Anzil Kulsen – sy skryf in pas met die hart van die jongeling

 “Afrikaans … die taal waarin ek sommer net simpel en laf kan wees. Ek dink nie ek sal myself ooit so kon uitleef in ‘n ander taal nie.” – Anzil Kulsen

Die ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) het onlangs die eerste in ‘n reeks gesprekke aangebied.Tydens die gesprek, is die invloed van die mense van die Bo-Kaap op die ontwikkeling van Afrikaans onder die loep geneem. Afrikaans.com was daar en ATKV-projekbestuurder, die skrywer en Noord-Kapenaar, Anzil Kulsen, (sy is ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans) het ‘n tydjie afgeknyp om met René Arendse oor die vrou agter die naam, te gesels.

Anzil vertel dat haar grootste liefde buiten haar man, kinders en ma, die lewe self is. “Ek het tot dié besef gekom toe ek nog ‘n tiener was en iemand my hart gebreek het. Ek het besef: As ek niemand het om lief te hê nie, sal ek op die lewe self verlief moet raak.”

Sy vertel voorts dat sy op haar heel gelukkigste was en is in haar ma se huis … “… die een plek waar al my sorge verdwyn en ek net myself kan wees”. Anzil is baie talentvol, en haar kitaar is een van haar kosbaarste besittings vir wanneer sy hartseer en kwaad is, maar sy sê die talent wat sy die graagste sou wou hê, is selfdissipline. “Die Here het my nie daai talent gegee nie … wanneer ek groot is, sal ek dit bemeester,” sê sy tong-in-die-kies.

Anzil Kulsen is op Upington gebore en word  op Keimoes groot.  Haar laerskoolopleiding kry sy op De Aar, waarna sy by Oranjezicht Hoërskool op Keimoes matrikuleer. Na skool studeer sy vir twee jaar aan ’n B.Com.-graad op Noordwes-Universiteit’en later studeer sy Taalpraktyk by die Technikon van die Oranje-Vrystaat. Sy verwerf ’n B.A.-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika en skryf dan in vir ’n honneurs-graad in letterkunde. Sy sluit later by die ATKV aan as projekbestuurder, waar sy veral in die Noord-Kaap aktief is met die vestiging van leeskringe en om gemeenskappe aan te moedig om self te skryf. As deel van haar werk besoek sy afgeleë gemeenskappe om daar met mense oor boeke te gesels, terwyl sy ook kreatiewe skryfkursusse aanbied en spel- en narratiewe terapie doen. Sy is getroud met Heine, en hulle het twee kinders, ’n seun en ’n dogter. Hulle woon op Upington.

Groot deernis met jeug

Anzil het ‘n groot deernis met jongmense en sê dat die jeug-genre ‘n mens, as skrywer, ‘n wyer spektrum van temas gee om te ondersoek. So kan ‘n mens ook nog die jeug se perspektief beïnvloed. “As tiener het ek my emosies baie intens beleef en was ek baie in voeling daarmee. Dis hoekom ek dit so goed kan weergee. Nou het ek ook twee tienerkinders en leer ook baie by hulle.”

Op die vraag watter storie die mooiste een is wat sy nog wil vertel, antwoord sy dat dit eintlik ‘n moeiike vraag is, maar sy dink tog haar sentrale storie sal begin met ‘n mate van verwerping en eindig met ‘n hoofkarakter wat met verborgenheid gekoester word …

Hoe moet die jeug sukses meet? “Hoe jy mislukking hanteer … Mislukking is so ‘n groot aspek van sukses …” aldus Anzil.

Hoe kan sy as skrywer verseker of help dat kinders nog lees?

“Ek moet skryf oor dinge wat kinders wil hoor… My kinders hou my voete op die aarde …  kritiseer my werk sodat ek kan bybly met wat nou aktueel is. Sal my goed vertel indien ek hulle intellek onderskat!”

Anzil se gunsteling- Afrikaanse uitdrukking?

“‘O goedere-trein’ is ‘n snaakse uitdrukking wat ons graag in die huis gebruik. Dan ook ‘jislaaik!’ en ‘genugtig!’  – ek gebruik dit gans te veel …”

Wat maak Afrikaans vir jou #onmisbaar?

“Dis my taal waarin ek kan skep … waarin ek werk … die taal waarin ek sommer net simpel en laf kan wees. Ek dink nie ek sal myself ooit so kon uitleef in ‘n ander taal nie.”

 Lees ook …

‘n LitNet-onderhoud met Anzil Kulsen oor Oranjerivierafrikaans.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!