• Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size
Druk

Om te sorg vir diere

F3Diereliefhebbers se sielskos is in hul werk, maar om diere te versorg verg dikwels buitengewone fisieke en emosionele stamina. 

Dieresorg daag jou uit – van hokke  skoonmaak  waar jy moet buk of kruip en die risiko loop om gebyt of gekrap te word tot speel met die kostelike kleingoed. Van gekontroleerde waarneming van wilde diere tot gevorderde sjirurgie – van oop veld of welige oerwoud tot in teatersale – oral is jy nodig. 

Diereherberge en beskuttings, veeartsenypraktyke, stalle, dieretuine en akwariums is maar 'n paar instellings wat werk bied aan mense wat diere versorg. Baie werkers in hierdie veld ontvang indiensopleiding, maar sommige werke, soos dié van 'n dierkundige of veearts, vereis nagraadse opleiding in dierkunde.


'n Beroep in dierkunde en veeartsenykunde

Vir troeteldiereienaars is diere deel van die gesin. Die vraag na sorg dek nie net mediese aandag nie, maar ook terapie en afrigting van diere, algemene gesondheid- en skoonheidsorg, betroubare verblyf as eienaars weg is, speelgoed, beddegoed, daaglikse stappies...

Werkgeleenthede is volop in hierdie bedryf. Dierebeskuttings wat nie gereelde geldelike steun kry nie, moet staatmaak op vrywilligers vir bystand met diere. 

Dis juis hier waar jy jou eie staal en sagte vat kan toets. Begin werk as vrywilliger en jy kan jouself dalk vind in die omgewing waarvoor jy geskape is.


F4Werk in die veld, op die plaas of in die teater

’n Veearts diagnoseer siek en beseerde diere deur die dier te ondersoek om die aard van die siekte of besering te bepaal, en dan korrek te behandel deur medikasie óf ’n operasie. 

Jy gee deurentyd raad aan eienaars oor inentings, diere-higiëne, voeding en dag-tot-dag versorging om dieregesondheid te bevorder. Veeartse behandel baie soorte diere: van honde, katte en plaasdiere tot voëls, visse en reptiele.

Nadat hulle afgestudeer het, werk veeartse meestal as assistente by gevestigde praktyke. Eers wanneer hulle die toerusting kan bekostig, begin hulle met ’n eie besigheid. As jy as vrywilliger begin werk, verstaan jy lankal die eise van lang werkure en die krisisse van noodgevalle. 

Omdat jy help en pyn verlig terwyl jy inligting en opvoeding aan mens en dier gee, kry jou eie lewe dieper betekenis en word daaglikse uitdagings deel van die balans tussen beproewing en ware lewensplesier.

Dis ongelooflik hoe swak mense oor dieresorg ingelig is en hoe dikwels diere mishandel word. Jy kan mens en dier help.


Neem jou eerste stap as vrywilliger

Leer eers die omgewing, die taal en die vereistes van dieresorg ken deur naweke of vakansies as vrywilliger te werk. Dis ’n uitstekende manier om jouself  te leer ken en gee jou boonop ’n goeie idee  van wat verder in die bedryf.van jou vereis sal word. Jy het dus ’n groot voorsprong bo ander.


F5Watter veld van dieresorg sou jou interesseer?

Dierkundiges doen navorsing op verskeie gebiede – soos teling, behuising, sanitasie, parasiet- en siektebeheer, dierevoeding en beheer van opreggeteelde diere.

Omdat die veld letterlik vol slagysters, waninligting en gevare is, is dit voortdurend 'n soektog na nuwe oplossings vir ou  probleme.

 

Jy moet kan raad gee:

oor produkte en tegnieke om dieretelery te verbeter;
oor dierevoeding en die voedingswaarde van dierevoer; en
oor die invloed van omgewingsfaktore op die gehalte van diereprodukte...


Maar jy moet ook iets van die mensdom weet en hoe om mense te hanteer. Diere se probleme word meestal deur mense geskep en jy sal dikwels taaier handskoene nodig hê om met onnosel en wrede mense te werk  as met gevaarlike diere...


F6Jy hoef nie 'n veearts te word om diere te help nie

Sê nou jy is mal oor perde maar kan nie een bekostig nie? Sê nou jy as perdeliefhebber wil nie 'n veearts word nie maar is heeltemal te lank om 'n jokkie te wees?

Wel, wat van die baie belangrike dienste van 'n stalwerker?

Stalbestuurders hou toesig oor die stalwerkers wat die stalle en perde versorg. 

Jy moet sorg dat kos- en watertrôe skoon is en dat die diere genoeg voer het.  Die stalbestuurder bepaal hoeveel kos die diere moet kry volgens die groei, gesondheid, aktiwiteit en grootte van die dier. Stalbestuurders en -werkers monitor tekens van siekte of besering, roep veeartse in en behandel diere verder volgens instruksies van die veearts.

Jou liefde vir die diere, flinkheid, betroubaarheid en dissipline kan verdere deure vir jou oopmaak en steun wen vir verdere studies!


