Reeks: Afrikaans is #onmisbaar in die mond van sy mense – Griekwa-Afrikaans

Afrikaans is onmisbaar in die mond van sy mense. Haar krag lê in álmal wat dit praat – ongeag dialek of variëteit. Vroeër jare was dit ‘n emosiebelaaide debat, toe sommige sprekers gemeen het Standaardafrikaans staan in ‘n hoër sosiaal-maatskaplike klas as die res.

“Kaaps is nie wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey noem nie en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gammat-taal noem nie. Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: die volle lot, hulle volle lewe “met alles wat daarin is”; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.” – Prof. Adam Small n.a.v. die stigmatisering van Kaaps

Small het hom sterk uitgespreek teen stigmatisering van Kaaps, maar dit geld vir alle variante en dialekte van Afrikaans – en dit is juis hierdie persepsie wat Afrikaans.com deur ons jongste veldtog – Afrikaans is #onmisbaar – dink na oor die waarde van JOU taal –  wil belig. Die egtheid en eiesoortigheid van almal wat Afrikaans praat. Jou taal gee jou unieke menswees vastrapplek … dis wie jy is en waar jy behoort.

Vandag is daar ‘n diep besef van die onskatbare rykdom wat opgesluit lê in die verskillende variëteite van Afrikaans. Johanna van Eeden het gaan kyk waar Griekwa-Afrikaans inpas in dié taallegkaart.

Griekwa-Afrikaans

“Ek slat my twee oge op

my kyk vang die verste kop:

waavanaf sal my hulp nou kom?

My hulp is vannie Jirre, van Hom . . .”

Vir die breër Afrikaanse gemeenskap is dié woorde waarskynlik van die blinkste juwele in die Afrikaanse skatkis: Griekwa-Afrikaans uit Hans du Plessis se “Gewete van Glas”.

Griekwa-Afrikaans as streektaal het sy wortels in Oranjerivierafrikaans.

In die vroegste jare in die Kaap het drie variëteite van Afrikaans ontstaan, waaruit ander mettertyd gegroei het. Die slawe het Kaapse Afrikaans gepraat, die Khoi – wat uitgewyk het na die noorde – het Oranjerivierafrikaans gepraat en die Vryburgers wat Oosgrens toe is, het Oosgrensafrikaans gevestig.

Oorsprong

Adam Kok (1848)

Griekwakaptein Nicolaas Waterboer

Khoi-Afrikaans staan in die Noord-Kaap as Griekwa-Afrikaans bekend en het sy ontstaan in die gelyknamige Griekwastad in die Noord-Kaap gehad, waarheen Adam Kok, ‘n vrygestelde slaaf, sy mense rondom 1800 gelei het namate die druk in die Kaap op die Khoi toegeneem het.

Du Plessis wys daarop dat Afrikaans volgens die jongste navorsing nié spontaan uit Nederlands ontstaan het nie, maar dat dit die resultaat is van die Khoi en die Nederlanders se poging om mekaar reeds sedert 1595 te probeer verstaan.

Die kommunikasie het noodsaaklik geword namate die Khoi meer ekonomies afhanklik geraak het van die koloniste. Sommige kenners sê dit was makliker vir die Khoi om Nederlands te probeer bemeester as vir die Europeërs om Khoi te leer. ‘n Mens sal waarskynlik nie kan onderskat wat die impak van die magsverdeling in hierdie verhouding was en hoe dit die taaldinamika beïnvloed het nie.

Uit die Vernederlandsing én met die invloed van unieke Afrika-kenmerke, verder aangehelp deur ondertrouery met Europeërs, het Oranjerivierafrikaans ontstaan. Die eerste voorbeelde van Khoi-Afrikaans is byvoorbeeld reeds in 1727 in Amsterdam opgeteken. Klik hier vir die oorsprongtydlyn van Afrikaans.

Tabel 1: Variante van die woord brood wat voor 1652 in Khoi-Afrikaans opgeteken is.

Opgeteken in Samestellende dele
(13) varucka 1623 varu-cka
(15) bara 1627 bar-a
(19) brokwa 1652 bro-kwa
(28) breba 1655 bre-ba
(29) baraba 1655 bara-b-a

Michael le Cordeur skryf in ‘n navorsingsartikel dat Afrikaans oor jare beïnvloed en verryk is deur ander tale en kulture en dat die ontwikkeling van verskillende variëteite verband hou met sosio-politieke, geografiese en ekonomiese redes.

Hoe klink Griekwa-Afrikaans? Anoeschka von Meck het vir Afrikaans.com met haar reeks: Op pad met Afrikaans, ‘n draai in die Noord-Kaap gemaak. Ontmoet vir Ysterman Beukes van Bergsig.

Oor variëteite of dialekte …

Du Plessis sê ‘n lewende taal het onder meer geografiese variëteite of dialekte wat in ‘n bepaalde streek gepraat word; sosiolekte, wat deur ‘n sekere sosiale klas gebruik word en ‘n gesinsvariëteit of idiolek, wat eie aan één spreker is. “In die variasietaalkunde word aanvaar dat verstedeliking dialekte (streektaal) benadeel, maar dat sosiolekte weer deur verstedeliking gevoed word,” sê hy.

In hierdie variëteite lê volgens Le Cordeur die “inherente waarde” van die taal.

Griekwa-Afrikaans het vir lank goed bewaar gebly omdat die sprekers daarvan so geïsoleerd geleef het. Dit is ‘n kragtige Afrikaans, wat weerspieël word deur die harde, gestroopte landskap waarin dit staan. Du Plessis kon byvoorbeeld met sy Griekwa-psalms nie verwys na die Bybelse olyfbome nie. Dit moes kameeldoringbome word – kenmerkend aan die Noord-Kaap.

