskep het is roerend en met tye rou. Vandag is sy Whasheila ‘Senjesfikario’ Xholiswa Bahlekaz. Sy vertel haar storie met ‘n glimlag en soms dramatiese oordrewe … van opgewondenheid. ’n Mens kan egter nie anders as om te besef hier is iemand wie se wese al baie moes verduur nie. Sy lig ook vir ons die sluier so effe oor ‘gay-Afrikaans’.

“Namarasta Afrikaans brand!”: Namakwaland

Die Noord-Kaap en Namakwaland spesifiek blyk die teelaarde te wees vir baie kleurvolle karakters en groeperinge. Een hiervan wat ek verbaas was om in die hoofstraat van Springbok aan te tref, is die onmisbare teenwoordigheid van ‘n lank-gevestigde Rastafariese gemeenskap wat glo strek van Springbok tot aan die kus by Port Nollath. Luister ‘n bietjie wat ek wys geword het oor hoe hulle hul eiesoortige Afrikaans aanpas – en wat die rede daarvan voor is!

Huisie op die vlak: Grasvlakte: Namakwaland

Hannes en Amanda Mostert is besondere mense. Hulle lewe ‘n eie lewe, weg van die besoedeling en verleiding van die wêreld waarin die res van die mensdom soos marmotte spartel. Om iemand soos Hannes in die oë te kyk, is om iemand te sien in wie daar nie kwaad skuil nie. Op Grasvlakte, waar ek verstom was om ‘n lewende siel agter ‘n byna toegewaaide en ‘verlate’ erf en huis aan te tref, het ek gelag dat my ribbes vir dae daarna nog seer was. Maar dit was ‘n klein prys om te betaal vir ‘n kuier wat my gemoed vol deernis en respek gelos het.

Die Houthoop, Steenvlei: Namakwaland-Wes.

Joha van Dyk is ‘n Namakwalander met die woelige verbeelding van iemand wat haarself van kleins af self moes besig hou! En hoewel sy aan die Universiteit Stellenbosch studeer, brei sy onbeskaamd en weier om haar ‘aksent’ te verander om ‘in te pas’. “Ek is uniek en ek klink uniek en dit is presies hoe ons hier in Namakwaland is,” sê sy met laggende selfvertroue. Dié denkende plaasmens verslind fantasieverhale en is ook ‘n aanhanger van die populêre reeks, Game of Thrones, en is sterk op pad om self ‘n fantasieskrywer te word. Uitgesproke, vars en onopgesmuk het sy ‘n hele paar sterk opinies van haar eie oor Afrikaans!

Die Bosluisbasters uit die Pofadderdistrik: Eksteenfontein – Richtersveld

In Eksteenfontein wieg die stories van hul trek- en uiteindelikesaamsmeltgeskiedenis, die Bosluisbasters uit Pofadderdistrik en die Namas van Stinkfontein, soos die mooi en soms weemoedige liedere wat tydens Woensdagaande se biduur in die VGK-kerk gesing word. As iemand hier hul hand na jou toe uitsteek, steek hulle hom reguit in jou hart in. Hier kyk mens dikwels in ‘n paar druifgekleurde oë teen ‘n soel vel waarin die onbesoedelde ooptes nog in opregte gasvryheid reflekteer.
(Die Bosluisbasters het in 1949 in Stinkfontein aangekom na ‘n maand se trek met donkiekarre en waens en die dorp wat wydsbeen oor ‘n fontein lê herdoop het na oorle ‘dominies’ Pieter Eksteen, wat by die destydse parlement hul saak vir ‘n eie stuk grond gaan bepleit het.) Vandag is die inwoners van hierdie dorp op die grens van die Richtersveld se Wêrelderfenisgebied deel van ‘n lushof in blommeseisoen en die ‘aanmeldingsdorpie’ vir besoekers om hierdie magiese streek te verken.

Ysterman Beukes: Bergsig (Noord-Kaap)

Op die donkiekar van die lewe raak die donkies soms maar wild en die ‘tyres’ al hoe ‘papter.’ Luister na ‘n pragtige voordrag van ‘n Namavrou se gebed vir haar seun deur ‘n bekende Namakwalandse storieverteller, Oom Ysterman (Jakobus Johannes) Beukes van Bergsig. Oom Ysterman was ook op sy dag ‘n opgeleide spysenier en nasionale veerpyltjie-kampioen.

Die mense van Fonteintjie: Die klipheuwels duskant Springbok

Bedags is ‘n span padwerkers besig om die pad na Fonteintjie (in die klipheuwels duskant Springbok) te plavei, maar soos alles in hierdie geweste, word die taak met groot rustigheid en geduld aangepak.

Bly jy tot skemer wanneer die maan soos ‘n stuk kaas met ‘n gawe gesig bo die kokerbome sy hangplek inneem, weet mens waarom jy vertoef.

Bossie Brand: Springbok

Bossie Brand is ‘n trots Afrikaaanssprekende Nama met ‘n voorliefde vir die veld. Bedags werk hy as sekuriteitswag in Springbok, maar na-ure sal hy sonder skroom sy jakkelsvel aantrek en met sy bobbejaanknopkierie die veld instap waar hy dassiepisklonte kap waarvan hy aftreksels vir veldmedisyne maak.