F7Gevleuelde vriende

'n Voëlkundige bestudeer nie net voëls nie, maar ook hul omgewingsrol in verhouding tot plante en ander diere in balans met ekologie of wildlewe. 

Voëls word in hul natuurlike habitat bestudeer om meer uit te vind oor hul oorsprong, gedrag, interaksie met die totale omgewing, verandering in lewensprosesse na gelang van die mens se inname van die natuur, siektes, omgewingsvoorkeure, groei, ontwikkeling en genetika. 

Voëlkundiges versamel ook monsters vir laboratoriumstudies, voer disseksies uit en berei versamelings voor vir mikroskopiese ondersoek. Chemikalieë en verskeie tipes wetenskaplike toerusting word gebruik om hierdie studies uit te voer en daarom is Wiskunde, Chemie, Biologie en Wetenskap goeie vakke om op skool te neem. 

In hierdie veld van sorg help jy ook met die vang en ring van bedreigde spesies, invoer van data en voorbereiding van verslae. 

Voëlkundiges moet  fisiek sterk wees, die vermoë hê om onafhanklik en in spanne te werk, gemotiveerd wees, en lang ure in alle weerstoestande kan verduur.

Diere- en veeartsverenigings waar jy kan aanklop


SAVVT – Ferm hand oor dieresorg

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Veeartsenykundige Tegnoloë (SAVVT) bou nouer samewerking tussen die land se veeartsenykundige tegnoloë en verbeter die opleiding deur die inhoud van die kurrikulum op te dateer om tred te hou met nuwe vordering. 

Veeartsenykundige tegnoloë hou 'n sterk hand oor dieregesondheid en -produktiwiteit in Suid-Afrika. 

www.saavt.co.za


SAVV – Beter bestaan tussen mens en dier

Die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging (SAVV) voorsien lede van nuwe inligting en beywer hulle daarvoor om die beeld van veeartse te bevorder. 

Die speelveld dek die hoogste professionele en wetenskaplike standaarde, korrekte gebruik van professionele kennis, uitbou van vaardigheid en hulpbronne asook die bou van nouer bande met die gemeenskap om die welstand van diere in samehang met die mensdom te bevorder.

Vind uit of jy as vrywilliger kan betrokke raak. Dit kan dalk deure oopmaak.

www.sava.co.za


SASAS – Wonder en wetenskap

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Dierewetenskap (SASAS) is 'n vereniging van dierkundiges wat diere-landbou beoefen volgens die nuutste wetenskaplike vooruitgang. 

Besoek die webwerf vir 'n fees van interessante inligting oor dierkunde.

www.sasas.co.za


BirdLife South Africa – Voëlvrye inligting

BirdLife South Africa gee leiding aan enigiemand wat in voëls en hul voortbestaan belangstel. Die vereniging bevorder die genot, bewaring, begrip en studie van wilde voëls en hul habitat. 

 www.birdlife.org.za


SAJA – Saal 'n nuwe perd op

Hoekom nie sommer die kroonperd wenpaal toe vat nie? Die Suid-Afrikaanse jokkie-vereniging verteenwoordig gelisensieerde jokkies dwarsoor Suid-Afrika. Dit streef daarna om die welstand van alle lede te verbeter deur die bevordering van gelyke regte, veiligheidsbeheer en ’n beter lewensgehalte vir alle gelisensieerde jokkies in Suid-Afrika. 

'n Jokkie werk nie om renperde van die wegspringhek tot oor die eindstreep op 'n renbaan te looi nie.  Hy bou 'n intieme en fyn gedissiplineerde verhouding met die kroonperde. Hy beraadslag met afrigters om strategieë vir die wedren te beplan en moet na afloop van die resies nabetragting doen om die vertoning te ontleed.  Goeie kommunikasie tussen mens en dier is van groot belang.

Jokkies moet liggewig maar veerkragtig wees en moet voor elke wedren inweeg om te verseker dat hulle aan al die streng gewigsregulasies voldoen. 

Akkuraatheid, stamina, dissipline en bowenal ‘n liefde vir perde is deel van die wenresep.

www.sajockey.co.za


Opleiding

Kontak die instansies hierbo en kry koers as vrywillige werker, leerlingjokkie of stalwerker en jy kan op menige maniere byna direk na skool by dieresorg betrokke raak. 

Onthou - As vrywilliger kan jy ervaring en later selfs geldelike steun wen vir opleiding. Spring in en bou jou droom. Jy kan selfs op skool al begin om 'n voorsprong te behaal.

Maar, as jy 'n veearts wil word, moet jy 'n graad in veeartsenykunde voltooi.


Aanbevole skoolvakke

Wiskunde, Wetenskap en Biologie is noodsaaklik. Maar ook vakke wat jou kommunikasievaardighede afrond. Jy moet bv. gemaklik met dier-eienaars kan gesels tydens trauma en weet hoe om tydens krisisse kalm op te tree, bv. met voorvalle van ernstige besering – of genadedood van geliefde troeteldiere.

Media24 Naspers culturalaffairs DGMT Rupert Stigting Die Burger Het Jan_MArais_Nationale_Fonds dagbree