Afrikaans as universiteitsvak? Studente en kenners deel hul insig.

Is Afrikaans as universiteitsvak se dae getel of is daar steeds ’n blink toekoms vir ons moedertaal? Ons nader ’n paar kenners en studente om hul gevoel daaroor te kry.

 

In 2018 is daar by die Universiteit van die Vrystaat begin met die volledige aanlyn kursus vir Afrikaans as vreemdetaal, gerig op mense buite die grense van Bloemfontein en Suid-Afrika. Laasgenoemde kursus, Gesellig Afrikaans, word via VivA se aanlyn platform aangebied. Prof. Van Niekerk sê: “Ons het heelwat groei in ons kortleerprogram vir Afrikaans as vreemdetaal (SLP/KLP). Hierdie program is gerig op  mense met geen voorkennis van Afrikaans wat uit vrye keuse Afrikaans as vreemdetaal wil aanleer. Vanaf 2019, is Gespreksafrikaans (GAFR) as keusemodule ook ’n opsie as vreemdetaal by die fakulteit opvoedkunde.”

Hoe gewild is Afrikaans steeds as vak?

Die Departement Afrikaans en Nederlands by Universiteit Stellenbosch het tans sowat 680 studente vanaf eerstejaarsvlak tot op doktorale vlak. Volgens prof. Andries Visagie van die departement Afrikaans en Nederlands, is die vak steeds gewild. “Die vraag is of die inkorting van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite nie binne die afsienbare toekoms gaan lei tot ʼn verdere inkrimping van studente wat die taal as vak wil neem nie. Dit sal onder meer daarvan afhang of skole wat tans oorwegend Afrikaans is, nie die verengelsing by universiteite sal navolg nie. ʼn Bemoedigende tendens is egter merkbaar by die Universiteit van Wes-Kaapland waar daar ʼn baie lewendige belangstelling in Afrikaans as vak is ondanks die feit dat die universiteit Engels as voertaal het.”

Dr Johanita Kirsten, senior-lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Skool vir Tale by Noordwes-Universiteit sê: “Ons verwag dat die studentegetalle ’n bietjie gaan styg volgende jaar, aangesien ons tans materiaal ontwikkel vir ’n nuwe module in Praktiese Afrikaans wat hier by ons en op die Potchefstroom-kampus gaan loop, wat slegs ’n eerstejaarsmodule is en gemik is op studente wat nie Tale studeer nie.”

Volgens professor Willie Burger, hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, registreer studente toenemend eerder vir beroepsgerigte kwalifikasies as vir algemene of vormende studierigtings soos ’n BA, wat tradisioneel die geval was. “Dit geld vir almal, nie net Afrikaanse studente nie en ook nie net in Suid-Afrika nie. Die implikasie is dat vakke soos tale oor die afgelope dekade of wat nie meer so gewild is nie. Getalle in studente wat regtig tale (enige taal) neem om daarin te spesialiseer, het plaaslik asook oorsee deur die bank afgeneem. Weens die geskiedenis van Afrikaans, wat dikwels geassosieer is met apartheidspolitiek en onderdrukking/uitsluiting, bestaan die vak Afrikaans byna uitsluitlik by grasie van wit Afrikaanssprekende studente. Veral aan UP probeer ons om aan die ongelukkige situasie te verander en om veral ook ander Afrikaanssprekendes te lok.” Hy is van mening dat Afrikaans departemente sal krimp indien daar nie uit ander groepe studente bykom nie, aangesien die wit Afrikaanssprekende deel van die bevolking nie groei nie. Tog is die voordeel van moedertaalonderrig volgens prof A. van Niekerk, departementshoof aan die Universiteit van die Vrystaat, deeglik nagevors en bewys. “Die kliënte en die mark van joernaliste, medici, prokureurs en onderwysers funksioneer naas Engels ook in ander tale soos Afrikaans en daar bestaan talle studiegeleenthede in die buiteland vir persone met vreemdetaalonderrigvaardigheid.”

Hoeveel studente studeer nog Afrikaans tot op honneurs- of doktorsvlak?

Prof. Burger sê: “In die eerste jaar wissel die getalle oor die afgelope paar jaar tussen 180 tot 220 studente. Honneurs is meestal so vier tot nege studente.” Volgens Prof. Visagie was daar in 2017 een-en-sestig BA-studente by US op derdejaarsvlak wat hul graad met Afrikaans en Nederlands as hoofvak voltooi het. In 2017 het sestien honneursstudente hul graad in Afrikaans en Nederlands behaal en daarbenewens was daar sestien MA-studente en vier doktorale studente wat hulle grade in dié vak behaal het.

Hoekom studeer studente nog Afrikaans en wat is die toekoms vir hulle en ons taal?

Daar is verskeie redes waarom studente Afrikaans studeer: Ongeveer die helfte van die studente studeer onderwys en sal waarskynlik taalonderwysers word. Die ander studente neem Afrikaans omdat hulle belangstel in taal/tale in die algemeen. Talle studente doen Afrikaans juis daarom en dit kombineer dus goed met ander menslikewetenskappe. Volgens dr Johanita Kirsten is daar jaarliks studente wat Afrikaans as keusevak wil neem. “Ons het die nuwe Praktiese Afrikaans-module ontwikkel wat toeganklik vir almal is. Verlede jaar het ons ses derdejaars gehad wat afgestudeer het, twee het onderskeidings gekry en almal het gemaklik geslaag.”

Motivering van studente


Prof. Visagie verduidelik dat die meeste studente in ʼn bepaalde vak studeer omdat daar na hulle oordeel werksgeleenthede is wat aan daardie vak gekoppel is. “Tans is dit so dat die onderwys heelwat werksgeleenthede vir Afrikaansonderwysers bied. Afrikaans bly ook lewenskragtig in die mediawêreld en ʼn groot aantal Afrikaanse boeke word jaarliks deur die verskillende uitgewersmaatskappye gepubliseer. Daar is ook in die akkommodasiebedryf en in die versekeringswese ʼn interessante ontwikkeling met die totstandkoming van maatskappye wat hulle spesifiek in Afrikaans op die Afrikaanssprekende publiek rig. Hierdie inisiatiewe dra by tot die ekonomiese lewenskragtigheid van Afrikaans as taal.”

Dr Neil van Heerden het in 2017 sy PhD in Afrikaans voltooi en is die toppresteerder by Universiteit van Pretoria. Klik hier om te hoor wat hy oor sy studierigting te sê het.

Lees ook …

Vind meer uit oor Afrikaans na skool: studierigtings, beurse, befondsing en studielenings of werksgeleenthede en mentorskapprogramme. Klik hier.

Hier kan jy in Afrikaans studeer. Vind uit.

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!