‘n Nuwe stem: Mercy Kannemeyer

Vir Mercy Kannemeyer, ʼn ambassadeur vir Afrikaans, was daar by vanjaar se Woordfees geen oomblik om stil te sit nie. Hierdie energieke jong vrou, is op haar gelukkigste wanneer sy kan skep in die taal van haar hart, Afrikaans. Mercy is ʼn Meestersgraadstudent aan die Universiteit Stellenbosch en haar studieveld is toegepaste teater. Sy is die regisseur van “Die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika” wat vanjaar (2018) by die Woordfees te sien was en ook later vanjaar by die Suidoosterfees te sien is. Ses gesinne ding mee vir ‘n plek in die Nuwe Republiek van die Nuwe Nuwe Suid-Afrika. Die kompetisie is geskep as gevolg van ‘n tekort aan transformasie in die huidige “nuwe Suid-Afrika”. Deur satire en komedie bied die stuk ‘n unieke blik op die stryd van verskillende Suid-Afrikaners in die lig van transformasie. Oorspronklik ontwikkel deur die US Dramadepartement.

Mercy is ook een van die skrywers van “Prinz Bettliegend” en is as aktrise ook deel van hierdie produksie. Hierbenewens neem sy deel aan die straatteater en storievertelteater. Sy was ook gespreksleier by verskeie diskoersgesprekke, soos “Teater as ʼn tweerigtingstraat – Hoe skep ons werk?”, “Eienaarskap en Stories – Hoe gaan ons om met die stories rondom ons?” en “Hoe voel millenials oor teater?”. Mercy, wat in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad met ʼn Kokertoekenning vereer is vir haar dokumentêre program, “Die ander Kant/The Other Side”, is uitgesproke oor haar liefde vir Afrikaans en is ook ʼn sterk voorstander vir moedertaalonderrig. Mercy het ook by die Woordfees die kans gehad om saam met Marita van der Vyver met Bouwer Bosch te gesels, toe hy gepraat het oor die uitdagings van “Betrokke Kuns” en die verantwoordelikheid van die kunstenaar teenoor die gemeenskap.

Die ander kant – Mercy Kannemeyer

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!