Die Taalmonument

 Meer as bloot klip en sement?

Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat kan spog met ´n monument tot sy eer. Klik en verken die monument van alle kante:

 

 

Is daar 'n taalmonument in jou geweste?

Kom vertel ons van die taalmonument op jou dorp of in jou omgewing. Ons wil graag die taalmonumentkaart 'n interaktiewe ervaring maak met interessante inligting en mooi foto's. Stuur vir ons 'n foto van jou of jou gesin se besoek aan jou plaaslike taalmonument.  

Die Taalmonument word 40 jaar oud

 

Netwerk 24 het hierdie pragtige grafika voorgestel ter viering van die Afrikaanse Taalmonument. Dit het dekades geneem om genoeg geld in te samel om die monument vir Afrikaans te bou. Die Taalmonument teen die hange van Paarlberg is nie die enigste taalmonument in die land nie. Die oudste een staan op Burgersdorp en is eintlik opgerig vir die erkenning van Hollands. Die dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig. Lees meer ...

Lees meer oor die Taalmonument, wie en wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) was, die inspirasie, die simboliek, argitek en die vernaamste rolspelers, of volg die skakel na: www.taalmuseum.co.za

Wie en wat was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)?

  • Arnoldus Pannevis, Nederlandse taalkundige, het besef dat die taal wat die mense in Suid-Afrika gepraat het, reeds 'n taal uit eie reg was en het voorgestel dat dit Afrikaans genoem word.
  • Pannevis het rondom 1870 aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word sodat almal in Suid-Afrika dit kon verstaan.
  • Die Bybelgenootskap het aan ds SJ Toit opdrag gegee om ondersoek in te stel daarna en of daar werklik 'n behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel bestaan.
  • Ds du Toit het 'n groep vriende en familie op 14 Augustus 1875 vir 'n vergadering byeengebring in die huis van sy neef Gideon Malherbe om die vertaling van die Bybel in Afrikaans te bespreek. Die vergadering is bygewoon deur CP Hoogenhout; Ds SJ du Toit; GJ Malherbe; DF du Toit (seun van DP); August Ahrbeck; PJ Malherbe; DF du Toit (seun van DF) en SG du Toit.
  • Daar is tydens die vergadering waar besluit moes word of die Bybel in Afrikaans vertaal moet word, besluit om 'n vereniging te stig wat hom daarvoor kon beywer dat Afrikaans erkenning as 'n skryftaal geniet, en so het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom.
  • Een van die eerste dinge wat die GRA gedoen het, was om 'n Afrikaanse koerant uit te gee. Die titel daarvan was Die Afrikaanse Patriot en dit het op 15 Januarie 1876 vir die eerste keer verskyn.
  • Die GRA het hulle vergaderings teen die begin van die 20ste eeu gestaak. Teen daardie tyd het die Afrikaanse taalbeweging genoeg momentum gehad om dit onomkeerbaar te maak.

  Lees meer

Uittreksels uit die oorspronklike “Oproep” om die Afrikaanse Taalmonument te bou

. . . ʼn beroep word hiermee gedoen op alle belangstellendes, Afrikaans- en Engelssprekend, blank en nie-blank, om hulle deel by te dra tot die grootse taak wat voorlê. Die hoop word gekoester dat op elke dorp in ons land ʼn komitee gevorm sal word vir die insameling van fondse en die aanwakkering van belangstelling in hierdie lofwaardige onderneming. Deur die daarstelling van ʼn gedenkteken ter nagedagtenis van die eerste voorvegters vir die reg en voortbestaan van Afrikaans vervul ons volk ʼn heilige plig. Ons kan nie anders as om met dankbare erkentlikheid vervul te wees teenoor diegene wat die eerste stoot gegee het aan ʼn beweging wat gelei het tot die ontwikkeling van ʼn nuwe taal in Suid-Afrika – ons eie Afrikaanse Taal.

Ongetwyfeld is dit die skitterendste prestasie in ons Suid-Afrikaanse Kultuurgeskiedenis. Maar dit is verder ook ons plig teenoor ons kinders en teenoor diegene wat na ons sal kom, wat die geskiedenis van die stryd vir die bestaansreg van Afrikaans nie meegeleef het nie, om aan hul op een of ander manier te toon hoe diep dankbaar ons is vir wat hierdie kultuurhelde vir ons gedoen het, hoe groot ons erkentlikheid is vir die onskatbare erfenis wat hul ons nagelaat het.

Dit is ons plig om daardie roemryke stukkie geskiedenis in die gemoed van ons kinders op die mees indrukwekkende wyse in te skerp. Weet ons kinders wat die prys is wat betaal is vir die groot erfenis? En as hul dit nie weet nie, hoe sal hulle ooit die groot skat behoorlik kan waardeer en liefhê?

