Binnelanders vier 3000 episodes

Glasies is geklink, verjaardagkoek is geëet en kameras het geflits, want Binnelanders behaal hierdie maand ’n groot mylpaal. Annelien van Basten het met medevervaardiger en hoofskrywer, Mitzi Booysen, gesels oor waar dié sepie vandaan kom, wat agter die skerms gebeur en waarheen dit op pad is.

Die Binnelanders-familie in vrolike luim tydens die feesvieringe. (foto: Brendan Croft)

Suid-Afrika se gunstelingsepie is al dertien jaar op die kassie en At Koster (Hans Strydom) het as’t ware saam met die program ’n huishoudelike naam geword. Hierdie maand word die drieduisendste episode uitgesaai en daar wag opwindende nuwe dinge vir kykers in die toekoms.

Hans Strydom aan die woord …

Die Binnelanders-span – Mitzi Booysen, medevervaardiger en hoofskrywer, is tweede van links. At Koster (Hans Strydom) en Pippa (Nadia Valvekens) was van die begin af deel van die sepie. (foto: Brendan Croft)

Hierdie spesiale mylpaal is met ’n jolige funksie by die pragtige tuiste van die Binnelanders-span, Stark Studios, gevier en het heel gepas afgeskop met Jak de Priester wat sy ikoniese temalied lewendig opvoer en Germandt Geldenhuys (Louis Koster) as seremoniemeester.

Net soos wat dit so ’n suksesvolle produksie betaam, was die geleentheid ook propvol opwinding, nostalgie en verrassings, vir beide die span en die gaste. Oudkarakters en vermaakbedryfkollegas het gelukwense aangestuur, kykNET is bedank vir hulle jarelange ondersteuning, almal het geskaterlag vir die flaters wat agter die skerms plaasvind en ’n paar nuwe aksiebelaaide storielyne en interessante planne is verklap.

Mitzi Booysen, die medevervaardiger en hoofskrywer van Binnelanders.

Maar tussen al die pret en plesier was ons ook nuuskierig oor die werk en skeppingsproses agter so ’n suksesvolle program, want om so ’n skip op koers te hou, is harde werk. Mitzi Booysen, die medevervaardiger en hoofskrywer, wat reeds van die begin af deel was van die span, het ingestem om meer lig op dié onderwerp te plaas.

Vertel ons meer van jouself?

“Ek is in Rome gebore en het meestal oorsee grootgeword, maar het in Pretoria matriek geskryf en by Wits en Tukkies studeer om my honneursgraad in Drama te behaal. Na universiteit, het ek vir etlike jare in verhoogproduksies gespeel vir die destydse streeksrade, en ook in hierdie tyd twee toneelstukke geskryf en baie vertalings gedoen. Toe ek begin sien dat die eindfluitjie gaan blaas vir die streeksrade, het ek besef dat ek binnekort ander werk sou moes kry. Ek het toe vir Laurence Loerie by Egoli gekontak en vir hom gevra: ‘Hoe word ’n mens ’n skrywer?’ Ek onthou hoe ek my eerste paar tekste vir ’n vriend (akteur, skrywer, vertaler en regisseur Tjart Potgieter) oor die foon voorgelees het, en al wat ek kan onthou, is hoe hy my kort-kort daaraan herinner het dat ek die dubbelnegatief vergeet. Ek het nooit gedink dat daar iets meer van gaan kom nie …”

Hoe het jy by Stark Studios beland?

“Ek en die Starks het albei destyds voorleggings gedoen vir die nuwe dramareeks by M-Net en hulle het dit gekry. Kort nadat hulle die goeie nuus gekry het, het hulle my gekontak om te hoor of ek dit nie saam met hulle wil aanpak nie. Veertien jaar later is ek nog hier, alhoewel ek iewers langs die pad vir agtien maande bedank en iets anders gaan doen het.”

Wat behels jou werk?

“Grotendeels die uitwerk en uitdink van stories, asook die afbreek en verspreiding daarvan. Elke storie se wendings- en spanningslyne moet so uitgedink en geskryf word dat dit oor etlike episodes kan hardloop. Ek moet ook die skryfspan bestuur, sodat almal saamwerk om die verskillende stories in die reeks tot hulle reg te laat kom. Karakterontwikkeling is ook deel van my werk, asook om die akteurs, regisseurs en ander departemente (wat moet saamwerk om stories lewe te gee) aan te spreek oor sekere elemente van ’n storie wat belangrik is vir die drama.”

Met watter uitdagings kry jy gereeld te doen?

“Die grootste uitdaging is om deursettingsvermoë aan die dag te lê wanneer ’n storielyn aangepak word. Elke week moet daar aan ses episodes beplan en geskryf word. Intussen moet jy ook reeds dink aan wat volgende gaan gebeur, en die daaropvolgende gevolge van die huidige storielyne. Met ’n daaglikse drama is daar regtig nooit ’n einde in sig nie; daar kom nooit ’n punt waar jy ophou om met die karakters te werk nie. Party van hulle begin in jou kop leef. Shakespeare was gelukkig gewees met Romeo and Juliet, want aan die einde van die storie is die hoofkarakters dood en die storie klaar. Indien dieselfde toneelstuk ’n daaglikse drama was, sou ons moes dink aan wat volgende gaan gebeur en wat die invloed op die karakters se geliefdes gaan wees.”

