Jaco Jacobs wen Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur

Die heel belangrikste raad vir enige skrywer is: lees, lees, lees. Veral as jy nog jonk is. Hoe meer ’n mens lees, hoe meer besef jy van watter soort boeke jy hou en wáárom jy daarvan hou, en ook watter soort boeke jy verpes en wáárom jy dit verpes.  En dit is hoe jy ’n skrywer word.” – Jaco Jacobs in ’n 2013-onderhoud op LitNET met Zoë Salzwedel.

Daar is maar net nie keer aan Jaco Jacobs nie en hy bereik gereeld nuwe hoogtes met sy skryfwerk (afgesien daarvan dat hy aan hoogtevrees ly!).

Die Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 13 April 2018 aangekondig dat Jaco bekroon gaan word met die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur vir sy prenteboek, Grom. Die boek is deur Karen Lilje geïllustreer. Die Tienie Holloway-Medalje vir Kleuterliteratuur word driejaarliks toegeken aan die skrywer wat die beste werk in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur.

Die ATKV het ’n deel van die prysgeld geskenk, maar was nie betrokke by die toeken van die prys nie.

Wat is die geheim van ‘n goeie kinderboek?

 “Eerlikheid staan vir my uit. Jy moet ’n opregte belangstelling in die storie en karakters hê, en eindelose respek en bewondering vir die leef- en verbeeldingswêreld van kinders. Ek glo ook jy moet regtigwaar ’n aanhanger van die genre wees en dit geniet om hierdie soort stories te skep.” So gesels Jaco in ‘n onderhoud oor sy skryfproses. Vind uit watter skrywers hy bewonder en waarom en die skryfraad wat hy inspan. Klik hier.

Die storie

Grom handel oor Emma, ’n dogtertjie wat nie daarvan hou om op te staan nie. Sy grom vir haar ouers wanneer hulle haar wil wakker maak. Toe, een oggend, toe sy in die spieël kyk … het sy snorbaarde en kolle oral oor haar lyf!

Jaco het by die ontvangs daarvan gesê dat sy eie dogtertjie se oggendgromme hom geïnspireer het om die boek te skryf.

Grom is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

Lees meer oor Jaco Jacobs op sy webtuiste

Meer oor die Tiene Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur

Dié toekenning word gemaak deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is in 1969 ingestel en word sedert 1976 elke drie jaar toegeken.

Die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur is ingevolge ‘n skenking deur  dr JE Holloway ingestel. Die prys is genoem na sy eggenote, wyle mev. Tienie Holloway, een van die bekendste skrywers van kleuterverse in Afrikaans.

Dié goue medalje (met die beeltenis van Tienie Holloway daarop) word van tyd tot tyd toegeken aan ‘n skrywer of skryfster wat gedurende ‘n tydperk, deur die Akademieraad bepaal, die beste werk van bevredigende gehalte in Afrikaans gelewer het in die genre kleuterliteratuur, dit wil sê vir kinders onder agt jaar.

Het jy geweet?

  • Beide Jaco Jacobs en Karen Lilje is in 2017 vereer met ’n ATKV-Woordveertjie vir Grom. Dié prys is deur kinderlesers aan hulle toegeken.
  • Twee van Jaco Jacobs se boeke is verfilm: Suurlemoen! en Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Laasgenoemde is bekend as Nul is nie niks nie.
  • Jaco se gunsteling- superheld is Batman.
  • Hy het al meer as 140 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes geskryf.
  • Hy versamel PEZ-lekkergoedhouers.

Oor die fliek: Nul is nie niks nie’n Storie oor die lewe, die dood en alles wat tussenin gebeur.

Lees meer oor Suurlemoen! ’n Storie oor grootword, verantwoordelikheid neem vir jou keuses en drome wat waar kan word as jy dit hard genoeg jaag.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!