Kaapse Afrikaans (Bo-Kaaps)

Bo-Kaaps staan knus langs haar suster, Kaaps, as variëteit van Afrikaans. Waar Kaaps beskou word as die loslitsussie met die jive, is Bo-Kaaps die intellektuele, spirituele ousus – die oerbron van Afrikaans as geskrewe taal, skryf Johanna van Eeden.

Bo-Kaaps het, soos Kaaps, oorspronklik ontstaan met die koms van slawe na die Kaap. Dit is egter veral beïnvloed deur Islam – die Moslemgeloof wat deur slawe en politieke bannelinge na die suidpunt van Afrika gebring is.

Dit is ‘n variëteit wat al meer sigbaar word en erkenning kry in die groter Afrikaanse taalgemeenskap.

Arabiese Afrikaans

Hashim Salie, voormalige president van die South African Hajj and Umrah Council, gesels tydens Taalmaandvieringe 2017, oor die vroegste godsdienstige geskrifte in Afrikaans – van die vroegste vorme van geskrewe Afrikaans. Aangesien die meeste van hierdie sprekers die Islamitiese geloof aangehang het, is hul Afrikaans sterk deur Arabies en die Moesliemkultuur ingekleur. Slawekinders het hul geloof in die Kaapse omgangstaal aangeleer en het dit neergeskryf, maar met Arabiese letters. Spesiale simbole is ontwikkel om die klank van die taal foneties te kon skryf.

Hierdie uittreksel van die voorblad van die “Afrikaanse Patriot” het een woord wat baie na aan my hart is;“baiang”. Die redakteur in 1875 gebruik hierdie woord wat in Standaardafrikaans “baie” geword het. My oorle ouma en ma en galiefa het dit nooit anners as “baiang” gebruik nie. Dit is vir my ’n personifisering van my eie taalgebruik en in my rol as prediker, gebruik ek dit steeds.”

Afrikaans in Arabies
Vote vir Mister Oulsoon
Hy gaat syn beste doen vir die
Koolooniyal syn weriks mese
Elke moslem in Kape land moet 4 votes vir Mister Olsen gee, oordat hy sy Kaapse werk los ten voordeel van Kapenaar.

Die murg van Afrikaans is te vinde in sy variante, dialekte en streektaal waarin die warmte van Afrika en Asië gedy. Die taalskatte wat ons koester, vind oorsprong in hierdie ryk en diverse geskiedenis en deur hierdie geskiedenis te ontsluit, wil rolspelers nuwe deelname en meelewing verseker. Die dikwels gemarginaliseerde en verwaarloosde Afrikaanse dialekvorme en die vooruitsig op die opname daarvan in die uitstalvensters van die taal is van die grootste belang.

Soos ons Afrikaans se voetspoor volg, moet ons sover moontlik rekening hou met die tekens van al sy verskillende dialekte/variante. Klik vir die Afrikaans.com Oorsprong van Afrikaans – ‘n tydlyn.

Erkenning …

Michael le Cordeur skryf die draaipunt vir Kaaps, waarby ‘n mens Bo-Kaaps kan insluit, was die toekenning van die Hertzogprys aan Adam Small in 2012. Daarmee is nie net Small uiteindelik vereer nie, maar is ‘n ánder variëteit as “standaard-Afrikaans” volledig opgeneem in ons letterkundige geskiedenis. Dit het gebeur amper 50 jaar ná Abraham H. de Vries se pleitdooi dat Small se werk erkenning moet kry.

Uit die Bo-Kaap het belangrike taalmonumente verrys: die eerste geskrifte in Afrikaans, die beoefening van ‘n geloof in Afrikaans en die eerste wáre weergawe van Afrikaans. Teen 1840 was Arabiese Afrikaans gevestig in Moslemskole in die Kaap – 93 jaar vóór die Bybel in Afrikaans vertaal is.