Ten einde dan ons volksdankbaarheid vir wat tot stand gebring is by ons kinders te laat posvat, kan ons iets beter doen dan om hierdie gevoel te simboliseer in ʼn vorm wat waardiglik sal pas by die grootse taak wat verrig is en so ook by die volk wat die vrugte daarvan pluk en in die toekoms nog sal pluk?

Laat dit ons eer wees om deur hartlike samewerking ʼn plig te vervul wat ons kinders die reg het om van ons te verwag.

  Lees meer ...

Inspirasie vir die ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument

Een van Jan Van Wijk (argitek) se belangrikste ontwerpbeginsels was dat die nuwe monument by die natuurlike terrein moes inskakel en dit moes aanvul.

Hy het vertel dat hy ter voorbereiding die Paarl besoek het en met ʼn ou brandbaan opgegaan het na die voorgestelde terrein: “Ek en my vrou het eers hier rondgeloop en toe gery na die pas daar oorkant; Franschhoek toe; na Klapmuts toe; en gekyk hoe die terrein van ver af lyk, want die monument moes sigbaar wees.” Van Wijk het besluit dat die lyne en ander elemente van die monument die natuurlike lyne van die omgewing moes naboots, en dat die boumateriaal by die rotse op die berg moes inpas.

Die volgende stap was om ʼn gepaste beeld te soek wat Afrikaans kon voorstel. Die meetkundige in Van Wijk het onmiddellik ʼn wiskundige hiperbool herken in die beeld wat die bekende skrywer CJ Langenhoven gebruik het om Afrikaans as skryftaal te beskryf, naamlik ʼn “snelstygende boog”. So is die idee van die groot suil gebore, met heel bo ʼn oop punt wat groei voorstel. Van Wijk het vir homself gesê: “Wonderlik – sien daar jou taal – ʼn lekker vorm. Maar hy kan nie net ʼn vorm wees nie, daar moet ook definisie wees.”

Om hierdie definisie visueel uit te druk, het Van Wijk die woorde van die skrywer NP van Wyk Louw gebruik, wat Afrikaans beskryf as die taal wat Wes-Europa en Afrika soos ʼn brug verbind. Louw beskryf Afrikaans ook as ʼn “glansende werktuig” en ʼn “tweesnydende swaard”. Al hierdie gedagtes het die monument in Van Wijk se geestesoog laat vorm aanneem en uiteindelik in die struktuur en simboliek daarvan neerslag gevind.

  Lees meer ...

Simboliek van die Afrikaanse Taalmonument

  • Links (wes) van die aantrede tot die monument staan drie suile wat die Wes-Europese tale en kulture verteenwoordig – Hollands, Frans, Duits, Portugees en ander. Nie een van die suile verteenwoordig ʼn spesifieke taal nie; die getal drie is gebruik omdat dit ondeelbaar is. Dit loop van hoog na laag om die verminderende invloed daarvan op Afrikaans uit te beeld. Die suile begin as aparte strukture wat dan in ʼn stygende kurwe saamsmelt om deel van die hooflyn van die monument te vorm. Die hoogste een van die drie is ongeveer 13,5 m (44 vt.) hoog.
  • Regs (oos) van die aantrede is ʼn podium wat die suidpunt van Afrika verteenwoordig. Op die podium is daar drie rondings, wat die invloed van die Khoi-, Nguni- en Sothotale simboliseer en, anders as die simbool van die Europese tale, in grootte toeneem. Hierdie strukture is só geplaas dat hulle ʼn kurwe vorm wat by die hooflyn (naamlik Afrikaans) aansluit, en so die kring voltooi.
  • Waar die twee kurwes van Wes-Europa en Afrika bymekaar kom, word ʼn brug gevorm, wat die versmelting van die twee kontinente se tale versinnebeeld.
  • Die Maleise taal en kultuur word deur ʼn muur op die trapaantrede van die monument voorgestel. Die muur is só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan (omdat Maleis van die Ooste is), maar tog ʼn eenheid vorm met die twee kragte van Wes-Europa en Afrika wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis van Afrikaans uitbeeld.
  • Die hoofsuil van die monument stel die snelstygende boog van Afrikaans en sy versnellende groei voor. Die suil staan in ʼn poel water en dit versterk verder die gedagte van Afrikaans as ʼn lewende, groeiende entiteit, wat lewensonderhoud nodig het vir sy voortbestaan. Die skerp lyne van die suil verbeeld die tweesnydende swaard van Van Wyk Louw. Die suil is ongeveer 57 m (186 vt.) hoog en dit eindig oop en stomp om aan te dui dat die groeiproses nog steeds voortgaan. Die ligspel in die monument, as gevolg van die waterpoel en die openinge in die hoofsuil, versinnebeeld die taal as glansende werktuig.
  • Saam met die hoofsuil in die poel staan daar nog ʼn suil, wat die Republiek van Suid-Afrika uitbeeld. Die suil staan los van Afrikaans en het op sigself niks met Afrikaans te make nie, maar met die geheel. Die pilaar is oop na Afrika om aan te dui dat interaksie tussen Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika voortdurend plaasvind.

