Kaapse Afrikaans (Kaapse Vlakte-Afrikaans)

Kaaps is een van die oudste moedervariëteite van Afrikaans, maar dit is ook een van dié waarin die meeste skeppende werk gedoen word – ‘n taal wat constantly evolve – kwaailappies, soos die sprekers daarvan sal sê, skryf Johanna van Eeden.

Jy hoef maar net deur die dagblad Son te lees om ‘n proesel van Kaaps te kry. Min skelms in dié koerant eindig in die tronk. Hulle mang. En jy loop nie sommer ‘n meisie met ‘n kêrel in berigte raak nie. Son-meisies het ‘n birk.

Kaaps is waarskynlik een van die veerkragtigste en kreatiefste variëteite van Afrikaans. Dit het sy ontstaan uit geografiese realiteite, maar het metterjare ontwikkel tot ‘n sosiolek (‘n dialek wat met ‘n sosiale stand geassosieer word).

Vandag is dit die taal van die werkersklas in die Kaapse Skiereiland – ‘n lostong-lekkerbek-spreektaal wat hom stelselmatig as gerekende skryftaal vestig.

Prof. Frank Hendricks (Foto: Jana Luther)

Prof. Frank Hendricks van die Universiteit van Wes-Kaapland verduidelik in ‘n onderhoud met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) dié variëteit kan histories herlei word tot die aankoms van slawe in die Kaap in die 17de eeu uit Europa, Afrika en die Ooste. Dan volg die tweede groot invloed – die impak van die koms van die Engelse na die Kaap. Hendricks sê Kaaps is “histories ‘n talige uitvloeisel van twee opeenvolgende koloniale bewindstydperke”.

‘n Mens kan nie help om te wonder of dit – in samehang met die latere stelsel van apartheid – een van die redes is waarom Kaaps ook so sterk figureer in pynlike maatskaplike en politieke kommentaar nie. Dit sluit aan by Michael le Cordeur se siening van taal as identiteit. “Mense het bepaalde gevoelens oor wie hulle is en waar hulle vandaan kom en hoe taal in daardie hele sisteem ‘n rol speel,” skryf hy.

Peter Snyders (Foto: LitNET)

Dink aan Peter Snyders se gedig “ ‘n Ordinary mens”: Dis wanner ek trein of taxi moet ry / Wat ek al die problems kry: / “Sorry, sir, the coach for whites / Is just behind this one.”

Nathan Trantraal

Skryf ‘It soes  jy praat

En meer hedendaags, Nathan Trantraal se skerp kritiek teen ongelykheid, werkloosheid en armoede in sy bundel rubrieke “Wit issie ‘n colour nie”.

Tot hie en nie vêderie nie – Nathan Trantraal

Hendricks sê dis skrywers soos Trantraal, Snyders, Anastasia de Vries, Ronelda Kampfer, Lloyd Sôls en Adam Small wat bydra tot die vestiging van Kaaps as geskrewe taal. Veral Small het volgens Hendricks ‘n “leidende rol gespeel in die inburgering van die benaming Kaaps”.

Kaaps, het Adam Small gesê, is ‘n taal “wat die lewe reflekteer van die mense wat dit praat . . . ‘n taal waarin jy jou eerste skree gee en jou laaste asem uitblaas.”

Die sprong van spreektaal na skryftaal kan ook teruggespoor word na die Arabiese skryftradisie, maar in ‘n moderne literatuur neem dit as skryftaal toenemend ‘n erkende staanplek in.

Valda Jansen skryf “daar is ’n hele paar potensiële klippe in die pad van lesers as dit kom by enige teks wat in Kaaps geskryf is. Die taal kan ’n hindernis wees, want Kaapse Afrikaans is gewoon moeilik om te lees. ’n Mens moet die klanke in jou kop hoor terwyl jy lees, dan begin baie dinge sin maak, maar vir lesers wat nie gewoond is hieraan nie, of nie dikwels Kaaps praat of hoor nie, kan dit aan die begin ’n remskoen wees. Dit verg toewyding en deursettingsvermoë van die leser . . .”

Gaireyah Fredericks en Shirmoney Rhode (Foto: KKNK)

Die performance-digter Gaireyah Fredericks sê in ‘n onderhoud met Marlene Malan sy skryf in Engels, Afrikaans en “in my moedertong, Kaaps”.

“Adam Small het ons ore kom fine tune en saggies daa’in geflyste, ons skrywers permission gegie ons moedertaal, Kaaps tot oppie papie’ te rol” – Gaireyah Fredericks

Kyk die Adam Small-dokumentêr: “Ek hoor die vryheid sing” hier

‘Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, doenit!’

“Ek hettie besef ek praat Kaaps tot onlangs’ie. Met die hele sage oor ‘Kaaps’ en ‘Afrikaans’ het ek besef ek klink annes as anne. En as ek sê ‘anne’, issit nou uit my social reference . . .”

Kaaps staan soms ook bekend as Kaapse Vlakte-Afrikaans of Bo-Kaaps, hoewel laasgenoemde geografies tot die Bo-Kaap en Distrik Ses beperk is (kyk uit vir ons fokus op Bo-Kaaps volgende in ons reeks), terwyl Kaaps meer op die Vlakte voorkom.