Vroeër vanjaar, by ‘n bespreking wat die ATKV gehou het oor Bo-Kaaps, het die joernalis en politieke ontleder Max du Preez uitgewys dat dit algemeen aanvaar word dat die eerste boek in Afrikaans al in 1856 deur ‘n Imam in Arabiese skrif gepubliseer is.

Die Bo-Kaap en Afrikaans

“Wat ‘n wonderlike ding is dit om te weet dat my moedertaal geskep is deur mense met hul wortels in Indië, Ceylon (Sri Lanka), Indonesië, Madagaskar, Jemen, Turkye en Angola, met ‘n stewige bydrae deur ons subkontinent se Oorspronklike Mense, die Khoisan,” sê Du Preez.

“As dit nie vir die Moslem-geleerdes uit die Ooste, vir die slawe en die Khoi-Khoi was nie, was daar nie ‘n Afrikaanse taal nie, dan het ek dalk vandag nog Hollands gepraat. Hulle het die taal van die Europese meesters en oorheersers vereenvoudig en gekreoliseer om met hulle en met hul mede-slawe en werkers in ’n gemeenskaplike taal te kon kommunikeer.”

Du Preez lig mense uit wat baanbrekerswerk gedoen het in die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans.

Sheikh Abubaker Effendi het van 1869 af verskeie godsdienstige tekste in Afrikaans in Arabiese skrif gepubliseer. Prins Abdullah Kadi Abdu Salaam van Tidore in Oos-Indonesië, ‘n hoogs geleerde skolier van Islam, was die stigter van die eerste madrassa in Dorpstraat.

Du Preez wys daarop dat die Voortrekkers hul geloof in Nederlands bedryf het, maar op dieselfde tydstip was die geloofstaal in die Bo-Kaap reeds Afrikaans.

Waar geloof aanvanklik ‘n diverse gemeenskap verbind het in die beoefening daarvan in één taal, het politiek klowe geskep. Destyds, met die gedwonge verskuiwing van mense uit Distrik Ses, is die mense van die Bo-Kaap ontwortel.

Hoewel die grondregte na apartheid herstel is, is die Bo-Kaap vandag wéér in ‘n grondstryd gewikkel, dié keer teen eiendomsontwikkelings wat die karakter van die plek heeltemal kan verander. Want hoewel baie water in die see geloop het, het die kultuur van die Bo-Kaap behoue gebly. Dit is steeds oorwegend Moslem. Sommige mense praat nog Arabies, maar tuis word daar Afrikaans gepraat – Bo-Kaaps.

‘Afrikaans is vir my ‘n omgee-taal’ – Muhammad Choglay: Bothasig

Afrikaans het ‘n ryk geskiedenis waartoe baie tale en kulture bygedra het.  In ons reeks: ‘Op pad met Afrikaans’ maak ons ’n draai in Bothasig, ‘n Kaapse voorstad. Apteker Muhammad Choglay vertel watter rol Afrikaans in sy uitgebreide familie se lewe as Moslems van Indiese herkoms speel, en hoekom hy dit steeds daagliks praat.

Die klanke en geure van die Bo-Kaap word vandag ook in die breër taalgemeenskap gebruik en daar is ‘n groter bewussyn van die slawe se bydrae. Koesisters, daljties, samoesas, blatjang en atjar is Bo-Kaapse kos wat nie meer onbekend is in ons kombuise nie. Danksy mense soos Cass Abrahams, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, is die resepte opgeteken en is dit nou déél van ons Afrikaanse koskultuur.

‘Kook saam Kaaps’ se wenspan

Uit die kultuurlewe het ons uit die Bo-Kaap ‘n ryke musiekerfenis gekry in die vorm van moppies of ghoema.

Faika Haroun, ‘n dosent by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum, beskryf moppies as “tradisionele slaweliedere waarvan sommige later as Afrikaanse volksliedjies bekend geword het”. Dink byvoorbeeld aan “Daar kom die Alibama”.

