Vrouemaand 2018

Anne-Marie Beukes

‘n Slimkopprofessor en veral geesdriftig oor Afrikaans.

Prof. Anne-Marie Beukes is welbekend in taalkringe en lewer ‘n bydrae in haar loopbaan, maar dien ook op verskeie rade waar sy deelneem aan hoëvlakgesprekke, waar sy debat aanmoedig,  haarself as gedugte onderhandelaar vestig en denkrigtings beȉnvloed. Sy is ‘n hoogleraar in Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg en is iemand wat alles in haar vermoë doen om seker te maak dat daar genoeg kundiges is om vertaal- en tolkdienste te lewer. Sy het grootgeword in Nigel, ‘n dorp aan die Oos-Rand en het haar matriek aan Hoërskool John Vorster geskryf. Daarna is sy na die destydse RAU waar sy ‘n BA-graad in Tale verwerf het. Haar honneurs- en magistergraad in Afrikaans het sy aan die Universiteit van Pretoria verwerf en weer na die RAU vir ‘n DLitt.et.Phil-graad in Toegepaste Linguistiek teruggekeer. Benewens haar akademiese loopbaan wat deurentyd momentum het, staan sy ook aan stuur van taalbeplanningsprojekte. Sy sonder haar werk saam met dr Neville Alexander uit as ’n besonderse hoogtepunt. Die tegniese komitee waarvan sy lid was, was verantwoordelik vir die skryf van die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (1995). Saam met internasionale adviseurs is daar ook ’n aanvoorprojek geloods vir die regering se Telephone Interpreting Service for South Africa.

Anne-Marie woon in Pretoria en pendel elke dag tussen Pretoria en Johannesburg. Sy reis graag, is baie lief vir lees en probeer altyd om by te bly met al die nuutste Afrikaanse letterkunde op die rak. Haar liefde vir Afrikaans voer sy terug na haar ouerhuis waar haar ma haar bekendgestel het aan die skoonheid van die poësie van onder meer Elisabeth Eybers. Dit is skone klanke soos daardie wat haar hart altyd vinniger sal laat klop, sê sy. Sy is ook ‘n beskermvrou van Afrikaans. Lees meer oor haar hier.

Ingrid de Waal

’n Innoverende entrepreneur –  Ingrid de Waal boer met laventel, maar ook met Afrikaans.

(Vroue-entrepreneur van die Jaar: Kommersieel.)

Afrikaans.com het onlangs by Ingrid de Waal gekuier waar die sagte, soet reuk van laventel onmiddellik om jou vou.

Ontmoet vir Ingrid de Waal

Conrad Sidego, Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch saam met me Ingrid de Waal op haar laventelplaas.

Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede saam met Ingrid de Waal en Ilse Ruthford (verlede jaar se wenner).

Dis danksy hierdie laventel dat Ingrid de Waal, laventelboer van Canettevallei in Vlottenburg, onlangs deur die Wes-Kaapse regering aangewys is as die Vroue-entrepreneur van die Jaar: Kommersieel.

Sy spog met 2 hektaar “oliebosse” (Lavendin abrial) waarvan haar gesogte olies gemaak word. Hierdie bosse blom vir net ses weke aan die einde van die jaar. Haar lappie kleurryke  “Franse laventel” (Lavandula dentata) tower menige bruid se huweliksfees op en haar bossies blomme word elke jaar blitsvinnig opgeraap.

Sy het aanvanklik Frans aan die Universiteit Stellenbosch doseer, maar na haar huwelik met Daniel, ’n wingerdboer, het sy besluit om die akademie vaarwel te roep. Aanvanklik het sy moskonfyt op die outydse manier gekook, maar toe besluit om ook laventel te kweek vir die vervaardiging van vlugtige olies (essential oils).

“Eintlik het ek die dentata aanvanklik geplant sodat besoekers na iets kleurryk kon kyk wanneer die abrial nie in blom is nie.” Haar innoverende gees het egter gou die oorhand gekry en die res is geskiedenis.

Sy boer reeds 13 jaar met laventel. Soos haar besigheid gegroei het, het verskeie produkte bygekom. Sy distilleer die olie, sy droog die laventel, sny vars blomme, maak heuning en kook ook seep. Vandag kan sy nie voorbly om te voorsien aan kopers nie.

“Ek is passievol oor natuurlike seep en probeer sover moontlik plantmateriaal uit my tuin gebruik soos bloekomblare, malvablare en blomme, bloeisels van jasmyn, suurlemoen, olienhoutvrugte, kooigoed, aalwyn, vygies, brandnetel, ens. Dit dra alles by tot die geur- en/of kleurlae in my seep en verleen medisinale eienskappe aan die seep. Ons verskaf ons seep en laventelolie aan apteke, gesondheidswinkels en geskenkwinkels en ons verskaf blomme aan bruide en vir ander spesiale geleenthede. Ons pasmaak ook laventelsakkies vir gastehuise of hotelle.” Ingrid verkoop selfs droë blomme aan koeldrankmaatskappye, ander seepmakers en maatskappy wat kruiekure vervaardig.