Ook verwysings na berge sou nie deug nie, terwyl sandduine welbekend is aan die Griekwa. Vandaar Psalm 23:

“Hy lei my na waterse tissenie dyne in;

Hy sit my siel in my lyf in trig;

Hy breekslat slang se hoepelrig!”

Dat daar oor geloof geskryf word in Griekwa-Afrikaans, weerspieël nóg ‘n kenmerk van die taalgemeenskap. Weens vroeë blootstelling aan Britse sendelinge wat Klaarwater (later Griekwastad) gestig het, is die Griekwa-mense diep godsdienstig.

Kyk hoe ‘n groepie kinders die Onse Vader in Griekwa-Afrikaans voordra

Kyk byvoorbeeld hoe die digter R.K Belcher, wat onder meer navorsing gedoen het oor die Griekwa-kultuur, die slotreëls van die Onse Vader omdig:

“kôs die kroon dis joune

en die ghounie dis joune

en die oemwêt dis joune

vir tyte en tyte en tyte

zieras”

Uit Griekwaland het die Afrikaanse letterkunde ook een van sy kleurrykste karakters gekry: Kupido Kakkerlak, die eerste Khoi-man wat deur die Londense Sendinggenootskap as predikant bevestig is en wie se lewe as Griekwa-prediker deur André P. Brink in “Bidsprinkaan” opgeteken is.

Maar die Griekwa-mense se amper kinderlike geloof staan terselfdertyd gerieflik langs die behoud van oermites uit Afrika – waarvan die “waterslang” en die “beerlou” die bekendstes is.

Griekwa-Afrikaans is outentiek, met baie spesifieke taalkenmerke. Dit sluit byvoorbeeld in die gebruik van die meervoudsvorm “-goed”. Le Cordeur verwys na die “beleefde meervoudsvorm” vir ouers, wanneer daar gepraat word oor “Ma-goed” en “Pa-goed”.

Palatalisasie, of ‘n verplatte klank gevorm teen die harde verhemelte, kom voor, soos “kjerk” en “gjeld”. “Se” dui besit aan, soos “ons se ma” en ontronding is algemeen, byvoorbeeld “deer” pleks van “deur”.

Werkwoorde kry dikwels hulp van ander werkwoorde, soos “wa lê loop jy nou?” Dit verklaar die feit waarom die algemeenste liggaamshoudingwerkwoord wat in Griekwa-Afrikaans voorkom, “loop” is, terwyl dit “sit” is in Standaardafrikaans.

Veral die vier postulêre werkwoorde – loop, sit, staan en lê – word dikwels in kombinasie gebruik in Griekwa-Afrikaans, terwyl “lê” as sinoniem vir “gaan” gebruik word, byvoorbeeld “Hy lê kom nog”.

Maar moet vir geen oomblik dink Griekwa-Afrikaans is homogeen nie. Hoewel die Griekwa ‘n sterk nasionale gevoel gehad het, met groot leiers soos Kok en Adam Waterboer, het onderlinge twiste na Kok se dood en onmin oor diamante die oorspronklike groep laat versplinter. Die Griekwa-diaspora het sprekers na Philippolis, Kokstad, Kranshoek by Plettenbergbaai en Ratelgat aan die Weskus geneem.

Du Plessis se Griekwa-psalms is byvoorbeeld ‘n subvariasie wat tot sprekers van Griekwaland-Wes beperk is.

Deur die verskillende subvariëteite word Afrikaans verder verryk, maar ‘n mens kan amper sê ten spyte hiervan bly die Griekwa geanker in Du Plessis se Griekwa-weergawe van Spreuke 22:2:

“vorie Jirre is alman gelyk.

of jy arm is of altemit ryk,

die Jirre het die hele mense gekom maak:

Hy sallie selle agter alman kyk”

Waar staan Griekwa-Afrikaans vandag?

Hoe groot is Griekwa-Afrikaans se taalgemeenskap vandag? Du Plessis sê dit is nie moontlik om hierdie vraag te beantwoord nie, omdat die grootte van ‘n taalgemeenskap nie net deur sy aantal sprekers bepaal word nie, maar ook deur die funksies wat dit vervul. Boonop kan die meeste variëteitsprekers meer as een variëteit praat.

Luister hier hoe gesels Francisco McKenzie, ook bekend as Kaptein Autchumao, en verbonde aan die Wes-Kaapse KhoiSan wetgewende raad, met Afrikaans.com by verlede jaar (2017) se US Woordfees.

“Die waarde van enige variëteit is dat dit die taal verryk en ‘n duidelike bewys daarvan is dat die taal lewe. Die feit dat daar in hierdie variëteit geskryf is, is belangrik om te bewys dat dit die sogenaamde hoër funksies van ‘n taal kan vervul,” sê Du Plessis.

Griekwa-Afrikaans – in al sy volheid – het oor die jare sy onmisbare staanplek in die Afrikaanse gemeenskap ingeneem. Dis ráákvat-Afrikaans. Du Plessis het in 1992 in ‘n onderhoud in Beeld gesê wat die Griekwas hom geleer het, is “dat die Afrikaanspraters van die uithoeke, Afrikaans so kan praat sonder die hulp van woordeboeke en Engels. Hulle tel hom sommer so uit die sand uit op en praat hom presies nes hy is”.

Kyk hier na ‘n LitNET-onderhoud met prof. Hans du Plessis

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!