Die moppies was méér as vermaak. Slawe het dikwels op dié manier met mekaar gekommunikeer en protes aangeteken teen hul eienaars. Van die woorde was herkenbaar vir die Nederlandse oor, maar die slawe het ‘n kode daarvoor gegee om ‘n sekondêre betekenis te skep. Bo-Kaaps as protestaal figureer later jare weer, veral in die werk van Small en Peter Snyders.

Vandag is daar steeds kompetisies waaraan Maleierkore deelneem en nuwe liedjies word geskep. Haroun wys daarop dat daar selfs verlede jaar moppies was wat na die droogte in Kaapstad verwys het.

Die Ghoema Captains sing Daar kom die Alibama

Die Jaloersbokkies

Eg Kaaps soos breyani en koesisters, soos ghoema en winterreën is die Jaloersbokkies, uitgedos in kostuums  wat herinner aan die jare 50. Met liedjies wat nostalgies  val op die oor,  bekoor stigterslede, Jawaahier Petersen en Nedine Blom, die gehoor met hul orkes wat bestaan uit kitaar, trompet, kontrabas, tromme, klavier en multiharmonieë. Jawaahier gesels met Afrikaans.com oor haar Afrikaans – Bo-Kaaps.

Hoe klink Bo-Kaaps?

As variëteit het Bo-Kaaps kenmerke wat ooreenstem met Kaaps, soos vokaalverhoging en die post-vokaliese r-weglating. Maar uit die woordeskat is daar ‘n ryker ontlening uit die slawe se moedertale en weens die Moslem-invloed word dit soms ook beskryf as “Arabiese Afrikaans”.  Woorde uit Maleis wat opgeneem is in Afrikaans sluit in baie, baklei, piering en piesang. Uit Portugees is kiepersol, mielie, kraal, tamaai en sambreel ontleen.

Volgens die historikus Hermann Giliomee, het die slawe en Khoi-Khoi-bediendes in die Kaap waarskynlik die grootste rol gespeel in die ontwikkeling van die taal. Met die koms van Van Riebeeck na die Kaap was die idee dalk dat Nederlands hier moet posvat. Die Europese taal kon egter nie staande bly teen invloede van elders nie. As’t ware onbestand teen die slawe en onbestand teen Afrika.

Soos Jan Lion-Cachet se gedig “Di Afrikaanse Taal” lui: “Myn sussi, wat uit Holland kom, / Di hou ferniit haar groot: / Di lug is al te skerp fer haar; / Sy is al amper dood.”

Lees meer …

Die gebruik van Tienerkaaps – LitNET

Die Bo-Kaap en Afrikaans – LitNET

Die ontstaan van die komieks – LitNET

Die Kaapse taalakker lewer soet vrugte – Die Son

Janap Masoet op haar suster, Niesa Bosch se stoep in die Bo-Kaap.

Achmat Abrahams by sy huis in die hart van die Bo-Kaap.

Die Kaapse Klopse.

Die regte begin vir ‘n nuwe jaar!

Die welbekende kleurvolle huise in die Bo-Kaap.

Selfs van ‘n afstand is die kleurvolle huise sigbaar.

Sekerlik een van die bekendste strate in die Kaap wat deel vorm van elke toeris se vakansieherinneringe.

Heerlike disse by die Bo-Kaapse kosmark.

Uit die Bo-Kaapse kombuise.

Cass Abrahams is wêreldwyd bekend vir haar Kaaps-Maleise disse.

Iets vir die soettand.

Nog heerlike Kaaps-Maleise disse.

Dit is ’n kuns! Wardia is deel van die ervaring op die Bo-Kaap toerisme-ervaring.

Stuur ‘n whatsapp-stemboodskap wat sê waarom Afrikaans vir jou onmisbaar is na 064-652-6873.

Ons wil weet waarom Afrikaans vir jou belangrik is en watter waarde jou taal tot jou lewe toevoeg. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie … net ‘n sin of twee, jou naam en van watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!