Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense – Namakwalands

Uit Afrikaans se drie hoofvertakkings – Kaapse Afrikaans, Oosgrensafrikaans en Oranjerivierafrikaans – het verskeie subvariëteite gespruit. Een van die kleurvolste daarvan is Namakwalands, met sy wortels in Oranjerivierafrikaans, skryf Johanna van Eeden.

“Ek is Grietjie van Garies, ouer as my tanne en net so oud soos my hanne.”

Met hierdie woorde het ouma Magrieta Adams van Garies in die harte van Suid-Afrikaners ingekruip. Met haar pienk kappie en onblusbare lus vir die lewe het sy Namakwalands laat lééf.

Magrieta Adams of te wel Ta’ Grietjie van Garies is op 14 April 2014 op 87-jarige ouderdom in die Bergsig-ouetehuis op Springbok oorlede.

Namakwalands het sy ontstaan in die gelyknamige distrik in die Noord-Kaap, waarvan die vernaamste dorpe Springbok, Garies, Port Nolloth, Kamieskroon, Alexanderbaai, Steinkopf, Hondeklipbaai en Leliefontein is.

Die taalkenner Tony Links het op Leliefontein grootgeword. Later jare het hy die verhandeling vir sy proefskrif in die letterkunde geskryf oor die taal van die mense van Kharkams, sowat 30 km noord van Garies.

Links het graag vir DF Malherbe aangehaal, wat gesê het: “Wie op die terrein van ‘n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink”.

Dis ook simbolies van al die variëteite van Afrikaans, wat saam bydra tot die rykdom van die taal.

Dele van Namakwaland is diamantwêreld, maar die gróót rykdom in die streek is sy blommeprag en die toerismepotensiaal wat dit ontsluit. Kyk jy verder as diamante en blomme en stem jou oor fyn in, ontdek jy in dié streek taaljuwele soos min.

Die inwoners – meestal bruin mense wat afstam van die Nama – is bekend vir hul kenmerkende uitspraak en idiomatiese taalgebruik. Die gebied is yl bevolk en omdat inwoners so op mekaar aangewese is, is daar min verskille in die uitspraak tussen bruin en wit mense.

Oorronding van klanke is algemeen. So word “speel” as “speul” uitgespreek en “sewe” as “seuwe”. Die voorvoegsel “on” word soms selfstandig gebruik – “die weer is on” pleks van “dis onweer”.

Dood word dikwels as ‘n oorganklike werkwoord gebruik, byvoorbeeld “Ek dood as dit my moet oorkom”.

Namakwaland se blomme

Dis ‘n woordeskat gebore uit ‘n hárde wêreld, met die warm weersomstandighede wat eens deur Links beskryf is as ‘n “halwe helletjie”. Links meen “die toestande waaraan die Namakwalander onderworpe is, vind neerslag in sy taal”.

Die redusering van klanke of lettergrepe kom gereeld voor, byvoorbeeld “kros” vir “karos” en eiename word saam met “-goed” gebruik, soos “Elias-goed”. Die toutologiese meervoudvorm – “dokterse” pleks van “dokters” is algemeen, terwyl die dubbele verkleiningvorm soos “vleisietjie” tipies is van Namakwalands.

“Ge-” word by feitlik enige werkwoord gebruik, soos “geonthou” en “geverbrand”. Die opvallendste verskil is volgens Links waarskynlik die gebruik van die besitlike voornaamwoord, waar “sy ryding” as “hom se ryding” beskryf word of “sy donkies” as “hom se donkies”.

Maar die helderste blomme lê in Namakwalands se beeldryke woordeskat. PJ Lemmer skryf “hulle sê ‘n ding soos hulle hom sien”.

Waar anders in Suid-Afrika het jy ‘n boepens soos ‘n potbrood? Gaan jy dood, gaan jy sandkooi toe. En as jy dink jy is snaaks, hou jy vir jou perkaatlik.

Iemand met breë heupe het ‘n uitstaankruis soos ‘n trolliestoter. En as jy honger gaan slaap, gaan jy plankpens lê.

Om hierdie kleurryke taal te waardeer moet jy – soos die Namakwalander sal sê – haaswakker wees (vlug van begrip)!

Televisiekykers sal die klanke van Namakwaland herken uit die gewilde reeks “Die Manakwalanders” wat in 1994 op die kassie was. Dis ‘n uitspraak wat eers vreemd op die oor val en dan ‘n lêplek kry in jou hart.

Soos die digter Florence Anne Filton sê: “Namakwaland word geken net deur sy blomme, maar die Namakwalandse taal staan heeljaar in blom.”