Haar klein  winkeltjie. Laventelhaan, is op die plaas en is ook haar eerste afsetpunt.  Haar klein fabriek op die plaas verskaf werk aan drie enkel-mammas en nog vroue uit die plaasgemeenskappe van Vlottenburg. Sy het ook die vroue wat vir haar werk op ʼn kursus gestuur sodat hulle kon leer om seep te kook en hulle het nou hul eie stukkie grond  waarop hulle self laventel kan plant.

“Van die plaaswerkers en hul gesinne is al geslagte lank op hierdie plaas. Dit is vir my belangrik om die vroue te bemagtig,” sê sy.

Facebookblad: www.facebook.com/canettevallei/

Facebookgroep: www.facebook.com/groups/canettevallei/

Webwerf: www.canettevalleilavender.co.za

Instagram: canettevallei

Laventelhaan se proelokaalure: Maandag tot Saterdag vanaf 10:00 tot 17:00. Hulle is toe op Sondae en openbare vakansiedae.

Janine Adonis

’n ‘Meester’ op soveel vlakke – veral Afrikaans!

(Skoolhoof: Liebenberg Primêr in Malmesbury)

Janine is in 2008 as adjunkhoof by Liebenberg Primêr aangestel waar haar jaar op ‘n hoogtepunt begin het met ’n reis na die VSA waar sy die geleentheid gekry het om met verskeie oplossingsgedrewe leermodelle kennis te maak.

“Ek glo leerders moet blootgestel word aan verskeie kulture, maar moet nooit vergeet waar hulle vandaan kom nie.”

Sy het haar Gevorderde Sertifikaat in Onderwys:  Leierskap en Bestuur aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en is in 2009 afgevaardig om as Prestasiemetingskoördineerder in Onderwysdistrik:  Oos te werk.  Hier het sy haar bestuurskwaliteite ontwikkel en was ook betrokke by opleiding, veral in Khayelitsha.  In 2010 keer sy terug na Liebenberg Primêr, sy voltooi haar Honneursgraad in Onderwysbestuur aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en die res is geskiedenis.

Janine is in 2014 as die eerste vroulike skoolhoof  aangestel en baan onmiddellik die weg vir ander vroue om te volg.

“Dit is vir my ‘n besonderse eer en voorreg om op hierdie gebied ‘n verskil in ons gemeenskap, asook in die lewe van ons kinders, te maak.  Ek stem heelhartig saam –  onderwys is almal se verantwoordelikheid!”

Bridgitte Mathews 

‘n Passievolle slimkop

(ATKV-direksievoorsitter)

“Ek weet dat die ATKV aan niemand anders as sy lede behoort nie.”  – Nuwe ATKV-direksievoorsitter, Bridgitte Mathews

Bridgitte dien sedert 2014 op die ATKV-direksie. Sy beskik nie net oor ’n wye kennis van die Afrikaanse taal nie, maar is ook Engels, Zoeloe, Frans en Setswana magtig.

Sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het vir talle maatskappye as finansiële bestuurder opgetree. Sy dien ook in die finansiesportefeulje van die ATKV.

Sy bedryf haar eie besigheid wat konsultasiedienste in die areas van risiko en nakoming aanbied.

Afgesien van haar rol as direksielid van die ATKV, dien sy ook op ’n aantal direksies (genoteerde, sowel as private maatskappye) in die landbou-, eiendomsbeleggings-, finansiëledienste-, sowel as logistieksektore.

Indien jy op Netwerk24 ingeteken is kan jy meer oor Bridgitte hier lees.

’n Vrou vir Afrikaans wat alles behalwe ‘bak-en-brou’ in die raadsaal

Susan Lombaard

Sy het ’n dankbare hart wat klop in Afrikaans

(Uitvoerende hoof van Maroela Media)

Maroela Media is ‘n Afrikaanse digitale mediahuis wat nuus en ‘n verskeidenheid ander inligting wat vir die Afrikaanssprekende en sy leefwêreld relevant is, publiseer. Maroela Media het in Februarie 2017 meer as 1,2 miljoen unieke besoekers gehad. Dié mediahuis is tans die grootste gratis Afrikaanse webwerf, en die grootste Afrikaanse webwerf (betaald en gratis) op die internet.

Maroela Media het op 29 Julie 2011 sy digitale deure vir die publiek geopen. Die mediahuis het ten doel om ‘n gemeenskap van Afrikaanssprekendes op die internet te skep. In die eerste maand het 7 000 mense die webwerf besoek. In die maand Augustus 2014 het Maroela 850 000 unieke besoeke gehad. Teen 2017 het 637 500 persone die webwerf op ‘n enkele dag, op 6 Februarie, besoek met 9 704 besoekers tegelykertyd op die webwerf. Volgens Effective Measure het Maroela Media in Maart 2017 1.6 miljoen unieke besoekers gehad en 14.6 miljoen bladsye bedien. Aan stuur van sake is Susan Lombaard.

“Wat ons anders maak, is die ervaring wat ons vir lesers skep: nostalgie, ‘n gevoel van behóórt, tuiskom, saam kuier in jou hartstaal. Ons gee nie net nuus nie; ons maak ons lesers deel van wie ons is.” – Susan Lombaard

’n Vrou met ’n HART – Susan Lombaard

*Kyk uit vir ons volgende Vroue vir Afrikaans – elke Woensdag reg deur Augustus!

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!