  Lees meer ...

Die geskrewe woord by die monument

Dit is ons erns

Die geskiedenis van die bewoording wat in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring is, “Dit is ons erns”, kom ʼn lang pad. Dit gaan terug na 6 Maart 1905, toe die politikus JH Hofmeyr (Onze Jan), ʼn toespraak op Stellenbosch gehou het met die titel “Is’t u Ernst?” Hy was die genooide spreker by ʼn vergadering van Ons Spreekuur, ʼn Hollandse taal- en kultuurvereniging vir studente. Ironies genoeg, was hierdie toespraak nie gemik op die bevordering van Afrikaans nie. Onze Jan was ʼn voorstander van vereenvoudigde Hollands, en sy toespraak was ʼn pleidooi vir die herstel van die regte van Hollands. Dit was natuurlik in reaksie op die Britse heersers se verengelsingsbeleid. Die titel van die toespraak was dus ʼn vraag wat daarop gemik was om die studente daarvan bewus te maak dat hulle die kwessie van taal ernstig moes benader.

In die toespraak jaag hy talle Afrikaansgesindes die harnas in met sy bewerings dat daar oral Engels gepraat word ten koste van Hollands deur mense wat hy Hollandsch-Afrikaansche boeren noem.

In reaksie op die toespraak skryf historikus en taalstryder Gustav Preller vanaf April tot Junie 1905 ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die opskrif: “Laat’t ons toch ernst wezen”. Hy span dus Onze Jan se wekroep in tot aansporing van die gebruik van Afrikaans (nie Hollands nie). Hy wys uit dat die probleem nie lê by ʼn gebrek aan erns nie, maar by die miskenning van Afrikaans vanaf regeringskant.

Dr DF Malan, voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging en latere Volksraadslid, lewer in 1908, ook op Stellenbosch, ʼn kragtige pleidooi vir Afrikaans, in ʼn toespraak met die bevestigende titel “Het is ons ernst” (vroeë Afrikaans vir “Dit is ons erns”). Die toespraak is so gewild dat dit in pamfletvorm versprei word.

Toe daar in 1974 ʼn sentrale tema vir die 1975 Taalfeesjaar gesoek is, is daar op die Afrikaanse vorm van hierdie aanhaling besluit, naamlik “Dit is ons erns”. Die bewoording het daarna op alle publikasies in verband met die Taalmonument verskyn, en is selfs op die monumentkomitee se amptelike skryfmateriaal gebruik. Argitek Jan van Wijk het voorgestel dat die woorde ook in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring word om die mens aan te gryp wanneer hy die trappies bestyg, en sy aandag te vestig op wat die monument wil sê.

CJ Langenhoven

Die argitek Jan van Wijk het CJ Langenhoven se woorde gebruik as inspirasie.

CJ (Cornelis Jacobus) Langenhoven, ook bekend as Sagmoedige Neelsie, was een van Suid-Afrika se produktiefste skrywers. In die vroeë dekades van die 20ste eeu is hy as volksbesit beskou. In Julie 1914 het hy in Bloemfontein ʼn lesing getiteld “Afrikaans as voertaal” voor De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Lettere en Kunst gelewer. Uit daardie lesing het die argitek Jan van Wijk die volgende woorde as inspirasie geneem:

As ons nou hier in die saal af ʼn ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal ʼn merk sou maak op ʼn hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ʼn streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep ʼn snelstygende boog beskryf – nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ʼn vinnig vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng vir die tien komende jare van nou af. Sien u, menere, waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein in die jaar 1924.

NP van Wyk Louw

NP (Nicolaas Petrus) van Wyk Louw was een van Afrikaans se grootste skrywers, digters en denkers, en deel van die skrywersgroep wat as die Dertigers bekendgestaan het. Hy het in 1959 ʼn essay oor die stand van Afrikaans geskryf met die titel “Laat ons nie roem nie”. Daarin skryf hy onder andere (alle klem die skrywer s’n):

Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; hulle is albei groot magte, wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.

Verder skryf hy ook: Dis nie óns verdienste, óns Afrikaners s’n, dat daar aan ons ʼn werktuig gegee is wat in twee sulke smidswinkels (so ver uit mekaar) en deur soveel eeue gesmee is nie. Dis aan ons gegee; gemaak het ons dit nie. Ons taak (en as daar ooit verdienste sal wees, kan alleen dít ons verdienste wees), óns taak lê in die gebruik wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig, hierdie tweesnydende swaard.

  Lees meer ...