Oorsprong

Die grondslag vir Oranjerivierafrikaans is gelê toe die Khoi-veeboere vanaf 1713 uit die Kaap weggetrek het. Sommige bronne beweer dit was om weg te kom van die pokke-epidemie. Hulle het hul aangeleerde Nederlands saamgeneem en met hul trek sendelinge en die Nama teëgekom – en so nóg vertakkings van Afrikaans geskep.

Nama is vandag die grootste van die oorblywende Khoisan-tale. Daar bestaan nie amptelike syfers nie, maar in 2011 is geskat die taal het nog net sowat 10 000 sprekers oor. Veral jonger Namas weet niks van hul taal of kultuur nie. Terwyl daar vandag ‘n warm debat gevoer word oor die behoud van Afrikaans, is die Nama se probleem juis dat Afrikaans oor die jare die Khoisan-tale verdring het.

In Namakwaland is daar ‘n vars, nuwe stem wat almal besig is om van notisie te neem! Verby is die dae toe hy op skool gespot is omdat hy besluit het om ‘n groot droom na te jaag, want in die afgelope paar jaar is dinge besig om vinnig spoed op te tel vir Vito Heyn, beter bekend as die Namakwalandse rymkletser, V.I.T.O. In ons reeks ‘Op pad met Afrikaans’, gesels Anoeschka von Meck met hom en hy deel sy liefde vir die Nama-taal.

Nama en die ander Khoe-tale, gekenmerk deur klapgeluide, was destyds vreemd vir die Europese setlaars. Die Nederlander Olferd Dapper skryf in 1668 die taal “is voor de Europeanen verdrietig te horen, onmogelyk te leeren . . .  want zy klappen met ieder woord, dat zy spreken, als wanneer men met de vingers een knipslag maakte . . .”

Namakwalanders is lief vir hul taal. Joha van Dyk is ‘n Namakwalander met die woelige verbeelding van iemand wat haarself van kleins af self moes besig hou! En hoewel sy aan die Universiteit Stellenbosch studeer, brei sy onbeskaamd en weier om haar ‘aksent’ te verander om ‘in te pas’. Kyk hier …

Afrikaans se Nama-erfenis is van die kleurrykste blomme in ons taal

Tog is daar woorde in Afrikaans wat tot vandag toe gebruik word, wat direk van die Nama kom, byvoorbeeld “abba”.

Uit dié geskiedenis het Afrikaans ‘n onmisbare kulturele en letterkundige erfenis gekry. So gebruik die skrywer Elias P. Nel byvoorbeeld ryklik Oranjerivierafrikaans in sy boeke.

Van die uitdrukkings in sy boeke is kosbaar. Hier is van die Namakwalandse  raak sêgoed: “’n Ongeluk is altyd gouer as ’n geluk.” En: die lewe is soos ’n rivier “wat sy lope loop, newwermaaind wat die mens ok al stane traai om te probeer om daaraan te veranner”.: Wanneer jy honger raak, besluit jy “dis tyd om ietsietjie oener’ie hemp te sit”. Wanneer jy te veel gedrink het, loop jy langs jou skoene. Water is so helder “lat jy jou daarin kan spieël”. En ’n man se “hanne” is so groot soos sopborde en sy vingers hang daaraan soos ’n uitgegroeide bossie wortels.

Hier word jaarliks gerieldans dat die stof staan op die wysies van onder andere Pieter van der Westhuizen se volksliedjies.

Nel sê die rieldans is “vir mense met slap knieë, lang asems en ‘n klomp speelsheid in die gene . . . Dis die oerdans wat ons by die Khoi en San geëerf het”.

Kyk hier …

Ontmoet vir Bossie Brand. Hy is ‘n trots Afrikaanssprekende Nama met ‘n voorliefde vir die veld. Bedags werk hy as sekuriteitswag in Springbok, maar na-ure sal hy sonder skroom sy jakkelsvel aantrek en met sy bobbejaanknopkierie die veld instap waar hy dassiepisklonte kap waarvan hy aftreksels vir veldmedisyne maak.

En as jy self uitasem gekyk is na dié lyflike viering van Afrikaans, kan jy maar soos tannie Grietjie Adams sê:  “Hoe lyk dit met ’n applousie?”

Lees ook …

ATKV: Die riel is in ons siel. Klik hier…

Afrikaanse Wikipedia: Lees meer oor Namakwaland

Huisgenoot: Namakwalandse Afrikaans

Ambassadeur vir Afrikaans: Kim Meissenheimer

Namakwaland se idiome

https://www.atkv.org.za/Korporatief/Nuus/ArticleID/14123/ATKV-Rieldansfinaal-Die-riel-is-in-ons-siel

https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Promosies/speul-saam-en-leer-bietjie-namakwalandse-afrikaans-ken-20170528

http://www.woes.co.za/bydrae/rubriek/idiome-namakwaland-my-hart-se-punt-idiome

Ambassadeur vir Afrikaans: Kim Meissenheimer

Namakwaland se idiome

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!