Stories, poësie en musiek onder die volmaan

ʼn Volmaan wat stadig en goudgeel tussendeur die kaalgestroopte takke van die neutbome in die hemelruim op seil, konkavure wat ʼn rooi gloed in die skemerlig verskaf, die fluweelstem van Mathys Roets en Dana Snyman se onverbeterlike aardse stories… dit moet so na aan die perfekte aand wees as wat kan kom. Hierdie geleentheid was die eerste stilhouplek op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se jaarlikse Sappi Boeke-crawl en vanjaar het die Sudwala-grotte gasheer gespeel vir hierdie unieke ervaring. Alita Steenkamp vertel die storie.

Dana Snyman en Mathys Roets was die kunstenaars by die eerste stilhouplek.

Hierdie boeke-crawl is jaar na jaar een van die hoogtepunte van die Innibosfees en kaartjies daarvoor word altyd opgeraap. Vanjaar het ek die voorreg gehad om dit ook te beleef. Dana Snyman se lag met ʼn traan-stories, stories propvol patos, is altyd besonders, maar om te hoor hoe hy dit self vertel, maak dit nog meer treffend. Dana is deesdae ook ʼn Laevelder wat op Kaapsehoop bly. Mathys Roets het die storievertelwerk met sy stem gedoen en gesorg dat elkeen van die liedjies wat hy sing, op ʼn manier aansluit by Dana se vertellings. Die afskop het by die Sudwala Lodge plaasgevind waar elke lid van die gehoor met ʼn blikbekertjie vol wyn, ʼn warm serp en ʼn steak-rolletjie van die restaurant bederf is.

Na hierdie heerlike eerste stop, het die bus vol boeke-crawlers vertrek na Pierre se restaurant, net voor die ingang van die Sudwala-grotte. Hier was Paul Eilers aan die woord met ʼn handvol sketse van onder meer PG du Plessis, Chris Barnard en Annemarie van der Walt. Dit is waarlik ʼn keur van die mooiste Afrikaanse woorde wat jou die een oomblik laat skaterlag, en die volgende oomblik na jou sakdoek laat gryp. ʼn Plaaslike sanggroep, die Hummingbirds het gesorg vir die musikale gedeelte van hierdie stilhouplek. Stroopsoet nagereg was die spreekwoordelike kersie op die koek.

Kan een aand meer spesiaal word, het ek gewonder terwyl ons die grotte binnestap. Al langs die paadjie het kerse in bruinpapiersakke die pad aangewys. ʼn Deel van die wonder van die Sudwala-grotte is ʼn reuse- natuurlike saal, bekend as die amfiteater. Die Sudwala-grotte is van die oudste grotte in die wêreld wat miljoene jare gelede gevorm is terwyl die area nog met seewater bedek was. Die amfiteater het sitplek vir sowat 500 mense en bekendes soos Ivan Rebroff het al hier gesing.

Op vanaand se spyskaart wag Laurika Rauch en Loki Rothman met musiek en Daniël Hugo met poësie. Vroeër die week het ek die heel eerste keer met Loki Rothman as musikant kennis gemaak in die vertoning Laurika Rauch met Loki Rothman: Blou wat hy en Laurika op die fees aangebied het. Hy het my asem weggeslaan met sy meesterlike kitaarspel, wat Laurika se stem op ʼn manjifieke manier komplementeer. Vanaand, het ek besef, sou dit nog meer spesiaal as Woensdagaand daar in die skoolsaal wees.

Om in die eeueoue natuurlike katedraal te sit, bloot met die minimum beligting aan, is op sigself ʼn fantastiese ervaring. Voeg daarby Daniël Hugo, met sy besonderse mooi stem wat sy eie gestroopte, maar beeldryke gedigte voorlees, en dit word iets manjifieks. Die twee musikante, Laurika en Loki stel ook nie teleur nie. Net so mooi soos hulle name allitereer, so wonderbaarlik kombineer die twee kunstenaars en dit word ʼn byna magiese vertoning. Dis veral hulle besonder mooi vertolking van Laurika Rauch se “Stille Waters” wat my lank sal bybly. Loki se sielvolle weergawe van die Engelse vertaling, “Blue Skies” in kombinasie met Laurika se strelende “Stille Water”, is hoendervelmooi. Vir ʼn paar minute het die wêreld gaan stilstaan. Met ʼn hart wat dawerend in Afrikaans klop, het ek na afloop van die vertoning na buite gestap. Bo in die koue naglug het die volmaan doodstil wag gehou. Dit was ʼn ervaring om nie gou te vergeet nie.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!