Wat was die lekkerste storielyn waaraan jy nog ooit gewerk het?

“Die storie wat ons onlangs gedoen het oor huishoudelike geweld, met suster Naomi Ferreira (Je-ani Swiegelaar) en haar verloofde Ferdi du Toit (Cobus Venter), was regtig ’n lekker een om aan te werk. Dit was goed om te kon wys dat so iets ook met ’n sterk vrou, soos Naomi, kan gebeur en ook ’n lekker uitdaging. Die storielyn waarin ons nou ook ’n anderkant van Annelize Roux (Cindy Swanepoel) wys, sodat mense haar beter kan verstaan, was ook ’n heerlike een gewees.”

Beïnvloed aktuele nuusgebeure julle storielyne?

“Ons werk so drie maande vooruit, maar intussen kan daar nog baie water in die see loop. Nuusgebeure speel nie eintlik ’n rol in ons storievertellings nie, aangesien dit nie altyd uitvoerbaar is nie. Dit gebeur, ironies genoeg, soms toevallig dat ’n storielyn op die een of ander manier nuuswaardig of selfs waar word in die tydperk wat dit op die televisie uitspeel.”

Sal julle ’n storielyn verander as gevolg van die publiek se klagtes?

“Nee, ons kan ongelukkig nie ’n storielyn verander net omdat die gehoor nie daarvan hou of negatief daarop reageer nie. Teen die tyd wat die storie uitgesaai word, is dit hopeloos te laat om enigiets daaraan te doen. Ek voel dikwels dat die kykers kla oor die begin van ’n storielyn, sonder dat hulle weet watter wendings kom of hoe die storie gaan eindig. Bygesê is die hoeveelheid negatiewe kommentaar wat ons kry ook ’n aanduiding van hoe die kykers hulleself inleef in die reeks en dit het dus ook sy positiewe aspekte.”

Jy is eintlik Engels, hoe is dit vir jou om in die Afrikaanse vermaakbedryf te werk en wat het jy hieruit geleer?

“Ek het begin deur in Afrikaans te skryf en toneel te speel, dus is dit nie vir my ’n vreemde beweegruimte of medium nie. Ek skryf wel vinniger in Engels, want ek druk myself dalk makliker uit. Die Afrikaanse mark is baie anders as die Engelse mark in Suid-Afrika, want hulle is vreeslike lojale kykers. Ja, hulle mag dalk ’n bietjie meer konserwatief wees en ’n mens moet dit in ag neem, maar ’n goeie storie is ’n goeie storie ongeag in watter taal jy dit uitdruk. Jy pas die teksture van jou storie aan volgens die kultuur van die gehoor, maar die basis bly dieselfde. Emosies is ook universeel in enige taal, wanneer jy dit voel, dan vóél jy dit.”

Wat dink jy maak die Afrikaanse vermaakbedryf so uniek?

“Afrikaanse kykers is gretig om dinge in hulle eie taal te hoor en sien en is gefokus op plaaslike produksies – hulle ondersteun dit met mag en krag. Dit is natuurlik nie ’n unieke eienskap van die Afrikaanse gehoor nie, want ek is seker daarvan elke taalgerigte gehoor is ook so. Hulle is dalk net baie meer uitgesproke oor waarvan hulle hou en waarvan nie.”

Die Afrikaanse vermaakbedryf bars op die oomblik uit sy nate uit, wat dink jy is die rede hiervoor?

“Ek dink dit het baie te doen met kykNET se motivering en dryfkrag, aangesien hulle die nodige ondersteuning bied (en ’n platform beskikbaar stel) vir plaaslike inhoud.”

Verklap een ding oor Binnelanders wat niemand weet nie?

“Een van die name wat op die tafel was vir die reeks, was Suidlanders.”

Wanneer jy met die akteurs en span (wat na hulself as familie verwys) agter die sepie gesels, is jy nie verbaas oor die respek, liefde en samehorigheid wat op stel heers nie. Dit word immers al vir jare lank vasgevang en is juis hoekom die sepie so geliefd is.

“Ek dink met die skeppendheid, motivering en toewyding waarmee die span werk, is daar definitief meer as nog drieduisend episodes wat in die toekoms voorlê,” sê Ernst Swart, Stark Films se publisiteitsbestuurder.

Binnelanders, wat binnekort nie net meer in studio tonele gaan verfilm nie, se spesiale drieduisendste episode word gedurende die week van 14 Mei 2018 gevier. Moenie een van die aksiebelaaide tonele mis nie … en kyk uit vir die splinternuwe temaliedvideo!

Die Binnelanders vier hierdie spesiale aand met ’n baie spesiale geleentheid …