Afrikaans is ’n leefstyl …

 “Afrikaans is die taal van my diepste emosie, my ma se taal en my kinders se taal.” – René Arendse

René Arendse is ’n ambassadeur vir Afrikaans en oor die volgende paar weke kry mense wat haar pad kruis die geleentheid om na te dink oor die waarde van hul taal. Afrikaans se warm, aardse klanke met die ritme van Afrika roer ons om ’n rede …

Gee jou taal ’n stem en neem deel aan ons nuutste Veldtog op sosiale media met die hutsmerk,  #onmisbaar.

Graad 12-leerders van Hoërskool Aloe in Mitchell’s Plain: Marina Meintjies, Bianca Jackson en Mauritia Jasson sê…

“Wie is ons? Ons IS AFRIKAANS … dis ons moedertaal en ons is trots daarop!”

Dian Harcovecchio (teater-verhoogbestuurder), regs, saam met akteur Charlton George, sê:

“Aanhouer wen … dis my gunsteling- Afrikaanse uitdrukking.”

Pieter Smit van Boston Coffee in Bellville sê:

“In watter ander taal kan jy sê … jou kwagga ! Geen ander taal kan dit vervang nie. My gunsteling- Afrikaanse sêding is, #altydvars  … daai is ek!”

Lorna Booise , 74 jaar oud, van Kuilsrivier sê:

“Ek doen alles in Afrikaans … ek kook ook in Afrikaans … van breyani , bobotie tot ouma onder die kombers.“

Lyndsay Petersen van die Pniël-museum sê:

“Dis die taal wat ons hier praat en dit is wie ons is! My gunstelinguitdrukking is wat my pa altyd sê … Kyk noord en gaan voort.”

Willa Boezak, skrywer en teoloog, sê:

“My gunsteling- Afrikaanse woord moet nog in die woordeboek opgeteken word … dis onpraatlik! Wanneer daar iets is wat effens onbetaamlik is om te sê, is dit onpraatlik. Ons het almal verskeie identiteite, maar ons is almal Afrikane …”

Lee-Ann van Rooi – aktrise en regisseur sê:

“Ek is so lief vir die uitdrukking, ‘hou die blinkkant bo’. Dis vir my #onmisbaar in Afrikaans en deel van my lewensmantra.”

Graad 6A van Irista Primêr in Kuilsrivier sê:

“Ons lees in Afrikaans en ons leer in Afrikaans. Ons geniet Afrikaanswees … “

Never Mahlangu van Boston Coffee in Bellville sê:

“Ons kliënte skrik wanneer ek hulle in Afrikaans groet … so dis vir my die lekkerste om GOEIEDAG en HOE GAAN DIT te sê…”

Michael Jonas, direkteur van die Taalmuseum en -monument, sê:

“Hier by die museum en monument wil ons die storie van die ontstaan van Afrikaans gebruik om grense af te breek en sy gebruikers te versoen.”

Die mense van Pniël

Denise Laurence van Pniël naby Stellenbosch:

“Afrikaans is deel van my … dis waarin ek grootgeword het. Ek lag in Afrikaans en ek bak in Afrikaans. My gunstelingwoord en gebak is koeksisters.”

Matthew Cyster van die Pniël-museum sê:

“Afrikaans is die taal wat ons ken. Ek hou so van Adam Small se uitdrukking … ‘Ko lat os die Bybel oeppe slaan’…”

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!