Le Cordeur skryf Afrikaans is vir iets soos 2,5 miljoen mense op die Vlakte huistaal – die taal waarin hulle bid en sing en emosioneel leef – en dat ons geneig is om van hierdie mense te vergeet wanneer ons oor taal praat, omdat baie mense Kaaps steeds as ‘n “snaaksigheid” sien.

Afrikaans is nie net die taal van apartheid nie; Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening. Dit is ook ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote. Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef! Dit is geen geringe prestasie nie.”

Op Versoeningsdag, Vrydag 16 Desember 2016, is dr Michael le Cordeur en prof. Wannie Carstens se boek, Ons kom van vêr, (Naledi) vrygestel – ’n boek opgedra aan Adam Small wat uiteindelik die bydrae van bruin sprekers tot die ontwikkeling van Afrikaans vier. Lees meer oor die boek hier.

Afrikaans is ’n versoeningstaal – Diana Ferrus

‘n Belangrike stukkie van ons taallegkaart: Kaapse Vlakte-Afrikaans

Kaaps is uiteindelik die somtotaal van die impak van Engels, Maleis, Arabies en Indonesies op Afrikaans. Kenmerke daarvan is veral in die uitspraak waarneembaar, soos die post-vokaliese R-weglating (vi’ pleks van vir), die ontvorming van die j-klank (djy pleks van jy), die verhoging van die e- en o-klanke (wies vir wees en soes vir soos) en die verkorting van die a-klank (byvoorbeeld gan vir gaan).

Wat dié variëteit interessant maak, is die volgehoue voedingsbron wat dit vir Standaardafrikaans is. Blaai jy deur die sesde uitgawe van die HAT, kom jy af op madrassa (‘n Moslem-opleidingsentrum), kanalla, trammakassie en sjoekran (verskillende vorme van “dankie” uit Maleis en Arabies).

Die Islam-invloed is duidelik in woorde wat verband hou met geloof en kos. Uit die kookkuns is daar boeber (tradisionele Maleise melkkos) en uit geloof die boerka (tradisionele gewaad van Moslem-vroue).

Hendricks wys ook op invloede uit wat hy noem die “Kaapse skadukant” – woorde ontleen uit die bendewêreld op die Vlakte, soos “dikding” vir ‘n bendeleier en “piemp” vir verklik.

Uit hierdie variëteit kom ook nuwe uitdrukkings, soos wanneer iemand sê “ek gooi ‘n lange” om aan te dui hy gee vinnig pad, wanneer iemand “aan jou kerrie werk” (jou irriteer) of as jy sê “ek hang nie slange nie” (iets sonder verwyl doen). En wie verstaan nie die betaal van “papgeld” (onderhoud) nie?

Saam met die vernuwing is daar verouderde vorme van Nederlandse woorde wat voorkom, soos “krant” vir “koerant”.

Die musiek van ’n taal

Daar is ‘n bepaalde ritme aan Kaaps. Le Cordeur verwys na die invloed van die Kaapse Klopse, die Moslem-gebede en liedjies van die Maleise kore. Dit verklaar die musiekskatte van David Kramer en Taliep Petersen en waarom ‘n kletsrymer soos HemelBesem Kaaps so seepglad om sy tong vou.

Dit is besprinkel met woorde en uitdrukkings wat soos soutwater in jou Kaapse are loop. Vir talle ‘n variëteit, vir ‘n groot deel van die Afrikaanse taalgemeenskap: moedertaal.

Luister hier na Peter Snyders se gedig: ‘Ek is oek important’

Laat Snyders dan die laaste woord inkry met “Moedertaal”: Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, / doenit! / Dis waam mamma jou lat opleerit; / kritisaais skrywers wat skryf / soes mamma praat, / maa moenie ve’wag / mamma moet nou change nie.

Bronne:

https://shop.vanniekaap.com/

https://www.litnet.co.za/kaaps-negotiating-language-and-identity/

https://www.litnet.co.za/die-verskil-tussen-kaaps-en-afrikaans/

https://www.capetownmagazine.com/kaaps

http://capeafrikaans.blogspot.com/p/cape-flats-dictionary.html

http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/99370

https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/in-kaaps-kry-haar-woorde-leplek-20170617

http://kknk.co.za/kaaps-moenie-taal-sommer-kyk-nie/

Lees ook …

Meer oor dr Michael le Cordeur – pedagoog en taalman: LitNET.

Huldeblyk aan Adam Small deur dr Michael le Cordeur op LitNET.

Die kwessie van Kaaps: Afrikaansonderrig op skool benodig ‘n meer inklusiewe benadering – ’n Navorsingsartikel deur dr. Michael le Cordeur.

Beskermheer vir Afrikaans: Taalmens en filosoof, Adam Small

Lees ook op LitNET oor die boek, Ons kom van vêr.

Dis ’n wanopvatting dat bruin mense niks oor Afrikaans te sê het nie. Lees Julian Jansen se artikel op Netwerk24.

Lees ook dr Michael le Cordeur se artikel: Afrikaans kom van vêr af, op Netwerk 24.

Eksklusief: Adam Small – die dokumentêr

Stuur ‘n WhatsApp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!