Boekejol 2018: ʼn Leesfees soos min!

ʼn Heerlike boekefees wat geen boekliefhebber in die noorde van die land moet misloop nie, is die Boekejol wat reeds die afgelope paar jaar in Pretoria plaasvind. Afrikaans.com se Alita Steenkamp vertel ons meer.

Die fees word beskryf as ʼn leesfees in Pretoria waarin Afrikaanse boeke, skrywers en denkers geniet, belees, beluister en bevorder word. Vanjaar se vierde Boekejol, vind vanaf Donderdag 30 Augustus tot Saterdag 1 September by die lieflike Leriba Hotel in Centurion plaas. Vanjaar se Boekejol het opwindende boek- en aktuele gesprekke, kosdemonstrasies, musiek en ʼn verskeidenheid werkswinkels as deel van die program. Pretoria FM vorm ook deel van die fees met direkte uitsendings vanaf die perseel. ʼn Goeie boek en ʼn heerlike glas wyn loop altyd hand aan hand en vir die drie dae van die fees sal daar regdeur die dag geleentheid wees om wyn te proe.

Dia van Staden, die organiseerder van die fees, sê dat daar beslis opwindende dinge by vanjaar se Boekejol wag.

“Ons is baie opgewonde oor vanjaar se ligging, want die ruim lokale, gratis parkering en die pragtige tuine hier by Leriba, maak hiervan die ideale venue vir ʼn fees van hierdie aard. Hier is meer as genoeg plek om ongestoord in die tuin te gaan sit met ʼn boek wat jy so pas gekoop het. Voeg daarby ʼn lekker koppie koffie of ʼn glasie wyn terwyl jy lees, en dit word ʼn heerlike belewenis.” Dia van Staden

Waarna kan jy uitsien?

By vanjaar se Boekejol, sê Dia, sien sy veral uit na die aktuele gesprekke wat met boeke gekombineer gaan word. Daar is Jan-Jan Joubert met sy boek Who Will Rule in 2019? en Ralph Mathekga die skrywer van Ramaphosa’s turn  – Can he save South Africa? wat in gesprek gaan tree met Piet Croukamp en Roelf Meyer. Waarna ek ook baie uitsien is die heerlike digtersamestelling waarin vier digters gaan gesels oor die verantwoordelikheid wat digters het ten opsigte van die trauma en geweld wat in die land aan die gebeur is. Ons het ook ʼn opwindende skoleprogram en twee skrywers, Keina Swart en Derick van der Walt gaan ʼn werkswinkel aanbied waarin hulle leerders gaan uitdaag om te skryf, al is hulle nog jonk. Open Window Filmskool is ook vanjaar vir die eerste keer betrokke by Boekejol. In een van die lokale word daar kortfilms vertoon en daar gaan ook gesprekke wees oor die maak van films. Dit is so ʼn wonderlike span mense bymekaar wat baie ingelig is, en ons is opgewonde daaroor,” sê Dia.

Op Saterdagaand kan die liefhebbers van klassieke musiek gerus naderskuif vir ʼn optrede saam met Schalk van der Merwe en die Pretoria Philharmoniese Orkes ensemble. Die talentvolle Leon Gropp tree ook in hierdie vertoning op.

Afrikaans.com se ambassadeurs

By die Boekejol is ʼn hele paar van die ambassadeurs vir Afrikaans ook teenwoordig. Hulle sluit in: Schalk Bezuidenhout om te gesels oor sy boek Truitjie Roer my nie, Sophia Kapp wat ʼn skrywerwerkswinkel oor die skryf van liefdesverhale aanbied, prof Fransjohan Pretorius is betrokke by ʼn boekgesprek oor geskiedenis, Elsje van Jaarsveld is een van die Pretoria FM-omroepers wat in aksie gaan wees, Annelien Pienaar wat tydens ʼn kosdemonstrasie oor haar boek Boerekos met ʼn Twist gaan gesels en Gielie Hoffmann wat in gesprek tree met Johannes de Villiers oor sy boek Kalmte in die malle gejaag.

As jy in Johannesburg of die Oos-Rand is, spring op die Gautrein. Pretorianers kan vinnig by Leriba Hotel uitkom, want dit is maklik bereikbaar vanaf die R28- en die N1-snelweë. Moet dit nie misloop nie, anders moet jy nog ʼn jaar wag om boekvreugde daar in die pragtige inheemse tuine te geniet.

Vir ʼn volledige program, besoek die webblad www.boekejol.co.za

Kaartjies is beskikbaar by support@tixsa.co.za of 071 274 1613

Lees meer oor Afrikaans.com se ambassadeurs hier,

Die Leriba Hotel

Die pragtige Leriba Hotel, op die walle van die Hennopsrivier in Centurion, is een van die groenste hotelle in Suid-Afrika. Oor die afgelope paar jaar is al die eksotiese uitheemse plante vervang en die tuine is sorgvuldig met inheemse struike en bome uitgelê. Al die kruie en baie van die groente wat in die verskillende kombuise op die perseel gebruik word, word hier gekweek. Die 13-hektaar waarop Leriba ontwikkel is, is boomryk en daar vind gereeld opelugkonserte op die skaduryke area langs die rivier plaas. Wat Leriba die ideale bestemming vir ʼn geleentheid soos hierdie maak, is dat dit binne loopafstand van die Centurion Gautreinstasie is. Daar is twee pragtige restaurante propvol atmosfeer op die perseel: Hemingways en Chapters en uithalerkokke sorg dat enige maaltyd hier ʼn besonderse kulinêre belewenis is.  Daarmee saam is daar altyd ʼn uitstekende wynseleksie beskikbaar. Die name van hierdie twee restaurante is ʼn duidelike aanduiding dat enige boekwurm onmiddellik sal tuis voel.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!