ATKV-Mediaveertjies 2018 – Die stories en die mense wat hulle vertel

Wonder jy ooit oor stories? Die radio-insetsel wat jou ’n traan laat pik in die verkeer. Die koerantberig wat jou vir weke bybly omdat jy nie die storie wat dit vertel kan vergeet nie. Die TV-program wat jou ontnugter omdat jy nooit só aan iets gedink het nie … Hierdie stories word vertel deur mense. Mense wat ure lank navorsing doen, oproepe maak, navrae doen, onderhoude voer en altyd bly soek na die waarheid. Mense met ’n passie vir stories. Joernaliste.

Die 30 sekonde radioberig wat jy hoor, die 15 min TV-insetsel waarna jy kyk en die 3-bladsy artikel wat jy vinnig in 20 minute lees, is die resultaat van ure en ure (en ure en ure) se harde werk, dikwels deur ’n hele span mense.

Op Vrydagaand 11 Mei het die jaarlikse ATKV-Mediaveertjietoekennings by die swierige Katy’s Palace Bar in Sandton plaasgevind. (Foto’s Petronell Vorster)

Daar is ook hulde gebring aan die lede van die media wat in 2017/18 oorlede is.

ATKV-Mediaveertjies

Die ATKV-Mediaveertjies is gevolglik een van die hoogtepunte op baie Afrikaanse joernaliste se kalender. Die ATKV ken jaarliks dié prys toe aan diegene wat deur die loop van die jaar ’n uitnemende bydrae tot Afrikaans in hul betrokke medium (televisiemedium/digitale platforms (dit sluit enige oudiovisuele inhoud in), radio/digitale platforms (sluit potgooie in) en die gedrukte/digitale media) gelewer het. Om ’n Veertjie te wen, of selfs net as ’n finalis benoem te word, beteken iemand sien jou harde werk raak en dat jy, soos die spreekwoord lui ‘die room van die oes’ is.

Volgens die bestuurder van kunste en feeste by die ATKV, Nita Cronjé, word die ATKV-Mediaveertjies jaarliks gehou om die media se uitnemendheid te bekroon. “Ons wil erkenning gee aan die belangrike rol wat die media in die huidige samelewing speel om die publiek in te lig, op te voed en te vermaak. Hulle rol is van kritieke belang,” sê sy.

Drie kategorieë

In 2018 is daar in drie kategorieë meegeding: KYK, LUISTER en LEES. Elk van hierdie kategorieë het verskeie onderafdelings gehad (34 in totaal) en in 2018 is daar meer as 600 inskrywings vir die gesogte toekennings ontvang.

Jy kan hier na video’s kyk wat die finaliste in die onderskeie kategorieë aandui:

Lees: https://youtu.be/Zzv5RVL3YZo

Luister: https://youtu.be/EM7dhipaAV4

Kyk:

Verhalende genreshttps://youtu.be/XF98qt8asll

Aktuele genres: https://youtu.be/DpSEITfC7s4

Hoe lyk/klink ’n weninskrywing? 

Behalwe dat al die weninskrywings een ding in gemeen het – goeie joernalistiek –  is dit ook belangrik dat die stories wat vertel word, moet saak maak. Dit moet relevant wees en ’n bydrae lewer; nie net tot Afrikaans nie, maar ook tot die samelewing as ‘n geheel.

’n Uitstekende voorbeeld van een so ‘n 2018-Veertjiewenner is Marianne Breytenbach wat bekroon is vir die radioprogram Net medies: Aannemings (Pretoria FM) in die kategorie: Beste insetsel in ’n opvoedkundige program in die LUISTER-kategorie. Tydens haar toespraak het Marianne gepraat oor die positiewe inpak wat die spesifieke program op honderde mense se lewens gemaak het. Volgens Marianne het die program verskeie luisteraars bemagtig om hul biologiese familielede op te spoor.

Joernalistiek dien as’t ware as ’n spieëlbeeld van die samelewing; alles wat gebeur word in die media gereflekteer; goed en sleg.  Weninskrywings wat ’n idee van Suid-Afrika se refleksie in 2017/18 gee, sluit onder meer in: Marita van der Vyver met ”Julle wat teister: Dis tyd om te luister’’ (Rapport Weekliks) in die LEES-kategorie: Beste essay, rubriek of opiniestuk met haar opiniestuk oor die #MeToo-veldtog (jy kan hier meer oor #MeToo lees: https://metoomvmt.org), Leti Kleyn met “Die Tankwa-Karoo kan ’n kind heel opvréét” – (Die Burger) vir Beste in-diepte artikel in die LEES-kategorie, Jamaine Krige vir Beste dokumentêre program of programreeks in die LUISTER-kategorie met Knysna: Na die brande (RSG), Melissa Tighy met Spektrum: Landwye betogings teen Zuma (RSG) in die Beste nuus- of aktualiteitsprogram in die LUISTER-kategorie en Byron Taylor vir die Beste insetsel in ’n aktualiteitsprogram in die KYK-kategorie met Fokus: Die groot gryp (SABC 2) wat gaan oor die grootskaalse diefstal van hout en vrugte in die Tzaneen-omgewing.

Baie van die wenners het dit ook pertinent gestel dat hul Veertjies nie ’n enkelprestasie is nie. Wynand Dreyer het televisie ’n ‘spansport’ genoem en verskeie wenners het hierdie sentiment geëggo en met groot lof na die onderskeie persone wat betrokke was by hul inskrywing (hetsy op televisie, die radio of in die gedrukte media) verwys.

Jy kan hier die volledige lys van 2018-Mediaveertjiewenners lees.

Afrikaans.com en die Veertjies

Su-an Müller-Marais. Foto: Verskaf.

In 2018 is een van Afrikaans.com se ambassadeurs, Su-an Müller-Marais, met ’n Veertjie bekroon vir die Beste aanbieder by ’n gemeenskapsradio vir haar program Su-an en so aan op GROOTfm 90.5.

Waldimar Pelser. Foto: Verskaf.

Waldimar Pelser, een van Afrikaans.com se beskermhere, is bekroon as Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram vir sy program KN in gesprek op kykNET.

Baie geluk julle!

**’n Uitsending van die 2018-Mediaveertjies kan op Sondag 20 Mei om 16:00 op SABC 2 gekyk word.

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!